Hierdie is deel van Vuurvliegie se Lê-Jou-Eier bloguitdaging “Om die feestafel op Rebusfontein”. Lees gerus op haar blog hoe om deel te neem en pret te hê saam met die Towerinne.
Ek het al vele kere gesê ek is nie baie tuis in ‘n kombuis nie. Ek eet wel graag. Maar om te kook is ‘n perd wat ek nie graag opsaal nie. Maar hierdie keer moet ek ‘n uitsondering maak ter wille van vriendskap. Dus gaan bekla ek my lot by Lorenzo – my inwonende kok, tuinier en nutsman.
Het julle geweet Lorenzo is ‘n gekwalifiseerde chef? Jip. Hy is ook ‘n Italianer. Dis ‘n gevaarlike kombinasie, want soos almal weet, is Italianers taamlik warmbloedig (lees humeurig) van aard en ‘n Italiaanse chef se potjie kook gou-gou oor as hy nie tevrede is met die manier waarop kos hanteer word nie. Chefs is bekend vir hulle vloermoere en hulle kleurvolle taal. Regte kunstenaarstemperament, want dis wat hulle is – kunstenaars. Perfeksionisties en trots op hulle werk.
In hierdie geval is die kunstenaar boonop groot van gestalte (ver oor die ses voet) – tall, dark and very handsome, ja – en ek lol nie graag in sy kombuis nie. Maar ek weet hoe om te flikflooi. Dus verduidelik ek my predikament en vra mooi vir ‘n resep vir ons feestafel.
Sy gesig helder op. “Ravioli. Cannelloni. Zamponi. Cotechino. Veal Carciofi. Veal Marsala.” Sy gesig val wanneer ek sug. Hy weet my Italiaans is power en my kennis van kossoorte is beperk tot ek-eet-wat-in-my-bord-is.
“Veal Saltimbocca – means ‘jump in the mouth’. Ossobuco – means ‘bone with a hole’. Arrabiata – means ‘angry pasta’. Pasta puttanesca – means ‘whore’s pasta’. Pasta Primavera – means ‘Spring pasta'”. Hy hou my gesig dop en sy entoesiasme verkrummel stadig tot as.
“Something plain. And simple. Easy to make.” Ek kan nie gaan staan en flopse maak nie.
“Why don’t you make raais, flaais and art apples for your feestafel,” mompel hy onder sy asem.
“Ek het dit gehoor.” Ek moes onderlangs glimlag – sy poging om Afrikaans te leer praat is nie juis suksesvol nie, maar beslis dierbaar.
Stilte.
‘n Rukkie later bring hy vir my ‘n resep:
Ossibuchi Alla Toscana
(Kalfsvleisskenkels, Toskaanse styl – my vertaling)
4 snitte kalfsvleisskenkels met murgbeen
Aldoelige meel
4 t. / 20g botter
3-4 e. olyfolie
1 ui
2 selderystokkies
1 wortel
1 glas rooiwyn
200 g tamaties deur ‘n sif gedruk
Sout en peper na smaak
Vleisaftreksel indien nodig
Bedek die vleisporsies in meel en braai in botter en olyfolie totdat hulle eweredig bruin is aan alle kante. Verwyder uit die pan en hou eenkant in ‘n warm plek. Sny die ui, seldery en wortel in klein stukkies en soteer in dieselfde pan. Voeg die rooiwyn by en roer die tamaties in. Plaas die porsies vleis in hierdie sous en voeg genoeg water by om dit heeltemal te bedek. Bedek met ‘n deksel en smoor vir ongeveer 1 uur. Draai die vleis om na 30 minute en geur met sout en peper. As die sous te dik word, voeg ‘n bietjie vleisaftreksel by. Bedien saam met Gremolata en Polenta.
Gremolata is ‘n Italiaanse kondiment gemaak van pietersielie, knoffel en suurlemoenskil. Plaas die bestanddele in ‘n voedselverwerker en kap fyn. Voeg olie, sout en suurlemoensap by en verwerk tot goed gemeng, maar nie te fyn nie. Voeg chilivlokkies by vir ‘n titseltjie hitte, indien verlang. Kan vir een week in die yskas gehou word.
Polenta is ‘n growwe meel gemaal van geel mielies. Lorenzo het vir my ‘n lang beskrywing gegee van hoe ek die meel moet kook in soutwater en hoe ek moet roer, en roer, en roer …
“Hoekom kan ek dit nie sommer in die mikrogolfoond kook nie? Dis net growwe mieliepap.” Sy geskokte uitdrukking – ‘n mens sou sweer ek het kuikenmoord gepleeg!
