My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Nuwe tydvak

Kakkiesrakkies

Collecting seashells on Southport Beach

As kind wat groot geword het in die sestigerjare, het ek my in ander mense se woonkamers altyd verwonder aan hulle “show cases”: versamelings van klein porselein ornamente; teelepels met dorpsname daarop uit alle uithoeke van die aarde; die gewilde blou Delft borde, fyn porselein teestelle waaruit niemand ooit tee gedrink het nie, silwer suikerbakkies en melkbekers. Op die kaggelrak was daar die pyprakke met die ooms se pype waaraan die tabakreuk nog gekleef het, en die Kerskaartjies van die vorige Kersfees. Op die hoektafels met fyn gehekelde lappies langs die groot bal-en-klou meubels was daar ry op ry silwer raampies met familiefoto’s wat sy aan sy gehang het saam met drie porselein-eendjies in vlug. Viniel plate-versamelings in die oopskuifkassie van die radiogram. Ensiklopedieë in die boekrakke. En, en …

Al hierdie dinge het my as kind gefassineer en ‘n hele Sondagmiddag besig gehou terwyl die grootmense tee gedrink het uit die tweede beste teestel, en bordjies vol koek verorber het. Ek was ‘n laat laatlam wat myself maar moes besig hou, want die ander mense se kinders was gewoonlik al groot en uit die huis, besig met hulle eie versamelings van moderne beeldhouwerk, musiek op kompakskywe wat hulle op groot hi-fi’s gespeel het. En, en …

“Kitsch” het ons dit in die ou dae genoem. Een van die bloggers wat ek in later jare leer ken het, het my vertel dat die mooi goedjies “kaggelkakkies” genoem word.

My ma was ‘n praktiese vrou wat gehou het van ‘n minimalistiese leefstyl. Skoon, oop ruimtes rondom die praktiese meubels in die groot vertrekke van ons huis. Niks of bitter weinig ornamente en skilderye. Dit kon dalk ‘n uitvloeisel gewees het van die feit dat ons baie kinders was en geld vir mooi goedjies aan die skaars kant.

Hoe dit ook al sy, ek het dieselfde pad as my ma gevolg waar dit by binneversiering gekom het. Die man waarmee ek getroud was, het ook die mening gehandhaaf dat al die mooi goedjies net die wêreld vol staan en stof vergader. Hy het selfs sy een tante “Antie Goedjies” genoem. Dit wat as onnodig en onprakties beskou is, is summier by die huis uitgesmyt. Ons het die laaste paar jaar van ons lewe gemaklik in ons klein huisie by die see in ‘n papierlose en goedjies-lose omgewing geleef. Die enigste goedjies wat ons versamel het, was die skulpies en “seekakkies” (so gedoop deur my dogter) wat ons op die strand opgetel het. Dit het ons in groot glasbottels gebêre en saamgebring toe ons uiteindelik terug getrek het binneland toe, na die ouer huis waar ons nou bly en wat ons besig is om op te knap.

Hierdie huis is anders. Die woonkamer wat ons so pas klaar gemeubileer het, is anders. Want … seekakkies. My kinders het besluit om my ‘n vry hand te gee met die inrig van hierdie vertrek, dalk om my besig te hou, dink ek. Ons het nog steeds swaar, bonkige meubels, sommige pasgemaak, sommige tweedehands, sommige reeds horingoud. Prakties vir gebruik, vir kuier en vir slaap voor die TV wanneer die moegheid jou oorval. Geen los matte waaroor die ou mense in die huis (dis nou ek en my tydgenote) kan val nie, groot oop spasies waarin ons met gemak kan beweeg, geen hoektafeltjies, “show cases” of kaggelrakke nie. Niks versamelings van enigiets nie. Met een uitsondering: ons het seekakkiesrakkies.

Want … daar was ‘n oop spasie teen die muur. En die seekakkies, wat van ons mooiste herinneringe na vore bring, het ‘n huis gesoek. Nie die hele versameling nie, net genoeg. Dus het ons seekakkiesrakkies soos jy kan sien op die foto hier onder (hulle hang nie skeef nie hoor? die foto is dalk wonky). Kyk:

In die heel boonste rakkie is daar onder meer my juwelekissie uit die see waaroor ek vantevore al geblog het. Nou reeds spierwit verbleik, maar ons raak almal oud en effens verbleik, nie waar nie? Ons is van plan om al ons skulpe uit te pak en weer in te vryf met baba-olie of dit te vernis, maar op die oomblik ontbreek die tyd.

In die tweede en derde rakkies is daar twee voorbeelde van die Cabestana-Africana-Furry-Ridged-Triton wat ons opgetel het op Southport strand in 2017 (foto heel bo). Ook nou verbleik en verouderd.

Op die derde rakkie tweede van links heel bo is die glad gepoleerde Cowrie-skulp wat my ma gebruik het vir haar stopwerk. Ons het heelwat van hierdie tipe skulpe opgetel in die tydperk wat ons aan die Suidkus gewoon het.

In die rakkie heel regs is ‘n groot skulp wat Karen gekoop het in 2010 toe ek en sy in Mauritius was.

Ek bewonder elke dag my rakkies. Ek kyk nou weer met die oë van ‘n kind en sien net die mooi raak. Kitsch? Kaggelkakkies? Nooit gesien nie. Ek laat nie my besittings so beskryf nie. Daar is net eenvoudig die drang om “goedjies” te hê, want dis hierdie dinge wat sekere herinneringe vars hou in jou geheue. Die hoef nie duur of modern of in die mode te wees nie – dit moet net vreugde bring.

