My vreugdes en frustrasies

My eiers

Bloguitdaging Kaleidoskoop – Die Laaste Strooi

DIE LAASTE STROOI

Nellie Visagie sê die lelike f-vloekwoord saggies onder haar asem, soos wat dit ‘n dame betaam. Dan gooi sy haar kop in die lug en skree die f-woord uit teenoor die blou hemel waarvandaan die versengende son skroei. Dis tog nou nie asof ou Jan Mankement en ou Ellie Vatlappie se jongste kind sodanig ‘n dame is nie. Nee, sy het net van kleins af geleer om haar gesigspiere te beheer terwyl sy haar tong styf vasbyt.

Sy loop om die opgeroeste ou plaasbakkie, die bakkie wat sy gesteel het – nee, gelèèn het – om weg te loop van Oom Esra en Tannie Krissie Viljee se plaas af.

Pap wiel en geen spaarwiel nie. Kon die verdomde band nie net nog twee kilometer tot in die dorp gehou het nie?

Sê nou net een van die naburige plaasmense, of nog erger, Oom Esra self, ry nou hier verby en kry haar langs die pad gestrand met die gesteelde – geleende – bakkie. Die bakkie se leen kan sy nog wegpraat en sy voel in elk geval nie te skuldig nie, want sy wàs van plan om dit in die dorp te parkeer waar Oom Esra dit maklik sou vind. Dis die leertas agter op die bak en veral die inhoud van die tas, definitief gesteel en nie geleen nie, wat haar in die moeilikheid kan laat beland.

Sy skop die pap wiel met drif en ryg dan sommer ‘n rits van die f-woorde uit.

Onverwags, en beslis ongevraag, bars sy in trane uit en gaan sit sommer plat in die stofpad. Vir die eerste keer sedert haar pa haar op negejarige leeftyd by die ryk Viljees afgelaai het, snik sy asof haar hart wil breek.

Daardie eerste dag reeds, nadat die trane opgedroog het, het sy haar nekkie styfgemaak en haar gesigspiere gedwing om te stol. Watter ander uitweg was daar dan tog vir die tiende en jongste kind van die armlastige Visagies, behalwe om as ekstra diensmeisie en kinderoppasser by haar pa se enigste broer te gaan inwoon? Halfbroer. Oom Esra was die enigste erfgenaam van die Viljee familieplaas.

Oom Esra het darem sy woord gestand gedoen en haar laat skoolgaan tot sy matriek geskryf het in die dorpskool twee jaar gelede, maar Tannie Krissie het haar nooit toegelaat om deel te word van hulle huisgesin nie. Sy het haar plek leer ken van dag een af. Selfs die twee Viljee kinders, Chris en Klara, wat sy feitlik help grootmaak het, het namate hulle groter geword het, geleer om op haar neer te sien.

Sy moes sommer na skool onmiddellik ander heenkome gesoek en haar eie lewe begin lei het, maar elke keer as sy die saak aangeroer het, het Tannie Krissie haar herinner hoeveel sy aan die Viljees verskuldig is. Die ou vrou se houding het ‘n slegte smaak in die mond gelaat, want behalwe vir haar skoolgelde, het hulle nie juis veel aandag of geld aan haar spandeer nie. Sy het probeer om haar eie geldjies te verdien deur in haar vrye tyd ‘n eierboerderytjie aan die gang te sit en selfs ‘n groentuin aan te lê. Die produkte het sy Saterdae op die vlooimark verkoop wanneer sy saam met die Viljees dorp toe is. Op hierdie manier het sy darem die meeste van haar persoonlike goedjies self gekoop en selfs ‘n paar rand weggesit.

Namate die tyd verbygegaan het, het sy al hoe meer opstandig geraak oor haar lot en Tannie Krissie se uitlatings teenoor die bure wat namiddag kom tennis speel het, was die laaste strooi. Nellie het soos gewoonlik stilswygend, maar met ‘n vriendelike glimlag, verversings aan die gaste langs die swembad bedien.

