My vreugdes en frustrasies

My eiers

Woordsnoere 3 – in ‘n kroeg by ‘n veraf grenspos

Die koel skemerte in die vervalle houtgeboutjie is ’n welkome verposing ná die bitsigheid van die laatmiddagson. Ek haal my breërandhoed af en kam my vingers deur my taai, natgeswete hare. Sak dan op ’n kroegstoel neer en stut my kop op my elmboë.

Te laat. Net te laat. As die ou skedonk se verkoeler nie aanhoudend oorverhit het nie, kon ek voor sluitingstyd deur die Platjan grenspos gewees het. Pa gaan weer jeremieer oor sy slapgat seun en my klagtes oor die bakkie net wegveeg. Verdomp!

“Hoe oud is jy, Boeta?”

Die vraag hang oomblikke lank in die lug. Ek lig my kop stadig op. Die lig van die enkele gloeilamp agter die toonbank blink op sy kaal kop. ’n Goue ketting om sy nek swaai ritmies en sy boarmspiere rol terwyl hy ’n roemer poleer.

“Oud genoeg vir ’n bier.” Dis pa se smalende stem wat uit my mond ontsnap.

Sy swart oë kam nog een keer oor my. Dan sit hy die roemer versigtig voor my neer en haal ’n bottel uit die yskas.

Die dors na koel nattigheid laat my verstik aan die eerste mondvol. Ek hoor ’n onderdrukte giggel en draai stadig om. “Het ek die punch line gemis?”

My woorde splinter soos glas in die stil vertrek. Oor die skuimkop van my bier beskou ek die versinnebeelding van mannekyne. Oë flits onseker tussen my en die man agter die toonbank. Is dit vrees wat ek aan my vel voel of net nuuskierigheid oor die vreemdeling in hulle midde? Eienaardig.

Voetstappe buite op die gruispaadjie. Dis die grenswagte, steeds in uniform, wat ’n ietsie kom drink na uitvaltyd. Asof hulle aankoms die teken is dat happy hour aangebreek het, begin die traporreltjie in die hoek ’n eentonige deuntjie uitryg.

Die grenswagte drom saam om die toonbank en bierbottels word oorhands aangegee. Die hardebaardklante by die tafels bestel nog brandewyn en tenkwater, soet shandy vir hulle metgeselle. Geleidelik word die atmosfeer meer ontspanne.

“Jy is nie van hier rond nie?” sê-vra ’n rasperstem in my oor. Dis die orrelspeler wat sy instrument versaak het vir ’n keelnatmakertjie. Hy loop al ’n halfuur of langer so kuier-kuier tussen die tafels deur, knoop ’n geselsie aan hier en klink ’n glasie daar.

“Nee.” My antwoord is opsetlik kortaf. Ek ken sy soort. ’n Causeur wat jou ore van jou kop af sal praat in ruil vir ’n gratis dop. Hy aas verniet hier by my. Pa het my geleer om nie gunstes of gawes te verwag nie. Of uit te deel nie.

Hy kyk my vir ’n oomblik in stilte aan. Knik in die rigting van die kroegman en vang die bottel bier, wat oor die toonbank aangegly kom, behendig met een hand. Met sy ander hand om my bo-arm geklem, lig hy my summier van die stoel af en stuur my in die rigting van ’n leë hoektafel. Hoe het dit so vinnig gebeur?

“Sit! Ons moet gesels. Voordat dit donker word.” Hy druk my neer in ’n stoel met my rug na die ander klante. Ek frons en kyk deur die venster agter sy rug. Die son is weg agter die rante en skemer slaan toe.

WORD VERVOLG …


Hierdie is deel van Vuurvliegie se Woordsnoere bloguitdaging. Om die ander bloggers se bydraes te lees, klik op hierdie skakel
https://fresh.inlinkz.com/p/0ad6b9588b9649c38b03c4859734bed9

Lees deel 2 van hierdie storie hier.

Follow Dis Ekke

37 Comments

  1. Dis puik geskryf Hester….maar nou het jy my omtrent nuuskierig.

  2. Waaaa! Spannend….waar is die vervolg…..Hester, jippeee!

  3. Hester op haar beste! Nou sit ons in afwagting en wag…

  4. Sjoe, jy het my nou in spanning…dalk moet dit ons volgende opdrag wees om jou storie klaar te maak!

  5. En uit my keel ontsnap ‘n vreemde geluid.

  6. Mense, koop tog net asseblief genoeg Frangelico, die pad kan lank en warm raak.

  7. Toorts- Gin en Tonic is al wat help in Platjan se omgewing – muskiete jy weet….o ja, en eish, baie eish – dis warm hier!

  8. Dis spannend verby! Sal nou moet kophou om n spasie te kry om in te kom. Mooi so, laat ons waai Meraai in die Baai.

  9. Anonymous

    Sjoh Hester, pak jy darem nou hier n storie uit… genugtig! Om hierby aan te hak moet jy diep gaan haal….