My vreugdes en frustrasies

Maandag = Wasdag

Met hierdie skoene skop ‘n mens ‘n geelslang in sy hol

Image by Clker-Free-Vector-Images from Pixabay

Scrapydo2 het ons uitgenooi om oor skoene te skryf vir haar Maandag=Wasdag uitdaging no 26. Skoene en ek was nog nooit groot maats nie. Ek het immers in Namakwaland grootgeword en in die skoon growwe sand van daardie halfwoestyn, het ons kaalvoet in die veld geloop. Daarom dat die meeste van ons taamlike breë voete het. “Boerepote” het ons dit genoem. “Sandtrappers” het Frannie se pa hulle genoem. Net so.

As volwassene het ek dit nog steeds geniet om kaalvoet te loop, maar die sand was rooi en het my voete gevlek en my hakskene skurf gemaak, daar in die Vrystaat en die Vaal Driehoek. Die fyn wit sand van die Kaap het aan my voete vasgeklou en eers laat los op die sitkamermat. So stadigaan het ek geleer om skoene of sandale te dra, maar ek het ver en wyd gesoek na skoene wat gemaklik pas. Skoene met breë punte asseblief.

Ek het wel eenkeer afgewyk en my eie standaarde veronagsaam. Ná my tweede seun se geboorte het ek vir ‘n jaar lank nie gewerk nie, maar die gemis aan ‘n tweede salaris was groot. Met my eerste maand se salaris het ek gaan klere aanskaf, want teen daardie tyd het die swanger lyfie weer teruggekrimp na normaal en ek kon nie wag om weer ‘n slag mooi te lyk nie. Ek het onder meer so ‘n liggeel slooprok in ‘n sagte syerige materiaal aangeskaf, nousluitend met die soom wat onder die knieë geëindig het, en ‘n paar bruin hoëhakskoene – hoë hoëhakke as jy verstaan wat ek meen. Die heel eerste dag wat ek dit aangetrek het werk toe was ook die laaste dag wat daardie skoene ooit gedra is. Etenstyd het ek windmakerig van Pretoria Kerkplein af in Kerkstraat afgestap tot by die fotograaf se winkel waar ek ‘n rolletjie film ingehandig het. Foto’s van my tweede baba. By die ingang van die winkel was daar ‘n stel van vyf of ses trappies wat ek bestyg het soos ‘n loopplankmodel. Met die terugkomslag het ek ‘n handvol kleingeld in my vuis vasgeklem en nie aan die reling vasgehou nie. Het ek ‘n trappie misgetrap of het die skoen se hak gebreek? Ek weet nie. Maar ek het ‘n on-grasieuse duik daar van die trappie af uitgevoer en met ‘n skoen sonder hak onder op die vloer beland. Met kleingeld wat die hele winkel vol gerol het. En ‘n paar galante manlike assistente wat my en my kleingeld van die vloer af gered het. Ek het op een hoëhak- en een skoen met geen hak nie terug werk toe gehink waar ek die skoene in die asblik gegooi en vir die res van die dag op sykouse rondgegly het.

Van toe af was ek heelwat minder windmaker met my hakskoene, maar ek het nog steeds met afguns toegekyk hoe my vroulike kollegas op hulle hoëhakskoene rondgesweef het. Ek onthou hoe die pa van my kinders eendag aandagtig na my vriendin se skerppuntskoen gekyk het en toe sy oorwoë mening uitgespreek het dat jy met daardie skoen ‘n geelslang mooi in sy hol kan skop. O, ag en verskoon tog maar my taal nè? Sý taal bedoel ek. Ek reken dis baie beskrywend, maar ek weet sommige mense mag dalk beswaard voel oor sy keuse van woorde 🙄 Mens moet versigtig wees wát jy sê en hóé jy dit sê. Vra maar vir Clicks se bestuurskorps.

In ieder geval, teen die tyd dat ek vir ‘n kommersiële bank in Parc du Cap daar in die Kaap begin werk het, was ek so in my laat dertigs en reeds ma van drie kinders. Daardie dae het ek slegs Milano hofskoene gedra. Almal in dieselfde styl en baie geskik om saam met snyerspakkies te dra, soos wat dit ‘n professionele persoon betaam. Parc du Cap se kliëntebasis was meesal welgestelde sakemanne en ons kantore het daardie status weerspieël – spierwit teëlvloere, elegante houtmeubels en ‘n gedempte atmosfeer. Daardie besondere oggend, ‘n wintersoggend, was dit koud en half donker in die slaapkamer (my man het nog geslaap) toe ek vinnig en doeltreffend aangetrek en grimeer het, gou my kinders by die skool besorg en werk toe gejaag het. Ek was net betyds daar voordat ons die eerste kliënte welkom geheet het by een of ander spesiale geleentheid. Het ek my verbeel of was die kliënte ekstra vriendelik met breë glimlagge daardie oggend? Nee, ek het eers besef waarom ek so baie positiewe aandag geniet het toe een van die klerke skielik geproes en na my skoene beduie het. Daar staan ek toe vierkantig in my paar Milano skoene – een swart en een blou skoen. En my simpel sin vir humor het oorgeneem. Die personeel kon nie ophou met lag nie en ek het kliphard saam gegiggel. Die hoofbestuurder het so elke nou en dan ‘n vurige blik in ons rigting gewerp en ek het eerlikwaar gedink ek gaan hard oor die vingers geraps word – sulke gedrag was absoluut ongehoord – maar daar is nooit agterna ‘n sprook gesprak oor my onpaar skoene nie of my onprofessionele gegiggel nie.

