My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

COVID-19 Lockdown dag hoeveel ? – die see is nog daar

Die see is nog daar!

Ek het gedroom dat die see probeer om te ontsnap. Vanoggend drie-uur nog half in my droomwêreld gelê en luister na die sweepklap van die branders. Hoogwater. Vanoggend vroeg kon dit nie anders nie, ons moes tot by die motorbrug oor die Mhlangamkulurivier stap net om seker te maak die see se waters is nog daar. Dit wás. Dit ís. Dankie tog, nou kan ek die nare droom vergeet.

Dis die verste wat ek in twee maande geloop het. Een kilometer weg van my huis af. Foeitog. Maar so al hygend en struikelend was dit tog die moeite werd. Met ‘n bietjie meer oefening om die liggaamsfunksies weer aan die gang te skop, sal ons een van die dae kan stap tot op die treinbrug, ‘n bietjie laer af na die strand se kant toe. En dít is my mikpunt vir die week wat voorlê. Ek mag nie op die strand loop nie, maar ek kan op die treinbrug gaan staan en kyk. En as jy wil weet hoekom ek so passievol verlang na die treinbrug, kyk na die foto’s op hierdie blog wat ek in 2017 geskryf het – ook tydens ‘n tydperk wat my sinusse my lewe versuur het.

Maar toe was ons darem nie onder onvrywillige huisarres as gevolg van ‘n misbaksel van ‘n virus wat ons lewe lamgelê het nie. Ons kon ook so rivier af gedryf het soos hierdie gansfamilie wat ons vanoggend gesien het. Sug!

Ek is natuurlik nie die enigste een wat kla omdat ek nie op die strand mag loop nie. Hierdie inperking begin nou regtig almal se senuwees rou rasper. Dis ‘n versoeking wat moeilik is om te weerstaan wanneer die jy die see kan hoor, ruik en die sout op jou tong kan proe. Veral wanneer die wintersonnetjie so lekker warm skyn om ‘n bietjie hitte te versprei op die middag. Ons vakansieseisoen is gewoonlik reeds in volle gang hierdie tyd van die jaar. Hierdie jaar is daar net ‘n doodse stilte.

(Die meeste van) ons wat letterlik net ‘n anderhalf meter van die see af woon, besef darem ook dat ons maar liewer die reëls moet gehoorsaam, hoe moeilik dit ookal is. Die res van die bevolking mag dalk nie vreeslik gelukkig voel om te sien hoe ons op die strand rondlê en in die see swem net omdat die water tot by ons drumpel strek nie.

Maar dis moeilik. Veral omdat ons nie weet hoe lank die inperkingsreëls nog van krag gaan wees nie. Prez Cyril – jy weet dat die sardyne reeds op pad is, nè? Ek sê maar net – dalk kan jy ons vrylaat voordat hulle die kuslyn tref.

Sterkte aan almal wat tans stry teen allerhande versoekings.

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. Troos jou daaraan dat julle nog altyd die son en die see en die strand deeglik benut het. Dit sal weer gebeur! <3

  2. Ek kan aan jou skrywe agterkom jy voel beter 😊 Dis goed so.
    Ken gaan môre terug hospitaal toe… die infeksie het weer begin.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ag nee Kameel. Sterkte vir julle, man. Ek hoop die ding kry ook nou einde. Dis darem nie lekker om so aanmekaar siek te wees (of met siek mans te sukkel nie).

  3. Daardie almal sluit my in. Ek is behoorlik keelvol sommer vir als. Ek weet ek klink ondankbaar, maar dis nou maar so. Hierdie inperking het almal om my op hul koppe.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis waar, Una. Mens wil nie ondankbaar klink in die redelike goeie omstandighede waarin ons ingeperk word teenoor so baie ander nie, maar dit voel regtig nou of my strot toegedruk word.

