Ek is nie altyd tevrede met die verloop van my lewe nie en daar is vele klein dingetjies wat my kan irriteer. Daar is egter net een ding in my lewe wat my so bloedig kwaad kan maak dat ek kan moord steek – diskriminasie.
Ek praat van hierdie aanname dat ek “minder” en “stoepid” is omdat ek ‘n vrou is. Hoe ouer ek word, hoe meer verbete word hierdie aanname toegepas, want as jou hare grys is, is jy nog “minderer” en “stoepider” as wat jy voorheen was. Dan moet ander mense namens jou praat en besluite neem. Ek het hierdie irritasie al voorheen aangespreek in hierdie blog (Vat vir Mammie Wimpy toe), maar dis tyd om weer stoom af te blaas.
Hierdie soort van ding gebeur op ‘n gereelde basis. Voorbeeld: ek besluit om vir my ‘n ander motor te koop. Die verkoopsman luister belangstellend na my order wat ek insit, dan begin hy vir my man vertel watter soort motor vir my die beste sal wees. Hy laat my man inklim, al die knoppies en goeters toets, onder die enjinkap kyk en maak ‘n aanbod vir my ou motor. ‘n Goeie aanbod, maar een wat ek nie eens van die hand wys nie. Ek ignoreer dit doodeenvoudig. Teen hierdie tyd sit ek alweer in my ou motor en wag vir my man sodat ons kan aanstoot na die volgende handelaar toe.
Meneer die motorhandelaar, ek wou bitter graag daardie spesifieke motor gehad het, ek is baie beïndruk met die prys wat jy vir my ou motor aangebied het, maar ek sal in een duisend jaar plus een dag nooit enigiets by jou koop nie, want jy het iets baie belangrik vergeet – die ou motor behoort aan MY, die bybetaling gaan uit MY bankrekening kom, dus is die keuse van die nuwe motor MYNE. As jy net een keer met MY gepraat het en MY mening in ag geneem het en my nie soos ‘n oorbodige spaarwiel laat rondhang het nie, het jy met ‘n helse lekker kommissietjek weggestap uit die transaksie. Nou het jy niks, omdat jy my minder geag het. Koebaai en ‘n hêppie broke krismis vir jou.
Dis nie dat ek sodanig omgee as my man betrek word by die bespreking nie; dis immers waarom ek hom saamgebring het, maar moenie, o moenie my ignoreer asof ek ‘n stopstraat is nie – veral NIE wanneer ek die transaksie aangevoor het en die inligting verskaf het nie. Onder die bos grys hare leef daar wragtag ‘n brein!
Die telefoontegnikus het voorheen dieselfde gedoen, hoewel die telefoon en internet in my naam geregistreer is en ek sonder uitsondering die foute aanmeld. Hy weet nou van beter. Die elektriese sogenaamde ingenieur, loodgieter, padmakers en die tuindienste het nog nie die les mooi onder die knie nie.
Dis nie die ergste belediging wat ek al verduur het nie. Die afgelope tyd ruik ons ‘n rot in ons tweede badkamer. Ons soek na die lekplek aan die toilet, maar kry niks. Op warm dae en as die wind van die kloof se kant af opwaai, kan jy nie asemhaal nie. Toevallig lig goeie buurvrou ons in dat die munisipaliteit haar hotel se septiese tenks (riooltenks?) kom uitpomp het en net daar kliek iets. Ons gaan kyk, en ja sowaar, daar is so ‘n tenk in ons agterplaas ook, daar onder in die kloof. Nooit geweet nie. Daar waar ons voorheen gewoon het, het jy die toilet gespoel en die inhoud het verdwyn in die niet. Nie hier nie; hier bly die inhoud in ‘n opvangtenk.
Die vriendelike jongman van die munisipaliteit wat ‘n mengsel van Zulu en ‘n geradbraakte Engels praat, kom kyk na ons situasie en beduie met ‘n ernstige gesig dat daar eintlik twee tenks is. “De water go from de first tank to de second tank and den away.” Waarheen? Seker in die grond in, want “away” is net daar onder in die kloof en die bome groei besonder mooi daar. In elk geval: “De shit (sy beskrywing, ek sweer) stay in de first tank. De first tank is now full. Now de shit go back in de pipe.” En dan kry ons die byklankie.
So, ek laat weet die nuwe bestuursraad van die kompleks van ons tenkprobleem. Raai-raai, hulle het ook nie geweet daar is ‘n tenk nie. Die kompleks het baie lank leeg gestaan en niemand weet regtig wat hier aangaan nie. Nou woon ons al amper ‘n jaar hier en vakansiegangers bly in die ander woonstelle wanneer hulle hier opdaag. Die “shit” is nou letterlik in die tenk.
