My vreugdes en frustrasies

COVID-19

COVID-19 Asemhaling en die dra van ‘n masker

Ek praat nie nou van asemhaling met behulp van vibrators … uhm, ek bedoel ventilators nie, ek verwys na die dra van ‘n masker wat nou verpligtend is.

Ons vriendin Positief het hierdie teer sakie aangeraak toe sy by my wou weet hoe haal ‘n mens asem wanneer albei jou neusgange verstop is. Daarvan het ek genoeg ondervinding opgedoen nadat ek twee weke gelede ‘n sinusoperasie ondergaan het gedurende Suid-Afrika se COVID lockdown. Beide neusgange is tydens die operasie toegestop en ek moes deur my mond asemhaal. Die narkotiseur het my voor die tyd vriendelik ingelig dat ek moet onthou om deur my mond asem te haal, anders sou ek versmoor. Ek het gedog hy maak ‘n grap – my lyf sou darem seker slim genoeg wees om iewers ‘n gat oop te dwing waardeur ek suurstof kan inneem as my neus dan nie beskikbaar is nie. Toe nie. Ek het deur die nag ‘n paar keer wakker geword, vas oortuig daarvan dat iemand besig is om my te verwurg en dat ek net betyds wakker geword het om my eie lewe te red. Die verwurger was egter net ekself wat verbete op my tande gekners en my lippe toegeknyp het. Ook maar lekker stoepit, selfs wanneer ek slaap.

Maar nou kan ek die vraag antwoord – jy kan asem haal, maar net met groot moeite, Vriendin, met groot moeite en ongemak, selfs wanneer jy wakker is. Ná net ‘n klein rukkie is jou mond so droog dat jou wangvleise aan jou tandvleis vassuig. Jou tong raak so skurf dat dit voel asof daar homderde dorinkies op die oppervlakte groei.

Wat my ontstel is dat, selfs noudat die die obstruksies verwyder is en ek weer die volle gebruik van my neus het, ek dit bitter moeilik vind om met ‘n masker rond te loop. Ek het eers gedink dit is pure verbeelding dat ek nie behoorlik kan asemhaal deur ‘n masker nie (ek het verskillende soorte op die proef gestel). Donderdagoggend moes ek gou by die mediese sentrum aandoen vir ‘n opvolgondersoek en ek moes om die gebou loop teen ‘n hoogtetjie uit om by ‘n sydeur in te gaan. By die deur aangekom, was die sekuriteitswag net vinnig genoeg om my te vang en regop te hou, want ek was so kortasem dat ek begin hiper-ventileer het. Gelukkig het hy vinnig gereageer, my masker afgepluk en my met my kop tussen my bene laat sit om diep asem te haal, want anders het ek dramaties aan sy voete neergestort. Net daarna het ek in die dokter se spreekkamer aan die slaap geraak terwyl ek my beurt afgewag het.

Dis nie die eerste keer dat ek agterkom dat die masker my so aantas nie. Ek raak vinnig lomerig in die motor wanneer ek iewers heen ry, en by die winkel aangekom, het ek nie genoeg energie om uit te klim nie. Karen moet al die inkopies doen terwyl ek in die parkeerarea wag en meesal aan die slaap raak terwyl sy besig is. Met die masker op, vind ek dit nog steeds moeilik om net deur my neus asem te haal en hou die hele tyd my mond ook oop, want dit voel asof ek nie genoeg suurstof inneem nie. Dis onaangenaam, want jy kan elke reuk op jou tong proe – die soet smaak van die suikerriet wat brand en die walglike dieselreuk wat soos glibberige olie aan jou verhemelte vasklou. Wanneer ek by die huis aanland, gaan ek reguit bed toe, gewoonlik met ‘n hengse kopseer en ‘n polsslag wat hardloop asof ek deelgeneem het aan ‘n marathon. Nou is ek te bang om te bestuur en ek kan nie ver ente loop nie. Die gebrek aan oefening doen natuurlik geen wondere vir my gemoed nie.

Vanoggend het ek op hierdie plakkaat in ‘n aanlyn-artikel afgekom, wat ‘n moontlike verklaring bied vir die simptome wat ek ondervind: koolstofdioksied toksisiteit wat veroorsaak word deur die her-inaseming van CO2 wat ek uitgeasem het. Hierdie “vuil” lug word doodeenvoudig gehersirkuleer binne die masker. Wanneer ek die masker afhaal (of net skelmpies ‘n bietjie oplig) en ‘n paar keer diep asemhaal, herstel ek vinnig genoeg.

