My vreugdes en frustrasies

My eiers

Kuier-safari: op ‘n Google-toer deur Pretoria se strate

Paul Kruger standbeeld Pretoria Kerkplein

Paul Kruger standbeeld Pretoria Kerkplein

Ek het in 1971 in Pretoria aangekom en ‘n kamer gehuur in die Jeugtuiste in Sunnyside, ‘n hostel vir enkellopers wat deur die NG Kerk bedryf is. Ek het gekatikiseer en is in die Harmoniegemeente gedoop op 21-jarige leeftyd. 

NG gemeente Harmonie met die Jeugtuiste en Harmoniehof ouetehuis in die agtergrond.

Dis ook waar ek my man ontmoet het. Die klomp jongmans het elke middag met huistoegaantyd voor op die grasperk versamel om die “talent” deur te kyk. Ek het een middag van die werk af gekom en ‘n outjie gesien wat ewe windgat met ‘n groterige molslang gestaan en speel het. Enigiets om aandag te trek! Synde ‘n Namakwalander het ek die slang onmiddellik herken vir wat dit is en vir Mollie so in die verbygaan by hom gevat en met haar aangestap. As ek toe geweet het wat ek nou weet, het ek nooit aan sy slang geraak nie. O, dit klink vreeslik! Maar jy weet wat ek bedoel.

Toevallig het hy gestaan en gesels met ‘n vorige boyfriend uit my studentedae en sommer terloops vir hom gesê dat hy met daardie meisie gaan trou. Gewese boyfriend het hom uitgelag en hom vir ‘n bottel brandewyn gewed dat ek nie sou belangstel nie. Op dié manier is ek gewen vir die prys van ‘n bottel brandewyn en ek word gereeld daaraan herinner.

Enniehoe, ons is vier jaar later getroud in die NG Kerk Burgerspark. Beide die Burgerspark- en Harmonie-gemeentes is iewers in die jare ’80 – ’90 ingelyf by ‘n groter gemeente. 

NG Kerk Burgerspark

Al ons troufotos is geneem in die pragtige Burgerspark, ‘n botaniese tuin in die hartjie van die stad wat 4 hektaar beslaan en as ‘n nasionale monument verklaar is.

Burgerspark – image by Cvanrooyen – Own work, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=21298357

Ons het ‘n hanetree van die park af gewoon en ek het soggens werk toe gestap na wat toe nog bekend was Barclays Nasionale Bank (nou Eerste Nasionale Bank). Op pad werk toe het ek verby Strijdomplein geloop en my verwonder aan die pragtige struktuur wat op 31 Mei 2001 (die 40ste verjaardag van Suid-Afrika se Republiekwording) tot niet gegaan het toe die ondergrondse parkeerterrein waarop die monument gebou was, inmekaargestort het.

http://www.sciencedirect.com

Ons gebou was op die rand van Kerkplein, waar President Kruger toe reeds al oor die stad uitgetuur het, maar ek sien dat die standbeelde nou palisades om het. Toe ek daar gewerk het, het ons menige etensuur daar in Oom Paul se skaduwee gesit en ons middagbroodjies geëet. Dan het ons die minirokkies mooi kuis afgetrek en lang sigarette gerook terwyl ons gedroom het oor die res van ons lewens wat nog voorlê.

Kerkplein en Paul Kruger se standbeeld

Ons het lekker tye deurgebring in Burgerspark, Fonteinedal (‘n 60 hektaar natuurreservaat by die suidelike ingang na Pretoria) en op die walle van die Apiesrivier wat deur Fonteinedal en ook net agter ons woonstelgebou verbygevloei het. Andersins het ons tyd verwyl in die inryteaters in Zwartkoppies, Lynnwood en Fonteinedal waar ons soms beide die vroeë en laat sessies bygewoon het. O en moenie vergeet van die “sopkombuise” nie – niks te doen met vandag se eetplekke vir mindergegoede burgers nie – dit was teaters waar jy heeldag flieks kon kyk vir ‘n minimale bedrag. Wanneer ons geld gehad het (slegs op betaaldag 😉) het ons groot steaks gaan eet by Billy’s Village in Sunnyside. Die Uniegebou, destyds in sy volle glorie met die pragtigste roostuine denkbaar, was die verkose vryplek vir al wat leef en beef en hormone had.