Ek vra ‘n afskrif van die munisipaliteitsrekening by die bestuursraad en bel die betrokke departement. Jammer, hulle kan nie help nie, want die bediening van ons tenk is nie deur die bestuursraad aangevra nie, hulle betaal nie vir die diens nie en ons moet maar ‘n privaatmaatskappy kry. Gelukkig kan hulle iemand aanbeveel.
Ek dra die boodskap oor aan die bestuursraad. Hulle vra besonderhede oor die ligging en grootte van die tenk en ek daal af na die kloof toe, meet die tenk op (met my man wat instruksies skree van die balkon af, want hy het nog nie sy nuwe knie gekry nie), neem ‘n paar fotos om te wys waar dit is en meet hoe lank die koppelpype sal moet wees. Voeg ook fotos by van die oprit om te wys waar die suiglorrie kan intrek.
Op hierdie punt moet ek nou byvoeg dat ek elke maand alle kommunikasie met die bestuursraad pleeg, ek lees die meters en sorg dat die betaling op die regte plek uitkom. Alle kontrakte en kontakbesonderhede is in my naam. Hulle is gewoond daaraan om met my te deel.
Die “shitty” inligting gaan deur na die aanbevole privaat-maatskappy en hulle bel. Op my selfoonnomer – nie my man s’n nie – myne. Sal dit reg wees as hulle Maandag kom suig en sal meneer van die huis daar wees om by te staan met raad, daad en inligting indien nodig? Nee, meneer loop tans op krukke, maar mevrou sal hier wees. Ja maar die bestuursraad het gesê meneer moet asseblief toesig hou.
Ook maar goed die gesprek het oor die telefoon plaasgevind, want toe spat die inhoud van daardie tenk! Na al die moeite wat ek gedoen het en al die inligting wat ek deurgestuur het, is ek in so ‘n mate van “mindere” belang dat ek nie die suiglorrie kan beduie waar om stil te hou en waar om die pype te koppel nie?
Huh? Is dit wat jy vir my sê? Is dit? Nou laat ek jou vertel – ek KAN my eie motor koop en ek KAN my eie shit uitsorteer. Spoel dit in jou toilet af en suig dit op.
ddupl3ss1s
Daar is ook al van my , in my teenwoordigheid gesels en dit oor my kwale ..so asof ek nie daartoe instaat is om te komunikeer nie, hmm . My skoonma het altyd daardie oomblik van die laaste strooi beskryf met ‘n ‘ en toe pieng die stoompot se proppie af… ‘ so woorde-lawa.
HesterLeyNel
Ek smaak daai een – dis beter as “the shit hit the fan”
rondomtaliedraai
O ja ek kan ook saampraat hieroor. Ek dink dis regtig apartheid se skuld want die Broederbond het die vrouens kaalvoet en swanger in die kombuis gehou!
HesterLeyNel
Ek ken nou nie van die Broederbond nie, maar ek was altyd kaalvoet en heel dikwels swanger, maar sowaar – my breinselle is nog hunky dory
rondomtaliedraai
Ek word ook soms ‘n regte feminis!
perdebytjie
Dit het beslis nog iets te doen met ons geslag vrouens en mans.Ek moes selfs skoolhou teen ‘n mindere salaris as ‘n man,al het ek dieselfde vir my studies betaal!Ek is vandag nog kwaad daaroor.Jy moes die patetiese lui mannetjies sien wat al die senior poste gekry het.Ek kan lank hieroor gal braak,maar dis waters wat verby is.Jy klink na iemand wat jou man..ekskuus…vrou kan staan!
HesterLeyNel
Ja, ek onthou dae in die bank wat vrouens ook minder betaal is. En onthou, ek het ‘n graad agter my naam gehad; hulle was net mans, klaar! Dit het darem oorgewaai.
perdebytjie
Dankie tog daarvoor!
Christina B
Diskriminasie maak my net so briesend kwaad. Gelukkig kom ek dit nie so baie tëe hier nie, ek dink hierdie gemeenskap is baie ingestel daarop om almal gelyk te behandel. Ons ken wel iemand wat sommer ophou luister as ek begin praat, en geen geheim daarvan maak nie! Ek dink ek gaan eendag as hy weer so ophou luister die onderwerp verander en hom vertel presies wat ek van hom dink! Ek het lekker gelees en gelag vir jou beskrywings, dis so raak! Dis goed day jy staan by jou punt.