Dit lyk asof hierdie virus jou altyd op die een of ander wyse met ‘n keuse tussen die duiwel en die diep blou see laat: dra ‘n masker en versmoor of loop die gevaar om die virus op te doen / te versprei; loop of ry rond sonder ‘n masker en bespreek outomaties vir jouself ‘n sel in die tronk; bly ingeperk en sterf van die honger of gaan uit om te werk en help jouself aan ‘n virus; bly in jou huis en word vet of gaan uit om te oefen en val flou op straat 🤔 Al hierdie besluite is te veel vir my brein. Ek gaan liewer in die bed bly vir die volgende paar maande / jare / dekades.

Follow Dis Ekke

54 Comments

  1. So dis toe nie net ek nie! Ek bly maar by die huis, want hierdie masker draery werk ook nie vir my nie. My bril wasem toe, dan maak ek ń gaatjie onder om deur my mond te kan asemhaal. Met diè gly my bril laer tot op my neus se punt, en my handsak keer dat ek nie albei probleme gelyktydig gehanteer kry nie. Sien, en dan lui die verdomde foon ook net op daardie oomblik.
    Ek bly dan maar liewer net in die kar sit tot ek besef ek het alleen winkel toe gery. Dis om van te huil.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n tragedie. Ons het vanoggend die stappery hervat, maar dit het my amper ‘n halfuur gekos om ‘n kilometer te voltooi, want ek moes kort-kort gaan staan om asem te skep onder my masker deur.

  2. Ek cope ook nie met die affêre nie!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het eers gedink ek ly aan my verbeelding, maar só kan ek nie sukkel nie en ek het die oefening so nodig om weer my gestel op te bou. Sterkte Bondels.

  3. Maskers is ‘n groot probleem vir die van ons wat brille dra! Hester ek is jammer te hoor dat jy ‘n sinusoperasie ondergaan het. Ek hoop jy voel gou beter – met of sonder ‘n masker.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Anne, dit gaan darem weer beter. Ek sukkel elke winter (net sodra dit begin koeler word en ons nie meer in die gesonde seewater kan swem nie!) met neusbloedings en ‘n verstopte neus in die nag. Hulle moes die are toebrand / afbind hierdie keer om die bloeding te stop. Traumaties met al hierdie reëlings vir COVID wat ook nog boonop nagekom moet word. Ek moes ses dae in die hospitaal lê, vyf daarvan in isolasie. Ek voel tog te lekker jammer vir myself. Lekker om terug te wees by die huis.

  4. Hulle het gister op RSG, die polisiehoof self, het gesê dat jy NIE bebiet mag word as jy sonder ‘n masker rondloop nie. Hul mag jou wel by openbare plekke weier.
    Vertel dit nou vir iemand wat jou wil beboet!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis die probleem, Toortsie. Ek het nie self ondervinding daarvan nie, maar lees oral in die koerante en op sosiale media hoe absoluut brutaal die wetstoepassers kan optree. Dan is daar nog die welmenende publiek wat jou met hul oë wil deurboor as jy in jou eie motor en met toe vensters sonder ‘n masker sit.

      • Daai selfaangestelde polisie waarvan ek nou die dag geskryf het. Soos jy sê, in jou eie kar saammet jou eie mense. Ek weier om dit in my kar op te sit.

  5. Aanvanklik was dit of ek nie eers behoorlik kan dink met ‘n masker op nie.
    Vir my werk die maskers met die voue. Ek sit dit net oor my neus en mond, nie oor ken ook nie. Amper hoër sodat dit onder my bril ingaan. Dan ontsnap ‘n klomp lug onder na my ken se kant.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek raak beslis ‘n bietjie “dom” en my brein gaan staan as ek ‘n masker ophet. Ek glo dis suurstoftekort. Ek het ook nou een van daardie voumaskers in die kar waarmee ek rondry, net vir die skyn. Hulle is beslis gemakliker.

  6. Jou gestel is erg geskok – jy sal wel weer ophou dut as jy heeltemal herstel het. Intussen is ek dankbaar dat die moeilikste tyd vir jou verby is.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie, narkose is ‘n blikskottel wat my baie sleg aantas. Dit bly ‘n traumatiese ervaring vir my. Nou is ek darem weer op die been en kan selfs die trappe klim na my slaapkamer toe – ek hoef nie meer sit-sit op te seil nie.

  7. Hester, ek voel jou pyn. Ek wou nog terugskryf dat die Co2 wat weer ingeneem word, gevaarlik is. Maar toe doe ny dit self. Ek en manlief het ‘n besluit geneem. Na 49 dae in afsondering is dit onmoontlik fat die virus steeds in die land is. Onmoontlik. Ons grendeltyd is gister weg. En ons het drukkies gegee vir vriende, sonder maskers saamgekuier en ons moet dan maar siek word as die virus hier is. En daardie is ‘n baie, baie groot as.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wel Christa, die ander kant van die argument is dat die virus nog baie lank in die rondte gaan wees en dat ons dit almal in elk geval een of ander tyd daarmee kennis gaan maak. Wat help dit dan om weg te kruip? Een of ander tyd moet ons terugkeer na ‘n meer normale bestaan. Hoewel, ek moet sê, ek is nie ‘n vreeslike drukkie en soentjie mens nie – daardie gewoonte kan maar afgeskaf word. Cyberdrukkies werk baie goed vir my 😁

  8. Ai Hester jy is deur ‘n moeilike tyd. Stuur vir jou ‘n cyber drukkie… en vertrou jy is kort voor lank weer flink op jou voete.