Pretoria was ‘n pragtige stad, skoon en netjies en ‘n droomfantasie gedurende September / Oktober wanneer die pers Jakarandabome in volle bloei was. Wat ‘n pragtige gesig, maar het julle geweet dat, alhoewel Pretoria die Jakarandastad genoem word, daar baie meer Jakarandabome in Johannesburg is?

https://twitter.com/deafrikander/status/938055372467789826

Ons eerste seun is 40 jaar gelede gebore in die Marifont Hospitaal in Pretoria en ‘n jaar daarna is sy boetie gebore in die Moedersbond, maar toe het ons reeds ‘n huis gekoop in Pierre van Ryneveld en ek het kort daarna in die destydse Verwoerdburg begin werk.


As daar nog bloggers is wat rondkuier in Pretoria saam met die Toerende Towerinne (lesers ingesluit) en graag iets wil vertel oor hierdie stad, streek of provinsie, moenie vergeet om julle bydraes oor hierdie onderwerp te skakel op InLinkz nie! Die skakel is http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.


Featured photo credit By JMK [GFDL (http://www.gnu.org/copyleft/fdl.html) or CC BY-SA 3.0 (https://creativecommons.org/licenses/by-sa/3.0)], from Wikimedia Commons.

Follow Dis Ekke

52 Comments

  1. Ai, watter wonderlike storie is dit: die Namakwalander en die molslang. As Pretorianer (hier kom swot en net nooit weer weggegaan nie) geniet ek van harte hierdie rondkuiery in die stad van my hart! Aaahh, daardie jakarandas…

  2. Ag hoe lekker om saam met jou deur die “ou” geliefde Pretoria te stap. Ek het ook in daardie strate gestap- toe was dit nog veilig, nou kan mens dit nie meer waag nie…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek glo so, ja. Ek kan die verval sien op die Google fotos en ek glo nie ek sal ooit weer terugloop op my ou spore nie.

  3. ‘n Bottel brandewyn sê jy…ai!!! Dis lekker om julle stories en fotos van Pretoria te hoor en sien. Bly om te hoor jy het ook ondervinding van die Moedersbond 😄

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek was heelwat gelukkiger daar as by die Marifont.

      • Ek het mos raas gekry by hulle oor my skamele nagklere 😇

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het raas gekry omdat ek daarop aangedring het om my baba vas te hou die hele dag lank. WTF??? “Jy gaan vir baba bederf”. Baba het darem toe baie oulik uitgedraai ten spyte van sy ma se bederwery. In die Marifont het hulle die babas net gebring vir voedings en ek het groot amok gemaak daaroor. Ek dink daai nonne was baie bly om my rug te sien toe ek die dag daar uitgeloop het.

  4. Dis ń mooie Pretoria storie Hester! ń Paar van ons het nou saam met jou in die verlede rondgedwaal. Net Sondag ry ek en Bert deur Sunnyside, en onthou al ons onthoue…

  5. Ek het nou lekker saam gekuier en onthou🌻

  6. Dis te heerlik om so terug te dink. Ons troufotos is ook in Burgerspark geneem. Al hierdie onthou van jou is presies soos ek dit ook beleef het. Net nie in die jeugtuiste gebly nie want ons het net buite Pretoria gebly.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het destyds van Kaapstad af in Pretoria beland en ek het gedink Pretoria is die mooiste, statigste ou stad – onveranderlik deur die dekades. Ek kan nie glo hoe dit sedertdien verander het nie.

      • Ek het Pretoria leerken in 1952 toe ons 2 en half jaar onderkant uniegebou gebly het. Toe trek ons en bly net buite Pretoria en het steeds Pta toe gegaan vir al ins inkopies en kuiers. Eks nou te moeg omte skryf. Gaan more n stuk insit oor Pta. Wil eintlik nie Frannie se beurt deurmekaar gooi nie.(Ek dink dis sy wat volgende is voordat ek kom)

  7. Ek en jy was dan dieselfde tyd ‘n hanetree van mekaar af. Ek het vanaf 1971 tot 1974 in Huis Meyer gebly, bo in Mearsstraat. Was ook in Harmonie NG kerk. Nou so lekker gelees van al die goeie ou dae.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit wys jou net, die wêreld is maar klein. Ons het in die destydse Prinsloostraat (ek dink dis nou Sisulustraat) gewoon tot 1978.