  • Die teetrollie onder die rakkies is een wat my pa vir my ma gemaak het van die hout van ‘n mangoboom, amper 70 jaar gelede. Die houtbakkie onder op die trollie is een van die eerstes wat my pa op sy nuwe draaibank gemaak het in dieselfde tydperk.
  • Die geraamde tekening van blomme het Karen gemaak het meer as 30 jaar gelede.
  • My ou blogmaat, Buffelkie, sien jy wat staan en loer daar onder die blare van die Peace Lily uit? Daar op die laaikassie in die een hoek staan ‘n houtbeeldjie van ‘n Bali-eend ook nog onder ‘n ander Peace Lily, want dit was ook goeie dae, daar in Rebusfontein.
  • Op die koffietafel op ‘n glasbord word nog skulpies en ander voorheen lewende organismes uitgestal. Ook ‘n skaakstel wat my Kaapse seun baie jare gelede vir my as geskenk gegee het, hoewel ek lankal nie meer speel nie.
  • Op die daybed waarop die kwilt lê wat ‘n vriendin en buurvrou in KZN vir my gegee het, een wat sy self gemaak het, is daar tussen al die kussings een wat Karen vir my ma gemaak het toe sy in die ouetehuis in Meyerton was.
  • Die TV teen die muur het ek vir Jac gekoop in 2022, twee weke voor sy dood. Al die apps waarvan ek hou, is daar vir my beskikbaar.
  • Die kissie net onder die TV het ‘n buurman vir ons gemaak om ons gasbottel in weg te steek in ons huis by die see. Dit dien nou as wegsteekplek vir los drade en kragproppe.
  • Al die skilderye teen die mure het my oudste seun gemaak.

Ek is omring van herinneringe.

Follow Dis Ekke

26 Comments

  1. Hoe lekker kuier ek saam met jou deur jou onthoue en jou nuwe omte. Geniet alles liewe Hester. Die ou onthou en hierdie kosbare nuwe dae saam met jou krose. Mwah!

  2. Hester – dit is baie goed om weer van jou te lees 🙂 Ek kon jou eerste paragraaf self geskryf het – so het baie van die huise uit my kinderjare gelyk!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit het my oneindig gefassineer, hoewel ek onder my ma se kwaai blik nie gewaag het om aan enigiets te raak nie. “Kyk met jou oë en nie met jou hande nie,” was haar mantra.

  3. Leuk weer een bericht te lezen 😀

  4. Anonymous

    Heee Hester! Je bent er weer! Leuk weer eens wat van je te lezen, én te zien. Mooi praktisch en minimalistisch, met alleen dierbare herinneringen. Daar houd ik van. En ja: hier in huis kan dus veel weg…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Is dit jy Anuk? WordPress vertoon jou as “Someone”. Ons het onlangs na ‘n ander provinsie getrek en wanneer jy trek, raak mens gewoonlik van die meeste oorbodige besittings ontslae. Ons het baie onnodige goed agter gelaat.

  5. woordnoot

    Ag Hester!!! Jou nuwe tuiste is so mooi met al jou herinneringe! Ek dink ons almal het maar iewers daai sentimentele spokie wat iewers kop uitsteek! Dit lyk heerlik gasvry en klatervry, met n leeftyd daar deur geweef!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Woordnoot. Die nuwe woonplek is heerlik ongekompliseerd, maar ek hoop dis die laaste keer wat ek die Groot Trek moet aanpak 😁

  6. Wat ‘n wonderlike manier om julle seeskatte uit te stal. Jou kinders het geweet wat hulle doen toe hulle jou oor die woonkamer aangestel het 🥰

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Ja, die bedoeling was om vir ons elkeen ‘n eie ruimte skep en hierdie was myne, maar nou kuier ons in elk geval almal saam daar.

  7. Daardie woonkamer is jou heiligdom. Dit maak jou gelukkig en dis wat mens nodig het. Daardie herrinneringe(te veel r-re en n-ne!) is goud werd.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis waar Scrapy. Deesdae hou ons mos die meeste van ons herinneringe in die vorm van foto’s en blogs, nie iets wat jy kan uitstal nie! Jy het darem jou mooi scrapbooks en jou eie boeke.

      • Alles op oomblik gestoor, sug. Weet nie wanneer ek eendag weer daar gaan uitkom nie. Gelukkig het ek darem die kleinkinders en lewe hier op die plaas wat ek besig is om te plak en spoeg. Dit staan ook nou stil met my en my lusteloosheid. Wil baie doen maar uitvoer, aikona. Dis maar die Parkinson’s se siekte wat als vertraag.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het nie geweet jy is gediagnoseer nie. Sterkte daarmee. Jou twee kleindogters is seker al yslik groot en baie vermaaklik.

        • Diagnose in Februarie gekry. Die twee kleinkinders gee my baie plesier. Beatrix word 29 Des 8 en Amelia is vier en baie bekkig. Ek en Amelia is nogal geheg aan mekaar. Sy ontsnap huis en kom by my sit en speel.

  8. Dit lyk pragtig Hester! Ons is ook nou in ‘n kleiner huisie en het ook van baie onnodige goed ontslae geraak!

  9. Anonymous

    Dis ‘n mooi storie! Ek onthou die dae van Sondag middag kuiers en tweede beste koppies!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Someone. Deesdae gebruik ons Sondagmiddae om in te haal op agterstallige slaap / kantoorwerk of om die vloere te stofsuig. Dis ‘n groot jammerte.

  10. Hello, my dear Hester! What wonderful shells! And great design of the living room. Sorry for long absence in you blog. Keep in touch! Greeting from Paris! Maria🌷☕😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hi Maria. It is great to hear from you again. I don’t blog very often these days – too busy or too lazy, but every now and then I try to catch up. Keep well.