Pa se donkie is aan die draf, dis duidelik aan die driftige tred waarmee hy in die tuinpaadjie af stap. Hy hou nie daarvan om op ‘n Sondag gepla te word vir besigheid nie. Die sabbatdag is heilig. Maar Uncle Cliffie het hom in die ouderlingsbank vasgekeer en gesmeek om na die diens ‘n draai by sy huis te maak. En Uncle Cliffie betaal goed.
“Hy wil hê ek moet vir hom ‘n rustige eiland bou,” het Pa op pad huis toe vir Mamma vertel. “Auntie Bettie het mos nou weer vinkkoors.” Mamma het waarskuwend na hom gekyk en hulle het nie verder gepraat nie. Daar was klein muisies met groot ore in die geselskap. Ek het egter mooi gevra dat Pa my saamvat en hy sê nie maklik nee vir sy enigste dogter nie.
Ek rek my treë om by te hou, maar terseldertyd krink ek my nek in alle rigtings om te kyk na die veelkleurige kabouters onder die groot sementpaddastoele, en die mannetjie wat in die voëlbad staan en piepie. By die voordeur verwelkom Auntie Bettie ons in haar voorskoot met ‘n verestoffer in die hand en wanneer ons in die gang afloop sitkamer toe, vee sy gou ons stowwerige voetspore op haar rooigepoetse stoepie af.
Uncle Cliffie sit met die Sondagkoerant voor hom in die sitkamer. Ek hoor vaagweg die twee mans gesels, maar ek verwonder my aan die gedraai houtpote van die stoele en koffietafeltjie. Die stoele is oorgetrek met ‘n fluweelsagte bont materiaal. Die ruglenings is bedek met gestyfde wit lappies – seker om te verhoed dat die mans se haarolie daaraan afsmeer. Ek wil graag opstaan om na die ornamente op die kaggelrak te kyk, maar ek vang Pa se oog en bly sit. ‘n Mens kyk met jou oë en nie met jou hande nie.
Auntie Bettie bring tee op ‘n skinkbord in geblomde koppies. Ek kry ‘n glas koeldrank en merk op dat my piering, net soos die grootmense s’n ook, ‘n gestyfde lapdoilie in het. In hierdie huis drink die ooms seker nie uit hulle pierings nie. Ek moet onthou om vir Mamma te vertel van die ghrênd teestel.
Nou moet ek dringend die toilet besoek en ek fluister in Tannie Bettie se oor. In die klein kamertjie verwonder ek my aan die toiletdeksel se oortreksel, die gehekelde toiletrolhouer, die fyn lekkerruiksepie in die wasbak waarmee ek my hande was en die handdoekie met die gehekelde randjie. Toe ek klaar is, loer Auntie Bettie gou in om die wasbak uit te droog en die handdoekie reg te trek. Ons stap terug na die sitkamer toe waar sy dadelik begin om die gebruikte teegoed terug te pak op die skinkbord.
Die mans het intussen uitgestap na buite en ek kry toestemming by Tannie Bettie om hulle te gaan soek. Ek ervaar ‘n eienaardige gevoel van verligting toe ek om die hoek van die huis loop in die rigting waar ek nou Pa se stem hoor. Hy en Uncle Cliffie loop al om die groot sementdam agter in die erf. Pa belowe om ‘n goeie prys te maak vir die bou- en skrynwerk en ons vertrek kort daarna. Pa lyk nie meer knorrig nie, eerder terneergedruk.
Laataand gesels Pa met Mamma in hulle bed. “Die arme man voel skoon verwilderd in sy eie huis, hy weet nie meer waar sy vierkantwortel sit nie. Ek moet ‘n prys maak om die ou sementdam om te bou in ‘n rondawel met ‘n groot studeerkamer waar hy al sy boeke en tydskrifte kan uitpak. Sò gaan dit wanneer die vrou die lakens uitdeel – dan soek die man later ‘n nuwe rusplek vir sy kopkussing”.
