My vreugdes en frustrasies

Maandag = Wasdag

Avonture van my kinderjare in Namakwaland

Heutjieheu

My kinderjare in Namakwaland lê meer as ‘n halfeeu ver in die verskiet, maar ek onthou nog die avonture wat ek beleef het daar in my grootwordkontrei. Dit was in die jare voordat ons koppe gevul geraak het met die vooroordele wat voortspruit uit kulturele, politieke en finansiële diversiteit. Van politiek was ons net vaagweg bewus, godsdiens was iets waarmee ons grootgeword en as vanselfsprekend aanvaar het, en geld en besittings was van minder belang – of só het ons dit ervaar, want ons het nie van beter geweet nie. Ons het net belanggestel in die daaglikse avonture wat ons vir onsself geskep het.

Ons het in ‘n halfwoestyn gewoon. Die warm sonstrale wat op die dorre aarde neergebak het, het ons almal vroegsomer reeds neutbruin gebrand. Dis dalk die rede waarom ons kinders nie juis kleurbewus was nie. Ons het maar almal eners gelyk – die whities van die dorp en die lokasiekinders. Maar ons praat nie deesdae meer van lokasies nie; nie dat dit nodig is nie, want almal mag nou woon waar hulle wil. Lokasie het ‘n vloekwoord geword. Dis rassisties. Ons moet dit nou ‘n woonbuurt noem. Maar eens op ‘n tyd het ek heerlik in die lokasie gespeel op die werf waar Dora haar matjieshuis gebou het. Klippie, blikaspaai, blokspring, bok-bok-staan-styf. Ons kinders het almal saam koel water uit Dora se wateremmer gedrink en laatmiddag onder die matjiesdak in die koelte gerus.

In die begraafplaas, halfpad tussen die dorp en die lokasie, het die enkele bloekombome ‘n genadige skaduweetjie verskaf. Die seuns het met windbukse skyfgeskiet op die heutjieheus en koringkrieke wat hulle langasem-liedjies tussen die grafstene uitgeskrou het. Die dogters het elkeen ‘n oorle’ baba “aangeneem” en die klein graffies met toewyding versorg. Die name op die verweerde grafstene was van geen belang nie, want op die platteland het wit en bruin dieselfde vanne gedeel. Ons het elke grafsteen en die inskripsie daarop geken. Wanneer daar ‘n teraardebestelling was, het ons almal rondom die graf gestaan en saamgesing en niemand het ‘n wenkbrou gelig oor die stofbesmeerde kindergesiggies wat so stemmig vertoon word nie.

Die klipkoppies buite die dorp waar dassies uitgespalk gelê het in die son, was nog ‘n gewilde speelplek op ‘n Sondagmiddag wanneer die grootmense gaan skuinslê het na middagete. Ons was nie bang nie, want gevaar het het hom nooit tuisgemaak tussen ons nie. Die oop velde en rantjies was ons tuiste. Ons het vuurgemaak tussen die klippe en geelsuiker-tameletjie gekook in leë konfytblikkies. Geknibbel aan koenebees wat ons van die bosse rondom ons afgepluk het. Hierdie vruggie se gelyke het ek later weer teëgekom toe ek as grootmens geleer het om lukwarte te eet, maar so van die bos af geëet was dit koningskos. As ons regtig honger was, het ons hotnotskool in die veld gepluk. Deesdae is daardie woord ook rassisties en ons praat van wilde blomkool of veldkool. Dié is sommer rou geëet. My ma was besonder lief daarvoor en ek het altyd ‘n bossie daarvan huis toe geneem sodat sy dit kon kook.

Die lekkerste avonture het ons beleef in die ou oop mynskagte wat deur die kopermaatskappy agtergelaat is. Sommige van hulle was baie diep en vol water wat daar ingesyfer het. Dit het ons egter nie daarvan weerhou om teen die steil wande af te klim en die kransduiwe se neste te soek nie. Die water onderin die gate was ondrinkbaar – dit het gesmaak soos ou koperpennies en enige metaal wat vir ‘n rukkie daarin gelê het, het mettertyd so ‘n groenblou kleur aangeslaan.

Blommetyd in Namakwaland het natuurlik gesorg vir sy eie plesiere. My pa was ‘n ywerige fotograaf en ‘n man wat elke dag in die veld sou vleisbraai as hy maar net die tyd gehad het. Niemand was onnosel genoeg om die veld aan die brand te steek nie en ons het ‘n vuurtjie aangeslaan net waar ons dit goedgevind het. Dan het ons tussen die veldblomme deurgeloop. My pa was in sy element by die braaivleisvuur. Dis een reuk wat ek nooit sal vergeet nie – die reuk van ‘n droë melkbos wat gebruik word as fynhout om die vuur aan die gang te kry. Het dit die smaak van die braaivleis aangetas? Ja, dalk, maar dit was deel van die lekkerte.