Op pad terug na die plaashuis toe het sy ‘n oomblik by die roostuin vertoef om die vroeë roosknoppies te bewonder. Dis toe wat sy hoor hoe die buurvrou vra: “Gaan Nellie nou maar hier by julle aanbly of wat is haar planne?”

“Ag, wat”, was Tannie Krissie se antwoord, “waar sal sy tog heen gaan? Selfs met matriek kry die jongmense nie deesdae meer werk nie en met haar agtergrond … watter ordentlike mannetjiesmens sal in haar belangstel? Dis nou seker maar ons lot om met haar opgeskeep te bly”.

Opgeskeep? Nellie kon eintlik voel hoe kook die bloed in haar are. Hier werk sy elke dag soos ‘n pakesel, sonder vergoeding en sonder enige dankbetuiging. Nou moet sy nog hierdie soort beswaddering ook sluk en niks sê nie?

Sy het die leë skinkbord driftig op die kombuistafel neergeplak en sonder om ‘n woord vir ou Lettie daar voor die stoof te sê, na haar kamer toe gestorm. Sy sou nie ‘n dag langer in hierdie huis deurbring nie. Met verwoede ywer het sy haar enkele paar stukkies klere saam met haar toiletware op die bed neergegooi, net om te besef dat sy nie eens ‘n tas het om haar goed in te pak nie.

Die duiwel is listig, het haar ma altyd gesê en Nellie weet dis die waarheid, want sy stemmetjie in haar oor het haar aangemoedig om Tannie Krissie se duur leertas, gekoop vir hulle laaste oorsese reis, uit die hoofslaapkamer se kas te gaan haal. In die verbygaan het haar oog die talryke flessies en bakkies op Tannie Krissie se dressing table gevang en asof vanself, het haar hand ‘n bottel duur Franse parfuum vasgegryp. Halfpad op pad deur toe het sy die boonste laai van Tannie Krissie se laaikas oopgepluk en ‘n paar fyn Franse kantgoedjies gegryp om ook in te pak.

Sy proes skielik by die gedagte aan die toer deur Frankryk wat sy gemaak het daar in Tannie Krissie se slaapkamer. Dis nou nie die manier wat sy die wêreld wou sien nie en haar gewete klop soos ‘n klein hamertjie in haar agterkop. Maar sy is mos nie ‘n dief nie! Dis net Tannie Krissie se liefdelose optrede wat uiteindelik te veel geword het en haar kop laat uithaak het.

En hier sit sy nou langbeen in die stofpad langs die geleende bakkie. Waarheen nou? Daar is net sowat ‘n uur oor voordat die son begin sak en sy moet besluit wat haar te doen staan by hierdie KRUISPAD: terug plaas toe en by die opstal insluip voordat iemand agterkom sy het weggeloop of vorentoe om ‘n nuwe lewe te begin bou?


Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

65 Comments

  1. Keuses, keuses….

  2. Wel Hester dit is duidellik dat jy nie ophou dink en leef het terwyl die jy dieTelkom frustrasies beleef het nie. Hierdie kan ‘n interessante een word. Ek neem aan Una gaan haar terug plaas toe stuur waar sy die boere in die gemeenskap al tennis spelende kan verlei met die uitsluitelike doel om haar tennis te verbeter – te verprofessioneel – sodat sy soos haar mede Suid-Afrikaners in die eindstryd van Wimbledon kan speel… Maar al is ek nie ‘n betting man nie, sal ek ‘n weddenskap aangaan dat Una haar nie terug plaas toe gaan stuur nie.

    Met die eerste leesopslag het ek besluit hierdie een is nie vir my nie, maar al tikkende aan die kommentaar dink ek so by sig selwers dat ek dalk wel vir Nellie voor ‘n paar uitdagings kan laat staan. Maar nee ek gaan nie nou al my naam invoeg nie miskien later.