  8. Baie interessante brokkie oor die Strijdomplein – daardie nuus het my verbygegaan. Oom Paul is ‘n paar keer geverf (polities verwant) vandaar die omheining en my foto wat net sy bokant wys. Johannesburg die Jakaranda stad – klink nie reg nie, so Prtorianers weet van bemarking. Hierdie was nou interessant Hester (en natuurlik die slangstorie – die verblyf in die kerverwante institusies ten spyt)!

  9. Lekker onthou storie. Nou wonder ek,het Oom Paul sy keil gelig vir julle jonge dametjies met die kuise kort rokkies? Ek was nooit ‘n Pretorianer nie maar het dikwels daar by my ou groot vriend gaan kuier en agv van werk daar gedraai, Was laas in April vanjaar daar, maar dit kan gerus die laaste keer wees. Mens kan jou verbeel jy is een of ander Afrikaland.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, daai keil het roerloos bly sit. (Lewies! Jy mag nie vir dames sulke vrae vra nie 😀) Ja, ek verkies ook om sekere dinge en plekke te onthou soos wat ek dit geken het. Dis hoekom ek nie in die Kaap wil gaan kuier nie; te bang vir teleurstelling.

  10. Ken al die plekke, lees soos my storie en ek en die man is ook in dieselfde kerk as jy getroud – 1984. Voel soos ‘n leeftyd gelede maar tog het jy my nou teruggevat na soveel plekke.
    Ek was in die koshuis in HUIS BETSIE VERWOERD – die lewe was ‘n lied, Pretoria was beeldskoon mooi en nou se dae weier ek om selfs net daardeur te ry – die verval van “my” plek breek my hart.
    En ek het myself ook onderneem dat indien ek ooit uit GP trek, sal ek nooit ooit weer my voete hier sit nie – die plek het in ‘n rotnes verander regonder ons oë.

  11. woordnoot

    Ek sê elke dag dat as ek Pretoria kan verlaat, stoot ek my furniture met ‘n kruiwa na my volgende bestemming. Hierdie Pretoria wat jy nou hier beskryf het…dis die plek waar ek sou oud wou word, maar in die laaste tyd?? Dankie Hester, Dis ‘n lekker onthou storie. Ek het met my aankoms in Pretoria in 1979 aan die noordekant opgeland…. dis eintlik ‘n hele ander gebied as die middestad. Maar ek het lekker saam met jou gestap…en die jakarandablom het sowaar op my kop geval…ek skryf nie eers eksamen nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis betreurenswaardig dat so ‘n statige, deftige ou stad so vervalle kan raak. Dis regtig ‘n hartseerstorie. Kyk nou so, daar kry jy toe die blom wat ‘n student se senuwees kon laat bedaar het. Ek moet sê, daai blomme op ‘n nat teerpad was meer as wat my senuwees kon verduur. Ek het ‘n paar keer lelik rondgegly.

  12. Eerste ding wat my opval as ek in my tuisdorp kom, is die verval. Dan is ek bly ek woon nie meer daar nie. Van die eens trotse skoon dorp, is nou net ‘n vuil, stukkende straat hoolnes oor. Dan weer, soos iemand hierbo se, die verval kring al hoe verder uit. My tuisdorp is beslis nie ‘n stad of groot dorp nie. Maak my net hartseer.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het in 2010 vir die eerste keer in 40 jaar weer ‘n draai gaan maak in my tuisdorp en ek was geskok. Ek kruip nou maar hier in die bos langs die see weg waar dit ook nie veel beter lyk nie, maar ek het geen vorige herinneringe hier wat vertrap word nie.

      • so reg. Die verval hier is ook meer aanvaarbaar. Maar kyk, jy het nog nooit soveel ekskusies gehoor soos tydens ‘n munisipale vergadering nie. Jy lug verniet jou menings, dis behoorlik poep teen die wind.

  13. Het is voor mij niet altijd makkelijk jou lange epistels te lezen maar ik doe mijn best. En af en toe moet ik lachen.
    “ enkellopers” ik denk niet dat die lui op hun enkellopen, ik vermoed dat het alleengaanden zijn.

