Jy moet jou gesondheid te alle tye ernstig opneem. Jy kan nie vir ‘n oomblik lank laat slaplê nie. Waaksaamheid en matigheid moet jou middelname wees. Ek weet daar word groot gewag gemaak van die feit dat ons almal eendag moet doodgaan – dis maar deel van die lewenssiklus. En om dood te gaan is so natuurlik as om gebore te word en te lewe. Ja, bla-bla-bla, maar terwyl jy nog in die siklus is, net voor jou geskeduleerde afsterftyd, moet jy dalk maar jou oë oophou.
Dis omdat my oë oop was en gerig op die pad voor my sitkamervenster, dat ek eintlik meer raakgesien het as wat, streng gesproke, noodsaaklik was vir my eie gesondheid. Daar sit ek toe op die trap en kou aan my appel, ter wille van my eie gesondheid, en staar na buite. Buite in die pad, soos ek gesê het. En skielik neem ek beweging waar. ‘n Beweging wat lyk soos ‘n miniskule klein karretjie met wieletjies wat baie vinnig rol. Net daar vat my natuurlike nuuskierigheid oor en ek storm uit om te kyk wat aangaan. Sonder om eens links en regs te kyk vir verkeer. Maar gelukkig vir my gesondheid, het ek darem nie in die pad van aankomende verkeer beland nie. Ha! Jy het geskrik en gedink ek het myself laat omry, nè?
Nee, al wat gebeur het, is dat ek ‘n merske groot spinnekop in die pad gekry het. Hy het laat wiel om aan die ander kant op die sypaadjie te kom – daai agt pootjies het so vinnig gehol dat dit voorwaar soos wieletjies gelyk het. Maar die oomblik toe my skaduwee oor hom val, gaan staan die stoepit ding in die middel van die straat, sonder om aan sy eie veiligheid te dink. Hy speel dood. Toe moes ek daar staan en hom oppas sodat hý sy lewe behou. Ek doen toe wat elke regdenkende mens sal doen onder sulke omstandighede – ek gil dat iemand ‘n kamera moet bring. En ons neem fotos.
Met genoeg fotos op die kamera, het ons besluit om hom na veiligheid te bring. Maar kan jy nou glo dat ‘n spinnekop so stoepit sal wees dat hy aan daai teer klou soos ‘n magneet? Hy wil om die dood nie loop nie, wil nie op ‘n stokkie klim nie en laat nie toe dat ons ‘n papier onder hom inskuif nie. Plan B was om hom met rus te laat en te kyk of hy nie self begin loop nie. Ons gee toe so ‘n entjie pad en hou hom dop daar van die trap af, een oog op die hek om seker te maak dat ‘n onverskillige motorryer nie die stoepit spinnekop plattrap nie.
Met dié dat ons oë op die pad was, het ons nie die naderende gevaar uit die lug raakgesien voordat dit te laat was nie. Skielik het daar ‘n horingneusvoël in die pad geland en ‘n oorwinningsdansie uitgevoer op maat van ‘n oorwinningsliedjie. Daar was net tyd vir ‘n foto van die mooi voël.
En voordat ons buite kon kom, het die mammavoël die stoepit spinnekop in haar bek gehad. En daar gaat sy die lug in, na haar nes toe waar die honger kleintjies wag.
Dis hoekom ek sê. Jy moet waaksaam wees en altyd aan jou gesondheid dink. Moet nooit vergeet dat die een se dood die ander se brood is nie. Iemand moes dit vir die stoepit spinnekop vertel het.
Hierdie blog is geskryf vir Scrapydo2 se Maandag = Wasdag – Gesondheid uitdaging, maar elke woord is die volle waarheid!
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ag Hester, ek lag nou so oor die stoepit spinnekop, en jou pittige wysheid, die suikerbekkies op die vensterbank raas met my! Kostelik. Groetnis!
HesterLeyNel
😀🤗
Toortsie
En ek sou ook gegil het en gespring het, weg van die spinnekop af. Ag dankie tog die voël het my kom red!
HesterLeyNel
Nee man, daai is ‘n baie bang spinnekop – hy vreeslik sku vir mense.
Toortsie
Ek laaik hom niks en het amper nie jou bloginskrywing gelees nie omdat die spinnekop die hele skermvol was.
HesterLeyNel
Ai, tsk. Het ‘n spinnekop jou al gebyt of is dit net sy voorkoms wat jou afskrik. Ek moet sê, ek hou niks daarvan as hulle in my huis probeer intrek of op my wil klim nie.
Toortsie
Ja, ‘n kleintjie het my gebyt en ek was dodelik siek. Die grotes se voorkoms skrik my af.
Una
Hier sit ek alleen in die Kollonade se Spur, moet twee ure wag vir Bertus in ń vergadering. Wat doen ek? Ek sit vir jou en lag want die prentjie wat opgetower word is skreeusnaaks.😅 Jy opper ń lewenswaarheid of twee ook, maar jy en die spinnekop en die voël wen hierdie maand se prys! By verre!
HesterLeyNel
Dankie. Ek is bly ek kon jou vermaak. Ons het ook gelag oor die onverwagse sameloop van omstandighede, maar hier agter in my kop pla ‘n klein stemmetjie my omdat ek indirek verantwoordelik was vir sy tragiese heengaan.
Anne
‘n Wonderlike storie!
HesterLeyNel
Dankie Anne 😀
Kameel
Ag hemel Hester…. gil vir die kamera 😂😂😂 Ek sou vir Doom geskreeu het. Na regte moet daar ‘n saak teen jou gemaak word aangesien jy verantwoordelik was vir die gruwelike moord op die spinnekop… en dan is hy nog opgevreet ook!!!
HesterLeyNel
Ja, maar dink nou asseblief ook aan die voëlbabatjies wat broodnodige proteïne gekry het. Ek het maar net saam met die natuur gewerk!
scrapydo2.wordpress.com
Welgedaan! Dit was nou n heerlike lekker lees beskrywing van die stoepit spinnekop en mense en dan die slim neushoring! Die spinnekop is n reenspinnekop. Nou gaan daar nog minder reen kom omdat daar een spinnekop minder is. Hul loop mos op die hoogte waar hul voel dit veilig is as die reen kom. Hy het toe aangevoel hy kan maar gelyklangs loop want daar is nog nie veel reen aan die kom nie!
HesterLeyNel
Hy is reg. Die reën wat ons deesdae kry, wapper so liggies in die lug rond en verdwyn soos mis voor die son. Die bogrond bly droog en die plante dors.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, dis maar n storie. Net jammer ou spinnie het die honger magies gevul.
joke_dev
Jakkes, een rare vogel hoor! Ik zou toch niet graag die spin zijn! Als ik nu opgegeten werd door iets mooi 🙂
HesterLeyNel
😁 ek moet saamstem, Joke
VirgoC
Slim voël….
HesterLeyNel
Sy was baie opgewonde oor haar groot fonds 😀
woestynkind
Baie goed geskryf. En is jy nie gelukkig om alles op kamara te kry nie?? Baie dankie, maar ek wonder nou oor die les? Moenie in die koelte bietjie asemskep nie? Dis stoepid?
HesterLeyNel
Hahaha. Dis gepas.