Die bloguitdaging hierdie week was om, ter viering van Internasionale Moedertaaldag, vier varsgebekte sêgoed (in swart gedruk in die skryfsel hierbo) te gebruik om ‘n storie te weef. Varsgebekte sêgoed (‘n inisiatief geloods deur Viva) is uitdrukkings wat nog nie formeel opgeteken is en / of nie algemeen bekend is in die Afrikaanse taal nie.
Lees die bydraes van die ander bloggers by hierdie InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816935
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Ns. Hierdie skrywe is suiwer fiksie, hoewel die storie en die agtergrond sekere waarhede bevat wat ek in my kinderdae geleer het. En my pa was inderdaad ‘n argitek / bouer / skrynwerker van formaat.
Kameel
Ag ek het dit alles saam beleef Hester. Arme oom Cliffie. Neem aan dis ‘n ware storie? Daardie jare se mans het net ‘n stoel gehad waarop hy gesit en koerant lees het….die res van die huis was taboe.
HesterLeyNel
En daardie “voorkamer” waar niemand regtig mag asemhaal nie. Ja, dis gegrond op ‘n ware storie.
Kameel
Die sitkamer was net vir kuiermense, ons mag glad nie daarin gegaan het nie. Tot my pa se sitstoel waar hy koerant gelees het was in die eetkamer. Ek het baie keer na die verbode kamer gaan kyk wanneer die huis stil was….alles so netjies en presies en koud.
HesterLeyNel
Ja, ons s’n het ‘n duur mat in gehad en pragtige meubels, kaggel en dan die grammofoon. Ons is toegelaat om dit te gebruik, maar dit moes skoon en netjies bly, want dit was eintlik vir kuiermense 🙄 Daar was ‘n toegeboude stoep regoor my slaapkamer waar ek verkieslik my vriende moes onthaal. Maar die kombuistafel het die lekkerste kuierplek gebly.
Kameel
Jy maak omtrent nou herinneringe wakker. My ouers het nie ‘n plaat op hulle naam gehad nie. Kannie dink dat ek ooit musiek hoor speel het nie. My neef wat ‘n kelner op die bloutrein was het by ons loseer. Hy het nie baie huistoe gekom nie…maar wanneer hy het was ek in my noppies. Dan speel hy kliphard o.a die Briel susters se musiek. 😂😂😂
HesterLeyNel
Haha, ek onthou die Brielsusters. My ma het aan Readers Digest behoort en ons het hulle condensed volumes boeke gekry. Jy kon ook as spesiale aanbiedinge plate van hulle bestel en sò het ek met versamelings plate grootgeword. My ma se gunstelinge Mario Lanza, Enrico Caruso, Frank Sinatra en Slim Whitman (?!) het elke dag weergalm in die huis. Sy het darem ook vir my langspelers gekoop van my keuse – ek onthou nog die eerste een was van Dave Mills (Love is a beautiful song).
Tannie Frannie
Aaa, ek onthou daardie blinkgepoleerde stoepe – en hoe onthuts my mammie was oor ‘n gasvrou wat haar spore agter haar uitgevee het 😀
HesterLeyNel
Dit was dalk die rede waarom mense sommer om die huis geloop en by die agterdeur gaan klop het. Ons het ook maar eers begin voordeur-kuiers doen toe ons in die stad in ‘n woonstel gewoon het. Kinders veral, het nooit by die voordeur in en uit gegaan nie.
Bondelsgedagtes
Oulik vertel Hester. Kon die hele prentjie sien…
HesterLeyNel
Dankie Bondels 🙂
Toortsie
Mooi storie. Uitstekend geskryf en beskryf, ek kon die orentjje in my kop sien.
HesterLeyNel
Dankie Toorts 🙂
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester. Storieverteller van formaat. 🏆
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie 🙂
perdebytjie
Ek sien dit al…fantasties beskryf, Hester! Daardie vrou het beslis perfeksionisme in die ergste vorm gehad.
HesterLeyNel
Ek dink dit was destyds baie algemeen- in die gemeenskap waar ek grootgeword het, definitief. Ek het nou-net hier iewers genoem dat ons kinders nooit by ‘n huis se voordeur aangeklop het nie. Ons moes liewer kombuis om loop as om die voorstoep te betree.
Hier "blok" Ek!
