Duisend dankies aan al die gasbloggers wat ons Skryf-Safari voortgedryf het terwyl ek hier in internet-limbo rondgehang het. Ek wil nou teruggaan na al die uitdagings wat ek gemis het om te gaan lees en my bydrae ook te gaan lewer.
Intussen – is julle lus vir ‘n vervolgverhaal as ons volgende bloguitdaging? Kom sluit dan aan by Kaleidoskoop sodat ons kan begin speel. Kaleidoskoop is ‘n fiksie gebaseer op die ware lewe – dit vertel die storie van die mense wat ons is, hoe ons gedagtes werk en wat ons gelukkig / ongelukkig maak. Ons vreugdes en frustrasies.
Daar gaan twee klein veranderinkies wees in die gewone manier wat ons skrywe:
EERSTENS: Ons gaan nie hierdie keer ‘n voorafbepaalde storielyn volg nie. Ek gaan afskop met ‘n dag of ‘n gebeurtenis in die lewe van die hoofkarakter (Nellie) wat haar voor ‘n kruispad te staan gaan bring. Die volgende blogger gaan voortborduur op die storie. Die blogger kan self besluit watter paadjie Nellie volgende gaan inslaan en die storie weef rondom haar besluite en dade. Die enigste vereiste is dat die paadjie waarop die blogger Nellie se voete gaan plaas, net die volgende gedeelte van daardie paadjie moet beskryf en haar by nog ‘n kruispad uitbring. Met ander woorde, moenie Nellie se hele lewensverhaal vooruitloop nie – die daaropvolgende blogger moet die storie verder neem.
Voorbeeld:
- Blogger 1 skryf – Nellie gaan kyk na ‘n middagfliek en drink 2 liters coke gedurende die fliek. Pouse breek aan en Nellie draf kleedkamer toe, maar daar is ‘n hengse lang tou. Kruispad – gaan sy probeer knyp tot haar beurt aanbreek? (Die kruispad moet “oop” wees. Moenie ‘n duidelike keuse hier stel nie – laat dit oor aan die volgende blogger om die keuses uit te spel.)
- Blogger 2 skryf – Nellie besluit om ander heenkome te soek en draf in die hoofstraat af na die motorhawe toe. Daar is wel ‘n toilet, maar die geriefie het nie ‘n deur nie en net buite die deur is ‘n klomp grease monkeys besig om aan ‘n ou wrak te werk. Kruispad – gaan Nellie die manne daar buite ignoreer ter wille van verligting?
- Blogger 3 skryf – Nellie kan onmoontlik nie langer knyp nie en hop desperaat van die een been na die ander. Skielik kom een van die grease monkeys nadergeloop en trek sy overall uit. Hy sprei die overall uit voor die deur soos ‘n gordyn en sê: “Juffoutjie, ek belowe ek sal jou eer beskerm in ruil daarvoor dat jy ‘n koppie koffie saam met my gaan drink”. Kruispad – gaan Nellie die aanbod aanvaar?
Hierbo is nou ‘n lekker lawwe voorbeeld, maar onthou, die blogger wat skryf moet self besluit of hy / sy ‘n ernstiger of ligter noot wil aanslaan en moet die gebeure en emosies meer breedvoerig omskryf sodat dit ‘n lekkerlees verhaal vorm. Stuur die verhaal in enige rigting.
TWEEDENS: Die bloggers gaan nie mekaar nomineer (“tag”) nie. Diegene wat gaan inskryf, moet die inskrywingsvorm hieronder voltooi. Volg hierdie skakel:
Voltooi die vorm vir deelname (hierdie vorm is nou permanent geskrap 2018.09.06)
Ek het my eie besonderhede voltooi om te wys hoe dit gedoen moet word, Vul net jou blognaam en die URL (skakel) van jou blog in en kliek dan op die “Submit” blokkie.
