Die erfgoed waarna ek hier verwys is nie die miljoene wat my ouers in hulle bankrekening nagelaat het nie (oukei, oukei, ek MAG mos maar droom!); ek verwys na daardie eienskappe wat enig is aan ‘n familie en wat ek by my ma-goed en pa-goed geërf het. Dis nou die onderwerp van hierdie week se Lê-Jou-Eier uitdaging.
Nou watter familietrekke het ek gekry? My pa se breë vierkantige hande met die stomp vingertjies, sy gepunte kabouteroortjies en die reguit perdesterthare (myne het eers begin krul nadat ek chemo gekry het). Verder is ek ‘n carbon copy van my ma. My jongste seun het ook iets by sy oupa geërf – een kabouteroor; die ander oorskulp is rond. Tot ons grootste verwondering het sy dogtertjie presies dieselfde onpaar ore.
Ek het my hele lewe lank gedink dat ek wel soos my ma lyk, maar dat ek my pa se geaardheid oorgeërf het. Hy was die stiller een wat sy eie geselskap verkies het en homself kon besig hou met pragtige houtwerk.
My ma het maklik vriende gemaak, was baie sosiaal, en het daarvan gehou om te onthaal. Ek het verkies om boeke te lees en wanneer kuiermense opgedaag het, het ek by my kamervenster uitgeklim om die geselskap te vermy. My ma was passievol (oor politiek, rugby, godsdiens, enigiets wat haar daaglikse lewensgang gekruis het) humeurig, koppig en het ‘n opinie uitgespreek oor alles. Ek was van die begin af ‘n gekwalifiseerde draadsitter wat geweier het om politiek, godsdiens of rugby, ens. as deel van my lewe te beskou en en het nie juis sterk opinies gehad oor enigiets nie. Sy het geglo aan lyfstraf om haar kinders te dissiplineer; ek nie. Sy het ‘n onblusbare sin vir humor gehad. Ek ook. Sy het hewige migraine-aanvalle gekry. Ek ook.
Toe word ek ouer. En hoe ouer ek geword het, hoe meer het my persoonlikheid verander. Ek glo tot vandag toe nog dat dit die migraine-hoofpyne was wat die ommekeer veroorsaak het. Gaandeweg het ek ‘n reputasie daarvoor opgebou dat ek humeurig is. My kollegas het draaie om my geloop. My kinders ook, want hulle was vas oortuig dat ek die evil eye gehad het. Net één kyk was nodig om hulle te verander in engeltjies. Ek het eers jare later besef waar ek die KYK aangeleer het.
Skielik het ek die wêreld om my raakgesien en my eie opinies begin gevorm (ek hou nog steeds nie van rugby nie). Toe verloor ek my mondfilter en ek lug my opinies by elke geleentheid. En ek word koppig. Voorbeeld: my ma het altyd gepredik dat haar man die hoof van die huis was (ek was nie altyd seker dààrvan nie). Ek het gepredik dat my huis nie ‘n hoof het nie … wel twee vennote. In die praktyk was die uiteinde dieselfde.
My ma het haar hele lewe lank gekla oor haar sinusse, ‘n seer keel en oorpyn. Sy kon dit nie verdra om in die wind buite wees nie, want dan het sy neus-, oor- en keelprobleme opgedoen. Ek het haar altyd doodluiters vertel dat sy vol iepekonders is. Raai wie SUFFER deesdae met neus-, oor- en keelprobleme? My dogter sê ek word gestraf omdat ek nooit haar ouma geglo het nie.
Onlangs het ek begin waarneem dat wanneer ek my mond oopmaak om iets te sê, dit soms, nee, eintlik heel dikwels, gebeur dat my ma se stem verby my lippe spring. Dan praat my tong in tale, idiome en gesegdes wat ek lankal vergeet het. Skielik gebruik ek ook handgebare wat vreemd aan my geaardheid is. Voorbeeld: wanneer my ma haar vererg het vir iemand en wou aandui dat sy die gesprek as afgehandel beskou, het sy so ‘n royal wave gegee om daardie persoon te laat weet dat die oudiënsie verby is en hy / sy die vertrek moet verlaat. Net nou die dag het ek ook my hand op daardie manier sien beweeg toe ek my vervies het vir ‘n opdringerige winkelklerk.
