My vreugdes en frustrasies

COVID-19

Lockdown regulasies en hengelaars op die strande

Noudat die Regulasies hengelaars toelaat om ’n vissie uit te trek op die strand, kon dit natuurlik nie hoër of laer nie – ek moes ook by die hengelaar-broederbond aansluit. Dis die enigste manier waarop ek wettiglik op die strand toegelaat sal word. Aanvanklik het ek gedink ek sou saam met Karen kon loop as toeskouer / oppasser, maar daarvoor word mens beboet. Die enigste uitweg was om ’n vislisensie te gaan koop.

Nou loop ek soos ’n wafferse pro elke oggend af strand toe, visstok liggies en baie ongeërg in die hand gebalanseer. Ek weet hoe om die rol te speel. Karen dra die rugsak met ons lisensies, waterbottels en visaas. Sy maak al die fishing traces (dis nou daardie gedeelte met die hoek en sinker wat voor aan die lyn vasgemaak word) reeds die vorige aand en wanneer ons by die viswaters kom, sit sy die aas aan terwyl ek belangstellend toekyk. Dan vat ek gewoonlik my stok en gaan sit in die son totdat sy klaar gehengel het. Het ‘n lisensie en al die props – mag op die strand wees. Of dalk moet ek hengel en nie net daar rondsit nie 🤔 O, die vertwyfeling in my gemoed!

Vanoggend was daar heelwat hengelaars op die strand, en siende dat jy nooit weet watter hengelaar dalk ook ’n spioen kan wees nie, het ek besluit om my hengelkuns te herbemeester – for real. Jac het my jare gelede langs die binnelandse damme geleer om met ’n koffiemeultjie-katrol te werk en Karen moes net gou weer demonstreer. Eers ’n paar oefenskote op die sand oefen. Stok liggies op twee vingers balanseer, nog twee vingers bybring om die lyn teen die stok vas te hou, die hefboompie oor te haal, stok oor die skouer te posisioneer sonder om my dogter aan die hoek te vang en net met ’n swaaibeweging van die pols die sinker netjies deur die lug te laat trek. Easy peasy.

“Dis soos fietsry,” sê Karen. “Jy vergeet nie hoe nie.” Mmmm, ons sal maar sien. Ek het lanklaas fietsgery.

Die eerste gooislag was ’n meesterstuk, tot die groot verbasing van die ander hengelaars wat my so onderlangs taamlik liggelowig aangekyk het. En myself. Met die tweede probeerslag wou ek ’n bietjie verder gooi, maar om te veel krag te gebruik, is klaarblyklik nie ’n goeie idee nie. Dit het ’n arme sandkrap amper sy lewe gekos toe ek die hoek en sinker met oordadige geweld net langs sy kop neergebring het. Die stok is eintlik gemaak vir gebruik op ’n skiboot, maar werk goed op die strand, net solank jy die draaibeweging van die pols onder beheer hou. Die derde probeerslag was beter en ek was nou gereed om aan te sluit by die hengelaars langs die water.

Die ouens is nogal vriendelik en maak plek vir die nuwe aankomelinge. Ek het my sinker en hoekie ewe netjies in die water gegooi, reguit voor my, want om lyne te kruis met ’n ander hengelaar is ’n doodsonde. Skaars was my hoek in die water, toe begin my lyn rondspring. Ek vou my linkerhand se vingers so om die lyn om seker te maak, en ja wraggies, daar’s iets wat knibbel.

“Vissie, voertsek!” seg ek. “Ek belowe jou, jy gaan eendag gevang word en in ’n pan beland, maar vandag is nie daai dag nie.”

Ek het dit nie in my om ’n vissie uit die see te trek en te kyk hoe hy op die strand spartel nie. Ek sal boonop vir Karen moet roep om die hoek te kom verwyder en vir Gulsige Vissie terug te gooi in die see. Sy het al die nodige gereedskap in die rugsak en kan ’n arme vissie in die oë kyk terwyl sy die hoek uit sy bek haal. Ons visse gaan gewoonlik almal terug see toe – dis die vangs wat belangrik is (en foto’s natuurlik). As ons vis wil eet koop ons dit by die Mall.

