My vreugdes en frustrasies

Lê-Jou-Eier

Hoe het jy die status van Towerin bereik?

Die Towerinne se giggelgroen bus

Kameel het gister gevra dat ek ‘n InLinkz-skakel moet opstel en Towerin-bloggers moet vra om te beskryf hoe hulle oorspronklik met die ander Towerinne kennis gemaak het, hoe hulle betrokke geraak het by hierdie groep en wat hierdie groep vir hulle beteken. En hier is die skakel waar almal se bydraes aangeheg moet word: https://fresh.inlinkz.com/p/a0c98db4df894be6921458c62165d987

Vertel vir ons hoe jy aanvanklik by hierdie groep betrokke geraak het. En betrokke gebly het.

Wat is na jou mening, die rede waarom hierdie diverse groep vroue soveel aanklank by mekaar vind? Wie en wat is ‘n Towerin? Diversiteit is inderdaad een van die onderskeidende kenmerke van die groep wat gevorm is voordat enigeen van die lede mekaar ooit in lewende lywe ontmoet het.Hulle woon in verskillende dele van die land en selfs oorsee, dus is kontak merendeels beperk tot die kuberruimte. Hulle beoefen nie dieselfde soort beroep of sport nie, behoort nie aan dieselfde verenigings of organisasies nie, luister nie (altyd) na dieselfde musiek of lees dieselfde boeke nie. Hulle verskil van ouderdom, agtergrond, lewenservaring, politiese en godsdienstige oortuiging, ly nie aan dieselfde soort kwale nie, volg nie dieselfde diëte nie. Wat is dan die gemene deler hier?

My eie ondervinding? Ek het by die groep bloggers betrokke geraak toe ek my ‘n paar jaar gelede begin toelê het op Afrikaanse blogs. Ek het ‘n bietjie heimwee ondervind oor my Taal waarvan ek oor die jare heen vervreemd geraak het. Op my gewone ontaktvolle wyse het ek doodeenvoudig ingeval by besprekings om kommentaar te lewer, en my opinie uitgespreek op my eie blogtuiste. Tot my verbasing het bloggers my webtuiste begin besoek om kennis te maak. Kort voor lank het ‘n klompie van ons ‘n groep gevorm wat gereeld deelgeneem het aan bloguitdagings, en Kameel se uitdaging om ‘n misdaad te pleeg, was die vet in die vuur. Ons was arrogant genoeg om sommer ‘n kollektiewe projek aan te pak en ‘n vervolgverhaal te skryf. Op hierdie wyse het ons by Toweropstal beland, soos Kameel in haar aflewering geskryf het.

Wat hierdie klompie deelnemende bloggers aangevuur het, was gedeelde karaktereienskappe soos ‘n onblusbare lus vir die lewe, ‘n verbeelding wat nie stuit vir enige uitdaging nie, ‘n onstuitbare drang om die vetkryt vas te gryp en buite die lyne in te kleur, en ‘n sin vir humor wat die mensdom oorbluf laat. Dieselfde mense is nog steeds in ‘n mindere of meerdere mate bedrywig op hulle blogwerwe, hoewel nie almal deelgeneem het aan alle daaropvolgende uitdagings en avonture nie. Want Toweropstal was nie die einde van ons kreatiwiteit nie – daar was latere avonture en die bloguitdagings gaan voort. Klik hier vir nuus oor die uitdagings.

By Toweropstal was daar nie net vroue nie, hoewel die benaming “Towerin” later ontstaan het na aanleiding van hierdie eerste avontuur. Saam-saam het die Towerinne nog vele avonture beleef en later intrek geneem in hulle eie dorpie, genaamd Rebusfontein. Ek is seker die ander Towerinne gaan hierdie stories weer opdiep en aanhaal.

