My vreugdes en frustrasies

COVID-19

COVID-19 Sondag. En dag 10 van die lockdown.

Karen fishing on Sea Park Beach before lockdown

Dis Sondag. Ná middagete. En ná die middagslapie. Ek sit en luister hoe klap die branders hier onder op die strand. Dis hoogwater. Ek kan dit hoor, dis nie nodig om na die getykaart te kyk nie. Geen wolke in die lug nie, net ‘n ligte briesie wat waai en dis warm. 26°C. Die perfekte stranddag en ek het nie eintlik nodig gehad om na die weerkaart te kyk om dit te weet nie.

Natuurlik baat die ‘strand’-gedeelte in die woord ‘stranddag’ my nie veel nie. Ek mag nie daardie stukkie paradys gaan opsoek nie. Die beste wat ek op hierdie Sondag-oggend kon doen was om buite in die tuin te sit en kyk na die verskeidenheid skoenlappers wat druk besoek aflê in die struike langs die patio. En ek kon die son op my vel voel. En ek kon voel hoe die wind my hare deurmekaar waai. Dit was ook maar goed.

Dink só daaroor, Hester. Jy woon nie in ‘n sinkhokkie, skaars groter as jou kombuisie, saam met vyf ander mense nie. Jy het lopende water in jou huis, warm en koud, waarmee jy jou hande kan was soveel keer as nodig. Indien nodig, mag jy nog in jou kar spring en dokter, apteek of hospitaal toe gaan. Jy hoef nie te gaan werk nie – daar is ander mense wat noodsaaklike dienste verrig sodat jou lewe glad kan verloop, mense wat elke dag die Virus trotseer om jou veilig te hou. Jou kos en ander aankope word by jou hek afgelewer, en ja ek weet, hulle het ‘n fout begaan en nie die dark chocolate afgelewer nie, en jy hou nie van milk chocolate nie. Siestog, hoor! Stuur volgende keer ‘n prentjie saam in die e-posbestelling, sê Karen.

Die lewe is dus nie so triestig nie, is dit? Nou hoekom sit en luister jy na Sondag-musiek? Die soort wat jou misrabel laat voel?

Want. Sondag.

As jy oud genoeg is om die fliek Kelly’s Heroes te onthou en die emosie agter die lirieke kan verstaan, kan jy maar saam met my die hierdie Sondag vier.

Bly veilig. Bly tuis. Hou op kerm.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Net so Hester. Dit kon baie erger gewees het.

  2. Ek stem saam!!

  3. Ek werk van die huis af op die internet vir my brood en botter, so ek hou nie ‘lockdown-vakansie’ nie, maar ek kla nie. Ek is dankbaar vir wat ek het en kan doen. Wees jy ook veilig. 😉

  4. Daar is ook baie skoenlappers in ons tuin. Die musiek neem vir my jare terug – dankie hiervoor.

  5. Hoe kon ek jou “Sondag”-inskrywing gemis het? Dankie vir die skakel – “Sunday morning coming down” het my ook in menige melankolie ingesing… Vir my het dit altyd gehelp om Sondagaand kerk toe te gaan…ja’k…

  6. Ja ons is besonder bevoorreg en leef in weelde!

  7. Sondae was altyd my verlangtyd. Dan het ek huistoe verlang na familie wat ver bly. Gelukkig het kerktoe gaan my gehelp om deur te druk. Dan het ek ook op n Sondag namiddag by my vriendin wat lank reeds oorlede is gaan tee drink.Ons was sielsgenote en het alles onder die son reggestel! Nou is Sondag my tyd om namiddag by my seun en Bea te kuier(wat nou opgedroog het) Gister het ons egter aanlyn lekker gekuier. Klein Bea het haar pa se ou bril opgesit sodat sy my beter kan sien, want sien, Pa sit sy bril op as hy op rekenaar werk. Ai die lewe is n lied, dis soos n dode mars op die oomblik. Ons het dit altyd so gesê as ons bedruk was in die koshuis. Daar gaan nog baie water in die see loop voordat daar n oplossing gaan wees. Sterkte met die tuisbly en moedhou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sien nou die prentjie van Bea met die bril, haha. Kleintjies is kostelik. Ja, Sondag is ‘n anderste soort dag. Ek voel sommer net af wanneer Sondag aanbreek. Maandae is nooit regtig blou vir my nie – dit laat my ontsnap van die Sondag blues af.

  8. Die spreekwoord wat sê, ons kla met die witbrood onder die arm, sê alles.

  9. Jong, ek kan my net voorstel hoe trek jou hart al na die mooie see toe!

  10. Lees nou eers hier… ook maar goed want ek het gister begin engtevrees kry. Praat toe hardop met myself….Kameel jy het vir sewe maande in ‘n bed in jou kamer gelê, nie wetend of die baba wat in jou groei die dag gaan maak nie. Jy kon nie eers ‘n koppie koffie vir jouself gaan maak nie. Daar was nie ‘n aanloop van vriende nie want jy was nuut in die omgewing…… ens ens ens
    Beter mens dink aan die positiewe Hester!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, maar aan die einde van daardie stryd is jy beloon met ‘n baba en ek … wag, laat ek nou eers hieroor dink, want ek wil asseblief nie ‘n baba hê nie 🤔

      • Hemel Hester nou het jy my hardop laat lag 😂😂😂😂 Dankie…. het dit nodig!!!

  11. Janee Hester ek sou ook wat gee om op die strand te sit. Maar sowaar as para mandel dra, daar is baie om oor dankbaar te wees 😘