  4. Een van die dae … ek kan dink hoe moeilik dit vir julle is. Vasbyt.

  5. Sterkte. Ek hoop julle mag sommer binnekort julle voete natmaak.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Toorts, ek sal met liefde in ons klein woestyntjie ook gaan sit, net solank dit tog buite is.

      • Is seewater nie goed vir sinusse nie? Dalk moet jy ‘n doktersbrief kry om te mag swem.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, I wish dat ons regering daai brief sal aanvaar. Seewater is baie goed vir sinusse, Toortsie. Ek het vandat ons hier woon nog nooit neusbloeding gehad in die somer nie. Dis net in die winter. Die ENT het bevestig dat swem in die see die beste moontlike ding is wat ek vir myself kan doen. Hy het nou vir my ‘n soutwater-oplossing voorgeskryf wat ek gebruik om my sinusse te spoel, wat ook help om die neusgange oop te hou.

        • Hou dit net byderhand as die polisie kom. Ek spoel ook my neus met sout en koeksoda.

  6. Haha ek stem saam met Toortsie oor die dr brief wat sê die seewater is goed vir sinusse!
    Dis darem maar n uitgerekte besigheid. Ek is net bly jul almal kan darem nog kop bo water hou. Ek voel ook baie jammer vir die mense wat in haglike omstandighede bly. Kinders is van gister af weer skooltoe en winkels is oop op voorwaarde dat alles skoon en met afstande uitgevoer word. OP oomblik is ek skoon skrikkerig om na 8 weke terug na winkels te gaan, so ek bly nog maar veilig tuis. Mooi bly, en stadig maar seker kom jou “normale” bewegings weer terug.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sal ook maar wegbly uit die gedrang – ek doen dit gewoonlik. Ek wil net ‘n bietjie uitkom in die natuur.

      • Kan nogal saam met jou voel. As ek die dag nie bietjie buite kon wees nie voel ek skoon verlore. Jy moet maar dit stadig vat in elke geval.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sal. Ek is nog so effens wobbly op die bene, maar die een of ander tyd sal die spiere en en senings weer fiks word.

        • Dis goed. Ek kom agter met my nider beweeg gedurende die opsluiting het my beenspiere ook maar lekker lui geword.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, dit gebeur. Ou Trompie moet maar vroeg opstaan en vir ma uit die bed sleep. In die winter is my grootste sonde dat ek nie kan opstaan nie – die bed is so lekker warm.

        • My probleem met lêery is my rumatiek heupe hou nie daarvan om so stil te lê nie. Sodra ek op is voel ek dit nie meer nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is ook nie te lief vir rondlê en stilsit is ook nie in my aard nie.

  7. Anderhalve meter van de zee?
    En daar alles kunnen wegspoelen?

    Nee, het Corona virus slaat overal toe.
    En hoe te genezen blijft onduidelijk.

    Wees voorzichtig en pas goed op jezelf.

    Bezorgde groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis darem nie letterlik anderhalf meter nie Rob 😀 Ons is so 1.2 kilometer weg van die see af en die huise is almal bo-op die heuwels gebou. Die see bly daar onder en ons bly droog. Dankie vir die goeie wense.

  8. Ek voel saam met jou…so naby en tog so ver! Ek is bly jy voel beter.

  9. Ek en ‘n vriendin het weer begin stap.Sy het anderdag amper omgekap van verbasing toe ek haar gewys het dat ons 4.6 km gestap het. Soos sy seg, Parkrun kan nou maar oopmaak.
    Sterkte met die my ou vriend sinus, hy is baie doelgerig en gee nie om dat hy nie welkom is nie.

  10. SUG…sug…sterkte

  11. Ek bly nie eers by die see nie en ek verlang na presies wat jy beskryf. Ek looooove die see. Bly jy kon dit darem sample…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, maar vandag verlang ek weer na die woestyn. Ook nooit tevrede nie. My seun het voorgestel dat ons ‘n road trip doen wanneer Corona tot ruste kom en nou ry ek op ver paaie …