Ek het hulp nodig om my woorde te snoer en my storie oor die sjinees, die sjef en Batman klaar te skryf. My muse hou heerlik vakansie hier by die see en my storie kom nie klaar nie.
Vuurvliegie se Woordsnoere-uitdaging hierdie week het nou vreeslik met my kop gesmokkel. Ek het ‘n storie begin skryf en sommerso in die eerste paragraaf het die hoofkarakter die storie gevat en sy eie koers gekies. Ek het nou so half-en-half ‘n idee waarheen die mannetjie op pad is daarmee, maar ek kan net nie die woorde neerpen nie – dis te grusaam vir woorde. Die storie bedoel ek. Mens kan nie sulke stories sommer net verwoord nie.
Toe kom Perdebytjie tot my redding deur voor te stel dat die bloggers my moet uithelp. Dankie Bytjie, met vriende soos jy kan ek ‘n lang pad saamloop.
Nou wil ek hê die bloggers moet nou eers gaan lees wat ek al geskryf het in my blog “in ‘n kroeg by ‘n veraf grenspos” en my dan help sodat ek eers weer my pad kan vind. Ek weet my goeie vriende sal my uithelp.
NOTA: daar is ‘n Platjan grenspos net skuins anderkant Alldays daar by die Limpoporivier. Vuurvliegie se wêreld. Maar ek wil graag weet Vuurvliegie, wat is die definisie van platjan wat jy in gedagte gehad het? Iemand wat sommer plat op die aarde is? ‘n ploert? ‘n verwese siel? Want ek weet dat ‘n mens gewoonlik nie eiename in ‘n blokkiesraaisel vind nie en my woordeboek bly stom.
DIE OPDRAG: skryf die volgende toneel (of skryf sommer die storie klaar). Of gee net ‘n paar idees. As dit aan my oorgelaat word, gaan dit nog ‘n vreeslike lang storie word. Ek meen te sê, die sjinees, die sjef en Batman het nog nie eens by die paartie opgedaag nie. Ek het nog ‘n hele klompie woorde wat ek nog moet gebruik: noeste, lof, aansien, spaar, nietig, skerts, plan, styl, roete, vesel, ram, streepsuiker, troetel – ook coulisse, Cloete-se-oor en chimera. Lots of scope for imagination en nugter weet wat die karakter-mannetjie daarmee gaan aanvang.
Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is:
https://fresh.inlinkz.com/party/1a5ae3bc0794453eba4ed3f7c6e95f1d
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester, Hester…jy gaan die Towerinne sowaar aan die gang kry – jippee! Platjan volgens die blokraai is grapmaker, ek kry ook nergens platjan nie, wel in die Annerlike Afrikaanse boek Jan Klaas vir grapmaker. Maar wie is ek om nou met blokraai guru’s te stry! Ek ken die grenspos, en dink dis beter om dan die pleknaam vir jou storie ter wille te hou.
HesterLeyNel
Ek is bevrees as ek die storie aanhou skryf in die rigting wat dit neig, gaan die regering my alie skop tot in Botswana. Hahaha.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Bring net die sjinees en kok en batman vroeg in – dan kom jy weg met goed soos Schuster. 😉
perdebytjie
Haha, hierdie gaan ‘n lekker uitdaging wees. Moet ons nog die woorde gebruik wat jy nog nie gebruik het nie?
HesterLeyNel
Dit sal help, maar as jy dit nie kan inpas nie, los.
perdebytjie
Regso…sal eers paar dae lank moet dink oor hierdie storie.
Kameel
En jy hou vakansie!!! Ons gaan mos nou elkeen met ‘n ander draai voor die dag kom 🤔
HesterLeyNel
Ja, maar ek sal goeie idees kry!
scrapydo2.wordpress.com
Ha ha,jy is n regte platjan! Dink jy nou ons sien nie deur jou plannetjies nie? Jy wil almal nou weer inhaak en op reis neem na verskillende “plekke”. Die grenspos is ook aan my bekend! En dan moet jy ook nie AllDays weggooi nie. Honeymoon gehou in dieselfde hotel waar toentertyd se TV reeks gemaak is!
HesterLeyNel
Oe, honeymoon. Vertel! Weef dit sommer in die verhaal in. Het julle dalk ‘n dop gaan drink daar by die kroeg in die houthuisie?
scrapydo2.wordpress.com
He he, sal darem nie die werklike storie vertel nie! Ons het gedop daar nie dat ons drinkers is nie. Mens kan dit egter nie laat verbygaan nie.
HesterLeyNel
Dis oukei, ons soek nie feite nie – net ‘n lekker storie.
scrapydo2.wordpress.com
Brein is klaar besig om dinge te verwerk. Ds nou vakansie en hopelik kom ek bietjie by skryf uit.
Toortsie
Dit klink my dan nou jy is al weer besig net ‘n vervolgverhaal en om die Towerinne daarvoor in te span, kan dit ‘n lang en waaghalsige storie maak.
HesterLeyNel
Dit sal tenminste ‘n opwindende storie wees. En dit was Vuurvliegie wat hiermee begin het – ek kan mos nie help dat ek nou hier in die middel van die storie gaan vashaak het nie?
Toortsie
Maaarrrr jy weet hoe om aas uit te gooi, dis nie altemit nie.
HesterLeyNel
😊
Toortsie
Hester, ek staan vol hoop na jou storie en wag. Die tyd raak min, hoor.
HesterLeyNel
Ek gaan hom skryf …