  14. Ek het al baie van Burgerspark gehoor en weet selfs waar dit is, maar ek het helaas nog nooit daar gaan rondneus nie. Daar is altyd hordes mense en te min parkering. Helaas, is baie van die plekke wat jy noem, plekke waar min mense deesdae draai. 10 jaar terug het die karnarre rondom kerkplein R50 gesoek om jou kar op te pas.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis tragies dat alles so agteruit gaan. Ek kan huil oor al die ou geskiedkundige geboue en goed wat nou eintlik nie meer bereikbaar is nie of ontsier word deur rommel.

  15. Being as I’m ‘ever so’ slightly South African courtesy of my ancestry 🙂 (I’m am rather proud my G. Grandfather’s family originates from Bethulie Orange River Colony) , I always enjoy looking at your photos and I did learn something about Paul Kruger today (wonderful Wiki), the face of the Boer resistance against the British in the Second Boer War!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      A nice way to learn history lessons! That was a bitter war and the resulting animosity between ordinary British and Afrikaners resonated in this country for decades.

  16. Pretoria… mmmm… ek is daar gebore, maar… dis nie my skuld gewees nie!!
    Daar was ‘n ou gesegde… alle lugmag paaie ly na Pretoia en dit was so. Ek het lang jare daar deurgebring en ons het dikwils na geselskap loop soek daar in die groot stad… by die “koekblikke”
    Sorrie… dit moes uit! Ek het by Harties gaan vis vang… in die Fonteine gebraai en gekamp… en sommer net in die wille nightclubs gefuif met die maaters saam.
    Twee van my tannies het daai dae in Pretoria gebly… ek dink hulle famileies het nog altwee die huise.
    Ek het amper die hele 1980 daar deurgebring… op offesiers kursus. Ons het langer as twee maande in die Arcadia Hotel gebly! Ja, glo my vry!! Ons het vet geword van al die kos en bier! My favourite dive was Billy’s Baked Potato… en ‘n plek waar Finch & Henson Sondae aande gespeel het! LEKKER!!
    Oukei… genoeg stories…
    (‘n Bottel brannewyn… mmmm, kon die darem nie whiskey gewees het nie??)

  17. Comment by post author

    HesterLeyNel

    Dit lyk my alle paaie het voorheen deur Billy’s Baked Potato geloop! Ons het dit sommer Billy’s Village genoem, want die shopping centre se naam was The Village. Snaaks genoeg, ek kan glad nie onthou dat ek ooit ‘n baked potato daar geëet het nie, maar ek onthou die heerlike steaks. Toe kon ons nog vleis bekostig het. Ek het nooit by die night clubs uitgehang nie (ons dans nie), maar ons het in elk geval ook elke aand kaart gespeel tot in die vroeë oggendure. Dis nou wanneer ons nie almal in ons VW geklim en drive-in toe gegaan het nie. Mmmm, die koekblikke – die hostels daar in Esselenstraat? My man en sy tjommies het dit die asbes-crèche genoem.

    • Wille dae… lekker dae! Stoute dae… nee, pizzas en steaks… g’n aartappels nie! Ek gaan nou weg gaan voor ek lewens gevaarlike staats geheime verklap! 😉
      (Ons het vanmiddag daar by die see gesit… my beterhelfde en ek… en oor die bos dae gepraat… sy sê ek moet skryf oor daai dae. Ek weet nie, dis verby… al sal ek baie van daai dinge nooit kan vergeet nie… OH well, such is life!)

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Dis blykbaar die algemene gevoel van die grensvegters, want tot vandag toe nog praat hulle nie maklik oor daardie dae nie. My drie broers het nooit juis enigiets te sê gehad oor hulle wedervaringe nie. Nowadays is dit natuurlik ook nie juis ‘n onderwerp vir bespreking in Suid-Afrika nie.

        • Nee… ons bly maar stil… alhoewel… ek werk al jare aan ‘n kortverhaal… ek het hom loop soek vanmiddig… miskien maak ek hom klaar!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Doen dit. Skryf is goeie terapie wat ou sere genees. Wanneer keer jy weer terug na Nellie toe of is jy nou eers ‘n bietjie moeg vir haar?

        • Nee… ek dink sy het moeg vir my geword! Maar… ek skryf dikwils so… die storie groei in my kop… en dan gebeur dit! Ek het laas week ‘n paar lyne geskryf maar toe bedink ek haar plan… of, sy het my vertel ek moet van ‘n ander hoek kom…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          So daar is darem hoop dat sy weer sal oplewe?

        • Ja… sy torring al ewig in my agterkop…

  18. Dit is nou pragtig geskryf ♥