My ma het ons geleer om te luister na die tjienk-geluide wat die wit en blou tjienkerientjees gemaak het as die stammetjies teen mekaar gevryf word. Ons het lank en driftig gegrawe agter die knolle van die Pietsnotblommetjies aan – daarmee kon jy ‘n stuk karton seepglad smeer om teen die platklip af te seil. Ons het die veelkleurige vygies bewonder, maar ver weg gebly van die bittergousblomme waarvoor die bokke en koeie so lief was – dit het hulle melk bitter gemaak en dis hoekom ons kondensmelk in die koffie moes drink. Daai bitter geur het vir dae lank aan jou vel geklou en alles waaraan jy geraak het, bitter gemaak.

Ons vakansie-avonture by die Weskussee is ongeëwenaar deur enigiets wat ek in my latere lewe beleef het. Ons kon destyds nog bakkies (klein houtbootjies) leen by die vissermanne om nette te span vir krewe wat my pa sommer daar op die strand in ‘n drom water gaargemaak het. Ons het bokkoms geëet totdat ons mondhoeke rou was van die sout. Bloeddruk? Nie geken nie. Bedags het ons in die see geplas of in die sandduine rondgespeel en ons velle bloedrooi geskroei. Velkanker? Onbekend.

Die beste van alles was dat ons al hierdie avonture kon beleef sonder vrees, sonder voortdurende toesig en sonder enige nadelige nagevolge. Die tronke waarin ons vandag onsself toesluit ter wille van veiligheid, het nog nie bestaan nie. Ek verlang sommer weer terug.


Hierdie blog is geskryf vir Scrapydo2 se Maandag = Wasdag no. 12 bloguitdaging.


Photo credit: Image: Bullacris membracioides (Bladder Grashopper) Found on Google from iucnredlist.org. Die blaasopsprinkaan is ook bekend as ‘n hekejee, hekiejee, heukieheu, heutjiehie, hiekiehee, huidjie-eenasem, huidjie-eenderm, huidjiehee, huitjieheu, huitjiehu, hutjie-eenasem, hutjie-eenderm, hutjiehee, hutjiehie, hutjiehu, huutjiehee, huutjiehu, blaasoppie, heutjieheu, kareleenderm, katjie-eenderm, katjiepietereenderm (VIVA-Annerlike Afrikaans).

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

43 Comments

  1. Ag dit was nou lekker om van jou kinderjare te lees. Het seker as kind laas aan tjienkerientjees gedink. Die babagraffies aanneem en versorg is kostelik… en sommer ook die begrafnisse bywoon.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Geboortes en sterftes was ‘n natuurlike deel van ons lewe.

      • Dat is het nog steeds Hester, of men het wil of niet … Sterven IS een deel van het Leven !
        Alles wordt nu wel ‘steriel’ en ‘apart’ behandeld,
        zieke mensen in een ziekenhuis, oude mensen in een bejaarden tehuis, kleine kinderen in een crêche, enzovoort, de kinderen hebben haast geen kontakt meer met de realiteit van het Leven, inklusief het sterven …
        In mijn jeugd waren de meeste zieken thuis verzorgd, zag je als kind hoe iemand kon verouderen of zwakker werd en uiteindelijk dood ging …
        Ik heb dat toen in Nederland beleefd net als jij in Afrika,
        maar ja, ik ben dan ook al 73 jaar nu .
        Lieve groet, hanny uit zuid Frankrijk <3

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, ons leef apart. Waar is die dae toe die hele familie saam met ouma en oupa in een huis of ten minste in dieselfde dorp gewoon het. My ouma en oupa is oorlede un ons huis. Ons kinders het dit as natuurlik ervaar.

  2. Awe, dis te oulik! Mis julle klomp, want ek hol rond, ry rond en kry nie tyd vir sit nie. So, dit sal lekker wees om weer net rustig te kan sit en al jul skrywes te lees. Hoop jou muse daag gou op! xx

  3. Hester!!! Ek is skoon kortasem gelees! Wat ń wonderlike manier om groot te word! Die herinneringe wat jy bymekaar het! Als wat ek sê het uitroepe agteraan, want jou skrywe verdien dit.🌺🌺🌺🌺

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Una 😀 ek het altyd so jammer gevoel vir my kinders wat in die stad moes grootword, maar selfs in hulle tyd het hulle veel meer vryhede gehad as vandag se kindertjies.