Is hierdie soort van ding oorerflik? Volgens my man … ja. Nie lank gelede nie het hy hom opgeruk vir iets wat my dogter gesê het en haar ‘n “jy is nes jou ma” toegevoeg. “Ja”, sê sy so ewe, “en ek is trots daarop”.
Ek is ook trots daarop dat ek soveel eienskappe van my ma geërf het. Sy het ‘n paar nukke, geite en grille gehad wat ek by haar oorgeneem het, maar sy was ook ‘n moeder wat liefgehad het, onvoorwaardelik en sonder voorbehoud. Ek ook.
Ek gaan nou voor die spieël staan en die royal wave oefen.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
seegogga
So het ons mos almal ons geite. Dit maak ons mos uniek- en ook deel van mekaar.
lekkervurig
A, mooi geërf.🌹
travel460
Ek loer vir jou as jy die royal wave oefen! Jy weet so goed wie en wat jy is, Hester, en dit is goed. Maak die lewe makliker as ons weet waar kom wat vandaan.
HesterLeyNel
Ja, maar dan kry jy ook die ander sy van die muntstuk: my seun sê die ander dag so ewe vies vir my hy weet presies waar sy rumatiekduime vandaan kom. Haha, sorrie seunie.
Blog Andrew
Respectfully can I say the girl on the right is stunning!
HesterLeyNel
☺ Thank you, Andrew, that is yours truly many, many years ago, but I think you guessed that already.
Blog Andrew
🙂 Yes a lovely family photo.
rondomtaliedraai
Hehehehe hier dink ek nog altyd jy is niks kwaai nie. Lekker om jou beter te leer ken
HesterLeyNel
Ek kan deesdae nie meer bodder om kwaad te word nie, jong, maar by die werk was dit ‘n ander storie.
rondomtaliedraai
Mens verouder mos soos goeie wyn
HesterLeyNel
🙂
Toortsie
Gene lieg nie.
HesterLeyNel
Net so
trommeltjies
Nie een van ons kan die gene ontsnap nie. Sommige sweer ons as ons jonk is, sal nooit deel van ons wees nie en dan…….
HesterLeyNel
Helaas, dis presies die geval
Kameel
Ek hoop nie jy “royal wave” my ooit uit jou lewe nie…. maar ek sien dit in my geestesoog…. en geniet dit terdeë. Ai, die liewe gene!!!
HesterLeyNel
Die appel van nooit ver van die boom af nie, het my Afrikaanse onderwyser altyd gesê (verwysende na my onmoontlike stout broers wat voor my by hom klas geloop het).
Abrie Joubert
Mag ek weet hoe oud die jonge dame is en ja daar is ‘n effense ooreenkoms tussen jou ma en jy! Mooie meisei fraaien honnen, al die honnen wil ek soenen – dit is mos hie die liedjie gaan
HesterLeyNel
Dis nie soos wat Gert Potgieter dit gesing het nie! Ek was 19, so dis baie jare gelede.
scrapydo2.wordpress.com
Mooi man. Jy besit die vermoë om dinge raak te sê. So leer mens mekaar ook beter ken. Dankie vir jou openhartigheid.
HesterLeyNel
Dankie Scrapy, ek maak deesdae soos die oumense (my ouderdom) wat by die hospitaal in die rye sit en wag vir die dokters. Binne vyf minute ken jy hulle hele lewensgeskiedenis en al hulle skete en kwale ook ☺
scrapydo2.wordpress.com
Ag dis tog so lekker om te luister en te sien hoe die mense verlang om te vertel.
HesterLeyNel
My man geniet dit vreeslik. Vir hom is dit ‘n lekker uitstappie en gesels met sy “hospitaalvriende”. Hy ken ‘n paar van hulle al goed, want hulle bespreek altyd dieselfde groepies vir ‘n ooreenstemmende hospitaaldag.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, dis goeie afleiding ook. Ook iets om te bespreek.
Spokie sny spoor
Baie oulik! Lekker om mense te leer ken so in die blog-wêreld.
HesterLeyNel
Ja, dit raak interessant en die ouens laat ‘n mens lekker lag.