Geskenke vir Moedersdag lewer gewoonlik verrassings op, maar ’n kokerboom, eintlik twee van hulle, het sowaar my stoutste verwagtinge oortref.
Ek is baie gelukkig in die omgewing waar ons nou woon, so by die see en in ’n warm klimaat omgewe van groen bome, bosse en struike wat die uitsig verfraai. Die uitsig, ja, so oor die oop see en alles is pragtig … maar soms, wanneer die nimmereindige reën te veel raak, maak ek my oë toe en sien wyd uitgestrekte vlaktes, klipkoppies, bome en plante wat droogtebestand is, en skoon oopgetrekte blou lug waar wolke ’n skaarste is en reën nog skaarser.
Ek het in Namakwaland grootgeword.
My kinders weet hoe ek terug verlang na my kindertyd se omtes, en hulle weet ook dat ek heelwaarskynlik nooit weer daardie omgewing sal besoek nie. Op my ouderdom is so ’n ver reis ’n pynlike ervaring, in meer as een opsig. Dus het hulle die tweede beste ding gedoen en my wêreld na my toe gebring as ’n geskenk vir Moedersdag.
In 2010 het ek en Karen ’n kokerboomwoud besoek en ek was verslae oor die vernietiging van hierdie pragtige bome wat ek daar gesien gesien het. Karen het summier besluit om vir haar ma ’n kokerboompie aan te skaf. Ek het hieroor geblog in 2014.
Helaas het daardie boompie nie oorleef in Gauteng nie. Hierdie keer was sy vas van plan om ’n meer suksesvolle poging aan te wend. Ná weke van sameswering tussen die sibbe, geheime oproepe en WhatsApp boodskappe, was daar twee kokerbome op pad.
Die Koms Kokerboom Kwekery daar naby Keimoes spesialiseer in die kweek en behoud van beskermde flora. Die kokerboom, wat tot 300 jaar oud kan word, word tans bedreig deur klimaatsveranderinge. Die kokerboomwoude is besig om uit te sterf vanweë droogte en ongekende hitte.
Vyf dae lank het die twee boompies per vliegtuig en per koerier oor ver paaie gereis om betyds hier te wees vir Moedersdag. Groot was die verligting toe hulle perdfris en gelukkig hier opgedaag het. Twee van hulle, ja – ’n “heir” en ’n “spare” sê Karen. Soos wat die Ingelse koningsgesin dit doen.
Maar nou moes ons skarrel vir die regte potte en grondmengsel waarin hulle gelukkig kan groei: riviersand, klippe en klipperige tuingrond vir goeie dreinering; beenmeel en kompos vir kos. En fyn kaneel. Ja, wanneer jy ’n kokerboompie oorplant, sprinkel jy fyn kaneel oor sy wortels voordat jy hom in die aarde plaas – dis beter as enige ander groeihormoon. Dan sit jy hom in die son neer en sorg dat daar geen water op sy kroonblare val nie, is die instruksies wat ons ontvang het. Jy gee hulle water by die wortels, en ook nie te dikwels nie. Kokerbome groei op klip, twee sandkorrels en ’n mondvol spoeg in hulle natuurlike staat, maar hierdie outjies is gekweek van saad, het grootgeword in ’n kwekery en is nou in ’n plek waar hulle eers moet klimatiseer. Hier moet hulle goed beskut word teen reën en hulle moet genoeg son kry.
Jip, Karen gaan vir ’n baie lang tyd nog die boompies moet ronddra 😜 Hulle word taamlik groot ook. Wonder wat gaan sy doen wanneer hulle groot is. Ek skat hierdie outjies so tussen 3 en 5 jaar oud en gelukkig groei hulle stadig. In hulle natuurlike omgewing blom hulle eers ná sowat ’n dekade of langer, ook net in goeie reënjare. Ek weet nie of ek lank genoeg in die rondte gaan wees om hierdie twee se blomme te sien nie, maar ek hoop my kinders sal die skouspel van vagte geel blomme waardeer en aan hulle ma dink wanneer hulle dit sien.
Dankie vir my pragtige Moedersdag geskenk.
Lekkervurigeaffêre
Dis nou spesiaal. 💝🌻
HesterLeyNel
Ja, dit is.
Bondelsgedagtes
Kosbaar. Sterkte met die reën en paaie en goete daar
HesterLeyNel
Dankie Joey. Die son is darem weer uit vandag, ons hoop dit gee ons kans om droog te word.
Anne
Wat ‘n mooi en oorspronklike geskenk vir jou! Daar is baie liefde hierin en jy sal dit elke dag kan onthou.
trommeltjies
Geniet hierdie besonderse geskenk.
woordnoot
Wow!! Kokerbome is ongelooflik mooi. Jy is voorwaar geseënd om twee te kry. Geniet dit.
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot, dit was ‘n welkome geskenk 😊
scrapydo2.wordpress.com
Dis nou ‘n besonderse geskenk. Ek hou duime vas dat hul albei baie jare van vreugde vir joy gaan bring.
HesterLeyNel
Dankie Scrapy 💕
ekmyselff
Wow dit is spesiaal, al die moeite om dit by jou (betyds) te kry… heng ek het nooit besef hulle groei SO staig nie.
Mag jy hulle sommer baie geniet.
HesterLeyNel
Dankie ekmyselff. Ja, as ek nou terugdink, besef ek dat ek nooit ‘n klein kokerboompie in die natuur gesien het nie. Seker maar nie opgelet nie. Ek kan nie glo dat hierdie outjies van saad af gegroei het nie. Dis so spesiaal.