My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Maandag = Wasdag

Ek het my bene drie duim korter geloop

Hierdie naweek het ons die somerse weer aangegryp en oudergewoonte weer geloop totdat die ou beendere begin protesteer het.

Saterdag het ek, Karen en Buurvrou die Lake Eland natuurreservaat besoek, daar in die Oribi Gorge. Ek wou graag die game drive doen voordat die reënseisoen inskop en die wild te veel bosse het om agter te skuil. Ons het groot troppe bokke, wildebeeste en zebras gewaar, en ons was baie opgewonde toe ons uiteindelik ook die kameelperde gesien het. Met die vorige besoeke het ons hulle misgeloop. Hulle kruip mos altyd agter die digte blare van die bome weg. Ons het eers net vir ma- en pa-kameelperd gesien, maar toe sien ons nog ‘n paar oortjies uitsteek en ons het spontaan begin hande klap. Ma-kameelperd het die baba liefdevol probeer beskerm teen die indringers, maar ons het geduldig gewag en die enkele foto’s wat ons kon neem, is kosbaar.

Dit was ‘n heerlike dag in die natuur, behalwe vir die feit dat my man my motor se wiele so styf gepomp het dat ons elke stokkie, elke sloot en elke liewe klippie op die pad met mening gevoel het. Weens die droogte is die grondpad buite die reservaat ook pure sinkplaat en en my boude is nou nog blikners.

Karen en Buurvrou het die 383 trappies teen die Gorge se hange af geklim om te gaan kyk na die Boesmangrotte. Ek het geweier (been there, done that, got the blog to prove it) en het instruksies ontvang om op die bankie bo die trappe te gaan sit en myself te gedra. Ek het. Op die bankie gesit. En myself gedra. Totdat ek ‘n wandelpaadjie raakgesien het. En toe wandel ek, al op die rand van die Gorge. Wat ‘n manjefieke gesig. Aan my linkerkant was daar plate proteas wat in die knopstadium is, enkeles met blomme aan – dit gaan ‘n fees van kleure wees in die reënseisoen. Aan my regterkant het die grond ongeveer 3000 vt tot in die kom van die Gorge weggeval, tot waar die rivierstroompie in die son blink.

Ek weet nie hoe ver ek geloop het en hoe lank ek weggebly het nie, maar met die terugkomslag was Karen, Buurvrou en die restaurant se hele personeel op soek na my. Pffft. Ek gaan nie eens daai bohaai hier oorvertel nie.

Ongelukkig het my kamera in die motor bly lê, maar ek het in elk geval al baie foto’s van die Gorge geplaas – tik net “Oribi” in by die soekfunksie op my blog om dit te sien. Ek plaas ‘n paar nuwe foto’s wat hierdie naweek geneem is vir diegene wat dit nie reeds op my Facebook gesien het nie.

Sondagoggend het vreedsaam aangebreek, maar vyf minute nadat ek my oë oopgemaak het, was my vrede daarmee heen. Daar het ‘n walvis (hump back whale) op die rotse uitgespoel by Shelly Beach en natuurlik moes ons gaan kyk. Ek het die motor parkeer by die inkopiesentrum en ons het strand toe geloop. En toe moes ek nog ‘n hengse ent loop met die strand langs tot by die rotse doer anderkant. Daar aangekom, was die locals besig om die walvis oop te sny om by die vleis uit te kom. Onder die vel is ‘n dik laag spek wat ook in aanvraag was – dit word opgesny vir visaas of uitgebraai om die vleis in gaar te maak. Almal het daar rondgestaan met groot messe en plastieksakke vir hulle buit. Die hele slagting het baie stigtelik verloop. Een man het vir ons die resepte uitgelê van hoe die vleis voorberei moet word en hoe om die vet uit te braai. Die locals sê die vleis is heerlik en hulle het ook groot hompe vet in blokke uitgesny.

Asof ek nie genoeg geloop het nie, is ek toe nog van winkel tot winkel gesleep om inkopies te doen. Die somersklere is in die klerewinkels (hoera – weg met langmoue en baadjies!) en terug by die huis het ek sommer uit pure baldadigheid die komberse afgetrek en in die kis gaan bêre – net om dit ‘n dag later weer te gaan uitgrawe.

Van Maandag af het ons sulke verwaarloosde dae – dis wat my man dit noem. Eers het ons ‘n effense motreëntjie gehad, en ‘n onvriendelike koel luggie wat deur jou ribbekas trek. Toe het die wind weer opgesteek.


Scrapy, ek probeer elke week om deel te neem aan jou Maandag = Wasdag uitdaging, maar as ek weer sien, het die week onder my uitgevlieg en my blogpos is nooit geskryf nie. Ek is baie bly dat ek uiteindelik daarin geslaag het om woorde en foto’s bymekaar te sit. En dat die kameelperde toegelaat het dat ons hulle kosbare kindertjie kon bekyk.