    Ek hou van hoe hierdie proses bestuur word. Met die nie-insluitng van die kommentare maak dit ‘n leesbare of dalk selfs bemarkbare e-boek ‘n groter realitiet. Nou moet die nie -prokrastinators nog net verhoed word om onmiddelik te post.

    Daar is soveel onvoltooide stories in my drafts… (bo en behalwe die in my kop). Hopelik doen ek vanaand ‘n foto-post waarvan die fotos nie op noodwendig op standaard is nie maar waarvan die inhoud my omvattend emosioneel maak (‘n goeie emosoneel die keer).

    Welkom terug vriendin

    • Jy praat vreeslike groot woorde en verwar my toetentaal. Wat gaan Una nou doen? Gaan sy of gaan sy nie? Nee man! Dis mos sommer nou net aspris! Mansmense!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, dis lekker om terug te wees Abrie en jy kan op enige tydstip nog jou naam byvoeg as jy so voel. Ek is nog besig om in te haal op agterstallige leeswerk, maar dit gaan ook maar stadig want die Deelnet is nie te vinnig nie. Ons is nou ‘n paar mense wat ‘n 2MB lyn deel. Telkom het laat weet hulle kom defintief vandag my eie lyn insit of anders defintief Woensdag. So, nou het ek twee “definitiewe” datums 😜 en die hoop op ‘n vinniger lyn.

    • Bwahahaaa – nie-prokrastinators 😀

      • Staan op die oomblik langs pad tussen Montag en Barrydale en prokrastineer. Sal maar nou nie-prokrastineer Oudtshoorn nog vêr

        • Wil jy my nou jaloers maak? My vinnige see-kuiertjie het hoeka vandag endgekry…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis nou die ding met vakansie – dit raak so vinnig op.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          O dit klink lekker Abrie. As kind het ek baie saam met my ouers op daardie paaie geprokrastineer – darem nie so ver soos Oudtshoorn nie. Met laasgenoemde het ek kennis gemaak in my laat twintigs eers.

        • Hierdie naweek is die einde van ‘n era. Dit is bittersoet. My 2de ma van wie ek geskryf het in Kom plaaskuier saam op Muldersbank, gaan Aftree-oor toe. Ons laaste kuier by haar op die plaas

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ai tog, soms voel die hele lewe na ‘n groot afskeid. Maar nou het julle darem hierdie naweek om die vorige era te vier – geniet dit!

  3. Goed geskryf Hester. Nou wonder ek hoe hierdie karakter se lewe gaan uitdraai. Keuses!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Janee, ek sien al klaar hoe leef ons klomp nou weer Nellie se lewe namens haar. Ek raak mos verknog aan die karakters – mis nog steeds vir Ben, Marco en Pablo.

  4. Dis regtig nou ń oulike begin, Hester. Ek gaan asem ophou om te sien watter keuses die volgende twee bloggers uitoefen voor ek aan die beurt kom!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die groot lekkerte van hierdie speletjie is om te sit en dophou of die storie draai in die rigting wat jy graag wil gaan. Natuurlik vang die bloggers jou soms onvankant en voeter heeltemal in ‘n ander rigting – haha, dan moet jy uithaal om by te kom.

  5. Sjoe jy het n goeie stoot aan die storie gegee. Dit gee kans vir goeie ontwikkeling.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy. Ek het die idee gekry van ‘n boek van E. Kotze (Soetloop) wat afspeel in die depressiejare. Toe wonder ek wat sal die bloggers se reaksie wees op so ‘n begin in die hedendaagse tyd. Dis nou te sê mits hulle dit in die hedendaagse tyd laat afspeel! 😊

      • Kotze se boek is beslis goed om te lees! n Moderne storie op n ou wysie!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          In my internetlose tyd het ek by die dorpsbiblioteek aangesluit en hierdie keer het ek besluit om net Afrikaanse boeke te lees. Ek was aangenaam verras met die gehalte boeke wat hulle aanhou en E. Kotze is van nou af beslis op my lys van skrywers.

