My vreugdes en frustrasies

COVID-19, Lê-Jou-Eier

COVID-19 Dag 19 van gedwonge ledigheid

Flower of the Australia Umbrella / Octopus Tree

Flower of the Australia Umbrella / Octopus Tree

Ledigheid is die duiwel se oorkussing, het die oumense graag gesê. Dis nou die geslag oumense wat nog ouer as ek is. Gegewe my hogere ouderdom is daar nie veel van hulle oor nie. Ek moet hulle nagedagtenis eer en nie hulle wyse gesegdes vergeet nie.

So wat beteken hierdie gesegde nou eintlik? “As ‘n mens nie werk nie of nie werk het nie, kom jy maklik in allerlei versoekings” (volgens die WAT). Siende dat ek nie werk het nie, en ook nie wil hê nie, klink ‘n versoekinkie of twee om hierdie gedwonge ledigheid te onderbreek, nie na ‘n slegte idee nie. Maar nou sukkel ek vreeslik om ‘n ordentlike versoeking op te spoor met dié dat ons bewegings nou so ingeperk word. En vandag reën dit ook nog hier in die Zulu Kingdom. Ek het nou al elke fliek gekyk, elke boek gelees, elke stukkie musiek geluister en elke skinderstorie gevolg op sosiale media wat moontlik my aandag kon hou. Wat staan my nou te doen? Die ledigheid raak my nou oor.

Loop by die trap af en gaan staan voor die yskas. Eerlikwaar, ek dink nie eens ek moet die moeite doen om die deur oop te maak nie. Daar is ‘n appelboord en ‘n wingerd in my yskas, want appels en druiwe is staande items op my inkopielys wat ek vir PnP e-pos. Geen ander versoeking daar nie.

Ek gaan kyk wat Jac doen. Sy rekenaar is besig om Bingo te speel sonder hom en die tv is gemute – die nuusbeelde oor die Coronavirus flits in stilte oor die skerm. Hy het die afgelope paar weke net gesit en staar na sy mak gekko wat ook skielik heengegaan het. Die gekko het in die lig teen die muur gewoon. Saans het hy muskiete gevang, en ander vlieënde goggas wat deur die lig aangelok is. Bedags het hy binne-in die lig se omhulsel (wat noem ‘n mens dit?) gelê en slaap. Net sy stertjie se punt het onder die glasbedekking uitgehang. Hoe lank kan ‘n mens staar na ‘n gekko se stertjie wat onder ‘n ligomhulsel uit hang? Taamlik lank, as die ledigheid jou oorval. Maar nou is die gekko weg sit Jac na die muur en staar. Ek dink hy rou. Sug. Nee wat, geen versoeking daar nie. Opdatering 21 April – die gekko is terug minus een been. Sy doopnaam is verander na Tripod, maar sy pa was nietemin bly om hom te sien.

Gluur deur die sitkamervenster. Dis nat. Die ander huise se deure is toe en die bure wys nie gesig nie. Ander dae kan jy hulle darem sien beweeg in die tuintjies of afluister hoe hulle skinder en baklei. Vandag is dit doodstil. Selfs die brakke is binneshuis. Ledigheid het hulle ook oorval. Maak ook nie juis saak nie, want ek dink nie versoeking leef tussen die spul oumense en hulle mak huisdiere nie.

Slof dan maar weer teen die trap op. Sit by die venster en luister na die see. Nee, maak toe die venster. Dis só naby, maar tog só ver en as ek toegee, kan daai versoeking my in shit creek laat beland.

Vroeër die week, toe ons nog son gehad het, het ons maar foto’s hier rondom die huis geneem. Dit sou nou baie lekker gewees het om nog foto’s by die strand te gaan neem … Nee, nie daaraan dink nie. Ons het hier om die twee huise gestap en Karen het ‘n blom, ‘n uil en die maan afgeneem. Ek het paddas afgeneem.

Die blom (hooffoto) sit doer bo in ‘n boom by die bure voor ons. Dis ‘n merske hoë boom – hy staan ten minste drie verdiepings hoog – en ons het geen idee wat dit is nie. Kan iemand die blom identifiseer? Opdatering 24 April: Die Plantsnap app het tot ons redding gekom – die blom is geïdentidiseer as die Australia Umbrella Tree (ook bekend as die Octopus Tree) wat homself teen die stam van ‘n waterbessieboom tuisgemaak en opgerank het. Die uil is die een wat in die nag op die dak sit en hoet-hoet en ook hoop hy word in die versoeking gelei. Jy kan net sy vae buitelyne sien, daar bo in die moerse hoë boom se blom. Die maan is so ‘n halfgebakte stukkie kaas wat tussen die palmtakke uitloer vir geselskap. ‘n Regte arty farty foto.

