My vreugdes en frustrasies

My eiers

Hoeveel emosionele pyn is opgesluit in jou “rommel”?

Eenvoud in die natuur - Shelly Beach

Om ontslae te raak van oortollige rommel, jou lewensstyl te herorganiseer en te vereenvoudig, is die afgelope aantal jare al groot nuus. Daar word baie tyd gewy aan wenke om jou te help met hierdie proses en daar is selfs professionele persone en besighede wat spesialiseer in organsering van jou leefwyse om die ideaal van “eenvoud” te bereik.

Ek het die afgelope tyd na ‘n heruitsending op tv van die program “Hoarders”
gekyk en ek het my absoluut verstom oor die dinge wat mense opgaar, asook die onhigiëniese en ongerieflike leefwyse wat hierdie mense handhaaf in hulle poging om vas te klou aan hulle skynbaar nuttelose besittings. Dis eers toe ek (vir ‘n verandering) my mond toegemaak en geluister het na wat die professionele raadgewers te sê gehad het, dat ek besef het hierdie manier van opgaar (hoarding) kan dui op ‘n geestesafwyking wat verband hou met depressie en angs. Lees hierdie artikel Hoarding: The Basics van die ADAA wat ek aanlyn gevind het.

Ekself is iemand wat ‘n minimalistiese leefwyse verkies – dit wat nie praktiese gebruik het nie, hoort nie in my huis nie. Ek onthou dat ons eenkeer met die terugkeerslag van ‘n kuier in so ‘n ietwat oorvol huis, vir ‘n oomblik lank gewonder het wat van ons meubels en ander besittings geword het. Ons huis het so kaal gelyk. Ons het daaroor gelag en binne ‘n dag was ons weer gewoond aan “minder”. Ek het nog altyd gespot dat die rede hoekom ek nie soveel goete en dinge om my wil hê nie, verband hou met die feit dat my kop so deurmekaar is – ek kan nie kompetisie om spasie in my brein met my persoonlike rommel deel nie. Dalk steek daar meer waarheid in as wat ek self besef.

Ek weet dat ek soms baie ongelukkig, en ja, ongeduldig ook, geword het met die manier waarop my ma so graag haar goedjies rondom haar versamel het, veral toe sy begin ouer word het. Ek het ‘n blog daaroor geskryf in 2014, toe sy reeds in haar 90s was, wat ek nou graag hier deel. Noudat ek my eie woorde van daardie tyd lees, vra ek my liewe ma om verskoning omdat ek nie tóé verstaan het nie. Omdat ek gedink het haar besittinkies is net rommel. Dit lyk my ek leer maar swaar en moeilik.

MY MA LEEF IN ‘N BOKSIE – herblog vanaf ‘n Geseënde Leeftyd

My ma is ‘n packrat, ‘n hoarder, ‘n hamsteraar. Sy versamel nie ‘n spesifieke soort item van waarde, sentimenteel, esteties of andersins nie, sy ‘bêre’ alles wat sy in die hande kan kry soos wat ‘n hamster kos in sy kieste prop.

Leë garetolletjies word gebêre, ou tandeborsels, teekoppies sonder ore, leë bottels wat voorheen sjampoe of lyfroom of poeier bevat het, leë pilhouers, ou kouse wat jare terug al geleer het, klere wat sy nooit weer gaan dra nie, stukkies tou om ‘n kartonnetjie gedraai, gebruikte geskenkpapier, kiekies van mense wat sy nooit geken het nie, boeke wat sy nooit gaan lees nie, gebruikte servette, penne waarvan die ink toentertyd al opgedroog het, gebreekte potlode … as dit rondlê, bêre sy dit. Dis haar kleinnode en niemand mag daaraan raak nie.


Hierdie blog vorm deel van ‘n bloguitdaging. Om die ander bloggers se bydraes te lees, volg hierdie Inlinkz-skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=817462

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Follow Dis Ekke

47 Comments

  1. Ek is glad nie sentimenteel oor goed nie, ten spyte van my vorige skrywe. Ek kry eintlik skaam daaroor. Selfs my boeke kry deesdae nuwe huise, en dis omtrent ñ oorwinning vir my. Maar ek het begrip vir die vashou wat gepaard gaan met depressie en angs.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit wil vir my voorkom (uit wat ek gesien het) dat mense vasklou aan hulle goed terwille van die herinneringe wat daarmee gepaardgaan. Dis asof, wanneer hulle ‘n flentertjie lap vashou, hulle kan onthou waar, wanneer en onder watter omstandighede hulle daardie spesifieke t-shirt gedra het. Dis nie die soort prikkel wat my herinneringe trigger nie – ek is nie ‘n vreeslike visuele mens nie. Ek ondervind dit wel met klank (musiek bv.), reuk en tekstuur. Ek sal ‘n appel afskil en kristalhelder onthou hoe my pa dit gedoen het, die knipmes wat hy gebruik het, die dun stringetjie skil en selfs die klein groefies in sy vingernaels. Eienaardig, nè.