HesterLeyNel
Snaakse ding is, as jy by jou punt staan is daar ook ‘n onderskeid: ‘n man word bewonder omdat hy “sy man staan”, ‘n vrou word gekritiseer omdat “sy aggressief is”. So help my, ek wil terugkom aarde toe as ‘n hond wat hard kan blaf.
Christina B
Jy’s reg. Ek sal saam met jou blaf!
Korrelkop Kahuna
Dit het maar ‘n rukkie geneem vir my om verby die Afrikaner Calvinistiese opvoeding te sien en te besef watter eer en voorreg dit is om met ‘n sterk onafhanklike vrou getroud te wees. Nou is daar weinig dinge wat my soveel binnepret verskaf as om die van Helsdingen se regter wenkbrou dop te hou in so ‘n situasie nie. Sodra daardie wenkbrou begin woel, dan staan ek ‘n tree of wat terug em beskou die strontstorm van agter die veilgheid van my sambreel.
HesterLeyNel
Haha @strontstorm en applous vir jou. Gelukkig glo my man ook nie daarin dat sy manlikheid sal wegspoel wanneer hy skottelgoed was nie. Daar is baie dinge wat hy beter doen as ek en dan staan ek terug, maar MOENIE aanneem dat ek niks weet nie.
vuurklip
Viva! Vroue, Viva! Dis reg: vattiek@kkie!
HesterLeyNel
bwahaha, mooi gesê
scrapydo2.wordpress.com
oo daardie meerderwaardige houdings van sulke alwettende ongeskikte karrakters laat my bloed ook sommer kook. Moet net nie hul ignoreer nie, dan is die gort gaar.
HesterLeyNel
Ek hoor jou. Jy kry baie van hulle. Oeps, ek dink ek tree ook soms so op, maar darem nie altyd nie.
scrapydo2.wordpress.com
Nee wat noudat ek die grysheid ook aan my kant het maak ek of ek doof is en reageer gladnie op enige aanmerkings nie. Draai om en loop weg! Ha ha
Sonel
Jinne! Jy het hulle mooi vertel Hester en ja, watse twak is dit dat party mense dink dat vrouens van niks weet nie! Dit kan my net so erg irriteer en ‘n paar het al lelik les opgesê met my. Die tuindienste weet hulle moet lig loop en as hier iets reggemaak moet word, dan weet hulle al wie is die ‘manager’ en dat sy ‘n helse humeur het.
Gee hulle gas vrou! Duidelik is daar ‘n paar van hulle wat nog nie mooi ‘getrain’ is nie. 😆
HesterLeyNel
Ek weet nie waar kom hulle aan die nonsense nie. Ek het in my jongdae (laaaank gelede) al besef dat vrouens die wêreld laat draai – mans sit terug en lewer kommentaar!
Sonel
Ek ook nie Hester. Partykeer dink ek dis net pure ignorance en ego.
hahahaha! Duidelik, maar moenie dit vir hulle vertel nie. Hulle sal stry tot more heeldag! LOL!
vuurklip
Kommentaar!
HesterLeyNel
haha ek het gewag hiervoor!
Celia Neveling
Ek vind dit weer erg irriterend as iemand vir my vertel hoe ek oor sekere goed voel. My man wil altyd vir my ‘n ander motor koop.
“Jy moet vir jou ABC koop, jy sal verskriklik van hom hou. ”
“Nee, ek sal nie want ek hou nie van groot motors nie. ”
“Nee, jy sal van groot motors hou as jy eers een gekoop het. Jy het net nog nooit een gehad nie. Dit is waarom jy nie van groot motors hou nie. ”
“Nee, ek het nog nooit een gehad nie want ek hou nie van hulle nie. ”
“Dit is mos nou net wat ek sê. “
HesterLeyNel
Is dit nou nie die waarheid nie? As hulle daarvan hou, MOET jy mos ook dink dis fantasties. Dankie vir die inloer.
coetzee2014
Mooii en goed geskryf. Goed dat die vroue hul “man” kan staan. Ons paar mans hier, sal versigtig moet wees.
HesterLeyNel
Nee wat, ek het darem nog nie agtergekom dat die mans hier neersien op vroue nie. Hoe ervaar jou vrou dit daar in die “vreemde” kultuur? Dit lyk my hierdie houding verskil so van nasie tot nasie.
