My vreugdes en frustrasies

My eiers

Kluisenaar 6 – onheil op die buitewyke van Rebusfontein

Ek is van gister af weer terug in Regtigland, maar ek kan nie koers kry nie – ek tob die heeltyd oor die kluisenaar wat sy opwagting gemaak het in Rebusfontein, en die eienaardige optrede van die Towerinne. Was vanoggend in ‘n vergadering met kliënte daar in my gunsteling raadsaal (foto hierbo), maar nie eens hierdie uitsig het ‘n indruk op my gemaak nie. My brein het vasgehaak daar in Rebusfontein.

Die kluisenaar … ‘n man wat skynbaar die vermoë het om homself voor te doen as presies dit wat elke inwoner van Rebusfontein graag wil hê hy moet wees. Afhangende van wie besig is om die lofliedere te sing, is hy ‘n man met ‘n lyf soos ‘n Griekse Adonis; ‘n Herkules wat ‘n vrou op tedere wyse kan vasklem soos in ‘n vice grip; ‘n Antonio Stradivari wat weet hoe om die regte snare te laat tril; ‘n stem soos Plácido Domingo; ‘n reïnkarnasie van St Francis van Assisi  en, in die oë van Rebusfontein se offisiële eye candy – ‘n Jonatan met die handdruk van ‘n Suid-Afrikaanse politikus. En volgens Trommeltjies, besit die man ‘n slang … of twee 🤔

My persoonlike gevoel? Al hierdie emosies word opgewek en aangewakker deur ‘n mengeldrankie wat vrylik vloei in Rebusfontein se strate. Hoekom sê ek so? Wel, soos julle weet, drink ek geen vloeistof behalwe die vars water uit Rebusfontein se put by die meent nie. Die mengeldrankies wat so vrylik uitgedeel word, het ek vir die vissies in die befaamde Visdam gevoer. En het julle gesien hoe grasieus klief daai visse deur die silwerblink water op ‘n maanligaand? Eerste keer wat dit my so opgeval het. In elk geval, ek dink my ysere selfbeheer en weerhouding van onbekende drankies laat my met ‘n vars oog kyk na die gebeure wat besig is om te ontvou.

Ek merk op dat ek nie enigste persoon is wat so effe twyfelagtig is oor die situasie nie. Positief het dit eerste opgemerk – dat die man sterk trek op Marco. Daai poeliesmannetjie van Toweropstalfaam. Ek het groot geloof in Positief se oordeel, want hoewel sy definitief van die mengeldrankie gedrink het, weet ek dat daardie Towerin haar drank kan vat. Maar hoekom sien sy dan vlieënde pierings waar ek net ‘n polisievangwa met ‘n groot satellietskottel op die dak sien? En hoekom sit sy daar oopmond in die bakkie se kajuit en slaap? Kameel het ook saamgestem dat die kluisenaar lyk soos Marco, en sy behoort te weet – haar alter ego het immers intieme kennis van die man se voorkoms, wat dateer uit die dae toe hy geblyk het om eintlik Prins Marco van die Towerpaleis te wees.

En die diere? Word die water in hulle drinkbakke ook so ‘n bietjie opgejack? Is die druppels wat Lorenzo by hulle drinkwater voeg werklik die doepa wat die veearts voorskryf vir morning breath?

Ek het nou eers ‘n bietjie weggeloop na Regtigland toe om my kop skoon te kry. Ek het vir Lorenzo saamgebring sodat ek hom op ‘n blitsdieet kan plaas. Daar is beslis te veel padding oor sy spiere deesdae en hy lyk ietwat onfiks. Daaglikse draffies op die strand en swem in die koue seewater sal gou-gou weer sy eens glorieryke lyf in ere herstel. O ja, en hy is op die waterkar. Daardie glans van broederlike liefde in sy oë is reeds besig om te verdof.

Ek sal hom binnekort moet terugstuur Rebusfontein toe, want ek kan nie die Towerinne so aan hulle lot oorlaat, alleen met die kluisenaar wat so ‘n onheilige invloed uitoefen nie. Wanneer hy vertrek, sal hy my Ponsiekat saamneem – haar eerste besoek aan Rebusfontein. Haar taak sal wees om Ringo en Trompie te oortuig dat daar onheil broei aan die buitewyke van ons dorpie. Glo my, haar resonerende miaau dring deur elke oortrom binne ‘n vyf-myl-radius en het die oorredingsvermoë van ‘n Zumatoespraak voor ‘n kommissie van ondersoek. Lorenzo weet ook dat hy vir Kameel moet opsoek en haar medewerking moet kry om die kluisenaar óf te ontmasker as ‘n boef óf hom te bewys as die held wat besig is om onheil uit te roei in Rebusfontein. Sy eerste taak sal wees om Kameel te rehabiliteer van haar mengeldrankiegebruik en haar ‘n bondgenoot te maak in sy strewe na geregtigheid.

