Ponsie is nie ‘n gelukkige kat nie. Sy is nie elke dag ongelukkig nie; om die waarheid te sê, wanneer die son skyn en sy buite in die tuin kan rondrol in die sand (veral wanneer sy so pas gebad is) of in die bome rondklouter, kan jy eintlik die genoegdoening op haar gesig lees. Sy lê soms die hele dag om en slaap daar buite. Maar o wee, die dag as die son nie skyn nie, staan sy buite op die vensterbank en skel op haar huismense. Karen sê sy is seker die kat dink ons is in beheer van die knoppies wat die son aan- en afskakel.
Op sulke dae bly sy nie lank buite nie en kom maak haar tuis op iemand se laptop. Daar lê sy lank uitgestrek oor die sleutelbord en suig die hitte in as ons nie betyds keer nie. Die feit dat sand en kathare, asook haar liggaamshitte, nie goed is vir die laptop se binnegoed nie, is vir haar van geen belang nie. Sy weet baie goed dis nie toelaatbaar om daar te lê nie, maar dit verhoed haar nie om daar langs die skerm te sit en gluur na haar mense wat nie die son-knoppie wil druk nie. Dan strek sy haar kastig uit, kruip-kruip ‘n bietjie nader en vat-vat so met die pootjie aan die sleutelbord, totdat sy aangepraat word.
Wie van ons het die idee gekry om plek te maak vir haar bêrsie op die lessenaars? Seker maar ek, want soms kan ek sulke onverantwoordelike besluite neem. Op ‘n koue dag soos hierdie, lê sy nou die hele dag lank op haar bêrsie, reg voor die laptop. Ek gee nie juis om nie, want ek het ‘n remote keyboard waarmee ek op my skoot sit, met my voete op die hoek van die lessenaar. Karen tik direk op haar laptop en bevind dit ‘n ongemaklike taak te wees wanneer sy rondom Ponsie moet tik.
Ek gaan so teen halfnege, nege-uur in die aand kamer toe om in die bed te gaan lees. Karen werk ‘n bietjie later en dan raak Ponsie ongeduldig. As Ma gaan slaap het, moet almal bed toe en sy maak haar stem dik om Karen aan te por, want hulle twee deel nou ‘n kamer.
Karen sê die eienaardige ding is dat, net sodra sy in die bed is, klim Ponsie by die venster uit om die tuin te gaan verken, in die pikdonkerte, want die son is mos nou amptelik afgeskakel.
Hier is dit nogal gevoelig koud. “Hulle” sê dis 21°C wat al klaar ongerieflik koud is na my oordeel, maar ek is seker die aanvoelbare temperatuur is heelwat laer. Lekker week aan al die bloggers en kom ons hoop iemand skakel binnekort weer die sonknoppie aan.
travel460
Ek stem ook saam met Ponsie, die sonknoppie kan nou maar aangeskakel word. Ek vries regtig hierdie winter, weet nie of dit is omdat ek ouer raak nie. Veral die voete. Ek is ñ kat mens, Hester, so ek is mal oor jou kieter-stories. Heeldag al 12 grade hier om my!
HesterLeyNel
12 grade. My swak hart Dis bewolk hier by ons en siende dat dit twee maande laas gereën het, sal ons nie omgee vir ‘n bietjie water nie. Dis net hierdie windjie wat deur ons ribbes sny soos ‘n sekel deur ‘n koringland!
travel460
Ek verlang na die kus!!!!!! Huil sommer net hier hardop.
HesterLeyNel
Ag dink net hoe gaan jy jou volgende reis na Bali toe geniet, net omdat jy nie elke dag by die see is nie.
kethuprofumo
What an intelligent cat! Besides it’s curious for hi-tech!
HesterLeyNel
Haha 😄
Hier "blok" Elanè
Ag shamepies… dit is oulik… ek soek ook so bietjie warm sonskyn.
HesterLeyNel
haha@shamepies Dankie vir die inloer 🙂
rondomtaliedraai
Lekker warm so lyfie teen jou
HesterLeyNel
Ek is bevrees hierdie klein lyfie slaap die hele bed vol en as jy gelukkig is, word jy toegelaat om so langs die kant van die bed aan jou matras te hang.
rondomtaliedraai
Hehehehe klink bekend
Rob Alberts
Hier heeft de zon een tandje terug geschakeld.
Warme groet,
Kameel
Ek hou van dierestories, hulle het elkeen ‘n karakter en doen van hulle eie. Hoekom klink Ponsie dan al te veel na jou Hester? Ek hoop daardie sonknoppie is aangeskakel. My dogter en haar man kuier by Shelly…. sien hulle lê gister in hulle swemkostuums op die strand…. en soos ek verstaan het hulle geswem ook.
HesterLeyNel
Die weer is heerlik deur die dag hier van 10h00 tot na middagete, dan steek daar so ‘n ligte windjie op. Ons was vanoggend op Port Shepstone se hoofstrand om fotos te neem en die weer was heerlik, maar daar was nie juis vakansiegangers nie. Lyk my die ouens hang meer na die suidekant toe uit. Eergister St Michaels en Uvongo besoek – dit was heerlik.
shadowwhisper
My kat Arrow is lief daar voor om skuins voor my rekenaar te skerm te sit en ‘saam’ met my reekse te kyk. Ek begin al uitwerk of sy ‘Orange is the new black’ van hou of net elke keer kom sit by my as ek dit kyk hiehiehie
HesterLeyNel
Ek dink sy is daar vir die geselskap en die hitte. Katte kry mos maklik koud.
shadowwhisper
Ja, en my kamer is die warmste in die huis.