Daar sal ‘n skermpie verskyn met die bewoording “Your response has been recorded”. Al die inskrywings word outomaties en chronologies opgelaai na ‘n dokument wat lyk soos ‘n Excel spreadsheet- kliek op die lys hieronder om te sien wie reeds ingeskryf het.
Lys van deelnemers (hierdie vorm is nou permanent geskrap 2018.09.06)
Die rede waarom ons hierdie metode gebruik, is om te sien watter blogger volgende moet deelneem en wie reeds deelgeneem het. Ons gaan skryf in die volgorde waarvolgens ons ingeskryf het. Sien hierbo, ek is gelys as Blogger1, dus moet ek die eerste blog doen. Sodra jy inskryf, sal die lys aantoon wat jou Blogger nommer is. Dit beteken jy moet wag totdat al die bloggers wat voor jou ingeskryf was, hulle blogs klaar geskryf het voordat jy jou bydrae doen. Op hierdie wyse kan ons goed boekhou van wie deelneem. Die dapperes kan meer as een keer inskryf as hulle wil!
Onthou, wag asseblief net ‘n dag of twee sodat almal die vorige blog kan lees voordat jy jou eie bydrae plaas. Dit sal almal tyd gee om al die inskrywings te lees en kommentaar te lewer.
Om dit makliker te maak om die storielyn te volg, gaan ek op die volgende skakel ‘n samevatting doen van al die inskrywings (sonder die kommentare hierdie keer) wat dit hopelik makliker gaan maak vir die deelnemers om die storie te volg: Kaleidoskoop BookTalk. Scroll af na onder op die bladsy om die opsomming te lees.
Die skakel na InLinkz werk nog steeds op dieselfde manier en ek sal dit verskaf in my eerste bydrae.
Dit was nou ‘n mondvol, maar moenie skrik nie, die stelsel werk baie maklik. Enige probleme – meld dit in die kommentaar of stuur vir my ‘n whatsapp. Die meeste persone wat gereeld deelneem aan ons uitdagings het reeds my whatsapp nommer – julle mag dit oordra vir medebloggers wat nie trolle en spammers is nie.
Oukei dan. Ek gaan kyk of daar belangstelling is (of daar wel iemand inskryf) en dan gaan ek my eie bydrae plaas om die uitdaging af te skop. Ek hoop almal gaan lekker saamspeel. Wees dapper! Skryf in!
lekkervurig
Dit klink nou lekker. Vormpie is in! Ek is kinderlik verheug – jy is weer met ons.
HesterLeyNel
Dis die gees!
Kameel
My vormpie ook in. Dis weer iets om na uit te sien….. welkom terug. 😊
HesterLeyNel
A, ek sien jou naam daar. Goed so.
travel460
Laat weet as jy my naam sien, Hester. Dink dis reg gedoen. Hierdie klink na GROOT pret.
HesterLeyNel
Jip, jy’s nommer 4, net na Kameel. Kan jy nie die skakel na hierdie spreadsheet (“Lys van deelnemers” oopmaak nie? Laat weet my as die skakel nie vir jou werk nie. Hy lyk vir my reg hier van my kant af.
travel460
Dit werk 100%, het nou gou geloer. Goeiste maar dis lekker om jou terug te hê!
HesterLeyNel
My hart dans van pure vreugde om terug te wees!
scrapydo2.wordpress.com
Nou kan ons weer lekker onsself uitleef in n ander wereld. Sal bietjie later my vormpie invul.
HesterLeyNel
Dis reg, ons wag vir jou
Tannie Frannie
Van al my kleintydspeelgoed was ‘n kaleidoskoop vir my die heel mooiste. Dankie vir hierdie lekker grootmensspeletjie!
HesterLeyNel
Myne ook Frannie, ek kon ure op my rug lê met die kaleidoskoop en my verwonder aan die kleure. Ek was verslae toe myne geval en die spieëltjies gebreek het. Dankie dat jy kom saamspeel.
