Ek wil nou nie skinder oor die swak gedrag van sommige gaste by ons Rebusfontein feestafel nie, maar dalk moet ek net dít sê – Rebusfontein gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Gaan lees gerus by hierdie skakel wat die ander bloggers te vertelle het oor hulle ondervindings met moeilike gaste (en die vreugde wat minder moeilike gaste verskaf het): https://fresh.inlinkz.com/p/f68a9fa9110148b1ab92181b21eb7d51
Ek het mos vir Henry VIII en ons bekende politikus mnr. Zuma uitgenooi as my gaste. Daar sit ek toe tussen die twee manne en vergaap my aan hulle geselskap. As dit is wat jy dit kan noem. Ek sal nou nie te veel uitwei oor mnr. Zuma se geliefkoosde onderwerpe nie – ons het immers al genoeg daarvan in die koerant gelees. Maar laat ek jou ‘n bietjie inlig oor die Engelse Koning.
Dié het mos daar gesit soos … wel, ‘n koning, en ek moes hom hand en voet bedien. Het sy ma hom nooit geleer om homself soos ‘n heer te gedra nie? Ek moes sy kos inskep en aandra, sy kelkie vol wyn hou, en elke nou en dan sy kussings oppof. Die ergste van alles was dat hy met sy vingers geëet het en ek moes klokslag sy hande skoonvryf met ‘n sagte nat lappie. Toe hy die speenvarkie getakel het en die vet oor sy ken(ne) begin drup het, het hy so ewe sy kop na my toe gedraai om sy mond skoon te vee. En het die man ‘n aptyt! Liewe genade. Ekself het nie kans gekry om nat of droog oor my lippe te laat gly nie.
So tussen die etery deur het hy sonder ophou oor homself gesels: sy sportprestasies – boogskiet, perdry, stoei, steekspel, swaardgevegte en muurbal; veldslae wat hy gewen het; boeke wat hy gelees en geskryf het; tale wat hy kan praat. Hy het regtig ‘n hoë dunk van homself.
Toe hy uiteindelik versadig was, wou hy weet wanneer die mense dan gaan dans. Die dansvloer, seg hy, is die heel beste plek waar jy die mooiste vrouens kan beoordeel en besluit watter een jy later in jou koninklike suite kan onthaal. So ‘n ou bok!
Dit het my toe die geleentheid gegee om hom ‘n bietjie oor sy vroue uit te vra – ek meen, sy eggenote en sy minaresse. Toe gesels die man land en sand aanmekaar. Ek het slaapkamerstories gehoor wat my ore laat tuit het. Die hartseersaak is dat die man werklik lief was vir al die vroue in sy lewe, maar soos wat ‘n kind lief is vir ‘n speelding – wanneer die nuutjie verby was, wou hy ‘n nuwe een hê. Dit het my ‘n bietjie op my tande laat kners.
Maar toe kom Nataniël mos daar verbygeloop en koning Henry kon nie glo dat die “hofdigter” se klere meer koninklik as sy eie gewaad was nie! Hy het geëis dat Nataniël se kop afgekap moet word vir sy arrogansie – niemand mag beter aantrek of meer aandag trek as die koning nie. Dis onbetaamlike gedrag. Nataniël het hom natuurlik glad nie aan die lawaai gesteur nie en Koning Henry het al hoe meer vokaal geword.
Gelukkig, gelukkig kan sy aandag baie maklik afgelei word deur ‘n mooi vrou en toe Patricia, Trevor Noah se ma, toevallig in sy rigting geglimlag het, was hy so mak soos ‘n lammetjie. Binne ‘n paar minute was hy kalm en het die rol van die galante heer volmaak gespeel. Ek hoop tog sy hou haar nek veilig.
