Die plan was om Dinsdag te ry tot in die Kamiesberge, waar ons ingeboek was in akkommodasie net buite Kamieskroon. Ons is vroegoggend weg uit Die Posmeester se huisie daar in Citrusdal.
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/1-Citrusdal-1024x768.jpg)
Terug op die N7 kon ons sien dat daar heelwat blomme in die veld was, maar die hulle het nog nie oopgemaak nie. Die beste tyd om blomme te kyk is tussen 11:00 en 15:00. Nader aan Vanrhynsdorp, net voor 11:00, het ons ’n bietjie verpoos en in die veld rondgeloop om die geel madeliefies van naderby te beskou.
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/2-En-route-to-Vanrhynsdorp-1024x768.jpg)
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/3-En-route-to-Vanrhrynsdorp-1024x768.jpg)
In Vanrhynsdorp het ons besluit om iewers koffie te gaan drink. Vlakby die ingang van die N7 tot in die dorp het ons twee pragtige kokerbome gesien (foto heel bo). As ek moes skat, sou ek sê hulle is naby aan ’n eeu oud en baie indrukwekkend. En toe kon dit nie hoër of laer nie, ons moes eers die bekende Kokerboom Kwekery gaan besoek. Vergeet van koffie en ontbyt, daar is eetgoed in die motor.
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/5-Kokerboom-kwekery-1024x768.jpg)
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/6-Kokerboom-kwekery-1024x768.jpg)
“Ek ry nie weer met ’n kokerboom op my skoot rond nie,” waarsku ek, gedagtig aan ons blommetoer in 2010 toe ons van hierdie einste kwekery af ’n kokerboompie per bus en per trein vervoer het tot in Gauteng. Maar ek het nie nodig gehad om my te bekommer nie – hierdie kwekery stuur deesdae sommer jou bome per koerier aan. Toe ek weer sien, word kredietkaarte uitgepluk en elke spruit het twee kokerbome aangeskaf. Oudste wil ook nou toetree tot die kokerboomgarde en dis oukei met my. Sy twee gaan Johannesburg toe.
Maar wat nou Karen, ons hét dan reeds twee kokerbome wat ek as geskenk vir Moedersdag gekry het daar in KZN? Maar ma verstaan nie, hulle verkoop twee soorte kokerbome hier – die gewone Namakwalander en dan die kruising tussen die Namakwalandse kokerboom (aloidendron dichotoma) wat een kroon het, en die Namibiese kokerboom (aloidendron ramosissima) wat meer as een kroon vorm. En ons wil mos albei hê. Wil ons? 😏Toe ek laas gekyk het, het ons in ’n huis gewoon met bykans geen tuin nie. Ja, maar ma verstaan nie, hulle kan jare lank in potte groei, want hulle groei so stadig. O. Nee dis oukei, dit lyk asof ma (’n gebore en getoë Namakwalander) nie altyd meer so goed van begrip is nie, maar ma is ook nie die een wat die potte gaan ronddra nie, so gaan maar voort. En net vir jou inligting, ek ken ook die verskil tussen die twee soorte – die Namakwalander groei regop soos ’n boom en die Namibiër wat algemeen is in die Richtersveld daar bo teen die grens van Namibië, maak meer van ’n bos. En ek weet hoe stadig hulle groei. Tsk.
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/8-Rasegte-Namakwalander-768x1024.jpg)
![](https://www.hesterleynel.co.za/wp-content/uploads/2023/09/7-Namibiese-kruising-1024x768.jpg)
By die winkeltjie koop hulle vir hulle ma ’n paar potjies jam. As ma begin vrae vra, koop jy vir haar ingelegde groenvye, fyn vye-konfyt en makataanstukke. Dit hou haar gelukkig. Dis nou 12:00 en ma is ietwat honger, so dalk kan ons nou daardie koffie en iets te ete gaan kry? Toe nie, maar ek vertel later meer.
Lekkervurigeaffêre
Ek reis lekker deur jou onthou. Daai foto’s is mooi. Geniet die soetigheid en die kokerbome. 💝
HesterLeyNel
Dankie, ek waardeer hulle pogings om my gelukkig te hou 😊
perdebytjie
Daardie twee ou kokerbome is fantasties mooi! Dankie vir die kykie deur jou oë.
HesterLeyNel
Is dit nie? Ek het ‘n vermoede dat die een regs ‘n cross border kruising is, hy het beslis ‘n eienaardige vorm.
woordnoot
Dit is nou baie interessant en dit klink my soos n groot jolifikasie vakansie
HesterLeyNel
Ja, dit is ‘n voorreg om hierdie tyd saam met my kinders te spandeer terwyl ek so terugloop op die spore van my kinderjare. Hulle het nog nooit die blomme gesien nie en natuurlik is daardie gebied en sy besondere mense vir hulle ‘n hele nuwe ervaring.
Anne
Hoe heerlik is dit om met jou kinders te wees!
HesterLeyNel
Dit doen ‘n mens goed om die interaksie tussen die sibbe dop te hou en natuurlik is dit heerlik om hulle by my te hê.
scrapydo2.wordpress.com
Al wat ek kan sê: Heerlik, heerlik. Dis so lekker om bietjie terug te dink aan hoe dit was en nou is ook.
HesterLeyNel
Dis waar Scrapy. Soms is ‘n mens bang vir teleurstelling wanneer jy so terugloop op jou eie spore, maar die jonger geslag sien alles in ‘n nuwe lig en help bou aan nuwe herinneringe.
scrapydo2.wordpress.com
Baie waar. Ek en sus Tina het in 2010 toe ons teruggekom het van Zimbabwe besoek op ons ou jong kind skoolpad gery. Ook waar ons al die jare gebly het. Die skooltjie het nie veel verander behalwe dat daar n muur om grond was met toesluit hek. Ons huis kon mens nie meer sien van pad. Alles is vol bome geplant en hele omgewing se plotjies het almal hierdie uitgesoekte (rykman) huise en perdestalle. Niks geen weiveld of enige veld meer nie en tog was die ou grondpaadjies nog steeds dieselfde.
Bondelsgedagtes
Wat ‘n belewenis. Dis heerlik om jou avonture nee te maak. Dankie
HesterLeyNel
Dankie vir die saamlees en saamreis Bondels.