Ek gaan my nie steur aan sy onsin nie. Ek gaan hierdie “bone with a hole” (holy bone?) ver-Afrikaans na Murgbeen op mieliepap en op die feestafel voorsit aan my gaste.
My gaste. Sien julle my grinnik? Ek het besluit om Henry VIII van Engeland daar uit die 15de eeu (of daar rond) te nooi as my eregas. Ek MOET weet wat hierdie man gehad het, behalwe ‘n slegte humeur en ‘n koninkryk, wat aan hom agt vroue besorg het. En ek wil graag weet watter een van die agt sy gunsteling was. Ek het ook besluit om Oud-President Zuma te nooi. Hy is immers ook ‘n eggenoot van baie vroue. Ek wil graag sy insette hê oor meer as een vrou in die huis in hierdie moderne tye. Geen politieke praatjies nie – ek belowe.
Sien julle by die feestafel!
Ek gaan nie ‘n foto van die Ossibuchi Alla Toscana dis plaas nie (kom nou, my dis, Murgbeen op mieliepap wat ek “gekook” het, is immers fiksie). Die regte resep soos hierbo weergegee, is egter kookwater en as jy die dis se naam gaan googleloer, sal jy die pragtigste fotos sien. Ek wil nie die fotos van die internet af “leen” nie, want chefs is moeilike mense. Veral Italjaners. Ek vat liewer nie aan hulle copyright nie.
Dankie aan my eie Lorenzo (nie sy regte naam nie), my seun, die tall dark and handsome chef, wat gestalte gegee het aan Lorenzo se fisiese beskrywing en sy ma gehelp het met die Italiaanse geregte se name en resepte.
m ander deelnemers se bydraes tot hierdie bloguitdaging te lees, volg hierdie skakel:
https://fresh.inlinkz.com/party/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester, Hester. Daai kos. Lekkerte, ek sit reg met my eetlepel vir daai Murgbeen en Mieliepap. Jou gaste! jinne – solank ou Hendrik nie sy byl saambring nie! Ek gaan nie vertel wat ek met JZ wil doen nie. Julle moet maar die put dig hou. 😉
HesterLeyNel
O nee, moenie ons put besoedel nie, asseblief!
Kameel
Hierdie het ek nou gate uit geniet. Dat die Lorenzo nou so ‘n uithaler kok is…en ‘n humeurige een daarby. Ag en daardie Afrikaans 😂😂😂😂 Interessant keuse van gaste….hou net kop en moenie jou hart op Henry verloor nie!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameel. Nee, moenie worry nie, ek gaan nie ‘n Anne Boleyn-streek op myself trek nie. Ek sal vasklou aan my hart en my kop.
woordnoot
Ag dit was nou ‘n lekker bord Taljaanse kos! Jy is voorwaar gelukkig om so ‘n goodlooking chef onder dak te hê!
HesterLeyNel
Is ek nie? Grinnik.
Rambo
Whahahah! Ma en ek lag tog nou te lekker en sy sê baie moet wees soos Hester. 😀
Ek het vasgehaak by die murgbene. My lekkerste dis, behalwe beeslewer, niertjies en hoenderlewertjies. Ek kou daai murgbeen kaal en dan gebruik ek dit om my tandjies mee te slyp, vir net in geval ek iemand moet byt. 🙂
Ek en ma het hierdie nou baie geniet. Bedank sommer jou eie chef “Lorenzo” ook dat hy gehelp het vir die lekker lees. 😀 xxx
HesterLeyNel
Dankie Rambo, ek sal ook vir Lorenzo bedank. Ons gebruik nogal baie murgbene wanneer ons kos maak, veral in die winter – sop en bredies. Dis jammer jy woon doer ver, anders het ek vir jou ‘n paar gebring om jou tande op te slyp.
Rambo
Ag toemaar, wanneer jul weer hierdie kant toe kom, bring maar saam. 😀 Ma is ook lief vir sop en bredies in die winter. Ek het al ‘n toutjie met al my murgbene aan waarmee ek my tande slyp. haha
HesterLeyNel
Nou trek jy my been!
Rambo
😀
Una
So pas het jy my prys vir die beste gereg gewen! Maar moet asb nie die mieliepap in die mikrogolf maak nie, gasstoof pap proe net lekkerder. Kyk, is ek nou dankbaar vir Lorenzo se teenwoordigheid hier langsaan. Sy tuinmaak en grassny vernuf is wonderbaarlik, Hestertjie, en sy pikante denimpie sit tog te mooi aan die man. Onthou, ek KAN naaldwerk doen, so ek verstaan van patrone. En nou vind ons uit hy hou van kosmaak, en ek en jy albei van eet. Jitte, hierdie is ń gawe straat van ons.