  4. Ek het nou lekker saam met jou in jou kleintydonthou gekuier. Jou vertelstem in my ore. My gedagtes hol nou ook meer as vyftig jaar plus terug, in denneplantasies op soek na feëtjies en kabouters en in boomhuise vêr-vliegend tussen die blaaie van boeke. Lekker. Dankie Hester.💐🤗

  5. Heerlijke avonturen in je jeugd meegemaakt!

  6. Goh, Hester, wat leuk hier jouw verhaal over vroeger in het Afrikaans te lezen; Mooie herinneringen heb je, dat is zeker !
    Ik kom vaker terug om hier te lezen bij jou !
    Lieve groet uit zuid Frankrijk,
    hanny

  7. Hester ek het jou herinneringe baie geniet. Alhoewel ek in die Oos-Transvaal groot geword het was my kinderjare ook in die veld deurgebring. Jy praat van speel sonder vrees; ons HET so veilig gevoel. My kinders vind dit moeilik om te glo dat my ma rustig was terwyl ons in die veld geloop het, vuur gemaak het ens. Ek verlang ook na die vryheid van daardie dae.

  8. woordnoot

    Oe Hester…dit klink idillies mooi en jy het my skoon verplaas na n wereld wat my asem wegslaan…

  9. Ek het nou so lekker gelees hier…dankie Hester, vir die wonderlike beskrywing van jou sorgelose jeugtyd.

  10. Dankie, vir jou skrywe. Ek het in ‘n deel grootgeword, waar due reënval, heelwat hoër was, maar ons het glad nie, daardie verskeidenheid plante gehad nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die inloer Coetzee. Ons het natuurlik ook die blomme net sommige jare gesien, as dit genoeg gereën het, maar dit was (en is steeds) ‘n fees vir die oog.

  11. Pragtig Hester, jy mag maar! Jou skryf lees heerlik en is baie insiggewind en interessant van jou kleintyd jare. Die half-woestyn is ook maar n anderste plek om groot te word. Daardie dae was beslis ongesteurd en veilg vir kinders. Baie dankie dat jy na aanleiding van Maandag=Wasdag geskryf het. Waardeer dit baie.

  12. Ai hoe idillies – en so helder geteken dat ek daardie stowwerige kindertjies kan sien!

  13. Wat n mooi herinnering verhaal. Nou weet ek waar jou diepe liefde vir die natuur vandaan kom. Jou woorde het pragtige tonele geskilder.

  14. Nou wil ek ook daar gaan bly, dit was so beautiful geskryf, dankie vir die deel🌻

  15. Wonderlike herinnering. Te oulik die storie van die babagraffies. Wat sou van die maats geword het?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het nog kontak met sommiges, hoewel ek nooit weer teruggekeer nadat ek uit die skool is nie. Ons het mekaar ná baie jare weer opgespoor op facebook.

  16. Dis kan nogal werk om die grafte in stand te hou. A deesdae is dit blykbaar begrawe en vergeet.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis hoekom my voorsate in klein boksies in die laaie van my bedkassie rus.

      • My mense moet my boksie gaan leegmaak by een van die watervalle. Verkieslik Forest Falls. 😉

  17. Wow… sjoe… hoe het jy my nou ook aan die verlang!!
    Weet jy, as ons nog in daai dae se vrede gebly het dan het ek al lankal vir julle kom kuier… omdat ons dan nie hier sou bly nie!
    Ek verlang ook terug na daai onshuldige dae… toe die skool boelie ‘n mens se grootste vrees was… tot iemand hom op sy aalie om gestamp het! 😉
    Mooi geskryf… ek het dit geniet om saam therug the gaan Weskus en Namaqualand toe!! Kreef… nou drup my bek!! 😛

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Vossie. Ek wens ek het daardie jare meer waardeer terwyl ek dit beleef het. Wie’t nou weer gesê: “Youth is wasted on the young”? Of so iets.

  18. Wowwwww fantasties

  19. Lekker gelees Hester wat my jaloers maak omdat ek op die Witwatersrand (huise orals aan elke kant) grootgeword het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek kan my nie voorstel hoe kinderjare in die stad sou wees nie, maar my kinders (wat in Kaapstad se noordelike voorstede grootgeword het), sê hulle het lekker kinderdae gehad. ‘n Mens pas seker maar aan.