My vreugdes en frustrasies

My eiers

Watter geheime bewaar die waterval van Eden?

Samango-waterval in die Umzimkulwanarivier

Watter geheime het hulle afgespeel by hierdie waterval? Twee geraamtes. Blyke van ‘n tweede (en dalk ‘n derde) liefdesdriehoek waarvan ons voorheen niks vermoed het nie. Die Towerinne is gemesmeriseer deur die besef dat die raaisel van Eden se mense algaande verder verdiep. Die tonge wapper soos vlae in die noordewind wanneer almal deurmekaar brabbel.

Ware liefde is tydloos, snik Frannie. Ag, hoe hartseer! huil Woordnoot saam. Ek is b.b.bang, kerm Positief, ons moet hier uitkom voordat die polisie ons hier by die geraamtes kry. Nou-nou sê hulle ons peuter met getuienis van ‘n moord, of so iets. Ja, en dan gooi hulle ons in die tronk, snik Una. Hoe kom ons hier uit, vra Toortsie, ons kan nie teruggaan deur die tonnel nie, want die polisie wag daar anderkant. En ons weet nie eens waar ons is nie. Ons is naby Rebusfontein, sê Kameel, ek wonder – is dit dalk Lorenzo se geheime plek waar hy Camilla heen gevat het om in die poel te gaan swem? Bel vir Lorenzo en sê hy moet die Musk-vuurpyl stuur om ons te kom haal, sê Perdebytjie. Nee, dit gaan te veel raas, sê ek, nou heeltemal paniekerig. Stuur Scrapy se uil om by die polisie te spook sodat hulle kan padgee. Hulle is mos baie bygelowig, dink Perdebytjie nog ‘n plan uit. Maar die senuwees knaag en ek bel vir Lorenzo.

Tien minute later kom hy teen die plat klippe van die waterval afgegly. Die Towerinne is verstom – só naby ons huisies daar in Rebusfontein en só rigtingloos. Twintig minute later sit ons almal in ‘n kring om die waterput en drink ‘n glasie Frangelico om ons groot dors te les. En die senuwees te kalmeer.

Christa vra vir Lorenzo uit oor die geraamtes by die water. Het hy dit gesien toe hy en Camilla gaan swem het? Ja, knik hy. Nou hoekom het hy niks daarvan gesê nie? The dead must not be disturbed, sê hy gebelgd. Ek kan hom die versekering gee dat die Towerinne baie “disturbance” gaan veroorsaak voordat hierdie geheime ontrafel is.

“Towerinne!” Dis Kameel wat ons tot orde roep. “Ons moet koppe bymekaarsit. Dit wil dan nou lyk asof Charlotte met albei die broers, Joseph en Leonard, verhoudings gehad het. En dan het Leonard boonop ‘n verhouding gehad met Sophia. Hulle was almal vervleg soos ‘n koeksister. Dan praat ons nie eens van mev. Marx en mnr. Hardy wat ook saam gepollevink het nie.”

Voordat Kameel verder kan praat, begin al die Rebusfonteinse honde blaf. Dan hoor ons die sirenes en sien die polisievoertuie wat in die hoofstraat afgery kom, met Broodina se Uno wat hulle lei. Broodina spring uit en kom met ‘n wipstappie aangestap na die kring Towerinne toe. Sy dra ‘n spierwit langbroekpakkie en haar dun beentjies lyk maar wankelmoedig bo haar platformskoene.

“Sy lyk nes ‘n vlieg wat in die karringmelk geval het,” sê Seegogga.

Dit moet ek die Towerinne ter ere nagee – hulle is goeie aktrises. Niemand trek ‘n spier nie, maar ek kan sien hoe die lagduiweltjies in die oë ronddans. Almal groet bedaard en skud selfs plegtig blad met Sersant Gigaba met wie Die Voortvlugtiges destyds kennis gemaak het by Toweropstal.

“Dames,” sê die Sersant, “ons was nou daar by die ou ruïne waar mej. Broodina gister ‘n geraamte in die kelder gevind het. Julle weet seker daarvan?”

“Ja, Sersant,” sê Vuurvliegie in ‘n geskokte toon. “Ons het daarvan gelees in die koerant. Is dit nie vreeslik nie?! Ons het besluit om liewer ver weg te bly van daardie plek af. Dis so jammer, want ons het gedink ons kan die biblioteek opknap, maar nou is ons te bang om naby die ou manse te gaan.”

“So, u dames was nie in die kelder by die geraamte nie?”