Dis nou totdat Hitler begin bulder het oor sy hond. Praat van slegte gedrag! Onmiddellik was die Koning slaggereed en het ‘n swaard uitgepluk. Mnr. Zuma het oorgebuk om die juwele in die swaard se hef te bewonder en net daar was die storm verby – my twee gaste het heerlik begin gesels en ek kon ‘n bietjie asem skep. Dit was nou totdat ons politikus besluit het het om Nkandla met Henry se Hampton Court Palace te vergelyk. Praat van stoepit gedrag. Sug. Lang storie.
Ek is nog steeds vies oor al die lekker kos wat ek misgeloop het. Sal maar ‘n bakkie KFC moet koop op pad huis toe.
Kameel
Ag liewe Hester daar het jy toe jou hande vol met die bedorwe koning 😂😂😂 Ek is net bly jy het kop gehou…al moes jy sy mond soos ‘n baba s’n afvee. Nee kyk as ons nadese weer ‘n ete hou nooi ons niemand bekends nie….dis moeilikheid soek.
HesterLeyNel
Ek dink ons moet ‘n verbod plaas op besoekers by Rebusfontein. Ek gaan soontoe om te rus.
scrapydo2.wordpress.com
Wat n gestoei om ou Hendrik gelukkig te hou en dan meng ou Zuma ook nog in. Ek het simpatie met jou. Jou twee gaste moet beslis vinnig teruggestuur word na hul “warm” plekke. Hul is heeltemaal te hebsugtig en veeleisend. KFC ag nee man daar was dan so baie varke op en aan tafel!
HesterLeyNel
My gaste het my skoon ut die kos uit geboer.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, jy het behoorlik les opgese met ou Hendrik se eetgewoontes. So n ou knol.
HesterLeyNel
haha, ek het ‘n paar jaar gelede die tv-program Tudors opgeneem en kyk dit soms weer. Ek het daar opgelet dat hulle met die hand eet en ‘n hele paar mense het wat regstaan by die tafel om aan te gee, op te vul of af te vee soos nodig. Ek word vies as een kelner so om my “hover” – jy moet seker gewoond wees aan daardie soort lewe.
scrapydo2.wordpress.com
Ha ha, ons het juis n Tudor gesin met drie kinders wat nogal so eet soos jy beskryf. Hul het eendag ontbyt in klas moes eet. Was net MacDonalds maar steeds n hele gemors.
HesterLeyNel
Ek verwonder my aan ouers wat deesdae nie die basiese dinge vir hulle kinders leer nie.
scrapydo2.wordpress.com
Ek ook. Al wat ma vir oudste boetie se: help vir jonger boetie en woerts is sy weg om te gaan werk. Ek het toe kleintjie gehelp wat hom met heuning besmeer het tot agter sy ore.
HesterLeyNel
Ai!
Kameel
Hester wil jy nie asb Woordnoot se skrywe by inLinkz sit nie. Sy het gesê sy sal jou vra… maar seker vergeet.
HesterLeyNel
Ek maak so
Tannie Frannie
Waarskynlik is Rebusfontein se KFC ‘n kerfie of twee bokant die gewone, maar dis tog nog baie jammer dat jy nie saam kon smul nie!
HesterLeyNel
Dis hoekom ek nou maar die resepte wat daar gegee is, by die huis probeer. Ek het gister pork belly gekoop – ek weet iemand daar het pork belly voorgesit. Ek moet net die resep gaan soek.
Tannie Frannie
Dit was Scrapy
Karen Nel
O dankie, ek het nog nie eens begin soek nie. Gaan dit gou daarvandaan afskryf.
Una
Ek het draaie om Henry V111 geloop, mens weet nooit wat hy uitdink nie! Maar gelukkig het jy hom opgepas en bedien. Dit het jou ook uit die kwaad gehou…
HesterLeyNel
Haai Una, ek hou my mos nou nie danig op met kwade dinge nie. Ek dink ook nie ek wil ‘n man so bedien nie – koning oftenot.
Una
Janee Hester, ek is ook glad nie ń bedienerige mens nie. Ek wens soms ek was meer so.