Maar die vissie luister nie en ek katrol my lyn in. Gelukkig, so halfpad op pad na my toe, raak die knibbelaar weg en ek trek my lyn uit. Daar sit nog net so ’n verwese stukkie aas wat met sy laaste lewe aan die hoekie vasklou. Toe moet ek in elk geval vir Karen roep om die aas te kom vervang.

Ek besluit om liewer ’n bietjie aan te skuif in my soeke na ’n plek toe waar daar dalk nie baie vissies is wat aan my hoek wil kom spartel nie. Ek gooi die sinker net duskant ’n rotsbankie in, met die gedagte dat die vissies anderkant van die klippe sal wees – seekant. En dis net daar waar my hoekie gaan vashaak aan ’n rots. My hengelles van vanoggend het nie daardie moontlikheid ingesluit nie. Ek loop dieper in die water in en pluk die lyn so heen en weer, katrol die lyn so effens in, loop agteruit, dan weer links, gee ’n sprong na regs. Nou kom die water tot by my knieë en ek moet my balans hou tussen die golwe en die gladde klippe. En ek sukkel nog steeds met die hoek en sinker wat hardnekkig aan die rots klou. Karen moet kom help. Sy pluk net so een keer aan die lyn en daar kom die lyn uit met ’n bolling seegras wat verstrengel geraak het in die hoek. In die proses van verwydering van die gras, kruis ons twee se lyne en nou moet ons mooi trap tussen die branders deur om op ons voete te bly.

Uiteindelik is ons weer geskei van lyn en ek het nuwe aas aan my hoek. Daai rondspringery in die water het my moeg gemaak. Dis ongewone oefening en ek is nog onfiks na my hospitaalkaskenades. Dis nou ’n bietjie erg. Ek klim oor ’n klipplaat en gaan kruip weg in ’n hoekie agter ’n groot rots met ’n bottel water om my verlore asem terug te kry. Die uitsig is pragtig en ek skiet ’n paar foto’s. Hierdie is een van my dogter waar sy bo-op ‘n rots staan en hengel terwyl die branders rondom haar teen die rotse opspring. Ek het ‘n dapper vrou grootgemaak. Haar ma sit agter haar rug en kruip weg agter ‘n rots.

Maar o wee, toe Karen besluit dis tyd om huis toe te gaan, is elkeen van my spiere in opstand en sy moet my hand vashou sodat ek kan konsentreer op my navigasie oor die rotse heen.

Hier in ons dorp is al die huise daar bo teen die bult en die see doer onder in die laagte. Om see toe te loop is ’n plesier. Om terug te loop huis toe, amper twee kilometer van die hengelaars se possie af tot by die huis, is ’n marteling wanneer jou spiere en jou brein nie ooreen kan kom oor hoe om saam te werk nie. Ek het al begin hobbel en wobbel nog voordat ons oor die treinspoor is. Teen slakkepas teen die hoogte opgeseil. Bo-op die laaste bultjie voor die genadige afdraand van die paadjie vol slaggate na ons huis teen die rivier, was my lyf al amper dubbel gevou, met my neus ongeveer drie duim bo die teerpad.

Ek moes ’n voor-middagete slapie neem. Ná ete het ek ons drie episodes van ’n minireeks op Showmax gekyk (ek het deur twee daarvan geslaap) en daarná is ek terug bed toe vir ’n middagslapie. Maar Karen is reeds weer besig om die visgerei gereed te kry vir môre se visvang-ekspedisie.

Daai vissie moet net buite my bereik bly, want as hy aan my hoek kom ruik, gaan ek hom so warrempel nie weer laat wegkom nie. Al hierdie moeite en pyn moet beloning bring vir die hengelaar.


Volgende dag vervolg:

Ek het toe vanoggend my eerste vissie gevang. ’n Klein kolstertjie. Sjympies, ek dink hy drink nog aan sy mamma. Ons het hom maar net afgeneem en teruggesit in die water.

Ek het vanoggend se oefening nogal geniet, ten spyte van die effense seer spiere en die onbeskofte branders wat my sopnat gepiets het.

Hierdie soort lockdown kan ek verduur. Solank die weer goed hou sal ek gaan hengel.

Follow Dis Ekke

56 Comments

  1. So, jy mag op die strand staan solank jy hengel – maar jy mag nie op die strand loop as jy net ‘n bietjie oefening wil kry nie. Baie logies.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, maar onthou, om te kan hengel, moet jy ‘n lisensie koop. Dit sit ‘n bietjie geld in die staatskas en terselfdertyd verhoed dit ‘n toestroming van mense wat nie social distancing beoefen nie. Ek vind so ‘n bietjie logika daarin en voel veiliger op die strand as wat andersinds die geval sou wees.