“Nee, ons het gelees dat mej. Broodina deur die vloer geval het.” Ugge-ugge, kug sy. “Jammer, iets in my keel. Die plek is beslis nie veilig vir ons dames nie.”

Vuurvliegie skiet nie spek nie. Sy gooi sommer met ‘n hele vark. Maar weer eens trek die Towerinne nie ‘n oogspier nie.

“Uhm … ja. Ek het u juis kom waarsku dat die ou huis nou off limits is vir die publiek. Dis nou ‘n amptelike misdaadtoneel. Ek gaan ‘n konstabel met ‘n polisiehond daar los om wag te staan totdat die polisie-ondersoek afgehandel is.”

Dis nie goeie nuus nie. Wat nou van ons eie ondersoek?

Die polisie en die karringmelkvlieg het kwalik vertrek, toe skraap Kameel ons weer almal bymekaar. “Towerinne, alles is nie verlore nie. Onthou, ons het ‘n groot voorsprong met al die leidrade – die dagboek, Thomas se tekeninge, die foto’s van die Angelwoods en Hardys. Ons het ook die sleutel na die tonnel en ons weet van die geraamtes by die waterval. Die polisie kan nie sonder die sleutel daar ingaan nie, maar ons kan die waterval per voet bereik. Ons moet vanaand nog die dagboek bestudeer en kyk wat ons kan wys word. Ons kan nie toelaat dat Broodina die scoop voor ons neuse wegraap nie.”

“Die dagboek – waar is die dagboek? En die spieël? En die briewe?” Trommeltjies is skoon koorsig van opgewondenheid. Ek gaan dit aan haar oorlaat om te vertel van die Towerinne se pogings om agter die kap van die byl te kom.


Hierdie blogpos is geskryf om deel te neem aan die Towerinne se bloguitdaging om ‘n vervolgverhaal te skryf oor die misterieuse herehuis naby Rebusfontein waar die dames besig is om ‘n biblioteek te restoureer. Die mense en die plekke is fiktief en sover ek weet is daar nog nooit geraamtes gevind by die waterval op die foto wat hierbo geplaas is nie. Om die ander deelnemers se bydraes te lees, volg hierdie skakel: https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313


Persone wat graag wil deelneem aan die bloguitdaging of diegene wat graag ‘n tweede rondte wil skryf, moet asseblief nou inskryf deur hierdie vorm te voltooi.

Follow Dis Ekke

68 Comments

  1. Het een van julle nie ‘n op hitte teefhond om daai polisiehond weg te lok nie? Ek ek dink daai polisiehond verdien ‘n ekstrasterk spinasiekoekie.
    Meesterlik, Hester, meesterlik. Ek geniet die beskrywing van Broodina. 😂

  2. ń Vlieg wat in karringmelk geval het… Skitterend Hester, ek haal nou weer rustiger asem.

  3. Ek konnie vinnig genoeg lees nie Hester. Ai jai hoe gaan ons ooit hierdie deurmekaarspul ontrafel kry. Nou is daar nog meer vrae…. wie sê die kinders is Josef s’n as Leonard ook betrokke was? Vannag lê ek weer en probeer alles uitpluis. Welgedaan!!! Nou kan jy weer vir ‘n ruk asemhaal 😊

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel. Ja, ek gaan nou eers rustig terugsit en kyk watter kinkels die bloggers nou gaan inskryf.

      • Dis die probleem net as ek dink nou het ek die draad van die storie dan gooi iemand die appelkarretjie om. En ek wou net ‘n biblioteek gehad het 😂😂😃

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jy hang met die verkeerde groep uit. Hulle sal nooit die lewe maklik maak nie. Maar ek dink jy sal darem nog die biblioteekkry.

    • Toe het ek ‘n helse nagmerrie van jou en my wat uit daardie huis op ‘n slip and slide probeer ontsnap. Nie so maklik nie want die huis is vol vyandige mense met oë wat ons dophou. Net ons weet waar die slide is en wil nie die posisie weggee nie. Lekker dag vir jou ook 😊

  4. Bwahahaaa vir die karringmelkvlieg! Daai arme polisiehond – as die Rebusfonteindierebende eers van hom te hore kom, gaan die poppe dans 😀

  5. Ek her my nou slap gelag, Hester! Skitterend, al die pas van Lirwnzo se kommentaar af tot by Toortsie se teef op hitte! Ek het die hweltyd al d gwdagte dat die seuntjie se pa nie Joseph is nie, masr Leonard.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja daai dame, Charlotte, sy het regtig die rondtes gedoen,lyk dit my. Wys jou net, die mense van daai tyd was nie so kuis soos wat hulle graag voorgegee het nie.