Intussen maan ek my mede-Towerinne tot soberheid, in beide die letterlike en figuurlike sin, terwyl Lorenzo daarna streef om agter die kap van Die Byl te kom.


Hierdie verhaal vorm deel van die sage oor die kluisenaar wat begin is deur ons amptelike opstoker – Una – en wat in die volgende episode verder gevoer sal word deur Kameel.

Follow Dis Ekke

68 Comments

  1. Dit is nou so goed geskryf… maar maak ek myself rêgtig skuldig aan drankmisbruik??? As dit so is is ek nie daarvan bewis nie; maar dan weer vandat die kluisenaar hier aangeland het maak min dinge sin. Die Towerinne is ook nie wat hulle moet wees nie. Dat jy nou vir Lorenzo na jou rêrige huis toe gevat het 😂😂😃 Moenie dat hy daar staan en verlief raak en nie weer Rebusfontein toe wil kom nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee Kameel! Hoe geskok is ek nou. Verlief raak is verbode in Regtigland – dit veroorsaak net probleme. Lorenzo moet hom gedra.

  2. Hester, draf jy en Karin saam met Lorenzo rond??? So wie an julle tweetjies gaan besluit wanneer sy lyf weer reg is??? Kan ons dalkies oorvlieg en ons menings kom uitspreek?

  3. So by my kool!! Hestertjie, jy het darem nou hierdie ding fyn raak gevat. Dankie tog, daar is hoop in die vooruitsig. Baie dankie, jy is voorwar ‘n staatmaker. Ook dat jy Lorenzo nou so mooi help jy weet, ons sal jou moet hou!!!!

  4. Bwahahaaa – Rebusfontein se visse op ‘n trip! Het jy Ponsiekat gewaarsku om net van die putwater te drink en die drinkbakke te vermy, of maak jy staat op die natuurlike onaantasbaarheid van ‘n kat? Of het jy Lorenzo die dood voor die oe gesweer? Dis ook net jy wat daai mannetjie in toom kan hou 😀

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ponsie is nie ‘n avontuurlike eter of drinker nie, maar Lorenzo is ook die dood voor oë gesweer as iets met haar gebeur. Hêi, daai visse … ek was ietwat geskok.

  5. Ek is tog maar bly ek het hierdie keer my nan saamgevat toe ons van die begrafnus op pad terug by Rebusfontein aangegaan het. Hy het my gehelp om perspektief te behou.

  6. Sjoe dis nou n mond vol waarhede. Daardie visse in die maanlig is iets om te beleef. Ek is ook heel skepties oor die verkleurmannetjie lewe wat die sogenaamde kluisenaar leef. Elke vroulike persoon beleef hom verskillend, baie ongewoon. Dit sal goed wees as hy ontmasker kan word want ons hou van veiligheid en nie van Towerinne wat rondvlenter agter n “broek” aan nie. Lorenzo beter sy lyf weer reg kry as hy wil oorleef saam met ons.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hy’s ‘n harde werker. Hy sal een van die dae weer DIE LYF hê. Maar sonder om snaaks te wees, ek hou nogal van ‘n man wat so ‘n bietjie sagte bedekking oor al daai spiere het. Hulle is meer gebruikersvriendelik. Om aan te vat bedoel ek. Al daai harde spiere is intimiderend.

      • Oooo, nou praat jy. Daai yster spiere s maar koud en hard. Haha nou lag ek eers vir die bespreking wat ons hier aan die gang het. Gebruikersvriendelik is n goeie beskrywing.

      • Verstaan jy nou hoekom ek Lorenzo by my aan huis moes laat slaap. Ai ai… en ek het gedog ek het my hande vol met vier dogters.

  7. Kan niet alles volgen…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee ek dink nie jy sal kan nie, Joke. Dis ‘n fiksie verhaal vol aanhalings oor vorige blogs wat meer as twee jaar oud is. Ons is ‘n groepie bloggers (die Towerinne) wat gereeld in hierdie fantasiewêreld leef op ‘n dorpie wat nie bestaan nie 😁

  8. Ons moet net seker maak dat dit Kameel is wat saam met Lorenzo werk en nie Camilla nie, want dan is al die Towerinne in hulle m*@r

  9. O, ek wag in spanning.Dis tyd dat ek weer bietjie besoek gaan aflë, want blykbaar ruk dinge nou bietjie handuit daar.

  10. Ai maar ek geniet al hierdie kommentaar. Nee wag vir my Hester, ek moet ook daai visse sien wat agteruit swem…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy sal moet gouspeel Bondels. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat Camilla op pad is en dan gaan die poppe vir seker begin dans.

      • Jy is reg Hester. Tyd dat die towerinne hulle vere regskud en koppe bymekaar sit. Niks gerond bladder NIE. Watwou Camilia en manne vir ons ore aansit!! Anee a

  11. ek is darem bly IEMAND het nugter gebly! Dankie Hester, dat jy jou so oor Lorenzo ontferm. Wie weet, dalk moet hy sommige van ons red….