Liewe Dagboek, ek weet spring cleaning word gewoonlik in die lente gedoen, maar hier by my is die kalf in die put. Alles is vol stof en niks is meer op sy regte plek nie. Met die rondskuiwery van die meubels en ander gebruiksartikels, moet ek op ‘n skattejag gaan om tog net ‘n skoon handdoek beet te kry.
Ek het dus my tyd daaraan gewy om die huis min of meer in orde te kry. Dit beteken dat ek letterlik die hele dag op my stofsuier rondgery of aan die wasgoedpale rondgehang het. Alles is min of meer leefbaar, behalwe die Karen se kamer – ek het net vir haar ‘n slaapplek in orde gekry, want ek weet sy sal self die res wil doen. Spring cleaning is nou nie juis interessant genoeg om in detail oor te vertel aan my liewe dagboek nie.
Die man se bredie wat die vorige aand oorgestaan het in die slow cooker, het darem daarvoor gesorg dat ek gister nie nodig gehad het om te kook nie. Vandag het ons sop gehad wat ek uit die vrieskas opgediep en ontvries het. Môre kan ons smul aan ‘n beestertbredie.
Vrydagaand het ons ‘n bietjie aanlyn saam met AJ Vosse van die blogtuiste Ouch My Back Hurts gekuier. Hy behartig ‘n musiekprogram elke weeksaand van sewe tot nege. Dis lekker saamluister en saamsing musiek en Vrydagaand het hy spesiaal vir my man ‘n halfuurlange uitsending van die Moody Blues se musiek gedoen. Hy het ook sommer lekker in Afrikaans gesels (wonder wat het sy ander (Engelse) luisteraars daarvan gedink?). Soms moes ek op twee plekke gelyktydig luister – die musiek aan die een kant en my man wat van sy kant af die Moody Blues se geskiedenis vir my opgedis en alles oor hulle musiek vertel het. Dit was groot pret en weer eens – dankie Vossie.
Vossie beplan om sy weergawe van die verhaal van Nellie Visagie, wat begin het as ‘n blog, nou finaal klaar te skryf en dan gaan ons ‘n spanpoging aanwend om dit uit te gee as ‘n E-boek op Amazon. Dit klink na ‘n opwindende plan.
Karen het vanaand huis toe gekom en ons het haar by die bushalte in Port Shepstone gaan haal. Net daar oorkant Milky Lane. Ja, natuurlik het ons gestop vir wafels en roomys. Terug by die huis het ons doodeenvoudig besluit môre is nog ‘n dag … en ons het ‘n fliek gekyk. Us. Dis die naam van die fliek. Dit was kastig ‘n riller, maar eerlikwaar, ek het dit hoogs vervelig gevind.
Die enigste ding wat my deesdae laat ril, is die plekke in my huis wat nog nie behoorlik skoon is nie. Daar gaan nog ‘n bietjie spring cleaning moet plaasvind in die kombuiskaste, maar dis anderdag se worries. Nou is dit slaaptyd.
Image by Annalise Batista from Pixabay
rondomtaliedraai
Ek hou van sy blog
HesterLeyNel
En sy fotos!
rondomtaliedraai
Net so!
Rambo
Nee wat kyk, as daar stof is en niks is reg nie, dan gaan niemand wag vir die lente om spring cleaning te doen nie. Ma sê mens moet omtrent geduld het met so gewerkery aan die huis en dan moet mens nog self skoonmaak ook. Dis om van die horries te kry.
Daai beesstertbredie klink baie lekker. Hoe water my mond nou!
Ma sal ook die Moody Blues geniet. Al een wat ek ken is Moody Blue van Elvis.
Ek is bly Karen is weer terug. Hopelik kan jy nou bietjie rus. Ma het ook Us gekyk en sy stem saam, dit was beslis treurig en vervelig en toe is sy omtrent in ‘n bui want sy sê sy is moeg vir die filmmakers wat niks meer verbeelding het nie. Sy is so lus vir ‘n lekker horror fliek, sy voel al soos ‘n horror.
Nee wat, die kant is ons nog wawyd wakker, maar ek gaan nou my slaaptyd biscuit kry en dan gaan ons ook slaap. Lekker doeks. xxx
HesterLeyNel
Jou ma is reg, mens kry deesdae regtig min goeie flieks met ‘n oorspronklike storielyn. Ek wil nie tyd mors op sulke afgewaterde storietjies nie.
Kameel
Dink net Hester as julle dak nie nonsens gemaak het nie moes jy hierdie dagboek sonder soveel drama geskryf het…en was dit nie so opwindend nie. Die feit dat jy die maanlig en sterre deur jou dak kon sien maak dit soveel meer romanties. 😂😂😂😂 ok, ok los die paplepel. Ek is bly jy is darem sovêr en jou lewe nou meer ordelik.
HesterLeyNel
Ja, ek weet uit ondervinding dat “orde” nie eintlik iets is wat ons ooit belewe nie.
Bondelsgedagtes
Hester ek sien jou op jou stofsuier, haha klink soos towerin ding…
HesterLeyNel
Nogal, ja, haha