Mensies wat in verkleinwoordjies praat, het my nog altyd irriteer. Ek het al vantevore hieroor geskryf:
Baie onlangs moes ek weer laat bloed trek vir die algemene praktisyn wat hard probeer om my bloeddruk te reguleer en ek laat sommer bloed trek daar by die suster.
“Kan Tannie asseblief haar ou truitjie uittrek, sodat ek ‘n geskikte aartjie kan soek?” vra sy ewe liefies. Die ongeskikte ou pasiënt het reeds by aanhore van die “Tannie” op haar valstande begin kners, maar trek toe maar in stilte haar ou truitjie uit sodat die toernaket(jie?) om haar bo-armpie gebind kan word. Die suster soek en soek na ‘n vrygewige aartjie wat bereid sal wees om die verlangde hoeveelheid bloed te skenk, maar kry niks geskiks nie. “Die ou klein aartjies… ek weet nie of hulle gaan werk nie.” sê sy aarselend, “Tannie moet dalk liewer hier op die bed kom plat lê”. Tannie gaan lê op die ou bedjie, en die suster soek. “Skusie Tannie,” sê sy elke keer wanneer sy die naaldjie in die aartjie druk en die aartjie hou sy bloedjies vas daar in die diepte van die armpie se vlesies. Tannie vra hoflik of sy nie dalk die ou aartjie in die hand wil gebruik nie? Tannie het al baie keer laat bloed trek. “Haai, nee Tannie,” sê sy, “die ou aartjies daar is baie sensitief en ons sal net op haar handjie probeer as ‘n laaste alternatief.” Heelwat later is Tannie daar uit met ‘n paar ekstra gaatjies en blou kolle op die ou armpie.
Sowat ses maande later beland Tannie by ‘n kardioloog, want die hart, die pols en die bloeddruk spring rond soos pronkende Springbokkies by ‘n watergat. “Skusie tog my Tannetjie,” sê die suster wat nader staan met die EKG-masjien, “maar Tannie moet tog maar al haar kleertjies bolangs uittrek sodat ek die ou plakkertjies kan vasmaak. Moenie bekommerd wees nie, dis net ons twee vroumensies hier. Tannie kan weer aantrek voordat ons vir Dokter gaan sien.” Dokter is seker maar ‘n man; nie dat dit pla nie, want Tannietjie het al soveel keer al haar klere uitgetrek voor soveel wildvreemde mans (en vrouens), en nie vir plesierige doeleindes nie… Tannietjie bly maar liewer stil, maar sy voel hoe haar bloeddruk styg.
Met die uitloopslag by die voordeur groet Tannie die kind by die ontvangstoonbank en wissel ‘n woordjie met die ontvangsdame oor haar mediese fonds. Sy kyk verby Tannie nee, eintlik déúr haar en vra vir haar dogter: “En hoe oud is Mammie nou?”
Fok weet…
Terug by die huis wonder ek of hierdie spraakwyse eie is aan Afrikaanssprekendes, die verkleinwoordjies, familariteit en die manier om die derde persoon besitlike voornaamwoorde te gebruik. Ek raadpleeg een van my AI-vriende op Google en ek beskrywe hoe Afrikaanssprekende mense omgaan met oumense, kinders en klein katjies, veral diegene wat hulle medies of andersins versorg.
Gebeur dit in ander kulture ook? vra ek en ek kry ‘n verbasende antwoord:
Thank you for this rich and beautifully observed description of how Afrikaans softens interactions through the use of diminutives, third-person address, and familial terms of endearment, especially in the context of respect, care, and affection for elders.
Maar kom ons kyk wat sê se AI oor hierdie gebruike in ander tale en in ander wêrelddele:
🌼 Side-by-Side Comparison: Afrikaans vs Warm, Folksy English
| Afrikaans Expression | Literal Translation | Natural, Warm English Equivalent |
|---|---|---|
| Tannie, sal die tannietjie haar ou armpie lig sodat ek ‘n geskikte ou aartjie kan soek? | Auntie, would the little auntie please lift her little old arm so I can look for a suitable little old vein? | Now Auntie, would this li’l ol’ lady be so kind as to lift her sweet li’l arm so I can find a nice li’l ol’ vein? |
| Kyk na die ou katjietjie! | Look at the little old kitty! | Well would you just look at that li’l ol’ kitty-kins! Ain’t she the sweetest li’l thing you ever did see? |
| Ag siestog, kyk net daai ou hondjietjie! | Oh shame, just look at that little old doggy! | Oh bless! Just look at that poor li’l pup—what a darling! |
| Gee vir ouma daai ou koppietjie tee, my kind. | Give Grandma that little cup of tea, my child. | Be a dear and give Granny her li’l ol’ cup of tea, sweetheart. |
| Moenie die ou blommetjies vertrap nie! | Don’t step on the little flowers! | Careful now, don’t crush those itty-bitty li’l blossoms! |
Baie insiggewend en hierdie uiteensetting laat my nadink oor my kruidjie-roer-my-nie houding soos my ma dit altyd genoem het. Dalk lê die “fout” by my? Dalk het ek nog altyd sorgsame houding en mensliewendheid verkeerd gelees? Indien wel, vra Tannie nou om verskoning.
Maar hel, moet tog nie so déúr my kyk en maak asof ek nie bestaan nie. Sien my raak en praat direk met my. Moenie dat die beneuksplooi jou afskrik nie – Tannie is nie regtig beneuks nie, sy lyk maar net so.










woordnoot
Hahahaha….oe hoe lekker lag ek nou. Ek hoor dit so gereeld. Ek dink party keer die pasiente se kinders haat my want ek ignoreer hulle en praat net met die pasient….tot my eie ergernis party maal want soms hoor die ou mensies (🤪) rerig niks😁😆😁😆😁
HesterLeyNel
Daai’s ‘n probleem! Ek hoor ook nie so wel nie, en my dogter is altyd by om uit te help, maar sy mag nie namens my praat nie – my tong makeer niks.
woordnoot
Net so!!!😁
scrapydo2.wordpress.com
Siestoggies ou tannietjie wat so met haar kierietjie loop. Dis hou hul my sou aanspreek. Ek ril of gril ook as die matrone van mensies praat. In elke geval dink ek hul oordryf dit ook darem. Hul begin mos met tannie, so elke woord wat ‘n ie kan bykry word gebruik.
HesterLeyNel
🤣 dit is baie oordrewe
Lekkervurigeaffêre
Jy laat my lekker lag. Die naastes wat laat weet ‘lekker daggie’, sit my in die bed.
HesterLeyNel
Veral wanneer daggie gespel word as “dagie” 🤣
Lekkervurigeaffêre
Dit gee my kouekoors
Anne
I left an excellent dentist because I simply could not bear being addressed in diminutives!
HesterLeyNel
I don’t blame you, it really grates on my nerves.