Na aanleiding van die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, se aankondiging gister dat covid-maatreëls herroep is.
Let asseblief op dat ek verwag dat mense die volgende maatreëls steeds moet nakom in my teenwoordigheid:
- Behou asseblief die ruimtelike afstand tussen ons. Ek haat dit as mense in my nek asemhaal. Dit was een van die beter maatreëls wat ingestel is, destyds.
- Moenie daarop aandring om my te soen of met die hand te groet nie. Ek is nooit só bly om jou te sien nie.
- Borsel asseblief jou tande en gebruik mondspoelmiddel voordat jy die huis verlaat. Sweetweermiddels werk ook vir my, as bykomende maatreël.
- Sorg asseblief dat jy jou valstande dra in die openbaar. Ek weet dis moeilik, maar ons sal maar almal weer gewoond moet raak daaraan.
- Haal daai norse uitdrukking van jou gesig af en glimlag, dit maak my dag sommer mooier as ek elke nou en dan skoongeskropte wit tande sien blink.
- Jy het nou geen rede meer om so te mompel dat ek jou nie kan hoor nie. Kyk my in die oë en praat mooi duidelik sodat ek uiteindelik ook weer kan hoor na twee jaar van pynlike gesukkel om gesprekke te volg.
- Was jou hande. Gereeld. Dis net goeie maniere om nie met vuil hande aan alles te vat nie. Dit was ook een van die verstandige maatreëls.
- Mag ek asseblief die finansiële instansies mooi vra om voort te gaan om hulle OTM’s se sleutelborde so nou en dan skoon te maak? Ek verpes dit as my vingers vassit aan taai sleutels.
- Ek versoek dieselfde van winkels en ander openbare besigheidsplekke – hou daardie toonbanke en vloere skoon.
- Hierdie is nie ‘n carte blanche ekskuus vir mense om weer op straat te begin spoeg nie. Of op sportvelde nie. Sies man! Dis ‘n lelike gewoonte.
- Hou jou hand voor jou mond (of dra ‘n masker) wanneer jy hoes, nies en proes. Covid is nie die enigste kieme waarvoor ons bang is nie.
- Ek wil nog steeds nie jou babatjie vashou of soen nie. Ook nie jou hondjie nie.
- Jy kan maar op die stoel langs my sit, maar dis nie nodig dat jy jou liggaamsdele so laat uitsprei dat ons skouer-aan-skouer en dy-teen-dy moet sit nie. Daar is genoeg plek vir almal van ons.
- Nee dankie, ek wil nie jou lip-ice deel of saam met jou uit dieselfde waterbottel drink nie.
- Moenie jou kar by die verkeersligte staan en rev nie. Asseblief. Dit stink.
Jy weet, noudat ek die saak oordink, meen ek tog dat ek maar die boks maskers wat ek gekoop het nog ‘n rukkie moet dra. Dit was ‘n veilige skans tussen my en die res van die wêreld.
Tannie Frannie
Sê hulle, Hester!!
Anne
Hier is ‘n klomp goeie maatreëls waarmee ek saamstem. Ek sien uit om mense te sien glimlag.
HesterLeyNel
Ek hoop net ek kan nou weer beter hoor. Dis makliker om te hoor wanneer ek kan liplees en gesigsuitdrukkings sien.
Anne
Dit is reg!
scrapydo2.wordpress.com
Ja-nee, taalgebruik en uitspraak het gelei onder die maskers maar dis steeds goed om masker te dra om nie jou kieme aan ander te gee nie. Ek weet darem nie of hul sommer die virus net kan wegblaas nie. Jy’t n klomp goeie eise gestel as ander in jou teenwoordigheid wil wees. (Asof dit gaan help, sug)
HesterLeyNel
Gelukkig is ek in die posisie waar ek mense kan vermy pf my eie masker kan dra wanneer ek dit nodig ag. Ons is vanoggend winkels toe met ons maskers op en ons was nie die enigstes daar wat nog maskers aangehad het nie. Dit laat my dink daar is nog mense wat soos ons voel.
scrapydo2.wordpress.com
Beslis steeds mense wat omgee nie net vir hulself nie maar ook vir ander. Ek dra ook maar masker as ek erens ingaan. Hier is nog baie wat maskers dra. Die mammies wat hul kinders by skool kom haal voel nie hul moet maskers dra nie. Ek doen dit steeds. Ek sien daar is n ouma wat ook haar masker dra.
perdebytjie
Stem saam met elke reël. Ek is veral bly dat soenery gesneuwel het. Niemand gaan my weer dwing om pap spoeglippies te soen nie. Ek onthou hoe my skoonma altyd aangegaan het as ‘n sekere niggie haar wang gedraai het met die groetery. Dit was ‘n aardssonde!!Skoonma het sopsoene uitgedeel, sommer twee na mekaar en ek het altyd gehardloop en my mond gaan was.😵💫🤣
HesterLeyNel
Hahaha, ek is seker jy was nie haar gunsteling skoondogter nie. Ek en my ou bekende vriende gee drukkies, maar ons ruil ook nie spoegies uit nie.
perdebytjie
Ek was baie lief vir haar en sy vir my. Wonderlike vrou gewees. Die soen was net een van bitter min swak punte wat my geïrriteer het.
daisyopdiestoep
Ek gaan akkoord met jou vereistes.
Lewies Mymer
Stem saam!
HesterLeyNel
Dankie Lewies. Gelukkig is daar meer mense wat soos ons voel en vanoggend by die winkels was daar nog ander gemaskerdes wat ook hulle distansie gehou het. Ek hoop ook, soos Perdebytjie, dat hierdie gewoontes nou goed ingewortel is.
Positief
Persoonlik is ek vreeslik bly dat die masker-tye nou afgestel is, hopelik hoef ek nooit weer terug kar toe te loop wanneer ek vir die soveelste keer die masker vergeet het nie. ‘n Soenery was nog nooit hoog op my lys van dinge waarvan ek hou nie, maar ‘n drukkie op sy tyd bly heerlik
HesterLeyNel
Ek haal beslis ook makliker asem sonder ‘n masker. Dis net, soms beland ek op plekke waar ek liefs nie asem wil haal nie en dan is ek dankbaar vir my masker of serpie wat byderhand is.
Aletta - nowathome
Ek hou ook van jou reels! Gaan my masker beslis nog ‘n ruk dra veral in die winter!
HesterLeyNel
Dankie Aletta. Ja, dis beter om versigtig te wees, veral wanneer verkoues, griep en longontsteking ook om hoekies lê en loer.
Aletta - nowathome
Net so!
Bondelsgedagtes
Bhahahaaaa, ek het nou so lekker gelag…. veral vir die ” ek is nooit so bly om jou te sien nie” en borsel jou tande. . Maar ja, ek stem saam met jou reels, sou ek jou eendagte siene kry, hoop ek ek onthou..
Ek persoonlik is bly oor die maskers vir die rede dat ek makliker asemhaal en my bril nie meer toe wasem nie. But then again, nou moet ek weer meer moeite doen as ek dorp toe, ek het lekker weg gekruip agter die masker…
HesterLeyNel
🤣daar is beslis voordele én nadele in die opheffing van die reëls.