My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, My eiers

Skryf-safari – ek het my stapplakkies aan.

Southport, KwaZulu-Natal met ons voete in 'n rotspoeletjie.

Hierdie week se Lê Jou Eier uitdaging word aangebied deur  travel460 van die blog Bali Drome en sy sê ons moet ons stapskoene aantrek, stapplakkies in my geval, want ek is te wild en onbeskaafd om skoene te dra.


Daardie mooi voetpaadjie deur die bos, teen die heuwel op, berg af, strand-langs, maak nie saak waarheen dit lei nie, is deur die skepper van hierdie lieflike wêreld daar geplaas om my siel gesond te hou. Ek moet op ‘n daaglikse basis tone klap, straat af, iewers heen, net om die ooptes te beleef en vry te kan asemhaal. Wanneer ek in die huis vasgekeer word deur slegte weer of ‘n snotterneus, krimp my siel en gaan kruip weg in ‘n donker hoekie.

Diegene van julle wat gereeld my blogs lees (en dus weet die meeste van hulle handel oor uitstappies in die natuur), is seker al siek en sat vir my gebabbel en my fotos van die see, die riviere, die son, die blou lug, die plante- en dierelewe. Ag jammer om te hoor nè, maar Una moes van beter geweet het as om my uit te daag om wéér hieroor te skryf.

Die eerste foto heel bo aan die blog is een wat Oudste Seun verlede week geneem en per whatsapp aangestuur het vanoggend. Dis ek en my geliefde stapmaatjie, dogter Karen, wat ‘n bietjie ons voete afkoel in ‘n rotspoeletjie by die strand tussen Southport en Sea Park – loopafstand van ons huis af. Kyk net die groot wittand-glimlagte wat vertel hoe lekker dit is om so te kan sit en rus na ‘n lang loop in die bloedige son. Let op die stapplakkies weerskante van ons op die plat rotse 😊

Die volgende foto is einde verlede jaar geneem by die Boesmangrotte in die Lake Eland Natuurreservaat. Ek het 383 trappe afgeklim teen die steil platorand om daar te kom en het nog steeds die plakkies aangehad toe ek dieselfde 383 trappies weer uitgekruip het tot bo.

Hier staan ek op Leopard Rock in die Oribi Gorge (met die plakkies aan) en probeer hard om aan te sluip na die punt toe vir daardie WOW! foto, terwyl Oudste Seun op my gil om terug te kom na veiligheid toe: “NOU DADELIK, MA!”

Al met die treinspoor langs en dan deur die bospaadjie tot op die strand met plakkies aan (slange? ja, soms) daar by Sea Park.

Een of ander tyd verlede jaar met plakkies aan op die plat rotse by die Ifafa getypoel.

En soms is die plakkies wel daar, maar net buite sig daar onder op die sand. Om die see te geniet, moet jy bo-op ‘n rots sit en jy klim liewer kaalvoet daar uit om seker te maak jy stort nie onverwags na benede nie. Iewers by die strand (Umzumbe dalk?) so ‘n paar weke gelede.

Geneem in die Oribi Gorge sowat 2½ jaar gelede, toe ons ‘n bietjie verdwaal het en amper sewe ure oor berge en deur dale geloop het om weer by die pad uit te kom. Wat is verkeerd met hierdie foto? O ja, ek dra nie plakkies nie, maar wel ‘n paar leerskoene. Die volgende dag was beide my groottone se naels potblou. ‘n Maand daarna was my groottone sonder naels. Dit het meer as ‘n jaar gevat om weer ordentlike naels aan my groottone te groei. Nou weet jy hoekom stapplakkies deesdae die “in” ding is.

Ek het blogs geskryf oor al die plekke wat ons al platgeloop het hier aan die Suidkus van KwaZulu-Natal. As jy belangstel om daarvan te lees, sal jy die blogs kry by hierdie skakel.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=778471

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

42 Comments

  1. Oh! Pretty woman climbing rocky hills! La-la-la! 🙂 Great!

  2. O genade, dit was nou so heerlik om saam met jou rond te stap. Veral omdat ek al hierdie stapplekke reeds saam met jou beleef het, deur jou blog! Ek het nie ń saak met jou nie, Hester. Kom Desember, stick ek jou en Karen iewers vir ń piekniek; iewers waar ek reeds saam met julle rondgeloop het. Baie dankie vir jou inspirerende skrywe.