Abrie Joubert
Ek is beïndruk Frannie dat jy jou hierdie keer hiertoe verbind het (ek het nie). Sien uit na jou keuses
Bondelsgedagtes
Ek het dit wraggies ook gewaag met Una se aanmoediging…. ek is nie seker of myne reg is nie…laat weet maar asb
HesterLeyNel
Jy’s heeltemal reg! Jy is nommer 9 net na Positief. Weet jy hoe om die lys van deelnemers te sien? Gaan kry die skakel “Lys van Deelnemers” onderaan hierdie blog, dan kan jy dit dophou. Ek is bly om te sien ons het nog drie skrywers bygekry.
Toortsie
Sjoe! Ek het hierdie bloginskrywing gemis, en sou nou sommer net loop skryf het.
HesterLeyNel
Oeps! Ag wel, dan het ons twee storielyne gehad. Dis eintlik nou ‘n goeie idee wat jy in my kop geplant het – dalk moet ons volgende keer twee verhale parallel skryf. Jy is nommer 11 – dis nou wat gebeur as jy rondrits (of sonder internet raak soos ek); jy kom laat by die paartie aan.
Toortsie
Maar dan mag ek paartie soos ek wil! 😁🙃
Toortsie
Ek wonder of 2 storielyne sal werk, ons is so min wat saamspeel, maar dan moet ek ook bysê, tussen ons 11 bloggers sal daar seker 11 storielyne ook wees! 🙂
HesterLeyNel
Ek is seker! Jy kan ons nie daarvan beskuldig dat ons vervelig en eentonig is nie.
Toortsie
Beslis nie! En ‘n klein bietjie aspris ook. 😁
Toortsie
En jy moet onthou, teen die tyd wat ek omtrent oor ‘n jaar my beurt kry, het ek laaaankal die draad van die storie verloor! 😱
HesterLeyNel
Nee, dis hoekom ek vir jou ‘n opsomming gee op die skakel Kaleidoskoop Booktalk – kyk maar hier bo in die blog iewers.
perdebytjie
Ek is bietjie ‘n laatslaper, maar my naam is in.
HesterLeyNel
En jy is voorwaar welkom!
perdebytjie
Dankie Hester.
aj vosse
OuKei… ek het geval vir jou grap! Net een vraagie, as ek mag, aseblief. ek wil my storietjie opneem waar joune eindig, is dit goed so? 😉
By gesê… ek neem aan die skrywe moet in Afrikaans wees… ?? 😉
HesterLeyNel
In Afrikaans ja. Ek vind dit ‘n charming idee dat ‘n halwe rooinek in Afrikaans skryf. Help my uit – hoe bedoel jy waar my storie ophou? Wil jy die laaste skrywer in die reeks wees sodat jy die verhaal kan afsluit?
aj vosse
Nee… ek wil he onse Nellie moet die bakkie omdraai en terug gaan… om ‘n beter plan te maak!
In fact… ek skryf al dukstukke aan my storietjie!
Miskien gaan daar ‘n paralelle heelal hier moet wees! 😉
HesterLeyNel
Dit klink goed. Ek sien uit daarna.
aj vosse
Klaar geskryf… ek stuur aan vir jou redaksionele dienste… vlokkies… dis groot woorde! Gelukkig help Antie G!
aj vosse
Vlokkies… ‘n halwe rooinek?? ‘N Stoere boer wat moes Ingelse skool to gaan… nie my skuld nie?? :/
HesterLeyNel
Ek vra, omdat daar reeds twee mense na my geskryf het. Andersins, as wil begin direk na my blogpost, kan jy doodeenvoudig net begin waar ek opgehou word, maar ons sal dit beskou as ‘n “ekstra” storielyn, nie deel van die vervolgverhaal nie.
aj vosse
Ja… ek laaik die iedee… my paralelle heelal teorie!! 😉