  9. Waai net vriendelik vir hulle. 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek voel nie te vriendelik in sulke omstandighede nie.

      • Ja man, as jou gesig maskerloos is en die ander staar na jou. Waai vriendelik. Dalk haal hulle hulle s’n ook af.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haai nooit, ek kan nie ander mense aanmoedig om te sondig teen die regering nie …

        • Nie sonde nie. Dit was net ‘n versoek, nie afdwingbaar nie. Dis nou as jy in jou eie kar ry waarvan ek praat. In die winkel moet jy dit ongelukkig dra. Ek wonder as jy ‘n strooitjie in jou mond het wat bo uitsteek soos ‘n periskoop, of dit nie sal help nie?

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sal graag die ander mense se gesigte wil sien, haha!!!

  10. Ek weet presies waarvan jy praat. Sukkel mos amper pal met die ou sinusse, sien. Elke winter erger. Sterkte, joune gaan darem beter word, met myne, moet ek saamleef. Die gebreekte neuse, ja ek het nie meer as een nie, van die jongdae. As ek langer as 5 minute stil gesit het, dut ek ook sommer in

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis eintlik vreeslik as jou neus so toetrek. Ek hoop werklik my probleem is nou opgelos. Dit sal my ‘n hele paar panic attacks bespaar.

  11. Dis aaklig. Ek is bly ek is nie die enigste een nie. Ek is lief vir draf en as ek en my man gaan draf, hou eenvoudig ‘n “buff” om ons nekke en as ons ander mense sien nader kom, skuif ons die ding oor ons neuse soos wafferse Arabiere. Mens kan beslis nie oefen met ‘n masker aan nie. En ek gaan ook maar so min as moontlik winkel toe, want ek raak ook erg benoud met ‘n masker aan. Ek dink dis ook ‘n manier om mense liewers tuis te hou. Dit werk wel vir my.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek gaan nou ook maar my masker so op en af skuif as ek uitgaan. Ek is in elk geval nie lief vir winkels nie, maar ek moet ‘n bietjie oefening kry voordat ek myself en diegene om my heeltemal kranksinnig maak.

  12. Ek bestuur met my bril in plek en masker onder ken. Dan haal ek bril af en sit masker op sonder bril vir shopping.

  13. Wat n gedoente. Ek voel saam met jou oor die benoudheid met n masker op. Die slaapery is ook maae deel van weer beter word na so n narkose en gekrap in mens se neus. Dit gaan beslis werk want myne is na jare nog al die pad oop. Net die kant wat hul nie klaar gesny het nie gee nog bietjie probleme maar gelukkig is die ander neusgat goed genoeg om dit te hanteer. Moet nou eers vertel. Myne is gedoen in Pretoria. Dis maklik n twee uur se ry terug Potties toe en dit was warm. Net buite Potties begin my neus met mening bloei. Gaan dr toe by naure. Hy sê hy kan niks doen nie want hy het nie die operasie gedoen nie! Tissentyd bloei ek voort! Ou bogger! Kannie onthou hoe dit toe op einde opgehou het nie. Sal vir Tina moet vra daaroor.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar is beslis al ‘n verbetering. My regterkantse neusgang trek al jare lank toe in die nag, veral in die winter, maar hierdie laaste paar dae is hy ook oop en ek word nie wakker in die middel van die nag weens ‘n gebrek aan asem nie. Hopelik is die bloeding iets van die verlede, want my huismense se senuwees kan dit nie uithou nie.

  14. woordnoot

    Ek kan nie…ek kan nie enige masker opsit nie. En vandat ek so maskers dra, bloei my neus meer gereeeld. Al wanneer die masker ‘n seën is, is as die tampon in my neus daardeur weggesteek word.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Oe Woordjies, daardie bloeding. Ek kon net nie meer daarmee saamleef nie. Ek hoop Discovery het hulle R50,000 goed bestee. Ek het genoeg gesuffer vir 20 jaar.

      • woordnoot

        Ek voel vir jou. Ek moet myne maar self dokter…het mos nie n medies mie

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jy moet by die staatshospitaal hoor, jong. Hulle het van die beste dokters en spesialiste wat operasies en prosedures uitvoer by die groot hospitale. My man het ook nie medies nie, maar hy kry puik behandeling vir sy kwale. Dis net die lang wagperiodes wat ‘n mens lam maak.

        • woordnoot

          Sal dit een of ander tyd moet doen.