My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

En hier is Pappa – die ontwykende lid van die salmander familie

Kyk wie het ons ingewag toe ons van ‘n uitstappie af teruggekom het: die vader van die salmanderfamilie waaroor ek in my vorige twee blogs Die boomsalmander van die ander kant af bekyk en Boomsalmander en houtkapper in die ou boomstomp geskryf het.

Hy het voor ons oor die pad gehardloop net toe ons by die hek ingery het en in die groot boom bo teen die terras gaan sit. Ons het ‘n paar fotos uit die die motor geneem, terwyl hy sy lyf model gehou het. Dis die einde van die salmander-sage hier op my blog, ek belowe, maar ek is seker julle sal die ou blou koppie waardeer.

Mense, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar nou kry die weer my onder. Ek sien dat daar plek-plek in die land gerapporteer word van lekker reën wat val en van damme wat vol raak. Yay!!! Dis baie goeie nuus. Dit reën hier by ons ook … o ja, dis nie nuus nie.

Ons  het gister son gehad (yay!!!) en het die wind trotseer om ‘n bietjie te gaan uitspan in die Mpenjati natuurreservaat daar naby Port Edward. Soos feitlik al die riviere hier rond op die oomblik, is die Mpenjatirivier se monding ook oop en die rivierwater spoel oor in die see. Dit beteken natuurlik dat dit dieper na die binneland toe, in die opvanggebiede, ook reën. Ek sal later fotos daarvan wys.

Kyk eers hierna: diè foto het ons gistermiddag geneem op pad huis net voor die brug oor die Umzimkulurivier waaroor ons moet ry wanneer ons Port Shepstone verlaat. Kyk die duidelike skeidslyn wat die modderige rivierwater en die blou water van die Indiese oseaan tussen hulle handhaaf.  Dit lyk amper asof die twee waterbronne niks met mekaar te doen wil hê nie. Die water sal wel later vermeng.

Umzimkulu River bridge, Port Shepstone, KZN

Vandag se wind is ysig koud en fluit die Penniekfluitijie -Kwêla deuntjie hier om die hoeke van die huis. Ek is verbaas dat die bome hier by ons nog min of meer regop groei.

Ek hoop almal het ‘n heerlike naweek gehad en is reg vir die week wat voorlê.

Follow Dis Ekke

24 Comments

  1. Ag moeder, die ou lyk asof hy die wêreld op sy skouers dra!

  2. Hy is so pragtig blou! Hier by ons reën dit amper aanmekaar. Die dam loop behoorlik oor. Ek kla glad nie, al sit ek in wintersklere in die huis rond.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sien julle dam se sluise is oop en die hiasinte is op pad see toe 😜 Ek sit ook hier met ‘n sweetpak aan, maar dit gaan al die hele somer so. Ek is nou vir die eerste keer regtig verlig dat ek so baie van my warm klere en beddegoed van Gauteng af saamgebring en gestoor het.

  3. Ag ou bloukoppie is pragtig! Dis ‘n indrukwekkende foto van daardie rivier en die see! Ongelooflik. Dis goed dat die riviere en damme bietjie skoonspoel.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hier by ons beteken dit ongelukkig dat allerhande gemors soos leè bottels, plastieksakke, ou skoene, ens. in die see inspoel. Die riviere word gebruik as dumping grounds. Rioolafval beland ook taks en tydig in die lagoons en spoel dan uit see toe. Die strande word dikwels hier gesluit as gevolg daarvan, maar dis goed wat nie oorvertel word nie. Swak infrastruktuur en patetiese dienslewering is besig om die Suidkus dood te ruk.

  4. Oooo nou is daar ‘n deuntjie in my kop wat glad nie pas nie en ek kannie op die regte naam kom nie; Salmander, salmander so deur die bos… my ma en pa kook lekker kos 😕 Ok, ek het ‘n verskoning… ek is so dronk soos ‘n lord… en ek drink nie eers nie. Die foto van die see is besonders!!! As ek aan daardie Suidkus wind dink, dink ek ek bly net by die huis en gaan nie Shelly toe nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dêmmit Kameel, jy het my lagspiere nou gebreek. Dis nie “salmander, salmander” nie. Dis: Aljander Aljander so deur die bos, my ma en pa maak lekker kos. Die kinders verstik aan ‘n druiwetros … ” Jimmel, ek het lanklaas so lekker gelag.
      Ek was verlede week op Shelly strand (was op pad South Coast Mall toe) en die wind het so gewaai dat die sand my bene gepiets het. Ek het net vyf minute gebly en toe gewaai. Dis die enigste strand hier rond wat ek nog nooit regtig “besoek” het nie.

      • Dankie vir die reghelp Hester 😄 en sommer die invul van die opvolg blank spaces.
        Vervloë dae was Maartmaand my en Ken se tyd gewees vir ‘n lekker Banana Beach vakansie. Lyk nie mens kan meer op goeie weer reken dié tyd van jaar nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee. My seun kom ook die einde van die maand weer en hy is net so vies vir die weer, want elke keer as hy hier kom is die weer goor en hy vang baie graag vis. Nou doen hy maar ook net sy plig en kom kuier by sy ma. Albei seuns begin nou mor dat ons Kaap toe moet trek, veral omdat hier nou sulke probleme is met die munisipaliteite.

        • Hoe voel jy oor Kaap toe trek? Sal julle dit oorweeg? Was my en Ken se droom om eendag in die Kaap te gaan aftree… maar drome en werklikheid stap nie altyd hand aan hand nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is nie baie opgedis daarmee nie. Ek het jare in die noordelike voorstede Kaap gewoon en dis nie een van my “fondest memories” nie. Ek wil nie op ‘n plek bly met baie mense nie; ek probeer juis wegkom van mense af. Ons grootste probleem is dat ons naby groot hospitale moet wees, dus is ‘n rustige klein dorpie ook nie die antwoord nie.

  5. Netjies jongeman

  6. Ek hou glad nie van wind nie, kan my nogal bang maak ooh en al die stof en die hare….

  7. ‘n Bietjie reen sal baie help in hierie geweste. Maar ou Angus het gebid en nou wag ons in spanning, maar die wind waai wes.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hoop julle loop darem nog nie gevaar van waterbeperkings soos die Kaap self nie? Ek wil nie eens dink watter skade daar aan die natuurlike plantegroei aangerig word as dit so droog is nie.

      • Ons het ligte vlak een beperkings. Gelukkig het ons ‘n boorgat (well point) wat redelik standhoudend is. Oorkant die berg (Hottentotsholland) Vanaf Somerset-Wes Kaap toe is dit baie erg. Ons hoop op ‘n goeie reenseisoen.