        • Ek is steeds biblioteek vriendelik. Ongelukkig het ons bib moes sluit omdat die ou deel van die gebou nie aardbewingbestand versterk is nie. Nou het ons n “Pop up” bib. Hule het nou meer net die nuwe boeke wat hul aankoop en dan as jy iets spesifieks wil he sal hul dit vir jou gaan haal. Eks nie mal daaroor nie. Gelukkig is my kindle my bib op hierdie stadium. Daar is ongelukkig nie baie Afrikaanse e-boeke nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het gelukkig ook ‘n redelike groot biblioteek op my kindle en audioboeke op iTunes, maar soos jy sê, feitlik niks in Afrikaans nie.

        • Dis nou ‘n goeie besluit!

  6. Die F woord het my oortuig dis nou se dae! Of miskien ‘n time-traveller? In die Depressie, maar van die toekoms? Hehe!

  7. Sjoe! Amper het ek my naam nou Tjortsie gemaak! Ek het so stilweg gewonder hoe die besigheid gaan werk en of almal sommer net gaan skryf, en wou toe sommer skryf ook. In die proses om die skakel te gaan soek, sien ek daar is nog ‘n bloginskrywing met die reëls. Ag dankie tog! Nou is ek darem nie Tjortsie nie. Dit kom nou van rondrits in ‘n kraglose Pretoria!

  8. Oulike idee. Ek het iewers hierdie gemis…was ‘n paar dae internetloos! Ek sal die storie volg. Ek sien die lys is al vol.

  9. Hou sommer al klaar baie van hierdie heldin!

  10. Terug huistoe… beplan behoorlik… loop dan weg met die kluis se inhoud ook!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Whahaha, ek dink jy moet kom saamskryf – daar skort beslis niks met jou verbeelding nie.

      • As ek nie so sukkel om Afrikaans te skryf nie sal ek lekker kan saam skryf!! Daai tjerrie klink vir my na my soort… die wille katjie wil ontsnap… en kakkertjies aanjaag so ver soos sy gaan! En… bowendien, sy moet ook haar wraak neem op daai ou snob antie!! 😉

      • Ek dink ek het die antwoord! Ek sal in my power Afrikaans skryf en vir jou e-pos. As jy die ‘twist in the tale’ geniet en die korreksies maak kan onse Nellie haar wraak neem… en goed daarvan afkom! Sonder om in ‘n sel te beland! 😉

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Akkoord! Jy het opgelet dat dit ‘n vervolgverhaal is nè? Dit beteken dat daar ‘n paar skrywers voor jou op die lys is. As jy nou inskryf, gaan jy nommer 13 wees – hoe toepaslik! Kyk by hierdie blogpost van my https://wp.me/p9ruaE-5dx vir die inskrywingsvorm en die reëls. Dit sal nou ‘n treat wees om ‘n “regte” skrywer hier te hê en dit nog ‘n Saffer ook! 😊

        • Ek het die nommer 13 opgemerk, ja!! Die tekens is in die sterre!! 🙂

        • Ek het die nommer 13 opgemerk, ja!! Die tekens is in die sterre!! 🙂
          Gonna… jy smeer jam… ek is al amper siek van al die grootkop praatery!! 😀

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek moet so nou en dan ‘n bietjie name dropping doen, haha.

        • Mal jy! Nou staan ek ‘n groot kans vir ‘n kop ontploffing! 😉

  11. Stuur seblief jou e-possie… ek wil vir jou ‘n rillertjie voor slaaptyd stuur!! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het hom getweet na private message. Sorry dat ek nou eers by jou uitkom, maar ek maak vandag weer oorlog oor swak dienste – die gewone, jy weet. Ek sien uit na jou bydrae 😄