Follow Dis Ekke

28 Comments

  1. ñ Wandelpaadjie moet mos op gewandel word, so jy het niks verkeerds gedoen nie. Wat kon jy ook nou oorkom, dis nie asof mens kan struikel en … Nee wat.☺☺
    Die walvis deel sou ek nie na wou kyk nie. Dit bly tragies maar ek verstaan ook dat die vleis ten minste baie mense kon voed.
    Komberse wegpak? Ek doen dit elke dag en sleep dan maar weer een in die aand nader.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dis tragies vir die walvis en ek sou nie ‘n kans waag om die vleis te eet nie, want mens weet nie hoekom hy dood is en uitgespoel het nie. Dit was darem ‘n geleentheid om ‘n walvis van baie naby af te sien.

  2. Heerlike avontuur ek is bly jy het gestap op die wandelpad. Sjoe dis hartseer van die walvis, el sal dit ook nie waag om te eet nie..

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      So ‘n wandeling waai ‘n mens se kop mooi skoon. Ja, dit was hartseer van die walvis, te meer omdat ons ‘n hele paar sien speel het in die see, agter op die horison.

  3. Een hele uitdaging. Soms een beetje moeilijk om te lezen maar het meeste begrijp ik wel. Leuke namen hebben jullie voor sommige dieren. En ben je nu echt drie cm gekrompen 🙂 ?

  4. Draai daai liedjie nou in my kop “As ek moeg word vir die lewe in die stad, roep my die wandelpad….” Hulle kon nie te erg gesoek het nie, jy sou hulle mos hoor

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hulle het op verkeerde plek gesoek – daar bo op die platorand. Ek was ondertoe, teen die hange. Hahaha. Karen sal haarself seker nou aan my vasboei.

  5. Hopelik gee hulle nou moed op en hou op om jou te maan om “jouself te gedra” – duidelik help dit net mooi niks nie 😀

  6. What a wonderful place, dear Hester! What is this?

  7. Sjoe diy is mooi foto’s

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Christa. Ons woon in ‘n baie mooi deel van die wêreld en in die somer hou ons daarvan om rond te loop en foto’s te neem.

  8. Eerder laat as nooit. Ek het jou storie al op my foon gelees. Die foon se skryfwerk is bietjie klein. Ek het jou storie gemerk dat ek dit nog moet antwoord. Dis nou al n week later en daar is nog nie eers n nuwe wasgoed bondel nie. Jy het die woorde baie mooi gebruik en deurgetrek na die dierelewe en die kameelperd familie. Klein kameelperdjie kyk netso ernstig soos mooma na wat die klomp nuuskierige mense doen. Jy het n paar mooi fotos ingesit. Ek stem saam met jou dat as jy moet stilsit werk jou brein baie vinnig om n uitkoms te kry van die alleen wees. Dis werklik n wonderlike wereld waar jy leef. Hier probeer hul nog om die walvisse terug in die water te kry as hul nog lewe natuurlik. Hul sny gladnie die walvisse op nie. Hul hou n “diens” vir walvis en begrawe hulle. Ai nou vergeet ek, dankie vir jou mooi skryfstuk en dat jy deel geneem het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy. Ja, die walvis is ‘n ander storie. Ek dink nie hulle het die nodige toerusting hier rond om die walvis van die rotse af te sleep nie. Dis nie wettig om die walvis op te sny nie, maar in Suid-Afrika word baie wette geskryf en bitter weinig daarvan toegepas. Hierdie walvis was skynbaar al dood toe hy uitgespoel het en daar is natuurlik altyd ‘n gesondheidsgevaar vir die mense wat die vleis eet in so ‘n geval, maar jy kan nie stry met mense wat honger is nie.

  9. Jy het ‘n heerlike tyd in die natuur gehad en het die mooiste fotos om dit te bewys. Die walvis storie is baie hartseer, maar tog interessant. Mens wonder altyd wat verkeerd gaan. Ek so ook afgedwaal het op ‘n paadjie wat vir my wink as niemand kyk nie.

  10. Dame… sit op die bankie – en bly op die bankie!!
    Wha ha HA!! Jy vertel ‘n storie so mooi… en ek moet bieg, ek kom nie genoeg hier by jou uit nie!
    Net so btw… hou op moan oor die weer… jy het dit lekker daar onder! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie en dankie vir die inloer – ek weet jy’s ‘n besige man. Ja jong, ek weet ek moet ons weer waardeer, maar onthou, ek is soveel beter gewoond – dae met baie sonskyn, geen wind, 25-30°C, louwarm water, koue bier … jy weet mos.