HesterLeyNel
Ek woon net so lekker in hierdie straat. ‘n Pikante denimpie sê jy? Verwys dit nou na die grootte van die broekie of die inhoud daarvan? Die papstorie verstaan ek nie, want ek proe geen verskil tussen mikrogolf- en stoofpap nie. Maar dan, kos is vir my ook net iets wat my tande besig hou.
Una
Hester! Ek verwys na die broekspatroon…☺
HesterLeyNel
Ooo … diiit!
Una
😉😂🤗
VirgoC
Hester, ek is so bly ek het so daar na jou kant toe geskuif, in die lewe, ek is verby knuppel-dik (sorry) ge-eet nou. Dit is heeeeeerlike kos. Ek het so lekker gelag oor lorenzo se afrikaans, dit is so raak beskryf. Wow, ek moet eers bietjie gaan stap nou, die kos moet bietjie sak nou🌻. Una, los jou masjien, Lorenzo se dinim is heetemal ok👉
HesterLeyNel
Dankie C, ek is bly jy het dit geniet. Wat is Una se plan met die denim? Ek moet altyd die inhoud van daai denim teen die Towerinne beskerm.
VirgoC
Smaak my jy moet bont-staan nou, mens weet nooit wat ter planne my ousus het nie…😜
HesterLeyNel
Lyk my mos so
Toortsie
Daai mutgbeen! Sjoe! Water my mond nou!
Ek dink ou Zoempie moet maar by oom Adolf sit. En omdat hulle so baie van vroue hou, sal Broodjie en haar maters maar daar moet loop geselskap hou. Hou my maar weg, netnou glip alles wat ek al die jare NIE gesê het, uit respekte, jy sien, dalk uit!
HesterLeyNel
Dalk is dit tyd dat iemand dit hardop sê.
Tannie Frannie
Die. uwe. háát. pasta. Hou ook niks van albei jou gaste nie. Maar mieliepap is njammies. Lekker warm, in ‘n bakkie met melk en suiker, g’n niks gemurgbeen nie! “I’m a picky eater…”
HesterLeyNel
Jy kom seker van die Kaap af. Trônsvôlers eet nie hulle pap met melk en suiker nie. Ek neem jou nie kwalik oor my kuiergaste nie, maar hoe kan jy pasta haat – ek luv pasta.
Tannie Frannie
Ummm – gebore op die Oosrand, grootgeword op die Wesrand! Ek haat pizza ook, maar ek luv Italianers…
HesterLeyNel
O oukei, dan is jy vergewe
sonell
Ek kou my lippe af!
HesterLeyNel
hahaha, wat ‘n uitdrukking – kostelik.
sonell
Oubaas van Sewende Laan se sêding 😆
scrapydo2.wordpress.com
Weet jy, ek kry gereeld daardie fyn gekapte geel mieliepitte in my Food Bag. Hul kook dit net op die stoof met water(hul gee halwe koppie gruis met ek dink driekwart koppie water) en knippie sout. Gooi in kookwater en kook vir 20 minute stadig met deksel op. So-iets, eks te lui om op te staan om regte hoeveelheid tegan kyk. Murgbene is ook yummy. Jou gaste is darem maar regte vrouejagters. Gaan ons veilig wees of sal ons net heeltyd moet oppas dat ons nie verlei word nie? Tong in die kies,
HesterLeyNel
Wel, as ons dan nou WIL verlei word, het ek ten minste die middele verskaf. Ek koop nie die polenta hier nie, want eerlik, ek dink die prys is gek. Kan jy onthou dat ons op ‘n stadium net geel mieliemeel gekry het. Ek was nogal mal daaroor. Wit mieliemeel smaak maar vaal in vergelyking.
scrapydo2.wordpress.com
Ek onthou van die geel mieliemeel. Dit het ten minste smaak gehad. Polenta was eers vir my vreemd maar toe ek lees wat dit is kry ek sommer lag! eenvoudige geel mielies!
HesterLeyNel
Sien jy nou! Ek het eintlik my seun geterg toe hy die resep vir my gegee het deur te sê dis sommer mieliepap – en ja, antwoord hy sowaar – dis presies wat dit is. Toe moes ek natuurlik gaan googleloer.
scrapydo2.wordpress.com
My ook nogal getref toe ek besef wat die regtig is.