  2. Ag toggie dis eintlik hartseer. Ons een skoonseun koop en koop en koop…en die plek raak te klein vir al sy goed. Hoekom op hierdie aarde is daar soveel afwykings?

  3. Ek weet dis dalk glad nie “related” nie, maar ek sukkel so om geskenke oop te maak. Of nuwe tydskrifte. Of om nuwe klere te dra. Dis al so gespot oor my sakkies onder in my kas. Ek koop borde, koffiemasjiene, klere, ens – net om dit weg te pak. Want netnou gebeur iets met dit? Of dit breek? En dan? Dan het ek niks meer nie.

    Ek dink dis oor ons rerig so arm was toe ek in die huis gebly het? Geen idee. Maar ek probeer deesdae ‘n poging aanwend. Ek het byvoorbeeld vandag ‘n hemp aan wat ek maklik 2 of 3 jaar gelede gekoop het (ek het vanoggend eers die prys afgehaal). En dis ook nie ALLE klere wat ek koop wat ek nie kan dra nie.

    Dis half stupid.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Noudat jy praat. Ek het ook pakkies in my klerekas. Dis gewoonlik ekstra onderklere en pajamas (vir die wis en onwis), maar dis nie al nie. Ek koop soms twee of drie kortbroeke of t-shirts wat almal eenders lyk, omdat dit gemaklik pas en ek is lui vir shopping. Dan los ek hulle so in die pakkie totdat ek besluit dis tyd om die prys af te haal en dit te dra. Eerlikwaar, ek weet ook nie wat in my kop aangaan nie.

  4. Ek hoor jou, maar ek ly ook aan daai koopsiekte. Ek dink dit het te doen met my kinderjare toe ons nie kon koop nie. Nou koop ek die goed wat vir my mooi is, of dit nuttig is of nie, of ek plek het daarvoor of nie. Ek is glad nie sentimenteel oor goed nie, kan myself net nie keer om te koop nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gelukkig het ek ‘n fobie oor die feit dat my kredietkaart in krediet moet bly en my pensioen rek ook net só ver. Miskien moet ek liewer nie die lotto wen nie.

  5. Dit klink vir my ons het almal ‘n klap van die windmeul weg 😂😂😂😂😂

  6. As kind in die laerskool het ons gedurig getrek, en kort=kort het ek so iets verloor. As kind was ek brandarm en toe ek uit die skool uit gaan het ek begin hoard… ek het boeke vir Afrika, sommer vir Europa en Amerika ook en memento mori. En ek glo vas dat as iemand jou ‘n geskenk gee, dat jy dit nooit mag weggee nie, dit is die ‘ultimate waardering’ so ek sit met vragte DVDs, outydse geld, weird beelde en goed wat jou sommer in ‘n nuwe tydsone sal laat inskrik…

    Ek hoard… Dis okay… as ek dood gaan gaan dit nie saam nie, maar in ‘n donker wereld, as my dag hel is, gee van my goed my memories was ‘n oomblik van hemel bring.

  7. Ons het ook baie, baie getrek in my kinder en jeugjare. So twee goed – ek maak nes en maak moeilik vriende. Afskeid aan mense is nie vir my lekker nie. Na my pa se dood het my ma uit verwarring/woede/rou sommer my kindergoed weggegee. Haar selfmoord het ons aan ‘n ouerhuis ontneem. Ek het gesweer ek sal aan ‘n kind van my dit nooit doen nie. So my huis en goed is my den – my een seker plek en ‘n onthouhuis vir my kind. Weet baie goed ons kry nie ventertjies om saam te vat ewige kant toe nie. Mense moet maar maak wat hulle wil as ek weg is. Wraggies, ons is almal met ons gister of more besig op groot of klein maniere as ek so kyk. Hester – dankie dat jy altyd my brein buig en aan die dink sit.

  8. Ek is self ook n “bymekaarmaker” as dit by sekere dinge kom. Dit gee n mens tog n gevoel van veiligheid om te weet jy het ietsie besonders waaraan jy kan terug dink as die omstandighede dit vereis.

  9. My skoonma en jou ma, een en dieselfde mens. Sies tog, sy het ekstra harde bene gekou haar hele lewe lank. Kan niks weggooi nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis gewoonlik die geval. Die oumense het altyd gesê hulle waardeer alles wat hulle het omdat hulle altyd so min gehad het. My ouers het ook nooit baie geld of goed gehad nie, maar ek het hope emosionele sekuriteit gehad en dis heelwaarskynlik waarom ek my nie verbonde voel aan besittings nie. Voeg daarby dat ek as volwassene die hele land vol getrek het en jy sal verstaan waarom ek besittings as ‘n oorlas beskou.

      • Ek kan dink dat baie keer se trek jou teësinnig vir besittings sal maak. Ek het ook ‘n paar keer getrek, elke keer na ‘n groter plek. Daarom het ek geklou aan my goedjies. Met die laaste twee trekke moes ek elke keer afskaal.

