My vreugdes en frustrasies

Lê-Jou-Eier

Lê-Jou-Eier: Die Voortvlugtiges – ‘n vervolg op Die Perfekte Misdaad

Lê-Jou-Eier Ons gesels saam oor alles en nog wat in Afrikaans

Onbeskaamd Afrikaans

Die Voortvlugtiges is die volgende vervolgverhaal wat die bloggers gaan aanpak vir ons Lê-Jou-Eier uitdaging. Dit is ‘n opvolg op ons boek Die Perfekte Misdaad wat afgelaai kan word by hierdie skakel BookTalk in PDF, MOBI, en EPUB formaat.

Nou moet ek eers julle aandag vestig op die die laaste hoofstuk van Die Perfekte Misdaad waarin Hester (dis nou ek), vertel het hoe ek en Carlos weg is van Toweropstal. Ons was mos op pad Las Vegas toe sodat ek vir Carlos kan terugbesorg by sy pa en ook om my persoonlike lyfwag (Una se nefie) by die blackjacktafels te gaan wegsleep, terug Suid-Afrika toe.

Ons het skaars by die casino se deure ingestap, toe sien Pablo (Carlos se pa) ons en hy storm op ons af. My persoonlike lyfwag het blykbaar ook die deur dopgehou, want hy kom daar aangehol teen ‘n vet spoed, vuiste gebal om my te kom verdedig. Hy haak daar af en slaat ‘n hou met sy regtervuis wat vir Pablo met ‘n myl mis, maar my reg op die punt van my ken tref. Ek het net sterre gesien en uitgepaas.

Toe ek weer wakker word, sit ons almal in Pablo se private vliegtuig, op pad Colombia toe. Pablo babbel aanmekaar met my en my lyfwag sit en huil. Pablo se Engels is maar skeef en krom en van Spaans verstaan ek geen snars nie, maar Carlos kon darem toe verduidelik dat sy pa my lyfwag oor sy skoot getrek en hom ‘n helse pak slae gegee het, net daar in die casino, omdat hy aan ‘n dame geslaan het.

Ek voel nou so sleg oor alles wat gebeur het, want ek het ook gedink Pablo gaan my vermorsel. Ek het mos vir Carlos ‘n snotklap gegee omdat hy in my bed gerook het en ons het nie tyd gehad om sy voortande te laat regmaak nie. Toe kry die arme nefie die pak slae van sy lewe net omdat Pablo so bly was om sy seun te sien en hom wou omhels.

Pablo het ons sonder sonder seremonie in sy vliegtuig gelaai en ons Colombia toe gebring sodat sy persoonlike arts na ons kom omsien. Dis nou hoe ek hier in die private vleuel van die hospitaal opgeëindig het. Pablo vra nog steeds om verskoning en bring elke dag vir my blomme en tjoklits. Die nefie eet maar die tjoklits, want ek kan mos nog nie kou nie.

Maar om nou terug te kom by die Toweropstal: met die vertrek daarvandaan het ek en Carlos ‘n hele konvooi polisiekarre teëgekom daar in die grondpad. Siende dat die karre se ligte en sirenes nie aan was nie, het ons gedink dat hulle op pad is na een van Toortsie se polisiepaarties toe daar by die opstal.

Dis nou eers toe ek my whatsapp-boodskappe begin lees het hier in my hospitaalbed, dat ek hoor die ligte en sirenes het wel aangegaan toe die polisiekarre net so digby die opstal was … maar ek gaan die misdadigers vra om die verhaal verder te vertel.

Lekkervurig is eerste aan die beurt en sal môre of oormôre die volgende aflewering plaas. Kyk uit vir haar blog – ons gaan aan haar lippe hang.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

46 Comments

  1. Hes, dis nou ‘n hekkie om te oor. Ek rek solank my brein…jojo. Hehe, hier gaat ons alweer.

  2. Ek is so bly jy en Pablo kom so goed klaar Hester 😀😀😀😀😀 Ek lag vir jou… jy maak jou vinnig uit die voete, en los ons klomp vroumense om die wa deur die drif te trek. Waarmee die kkomp hierdie keer voor die dag gaan kom weet ek nie… maar ek sien baie uit daarna.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek verskaf darem morele ondersteuning daar uit my hospitaalbed 😇

      • Hester ek moet sê ek vind jou verduideliking van jou lyfwag wat jou kakebeen afgeslaan het al meer en meer humoristies. Kry myself kort-kort aan die glimlag…. ek sien die prentjie. Nee rêgtig, hierdie storie van ons sal ‘n fliek duisend maak.

  3. Ek dink tog jy moet oppas vir die Pablo knaap. Moenie daai tjoklits eers vir jou lyfwag gee nie. Die Colombiane is berug daarvoor dat dwelms hoog op die lys is. Netnou spike iemand die tjoklits.Ek sal nie gerus wees voordat jy nie terug op SA bodem is nie!

  4. Ek sit my hande en vryf, knak my vingers…reg om te begin!

  5. O, en jy hou my nefie net daar, Hester. Hy is glo nie baie welkom terug in Suid-Afrika nie…

  6. Hier kom nou weer ‘n ding!

  7. Hoera, daar gaat julle! Hester, jy is die meester van vals leidrade om so ‘n onskuldige ontknoping oor jou besering en Colombia te gee!

  8. Lekker!

  9. Mastag jong, julle(jy) gee mens skaars kans om my daaglikse werk te doen. Gelukkig het ek klaar ingetrek. Nou weer vir groot uitpak. Ek sal maar weer my vrinne met die vuurpyle moet aansê om hul volgende toets pyl reg te kry vir my vlug om te kom help met die vlug na veiliger oorde. ek hoor juis oor die nuus dat ou Trump in Mei Noord Korea gaan besoek. Gee my dalk kans om gratis terug te vlieg NZ toe soder om gevang te word.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Whaha, vergeet van die daaglikse speurwerkies; jou mede-misdadigers het jou nodig.

      • Ek weet! Dis hekomek nie kan wa dat die naweek verby is en my kinders hul twee brakke kan kom oplaai sodat ek ou Trompie kan inboek in hotel en ek kan laat waai terug SA toe.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, hier gaan weer groot dinge uitkom 😄 Ek het nou begin om 26 blogs voor te berei vir die AtoZ April 2018 challenge (tweetalig). Hierdie gaan ‘n besige tydjie wees.

        • Ek het hierdie jaar nie ingeskryf vir A-Z nie. Sodra my lewe minder bedrywig is sal ek hopelik weer n slaggie deelneem. Ek het daardie vorige “IBMC opdragte” in my skryfprogram gesit reg om te begin maar met die trekkery het ek nie kans gehad nie . Sterkte vir jou.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dankie Ineke

        • Hester, Amanda sê op my blog dat sy nie jou URL kan gebruik om by jou pos uit te kom nie.
          Ek het gesien penpunt s’n kon ek ook nie gebruik nie. Lyk my daar is n konneksie probleempie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Amanda het tog my pos gelees en kommentaar gelewer.

        • Ja ek weet sy het na my pos gegaan en jou link daar gekry. Sy kon nie die skakel in haar kommentaar gebruik nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Snaaks. Ek het nou weer gaan kyk en dis definitief die regte skakel – daar was seker net ‘n internet-probleem.

        • Kan wees. Of dis n Australiese probleempe, ha ha!