      • Nee, maar ek dink Charlotte was dalk regtig verlief op Leonard. Hy was eers verlief op Sophia en sy op hom, maar Sophia kon maar moeilik wees. Kyk hoe swak het sy haar aangenome kinders behandel. Charlotte darenteen was sag en vriendelik en minder vol aansittery- ‘n vrye gees en baie liefdevol, nes haar ma. Geen wonder die mans was mal oor haar nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja maar twee broers gelyktydig – sjoe! dis ‘n handvol.

        • Nie gelyktydig nie. Eers Joseph, toe Leonard. Maar ek weet nie of Sophia geweet het dat Leonard se gevoel verander het nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Mmm. Dalk moet ons die ou gesegde in gedagte hou – jy weet “hell hath no fury … ” Ons is immers op soek na ‘n moordenaar. Dalk moet ons Sophia van naderby beskou. En sommer Isabella ook, want daai enetjie klink ook na ‘n regte feeks.

        • Ja, ek stem saam net jou. Waarom was die seuntjie se later prentjie eers so ongelukkig en nog later die pa doodgekrap? Isabella is ook n besliste verdagte. Maar die moordenaar is die een van wie mens dit die minste verwag

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Die butler? Agatha Christie het graag die butler aan die pen laat ry.

        • Wel, hy is van d begin af kwaai.

        • En dan was joseph dalk ook nie so gelukkig omdat Sy noe Leonard bo hom verkies hey nie, né.

  6. Ag ok. Ek tik oor vir die wat sukkel met touch screen taal.Ek her my nou slap gelag, Hester! Skitterend, al die pad van Lorenzo se kommentaar af tot by Toortsie se teef op hitte! Ek het die heeltyd al d gedagte dat die seuntjie se pa nie Joseph is nie, maar Leonard. Die dat die pa so uitgekrap is.

  7. Nou ja, daar gaat ons weer verder. Ai toggie dis n storie met heelwat drade wat breek en dan weer geknoop word. Hester, jy het nou n mooie storie hier vertel. Ou Broodina wil nou maar op die voorgrond wees. Ek dink sy kort nog n paar spoke om haar weer terug in haar dop te klim. Lorenzo is ook n ander een om nie te vertel van die geraamtes nie. Natuurlik net aan Camilla gedink en niks verder nie.

  8. woordnoot

    O jitte….as mens nou moet gaan slaap maar jy lees hierdie….die bed skud so ek het nou maar ini sitkamer gaan skree van die lag! Mooi Hester….jy bekinkel nou die storie weer goed!! Ag wat sal ons maak sonder Lorenzo?

  9. Nou is ek stom!!!!!!!!!
    Goed gedoen Hester. Jy maak dit nou nie maklik nie.

  10. Klink my nie hierdie familie gaan ooit uitgepluis word nie. Ek gaan nou maar eers weer 1 van daai biblioteek se boeke afstof en lees. Hierdie is te veel opwinding vir my arme swak hart. Sterkte Trommeltjie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Onthou net – jy moet van die tonnel se kant af ingaan en wees op die uitkyk vir daai poliesmantjie met die hond.

  11. Nou lag ek weer van vooraf vir julle kommentare!

  12. Hoeveel geraamtes het ons nou – drie? En wie se liefdesnessie was hierdie, of was dit ‘n familievergaderplek(Lees Bitler, kok, Charlotte en Klara en arme kleine Thomas) waar wraak gesweer en bedink is en uitgevoer. My genade g’n wonder Vuurvliegie moet varke gooi nie. Bwahaha! Hester Sintester op haar beste!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, drie van hulle. En ons weet (vermoed) die een in die biblioteek is Charlotte, een van die twee by die waterval is Leonard. Wie is die ander een?

  13. Uitstekend. Lekker gelag en baie goed saamgevat. Ek het in my gedagtes gedink die tonnel gaan in een van die Rebusfontein huise eindig. Dalk Toortsie s’n. Oor die familiestorie. Ek het hierdie dus baie geniet. Ek dink alle boeke moet meer as een skrywer hê na hierdie hoofstukke

  14. Karringmelkvlieg…ek lag my slap! Ek het jou inskrywing gemis, maar liewer laat as nooit. Skerp en vol humor!