  10. Ek het altyd so gekoop as ek iets kry waarvan elk hou, een in elke kleur. Laat maak so klere ook, maar weet baie te doen met my gewig en om iets te kry wat pas en half gemaklik voel. Raak beter en gooi nou maklik uit. Linne en handoeke (my ma se kind) was my dood. Kyk alles moes pas, moes hande handoek en waslap by wees wat pas, nou is daar 4 stelle oor en klaar, linne 3 stelle en klaar. Ek het al begin wonder of die disconnect tussen mense iets hiermee (hoarding) te doen het?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink beslis so. Dit lyk vir my asof sommige mense opsetlik hulle besittings gebruik as ‘n skans teen ander mense. Asof hulle bang is om ander mense (en dus seerkry) in hulle lewens in te laat. Sê die een wat ook nie maklik nuwe mense in my vriendekring toelaat nie.

      • Ek dink jy ontvang mense meer as wat jy dink. Sal nooit vergeet hoe jy een van die eerstes op die blog wat wat jou arms oop gehad het nie. Met mense in persoon, soos in hier by jou,, hou ek arms op tot ek voel hulle okay in my bubble. Ek dink meeste mense is so, en dis okay🌻

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek dink op ‘n blog wat op so ‘n persoonlike vlak bedryf word, kom ‘n mens gou agter watter mense “belong to the race of Joseph”, soos Anne of Green Gables gesê het. Jy weet wanneer dit veilig is om jouself oop te stel.

        • So mooi gestel🌻

  11. woordnoot

    Ons almal vind iets in die lewe wat dit draagliker maak. Want die lewe is nie ‘n walk in the park nie. My stiefpa het ook als so gehou. Toe ons sy huis moes oppak, kom ek op ‘n boksie af met al die briewe in wat ek vir my ma geskryf het toe sy donkiejare terug die moed gehad het om my pa te skei. EK het dit gebêre, en die afgelope naweek, toe ek begin uitgooi, weer gevind. Dit gelees. En ek was bly dat my ma dit gebêre het, dat haar man dit te kosbaar gevind het om weg te gooi, en nou kon ek weer dinge oor myself raaklees, wat ek lankal vegeet het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die kleinnode in ‘n mens se lewe. Ek moes dalk bygevoeg het dat baie van myne elektronies gestoor word – briewe, boeke en fotos.

      • woordnoot

        My Baaskind stoor ook al haar goed elektronies….ek moet nog daai perd opsaal. Veral die fotos….

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Met al die fotograwe in my huis, stoor ons reeds duisende fotos en daar kom elke dag by. Dit word gereeld bekyk en uit die vergetelheid opgediep om op ‘n blog of op faceboek te herleef.

        • woordnoot

          Ek het n ou army ammo kis waarin my cds met fotos is en n kleiner een vol fotos. As daar n brand uitbreek is die fotos ten minste gered….

  12. Ek bewonder altyd mense wat kan minder maak… sug… ek bêre ook goed vir ingeval

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My man het gister hier ‘n blikkie verf uitgepluk wat hy al amper ses jaar terug gebêre het. Hy het my nuwe blombakke daarmee geverf. Baie triomfantelik omdat hy reg bewys is – hy het toe tóg weer sy verf nodig gekry. hahaha. Ek wonder wat staan nog weggesteek in die garage.

  13. Skuldig, skuldig, skuldig – my goed is my goed. Klaar! Los dit maar eerder net uit.

    Toegegee, ek het ‘n rak Wimpy bekers wat ek wil uitgooi. Ek kort die spasie vir ander bekers wat ek wil steel of koop. My suster weier. Sy het net so hard as ek geontbyt aan daardie bekers.

  14. Mmmm… sukkel ons nie maar almal on te leer nie?
    Ek meen… soos ek jou stuk lees sit ek hier en mompel… dat ek nie ‘n horder is nie… maar, dan dink ek aan al die bollie wat in my kas laaie te vinde is. Dan dink ek aan my oupa, hy’t nooit iets weggegooi nie… alles is netjies weg gesit… for that rainy day!
    Toe dink ek… ek is nie so erg soos my vrou nie… sy gaar op, stront… maar dit maak van my ‘n tweegesig… want sy sal vertel day my opgaarsels ook stront is…
    Ai… miskien is daar ook maar ‘n vout in my bedraading…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit gaan maar in alle huise so. Ons het in my huis dosyne oondbakke (casserole dishes) gehad. Dit was myne en syne (want ons het soms in twee verskillende dorpe gewoon), sy ma s’n en my ma s’n en dan ons trougeskenke wat terugdateer na 1976 toe. Toe ek dit wou minder maak met die trek see toe, het die bakleiery begin oor wat gehou moet word. My oplossing? Ek het letterlik ALLES laat oplaai deur die auctioneer en drie nuwe bakke gekoop. Ons gebruik hulle amper nooit want dis eenvoudig te warm hier om te kook. Dit wys jou net – dit was alles net stront.