Die paddas behoort aan die buurvrou agter ons – die een wat nog steeds in Pretoria bly en wie se tuin ook op die oomblik deel van “ons” gebied is waar ons mag loop. Daar woon baie paddas en ander diere in hierdie tuin en dit lyk nie asof die ledigheid van hulle bestaan hulle veel pla nie.

Hierdie ou sit tussen die varkore onder die waterbessieboom langs die agterste patio
Hy hang uit in ‘n blombak. Wonder of hy weet van die wespe se nes onder sy sitvlak?
Hierdie tweetjies lyk darem asof hulle van plan is om toe te gee aan ‘n versoeking.

Hoe hanteer julle die inperking op hierdie stadium? Vertel asseblief aan watter versoekings julle toegee / graag sal wil toegee / nie toegee nie.

Haak aan by InLinkz: https://fresh.inlinkz.com/p/04e671f9d8b94903a1ce4383c6e79454

Boggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Follow Dis Ekke

19 Comments

  1. Oh my goodness…. Ken sê klaar vanoggend ek lyk soos ‘n paaldanseres. 😋 Dink hierdie inperking begin met ons almal se koppe smokkel.
    Tot skoonseun het ewe skielik ‘n gekko in die studeerkamer wat hy baie prettig vind. Voorheen sou hy hom nie eers raakgesien het nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nou maar gaan trek daai rooi stiletto’s aan en begin dans! 😁😄 Snaaks hoe die klein dingetjies nou skielik belangrik word, nè? Dis definitief ‘n tyd vir nabetragting.

  2. Ledigheid is ‘n helsim. Ek kan nogal ledig wees, maar nou raak dit vir my ook te veel. Ek hoop maar daar is nie nog ‘n verlenging van inkarserasie nie. Hoop die gekko kom terug.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek gesels gister met twee vriende wat ‘n gastehuis bestuur reg op die strand – geen gaste nie, net hulle twee en die see. Waar niksdoen in so ‘n omgewing voorheen hemels sou gewees het, begin dit nou sterk op hulle senuwees werk. Die gekko – nee, ek dink hy het permanent verhuis. Ons het ‘n mak gekko-etende tuinslang wat tydelik in die grasdak ingetrek het …

  3. Het ek dit nou geniet. Lekker ledig wees.

  4. Wonderful views, dear Hester!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Thank you Maria. How is the virus scare affecting you there in Moscow?

      • Oh, well…people are getting crazy, unfortunately This is the pandemia of fear & the human ignorance. Keep our minds calm & responsible before the Nature. 🙂

  5. Ja-nee die liewe opsluiting. Mens kan nou begin voel hoe die “arme”tronkbewoners voel nadat hul al vir jare so opgesluit sit. Dit raak nou ook maar n bietjie afgesaag nou. Mens kan ook net soveel kere om die blok loop en soveel kere geen woord praat nie. Daardie yskas oopmaak is nogal n ding. Sodra ek moet aandete maak staan ek en kyk vir alles in yskas(alle bestanddele is daar) en dink: Tog nie weer n gekokery nie! Ek wil vis en tjips gaan koop. Dis nou drie weke sonder vis en tjips, baie moeilik om te verwerk.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O jaaa! Vis en tjips klink skielik na koningskos. Ek het nou so lekker gelag vir die inwoners van ons kompleks – almal is vroeg op om vuilgoed sakke by die hek te gaan sit en dit het nou die weeklikse social gathering geword. Ons bly naby die hek en almal wat hier verbyloop, het nou eers ‘n geselsie aangeknoop daar van die straat af.

      • Dis te lekker. Ek kyk ook bv by my venster uit op sypaadjie en as een van die menigte kennise verby loop, gaan ek gou uit op my dek en ons kuier eers n bietjie. Ek het n klomp lopers wat gereeld hier verby kom. Selfs honde ken mekaar. Hul kan natuurlik nie met mekaar kuier nie.

  6. Hmmm – versoekings, versoekings… 🙂

  7. Hi Hester gaan kyk bietjie daar by die linkinz daars twee ouens wat lyk my daar geplak het?