Griet
Ignoreer enige vrou met verstand en jy het ‘n strontspul op hande. Dankie, nou voel ek sommer weer heelwat beter oor my eie ongeduld met mense wat nie tot ‘n besluit kan kom nie, jou los om al die gesukkel alleen te behartig, en dan met doodsvrae kom soos: “Wat as die ekonomie val?” of “Is daar nie NOG moontlikhede nie?” of “Goed, ek sal daaroor dink en na jou toe terugkom”. Deesdae vat ek dit as ‘n teken om onmiddellik op te tree. Wag ek word sommer die duiwel in. Laat ek die storie sommer net deel met die van wie dit op toepassing is…..UITSTEKEND. BAIE BAIE DANKIE!!!
HesterLeyNel
hehe @strontspul. Die strontspul hier is nog steeds nie uitgesuig nie, maar ek is seker hier gaan ‘n MAN opdaag wat dit effektief gaan hanteer.
Spokie sny spoor
Hiehiehie – julle het omtrent ‘n warm gesprek hier! Gelukkig sien ek die regte in ons land swaai darm meer na die vrou se kant toe.
HesterLeyNel
Ja, in sommige kringe sukkel dit maar, maar dit word beslis beter.
Olga
Mens sal dink die hedendaagse mans het al bokant die diskriminasie uitgestyg. Maar eienaardig hoe dikwels die jonger mans veral, daaraan skuldig is.
HesterLeyNel
Dis maar net aangeleerde gedrag jong, en vir die meeste van ons net ‘n irritasie. Wanneer dit regtig minagting van ‘n vrou as mens is wat ter sprake kom, kan dit fisies en psigies vir vroue groot gevaar inhou; daarvan getuig die aanranding en mishandeling van vroue in baie wêrelddele.
Toortsie
Oeee ek weet waarvan jy praat! 🙁 Ek kan baie dinge wees, maar STUPID is ek nie, en as ek net die vaagste vermoede kry dat jy dink ek is minderwaardig net omdat ek ‘n VROU is, moet jy weet, ek sal nie met jou baklei nie, ek sal my waardig gedra, maar JY GAAN GROOT VERLOOR WANT EK GAAN NIE BY JOU KOOP NIE!
‘n Agent van ‘n baie groot voermaatskappy wat bitter baie voer aan ons kon verkoop het dit TWEE keer gewaag om my IN MY EIE HUIS stil te maak, die huis WAARVAN EK die eienaar is, en terselfdertyd is ek ‘n VOLLE VENNOOT van ons besigheid. Baie baie geld verloor. Sies tog die arme man.
Oor ‘n septiese tenk:
Die skoonmaakmiddels wat jy gebruik is baie belangrik. Wees versigtig waarmee jy werk. Domestos is veilig vir septiese tenks. Handy Andy redelik veilig, moet net nie kanne vol op ‘n slag gebruik nie, maar die heel beste raad wat ek nog gehoor het, is: Gooi so 3 pakkie SUURDEEG in elkeen van jou toilette af, op gereelde basis. Dan sorteer die poefies in die eerste tenk sommer hulleself uit. 🙂
HesterLeyNel
Suurdeeg nè? Daarvan het ek nie geweet nie. Ons gebruik nie juis skerp skoonmaakmiddels nie, maar daar is tog die skottelgoedmasjien en die wasmajien wat heeldag hardloop.
Kameel
My man het eendag so ‘n stel afgetrap by ‘n dokter. Hy is siek, en ek sit net in en luister hoe hy die dokter van sy klagtes vertel. Na die ondersoek ignorer die dokter hom heeltemal, en vertel vir my hoe en wanneer my man sy medisyne moet neem…. en vra my tot om toe te sien dat my man nie kouse met nylon in dra nie, ens. Ek het met ‘n heel ontstoke man by die huis aangekom. 😆
HesterLeyNel
Haai nee, ek neem hom nie kwalik nie! Toe my ma reeds in haar vroeë 90’s was, het ek haar nog steeds die kans gegee om self met ons huisdokter te praat, hoewel ek bygestaan het. Die liewe siel het baie geduldig na haar geluister en vir haar beskryf hoe sy haar medikasie moet gebruik.
Kameel
Ek hoop my kinders is eendag so fyn ingestel. So sleg gevoel vir my sus nou eendag….. sy het ligte stroke gehad. Haar dogter praat toe van haar voor my asof haar ma nie teenwoordig is nie.
HesterLeyNel
Ek dink sulke mense bedoel partykeer goed, maar dit doen baie skade aan ‘n persoon se selfwaarde as mense so deur jou kyk en jou nie eens raaksien nie.
KleinKitti
What a crappy business. Waar woon jy as ek mag vra?
HesterLeyNel
Elysium aan die Suidkus – so 8 kilometer van Hibberdene af. Vreeslike klein dorpie, maar baie rustig.