Nog later in my lewe het ek ‘n knie-operasie ondergaan en hoëhakskoene vaarwel toegeroep. Green Cross skoene het my klerekas oorgeneem is en ek het nou nog van hulle in my klerekas, vir high days and holidays, soos my ma altyd gesê het. Hierdie skoene hou mos vir ewig.

Vir enige ander (minder formele geleentheid) dra ek sandale of strand-plakkies en op die strand self loop ek kaalvoet. Ek wurm my tone deur die goue seesand en verlekker my aan die die sandkorrels wat my voete skoon en seepglad hou. Skoene is van mindere belang in my lewe.

Ek was Donderdag by my voetvrou vir my ingroeitoonnaels (‘n oorerflike sonde). Terwyl sy my toonnaels versorg, bekyk sy my voete ingedagte en sê: “Jy het pragtige, gesonde voete. Daar is geen vergroeisels, eelte of drukpunte nie. Die brug is lekker hoog en daar is nie ‘n teken van spatare nie.”

Dis waar, dink ek so by myself en vir die eerste keer in my 69 jaar kry ek skielik nuwe waardering vir my voete. En vir die voorreg wat ek gehad het om kaalvoet groot te word.

Follow Dis Ekke

36 Comments

  1. Hester, jy kan maar net raak vertel, ek skater nou lekker. Geelslang, haha. Van de EFF manne dra self sulke elfie gepunte skoene, is dit waarmee hulle ons innie see wil skop, wonder ek nou.😉

  2. Sê jy en ek wat tande het.🤣

  3. Ek het ook kaalvoet grootgeword en verkies nog om gedurende die warme maande kaalvoet te wees. Vandag was dit lekker warm hier en my voete was bly om sandale te dra!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is bly om te hoor dit word elders al ‘n bietjie warmer. Hier is dit nog koel. Ek wil die einde van die maand Gauteng toe gaan en hoop die ysige weer sal dan al verby wees.

  4. So jy het ook neergeslaan…. en “knights in shining armour,” gehad wat jou te hulp gesnel het. Lekker stelle afgetrap met jou skoene. 😂😂😂 Dit was ‘n lekkerlees.

  5. Het nou so lekker gelees hier by jou. Hoekom spesifiek ‘n geelslang, wonner ek.

    • Het ook so lekker gelees. Was ook eenkeer n stel trappe woerts warts af- met my een skoen se hak wat op die boonste trappie bly staan het. En n ander keer het ek gaan skool hou met n swart hofskoen en n groen wighakskoen- tot almal se pret. My ma het gesê dat ek net moes gesê het dat dit nou mode is en dat ek nog so n paar skoene by die huis het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie 😊 Nee, ek het nie eens gevra oor die keuse van slang nie. Sy grappies raak partykeer te off colour na my smaak.

  6. Lekker lag ek darem nou vir ‘n geelslang-gatskoppie! En kaalvoet loop ons kaalvoet, vra die Sandvellers wie die Blootvoete is. Dis my se mense daai.

  7. Bhahahaaaaa, ek dink in prentjies… jy kry vol punte oor jy kan saam lag vir jou onpaar skoene. Ek lief dit ook om kaalvoet te loop, veral op die strand. Love daai gevoel van sand tussen die tone. En ja, ek benei die dames wat op stelte kan rondloop, ek kan nie…

  8. Dis nou n lekker lees en geniet stuk die. Nooit gedink dat skoene so n lekker onderwerp kan wees nie. Ek het ook green cross skoene gedra. Hul was darem skoene duisend. Het nog n paar in my kas waarop ek baie heilig is. Wonder of hul ooit nog pas na al die jare. Dis meer oprygskoene wat ek in die winter gedra het by my langbroeke. Dit kom hoog op teen jou enkels wat maak dat dit jou enkels stabiel kan hou. Baie dankie vir jou skrywe, waardeer dit regtig.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hou weer van hulle chelsea boots (opzip – ek kan wil nie bodder met veters nie) en ek dra myne nog gereeld.

      • Myne het veters wat mens lekker styf om jou enkel kan trek. Ek verstuit maklik my enkels en die skoene het my baie stewig gehou as ek in bosse rondloop.

  9. Ek het baie lekker gelees aan jou skoen storie. Skoene is vir my pragtig, maar hakke kan ek nie meer dra nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gelukkig is die modes nie meer so voorskriftelik nie en kan ‘n mens dra wat jy wil. Gemak is nou vir my ook van groter belang.

  10. Nou wonder ek… moes jy ‘n knie operasie kry omdat jy van daai hoë hoëhakke af ge donder het??
    Anyway, soos die Ingelsman so sê… ek dink jy kan heel lekker windlawaai al dra jy kaalvoete!
    Net so btw (soos die Ingelsman so sê…) jy het gelukking nog so ‘n paar skoene by die huis gehad, net so vir die wis en die onwis!!
    Dankie… ek het lekker gelag – saam met jou, nie vir jou nie!!
    😁😁😁

    • NS – Ek stem saam – ek dra ook nie meer hoëhakke nie… daai goed betaam nie ‘n strandloper nie!! 😂😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis oukei, jy kan maar vir my lag – my ego is nie meer so broos soos in die dae van my jeug nie. Nee, ek dink my knie-operasie was meer te wyte aan die netbalspelery op skool. Dis mos die vroulike weergawe van ‘n rugbybesering.