  3. Son, see, sand en plakkies – wat meer wil ‘n mens hê?

  4. Mooi fotos. Ja, stap met skoeisels en sport met tekkies, vereis kort toonnaels. Ek is net bekommerd oor daardie stappery, so tussen die bosse.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons is baie versigtig, Coetzee en ek weet dit is deesdae nie 100% versekering nie, maar die alternatief is om geen lewe te hê nie, net ‘n bestaan.

  5. Dis Hester, dié een met die plakkies aan 😀😀😀😀 Was ook aan begin bekommerd oor jou en Karen wat so rondstap…. maar jy sal in jou huis vergaan.

  6. Ek is ook lief vir stap. 😁

  7. Die ydelheid van die jeug darem, hierdie stappery in die sjoe-broekies is net ‘n verskoning om been te wys en hoe minder stewel, hoe meer plakkie en been!!
    Natuurlik die goue reel van stewels drs is kort toonnaels. Op die afdraendes is lang toonnaels ‘n pyniging.
    Jy is duidellik meer talentvol as ek Hester, ek kan nie so stap met plakkies aan nie (maar dan ek het nie jou bene nie 🙂 🙂 :).
    Maar ek hoor jou hart, ek kan ook nie in ‘n gebou vasgevang sit nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha, ek het gedog jy gaan my erger bykom as dit! Ag Abrie, ek loop darem nie op die hoogtes of onder in die laagtes soos Abrie die Avonturier nie, so my plakkies is meer paslik hier. Die bene, wel, jy kan nie die haelskade en die beskadiging van die oppervlakte so duidelik op ‘n foto sien nie, so gun my tenminste hierdie “brag”regte – in die werklike lewe sal jy dalk weghardloop as jy my in die nag teëkom. Ek gaan uit om bene te wys; geniet jou Sondag!

  8. Donna B. McNicol [@dbmcnicol]

    I thoroughly enjoyed the photos, being a newer follower (thanks to the A to Z). Fortunately, Google translate did a decent job with the text. LOL!

  9. Hester jy is omtrent n stapper! Wanneer is dit my beurt en jan ek sekf besluit waaroor ons skryf?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jou beurt begin Donderdag die 10de (hierdie week). Jy moet vir my teen Woensdag laat weet wat die titel van jou blog gaan wees sodat ek vir jou die skakel op InLinkz kan skep. Toortsie ken die drill en jy kan vir haar vra vir my whatsappnommer (ek publiseer dit nie op die blog nie, want dan kontak Donald Trump my dalk). Of inboks my op fb. Direkte kontak maak dit makliker vir my om vir jou die instruksies en inligting deur te gee.

      • Hetster ek het eers gisteraand laat hierdie boodskap gesien . Ek het vir jou gewhatsup.

  10. Jou storie laat my dink aan die keer laaaank gelede toe ek besluit het om met my goue sandaaltjies aan Oribi aan te durf, sal daaroor blog. Vrek snaaks
    Mens kan mos nie met toe skoene aan daar by die see rondloop nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sien nou jou goue sandaaltjies op daai staproetes deur die bos en oor die klippe, haha. Skoene is nie my gunsteling kledingstuk nie.

  11. Suster Hes maar jy lyk goed jong, jy moet tog versigtig trap daar waar jy stap, hoor. Jy sien darem die mooiste mooi.

  12. Lekker stap… sterk enkels en stapplakkies… hulle gaan saam sood spek en eiers!! Moer, nou is ek honger… ek wonder hoekom?
    😉

  13. Lekkerste stappe wat jy doen. Dis so belangrik vir die bloedsomloop om te beweeg. Die plakkies draery was ook my geliefe manier van stap. My man het dit gehaat want hy kon my van ver af hoor aankom. Ek was ook mal oor plakkies maar hier doen ek dit nie want die wereld is te ongelyk en my balans is nie meer so goed nie.

  14. Pragtige fotos, deel gerus meer fotos, ek kan die bos en strand amper ruik.

  15. Lovely happy photos.