  2. Lekker lag ek vir jou Hester, die regulasies is snaaks, maar jou eskapades nog snaakser

  3. Bwahahaaa – Hester, die alternatiewe hengelaar, wat hoop die visse byt nie en vermoed haar vangs “drink nog aan sy mamma”.

  4. Lekker. Jy moet net die kuns bemeester, om jou vis, meer indrukwekkend te fotografeer. Gaan staan doer agter, met die vis, steeds aan die hoek. Draai die stok dat die vis, reg voor die kamera hang. Dan, het jy sommer ‘n knewel aan die hoek.

  5. Ek is seker die suigeling vissie is bly jy was die hengelaar. Jy leer jy my weer ‘n kosbare en kostelike les in planmaak en voluit lewe. Mwah!

  6. Hester, hierdie is die mees spesiale, kosbaarste skrywe! Jy het my só meegevoer met jou beskrywing, my tone krul behoorlik om van lekkerte! Ag, julle twee is oulik, man. Hier by ons skiet hulle op die oomblik crackers omdat die kolganse ons eiland oorgeneem het.🤔😳Ek kan nie glo hulle mag so iets doen nie, nou sien ek almal op die klub-groep “shap”,👍, heeltyd. Vreemde tye! Iemand sê iets van die kolganse wat nie hierdie jaar “migrate” nie want hulle voel ook ge-lockdown?🧐

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die saamlees uNA 😀 Nou dink hulle die kolganse sal wegtrek as hulle lawaai maak? Daai voëls is baie gebiedsgebonde en bly lewenslank in dieselfde plek as hulle eers neste daar gehad en gebroei het. Ons het ook opgelet dat ons ganse en die woolly-necked storks nie hierdie jaar migreer het nie. Wonder hoekom?

      • Sowaar? Dalk moet ek De Wet vra wat aan die gang is. Hier is op die oomblik honderde, Hester, en dit klink of elke liewe paar konstant met die ander loop en baklei. Die loeries neem ook oor, asook vreeslik baie eende, slanghalse, kormorante en likkewane. Dis ń malhuis!🧐

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dalk hou hulle van ‘n skoon dam. Ek neem aan julle hiasinte is nog onder beheer. Die natuur is wonderlik onverstaanbaar, maar ek glo daar is ‘n logiese verduideliking.

        • Hiasinte is so te sê weg.

        • Pragtig Hester, jy het plan gesien om die burokrasie te omseil en die strand te geniet. Net jammer die visse wil jou nie omseil nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Is so, maar ek dink die positiewe uitkoms is dat die visvang-gogga my nou regtig gebyt het – dink net hoe ek my verbeelding kan gebruik om te skryf oor die grotes wat weggekom het! 😂

        • So sien ek gister ń video van die parkeerterrein by Walmart in Texas, waar letterlik honderde kraai toe gesak het. Hulle sit oral op die motors en as hulle vlieg is dit een groot donker wolk. Scary.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nou kry ek rilling op rilling. Die hele ding klink mos nou soos daai Hitchcockfilm – The Birds. Het jy dit gesien?

        • Goeiste, klink omtrent soos ń horror-movie. Kraaie!

  7. Lekker gelees, dit is pragtig beskryf.

  8. Hester ek het hierdie nou baie geniet. Mooi foto van pro-Karen. Hierdie het my aan 2 potensiele blogstories laat dink.
    Nr 1 sal die eerste keer wees wat ek ‘n vis uit die waters getrek het in die Hartenbosrivier toe ek in standard 4 was. Ek het leer vis vang seker die dat ek ‘n leervis uitgetrek het. AS Maklik 4kg (as mens Coetzee se verneukery toepas). Nr 2 sal wees n.a.v. die 3 duim bo die teerpad. Dit was baie jare terug op Tafelberg. Ek het teen ‘n afdraade (darem nie te styl nie) my balans verloor en al hoe vinniger begin hardloop om regop te bly en naderhand was my neus 3 duim bo die rotse

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Abrie, jy het altyd die vermoë om my te laat lag, maak nie saak hoe absurd die eksterne faktore is wat my lewe beïnvloed nie. Skryf daai stories!

