My vreugdes en frustrasies

My eiers

Van reënbuie, paddas, bygelowe en rituele

Woordsnoer: van reënbuie, paddas, bygelowe en rituele.

Ek het vanoggend weer douvoordag ontwaak met ’n klomp snaterende wilde ganse op die grasdak reg bo my bed. In die lig van die maan wat bleek glim uit eteriese hoogte, het hulle gelyk soos ’n wafferse impi wat ’n oorlogsdans uitvoer in hulle oproerige aandrang op hulle ontbyt van geelmielies. Hulle is al net so astrant soos die ooievaars wat ewe how-do-you-do by die voordeur instap, reguit kombuis toe om gisteraand se oorskiethoender uit die kat se kosbak te vreet.

Klein voëltjies en insekte gebruik die sementvoëlbad agter die huis as swembad en maak staat op die sade wat inwoners in die bome ophang as voeding. Ons ontvang ook meer dikwels besoek van die parias van die dierewêreld – slange wat gewoonlik in die digte bosse oorkant die pad hou, maar nou aangedryf word na die residensiële areas waar water beskikbaar is. Bye lê druk besoek af by die enkele blomme wat nog sigbaar is aan die hibiscusstruike, en by die speldekussings wat nou blom met behulp van dorpswater. Gazanias? Nee, jy kry hulle nie sommer in hierdie streek nie. Miskien net in potte by die voordeur waar hulle met grys water aan die lewe gehou word.

In die afwesigheid van die milddadige reënbuie waaraan ons aan die duskant van die land gewoond is, het ons almal begin om die wilde voëls in die omgewing te voer. Selfs hier in Natal het die gewone malse groen plantegroei asvaal geword en die soepele stamme van bos, riet en boom buig swaar in die wind. ’n Onervare akwarellis sal sy verbeelding moet inspan om ’n bietjie kleur in sy skildery in te bring. Hierdie wêreld ly aan ’n gulsige soort dors en ons sien uit na die somer-donderstorms wat water oor die aarde giet.

Voorspellings en voortekens van reën, bygelofies en Afrika-rituele is alledaagse onderwerpe van gesprek. Die ouer garde bespiegel oor die voorkoms van die see se oppervlakte – die arena waar die wind, wolke, golwe en bliksemstrale met groot gewag ’n sege voorspel wat seëning sal bring. Oorwinning kom egter drupsgewys. Hulle praat ook oor die afwesigheid van die loerie se tril wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar gehoor word. En die paddas wat altyd in die syferwater van die syvore hou, het ander verblyf gaan soek. Die enigste padda hier is die buurvrou se groen sement-ornament wat soos ’n sfinks onder die waterbessieboom sit en sy eensaamheid besweer deur die menslike inwoners se kom-en-gaan dop te hou.

Het julle geweet dat in dele van Indië wat ook hierdie jaar gely het onder geweldige droogte, is verskeie padda-troues gehou om die reëngode te paai en te oorreed om ’n einde te maak aan die droogte? Ek het ’n paar video’s op You Tube gesien in my soeke na sulke staaltjies, na aanleiding van Vuurvliegie se uitdaging. Daar is natuurlik wêreldwyd sulke rituele wat elke jaar plaasvind. Dis tekenend van die desperaatheid van bevolkings wat deur die die droogte geraak word.

Terloops, in Limpopo is die posisie van die Reënkoningin (Modjadji) – ’n oorerflike posisie – steeds nie gevul nadat die vorige koningin in 2005 gesterf het nie. Hulle wag blykbaar vir die volgende erfgenaam van die titel om meerderjarigheid te bereik. Die bevolking glo dat die Reënkoningin oor spesiale magte beskik, insluitende die mag om wolke en reënval te beheer.

Dankie, vir die interessante woordsnoer-uitdaging Vuurvliegie. Kom ons hoop op reënbuie vol water en reënbuie van seëninge wat binnekort sal neerstort.


Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Die uitdaging sluit Donderdag 16 Oktober 2109 om 12h00.


Image by Zdeněk Chalupský from Pixabay

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Liewe Hester, gesnoer net soos jy kan. Alweer het ek eers lekker in jou omtes daar in KZN gekuier, en toe neem jy my op reis oor die wêreld en bring my terug na my eie voorstoep. Ek dink Modjadji staak of iets. 😉 Ja, ons hele lewe is van die stikstof uit die hemel afhanklik. Chad Maré ons huis padda het ook al sy intrek by die honde se drinkbak kom neem, maar ek sien nie sy bruid nie. Ek sal hom moet aanpraat!

  2. Geen bijgeloof bij deze blogger.
    Voor het rijgen van woordsnoeren heb ik nog enige bedenktijd nodig.

    Vrolijke groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😀 Woordsnoere vat net ‘n bietjie oefening en dis ‘n goeie manier om jou woordeskat uit te brei. Winderige groete van die Suidkus af.

  3. Baie mooi geskryf Hester. Is jy nie bang daardie ooievaars los vir jou ‘n baba in die kattebak… net om dankie te sê nie?

  4. Ek moet bieg… Ek raak so benoud oor die droogte in ons land dat ek nie genoeg hierdie vol dam water van ons kan inneem nie. Staan kort-kort op die stoep en staar.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek doen dieselfde wanneer ek ons vol riviere sien, want hier is water rondom ons – dis net die arme plante wat te ver weg is om nut te hê daarvan.

  5. Mooi gesnoer Hester. Ja jong die liewe Modjaji hou maar haar re”enhand styf toe!

  6. Neen geen bijgeloof, ik ga die kikker niet kussen om mijn prins te ontmoeten!

  7. Die het ek nou geniet, soos gewoonlik. Uitstekend geskryf