Hesther, ek wou eers nie die lees nie want ek moet werk, maar wragties my nuuskierigheid het die oorhand gekry en ek het toe nie ‘n oomblik se spyt vir die lekker lees nie.Soos ‘n “trip down memory lane” xx
HesterLeyNel
Dankie Elanè 🙂
woordnoot
Vat dit my op ver paaie terug. EK het ook deesdae daai lappies oor die armleunings….my skoonsus het haar sitkamerstel vir ons gegee toe sy afgeskaal het. Die “leer” oor die armleunings kom soos skilfers af. Daarom is my stel ook nou ook outyds, want die afgeskilferde voorkoms doen dit nie vir my nie….eintlik maar die lappies ook nie, maar wat sal n mens nou maak?
HesterLeyNel
Toemaar, my sitkamerstel is al 20 jaar oud en vir 20 uit 20 jaar leef dit onder lappe wat die hele stel bedek teen modderige pote en honde-/kathare, asook vuil voete en seesand. Ons vervang dit so een keer ‘n maand om te was. Ek dink die oorspronklike materiaal begin al deurskif, maar dit bly darem redelik skoon.
woordnoot
Het ook altyd lapper oor gegooi toe daar nog hondekinders was…moet dit dalk maar weer doen…lyk beter as die flentertjies wat nou oor die kante hang…
HesterLeyNel
My man vertel altyd ‘n storie van ‘n ou man wat met ‘n baie ou Mercedes Benz ry. As mense vir hom vra hoekom hy met so ‘n ou kar ry sê hy “Ek het nie nodig om te spog met ‘n nuwe kar om te bewys ek is ryk nie. Ek was laaaankal ryk en het toe al ‘n duur kar gekoop”. Al wat jou meubels bewys, is dat jy ook al lank terug ryk was. Die Engelse het ‘n naam vir die ware rykes wat so met hulle verslete meubels en gordyne leef – dis ‘n fashion statement maar nou kan ek nie naam onthou nie. Moet gaan google.
woordnoot
Sien jy nou!! EK is a; die tyd in die mode en ek weet dit nie…dalk iets soos shabby chic?
HesterLeyNel
Daar bring ek nou vir jou goeie nuus. Ja, dis soiets, maar ek het so lank terug daarvan gelees … dit het seker maar my kop verlaat.
rondomtaliedraai
Jy kan ‘n storie vertel … dankie!
HesterLeyNel
Dankie Tina 😀
scrapydo2.wordpress.com
Dis nou n regte egte storie wat daar voor my verskyn soos wat ek lees. Ons het as “uitlanders” nie regtig so ernstig aan die sitkamer as verbode plek geglo nie. Al my maats het sulke huise gehad. Jy gaan by agterdeur in en meestal is dit ook net die kombuis/eetkamer of stoep waar waar ons kon wees. Dis darem goeie ou dae. Arme oom Cliffie het maar swaar gekry. Hy moes seker ook buite sit as hy sy pyp wou rook.
Jy het darem maar n heerlike skryfsel hier uitgeryg.
HesterLeyNel
Ag dankie Scrapy
trommeltjies
Toppunt van perfeksionisme die tante, arme ou omie sal maar sy kopkussing moet laat lê in die nuwe rondawel. So pragtig geskryf Hester ek het die prentjie gesien soos jou woorde dit geskilder het. As jong getroude vrou het ek blokkiesvloere en ń groen stoep gehad en moes self poleer en opvryf. Menige maal gevoel ek wil ook met ń stoffer loop en spore afvee na ń harde dag op die vloere.
HesterLeyNel
Jy laat my nou dink aan ons blokkiesvloere. Ons het darem ‘n “polisher” (Afrkaans?) gehad en ook maar goed, want dit was ‘n groot huis. Die polisher het gelyk soos een van daardie regop stofsuiers met die lang handvatsel en het twee ronde borsels onder sy voetstuk gehad. Ons kinders het, wanneer ma weggekyk het, op die voetstuk geklim en die polisher gery soos ‘n perd 😀 Ja, destyds se oordrewe netheid het dalk iets te doen gehad met die feit dat huiswerk soveel moeiliker was – harde werk.