  9. Baie bly jy kan weer by jou geliefde see uitkom… al moet jy dan ook hengelaar speel. Een van die dae is jy weer perdfris, en draf jy daardie bult uit.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel en ek hoop jou voorspelling word waar. Dis ‘n vreeslike verleentheid om so blaas-blaas teen die heuwels uit te probeer kruip.

  10. Jou ou yster! 👏🏻👏🏻👏🏻

  11. Gelukkig het hulle ons nie ‘geskryf’ toe obs Saterdag langs die see gestap het nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink hulle teiken die groter strande hier by ons, daar waar gewoonlik groot getalle mense / hengelaars opdaag en lekker paarties gehou word. Ek weet van mense wat beboet is by die hawehoof in Durban.

      • Op Struisbaai was hulle baie erg. Dis regtig verbasend. Daar het baie mense langs die see gestap.

      • By ons in Seepunt het selfs die berede polisie opgedaag, nadat Faceboek-idiote stokou foto’s van pretdrawwe geplaas het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek kan nou nogal verstaan waaroor die regulasie gaan, want noudat die elwe opgedaag het, staan die vissermanne skouer-aan-skouer met hulle visstokke. Daar is geen teken van social distancing nie.

        • Jammer daai elwe daag nie hier op nie. Die oond is gereed.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Is hulle lekker? Elwe is volop hierdie tyd van die jaar, maar regtig, ek ontsien die moeite om vis te staan en skoonmaak vir die pan. Ons vang en gooi terug of as hulle groot genoeg is, gee ons dit weg vir die plaaslike bevolking. Nou is ook die tyd vir die Natalse galjoen, maar hulle hou so ‘n bietjie dieper in die see.

        • Elf in die oond gebak is die lekkerste poeding waarvan jy kan droom, en ek is nie juis ‘n viseter nie. Komende van my, seg dit alles.

  12. Petra

    Ag, ek het dit nou geniet. Hoop al die eskapades maak jou sommer baie fiks. 👍🏻😃

  13. Dankie… ek het nou lekker gelag!! Ja… dis soos fiets ry… baie stadig!
    Dankie tog daai moederdrinkende kolstertjie is terug… ek wed jou hy gaan volgende keer vir sy groot oupa saam bring om vir jou te kom dagsê! En, net so btw… oupa kolstert smaak lekker inni pan! Belowe!!
    Line coming over!! 🤣😁😁🤣

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons het al van die groteres gebraai en in die pan gaargemaak, maar dit voel soos hoogverraad teenoor mede-inwoners van ons see.

      • Ai shaaim… daai visse is daar om vir julle drievoudige pret te gee… die af see toe, die vangs en die braai! So werk die lewe… so, ek verklaar dit as laeverraad! 😁😁😁

  14. Ag, dit lyk te heerlik op die strand, al moet ‘n mens maak asof jy visvang.
    Aai toggie 😉 Ek het nie eers geweet van die visvang wet nie.
    Lekker lees en pragtige fotos ♥

  15. Suiwelvissies. Dis ‘n nuwe ding. En bult-op vir twee myl is my voorland more. HYG-end hert.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hopelik wag daar ‘n lekker beloning bo-op die bult!

      • Die huis sit daar bo. En daar’s koffie. Maar liewe hemel, bulte is steil en die hart is lankal nie meer ‘n jong bergklimmer s’n nie. Ons fensie betaalde ryding is mos jare gelede gesteel.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek loop vir oefening, maar bulte is ‘n straf-ekspedisie op hierdie ouderdom.

        • Ek dieselfde. Hartversaking, 7 aa valle. 12 beroertes sedert ek 33 jaar was, daarmee saam rugbesering en mislukte operasie. Goed gekrok sommer vroeg al. En ek is nog nie eens 60 nie maar my amper 90-jarige pa vaar beter.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ai tog, om oud te word is erg genoeg – mens het nie al hierdie kwinte en kwale ook nodig om jou lewe te versuur nie.

        • Nee, ek het dit nie nodig gehad nie en het op 33 al met kierie moes loop, maar daarmee saam kan ek se dit het nie my lewe versuur nie, die son kom steeds op in die ooste. dan is die lewe ook okay. As ek pyn kan voel, lewe ek mos nog.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis nes jy daar sê.