Hierdie storie wat in ‘n kroeg afspeel, is deel 2 van my bydrae tot Vuurvliegie se Woordsnoere bloguitdaging. Lees deel 1 hier. Om die ander bloggers se bydraes te lees, klik op hierdie skakel : https://fresh.inlinkz.com/p/0ad6b9588b9649c38b03c4859734bed9
“Wat gebeur ná donker? Loop die kroeg se spoke?”
Hy ignoreer die spottende toon van my stem. “Jy kan maar so sê, Boeta, maar hierdie spoke is niemand se speelmaatjies nie.”
“Ag, spaar my die drama asseblief. Ek is nie die uilskuiken waarvoor jy my aansien nie.”
Hy leun vooroor en dis Pa se oë wat uit sy strak gesig na my staar en dis Pa se stem wat in my ore opklink: “Pasop vir streepsuiker, Boeta. Moenie rammetjie-uitnek met my speel nie.”
Elke vesel in my lyf verstyf – ek kan nie beweeg nie, kan nie asemhaal nie. Die gelag en geskerts van klante klink veraf en onwerklik.
“Recce! Dis genoeg.” Die kaalkopman sit bakkies met tjips en peanuts op die tafeltjie neer.
Ek haal ’n paar keer diep asem en voel onmiddellik beter. Wat het so pas hier gebeur?
Die orrelspeler gryp ’n vuisvol tjips en begin hoorbaar kou. Sy tande girts-girts soos Pa s’n wanneer hy so smaaklik aan ’n stukkie van Cloete-se-oor kou … Nee! Nie daaraan dink nie.
“Benjamin, die outjie is hardekwas. Dalk moet jy hom probeer oorreed om te luister na ons plan. Dit word nou vinnig donker.”
Beweging by die deur trek my aandag. Dis ’n jong paartjie wat hand aan hand inslenter. By die toonbank kyk hulle rond, sien dan die kroegman by die tafel sit en stap nader.
“Te laat,” sê die kroegman. “Die bruidspaar het gearriveer.”
Sy glimlag vir my en haar tande blink in die elektriese lig. Sy gooi haar kop agteroor en swiep haar manjefieke maanhaar terug oor haar skouer. Haar stap is so sierlik soos dié van ’n wildsbok. Haar slanke bene beweeg met ’n kronkelstap wat dit laat lyk asof sy liggies oor die vloer seil. Dan blaas sy vir my ’n soentjie van agter die man se rug en ek voel hoe haar warm asem my oor skroei. ’n Chimera! *
Haar metgesel lag en ek kyk verleë na hom.
“Jy lees te veel feëverhaaltjies,” sê hy. Sê Pa. Sy oë boor in myne. “Dis tyd dat jy jou begin gedra soos ’n man.”
Hy gryp my aan die kraag, maar ek koes weg en hy bly staan met my geskeurde hemp in sy groot hand.
Ek spring op en in my haas om weg te kom, stamp ek my glas om. Bier en glasskerwe spat oor die vloer. Die twee mans by die tafel reageer nie. Staar my net in stilte agterna toe ek laat spaander in die rigting van die deur.
*Volgens ‘n Griekse fabel was Chimera ‘n vroulike vuurspuwende dier, van voor ‘n leeu, van agter ‘n slang, en in die middel ‘n bok. Ek weet nie of “sy” ‘n maanhaar gehad het nie, maar laat ons nou nie die feite in die pad pad van ‘n storie plaas nie.
Ek het geen idee waarheen die mannetjie nou hol nie, maar my vraag is nou net dit – waardehel is die sjinees, die sjef en Batman?
Toortsie
Dat jy ‘n uitstekende verbeelding het, is nie altemit nie! Jy kan, Hester.
HesterLeyNel
My verbeelding gaan wandel merendeels “on the dark side” soos Karen sê. Ek kan dit nie regtig vrye teuels gee nie. Die wêreld het nie nog ‘n Stephen King nodig nie.
perdebytjie
Hehe…daardie drie het gevlug of lê iewers hul roes en afslaap! Oulik geskryf,Hester.
HesterLeyNel
Dankie Bytjie. Ek wonder nogal waarheen hierdie storie gaan. Ek laat dit maar sommer aan die karakters oor.
perdebytjie
Ek hoop die ander skryf ook nog bietjie, anders hang dit in die lug.
HesterLeyNel
Nee wat, ek sal wel by die einde uitkom, een of ander tyd.
Tannie Frannie
Pure nagmerrie-atmosfeer!
HesterLeyNel
Ja, dit laat my ook ril. In die werklike lewe het ek nog altyd geril vir ‘n kroeg en hierdie een laat my niks beter voel nie.
Kameel
Waar is daardie drie manne? Ag Hester hulle speel mos krieket 😁😁😁😁 Jy skep omtrent ‘n atmosfeer hier en hou ons in die donker. Welgedaan!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameel. Maar krieket? Haha, ek sien hoe skop en slaan daai sjinees die krietbal – hy veg mos altyd sonder wapens, geen krieketkolwe toegelaat nie.
Kameel
Hy het mos die krieketbal die lug in geslaan dat dit lyk asof dit verdwyn….toe kom Batman tot die redding. Ek praat van my bydrae….ek kon niks beters kry vir die drie om te doen nie. Wil hoor wat jy met hulle maak!!!
HesterLeyNel
Ons sal wag en sien!
travel460
Deesdae lees ek min, so jou verhaal is nou my gunsteling storie-boek!
HesterLeyNel
Haha, dan is jy regtig desperaat!
travel460
True…
travel460
Maar dan is jou storie gelukkig ook heel opwindend.
HesterLeyNel
Dankie. Maar die karakter is eienaardig, dink jy nie so nie? Ek los hom maar dat hy aanfoeter.
Kameel
Ek het ‘n idee aangaande hierdie kroeg en karakters Hester….maar ek sal wag en sien of ek reg is.
HesterLeyNel
😊
Rob Alberts
In mijn opleiding moest ik ook ooit iets leren over een Chimaere.
https://nl.wikipedia.org/wiki/Chimaera_(biologie)
Vrolijke groet,
HesterLeyNel
Mitologie maak my soms bang!
HesterLeyNel
Ek het die artikel gelees. Dis werklik interessant. Ek het nog nooit van hierdie verskynsel gehoor nie.
Rob Alberts
Misschien is dit een mooie weblink om eens te bekijken:
http://www.wereldverteldag.nl/blog/186-mythes-legendes-en-heldendichten
Vriendelijke groet,
HesterLeyNel
Dankie vir hierdie skakel, Rob. Ek herken nogal heelwat van hierdie figure (helde en gode) waarna hulle verwys. Sal dit graag later behoorlik gaan lees met al die verwysings. Ek het nounet daaraan gedink dat Afrikaans nie veel van hierdie mites bevat nie. Ons heldestories gaan oor gewone mense. Dalk moet ek meer gaan rondkrap in ons volsverhale.
Rob Alberts
Julle volksverhalen bezitten vast heel veel wijsheid.
Vriendelijke groet,