Wat vir my uitstaan van ‘n Towerin – in die werklike lewe- is die bereidwilligheid om diversiteit in hierdie groep te omhels, om sonder vrae die arms om mekaar te slaan en ondersteuning te bied wanneer nodig, om saam te lag, saam te huil en saam te staan teen bedreigings van buite af. Saam laf te wees. Saam oplossings te soek vir vraagstukke, of net ‘n skouer aan te bied om op te leun. Altyd sonder vooroordeel en verwyt. Dit is ‘n vreemde, maar verblydende verskynsel dat ‘n groep vroue wat mekaar nie in lewende lywe ken nie, so ‘n gevoel van samehorigheid kan skep. Dalk was dit – onbewustelik – ‘n voorbereiding vir hierdie dae van social distancing wat op ons pad gebring is. ‘n Bestiering, dus.

Van die Towerinne het ontmoetings gereël en as dit nie vir die Corona-virus was nie, sou ‘n paar van ons teen einde April in Johannesburg bymekaargekom het. My lip sleep nog steeds op die grond omdat ek daardie vliegtuig moes verpas. Ander lede van die groep het mekaar ontmoet en sal sekerlik daarvan vertel. Die res van ons hoop nog om mekaar eendag van aangesig tot aangesig te sien.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

26 Comments

  1. Dankie Hester, dis mooi gestel. Bly vir my verbasend dat ‘n klomp vreemdelinge so ‘n hegte band kan vorm.

  2. Una

    Hester, jy moet ons tyd gee, hierdie is ń diep uitdaging. Want al klink ons soms bietjie ‘ernstig laf,’ lê ons towerin wêreld baie na aan ons harte.

  3. Jy het dit dan nou al so goed beskryf, ons kan amper niks byvoeg nie. 🙂

  4. “…..om sonder vrae die arms om mekaar te slaan en ondersteuning te bied wanneer nodig, om saam te lag, saam te huil en saam te staan teen bedreigings van buite af. Saam laf te wees. Saam oplossings te soek vir vraagstukke, of net ‘n skouer aan te bied om op te leun. Altyd sonder vooroordeel en verwyt. Dit is ‘n vreemde, maar verblydende verskynsel dat ‘n groep vroue wat mekaar nie in lewende lywe ken nie, so ‘n gevoel van samehorigheid kan skep. Dalk was dit – onbewustelik – ‘n voorbereiding vir hierdie dae van social distancing wat op ons pad gebring is. ‘n Bestiering, dus.”

    Sela! Jy vertel soos Towerin-wees is!

  5. Ai, ek het nou gaan delf in die verlede en kon net nie ophou om weer stories te lees oor alles wat al gebeur het nie. Sonder jou sou ons ook nie oorleef het nie.

  6. Mooi verduidelik, Hester. Die Towerinne het geskryf en sommer hulle vriendskapoe ook gelink!

  7. Dit is nou so mooi beskryf Hester. Ek pink ‘n traan, want terwyl die wêreld my weirdness en anders denkery teëstaan het die Towerinne werklik ‘n veilige hawe geword. Dankie dat ek kan deel wees van julle. ❤️

  8. Hester, jy was die gom wat hierdie klomp wonderlike mense aan mekaar geplak het. Ons is jou ewig dankbaar!

  9. Pragtig geskryf soos altyd en interessant. 💞
    Dit moet ‘n belewenis wees om mekaar uiteindelik te ontmoet, ek hoop dat julle in die toekoms bymekaar kan uitkom en daarvan vertel.

  10. Petra van Tonder

    Hallo Hester, dit is met hartseer dat ek dink jul moet my huisie 19 vir iemand anders gee. Ek kom net nie daarby om aan jul dierbare en lekker uitdagings deel te neem nie. Dus is ek net ‘n towerin in naam. Ek lees graag wat jul skryf, maar my tydsbestuur werk blykbaar nie goed nie. Vergewe my dat ek nie deelgeneem het nie. Julle is ‘n pragtige groep mense wat ek baie geniet, maar ek bring nie my deel nie. Ek sal egter graag nog al jul skrywes wil lees. Dis altyd inspirerend en so regtig aangenaam.
    Baie dankie dat jul my ‘n plekkie by jul gegee het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, soms kom die regte lewe in die pad, nè? Ek is darem bly jy geniet ons lawwighede, al is dit so van die kantlyn af. Sterkte met al jou bedrywighede en loer asseblief nog so nou en dan in.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Back to Top
%d bloggers like this: