My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ons kuier by die inwoners van Rotspoel nr. 1, Anerley

Rotspoel langs die Anerley getypoel

Rotspoel nr. 1 is geleë reg langs die getypoel in Anerley, die kusdorpie net so skuins anderkant Southport.

Ons loop dikwels tussen die twee strande en spring gou in een van die getypoele wanneer ons te warm kry. Dis goeie oefening en die omringende strandgebied is van die mooiste aan die Suidkus. Die weer wissel op die oomblik tussen sweetwarm en wikswarm wat dit natuurlik die ideale tyd maak om in die water rond te dryf, of ten minste net met jou voete in die water te kan stap.

Ons seewater is gewoonlik nie juis koud nie, maar gisteroggend was ons baie vroeg reeds op die strand. Die water was effens te fris vir swem, maar die gety het pas gedraai en die uitgaande gety het baie rotspoele blootgelê. Ons het die wonderlike kombinasie van die warm opkomende son, die koel sand op die strand en die effense knyp in die water terdeë geniet, maar het verkies om liewer nie in die branders of die getypoele te spring nie. Die rotspoele se water is gewoonlik warmer en ons het gesoek na ’n plekkie waar ons net halflyf in die water kon sit.

Die rotspoele dien ook crèche vir die klein vissies wat ons met ope arms verwelkom en aan ons tone begin knibbel het. Hulle kaperjolle sorg vir baie vermaak en ons het heel gou die selfoon uitgepluk om hulle af te neem. Natuurlik is dit nie net vissies wat daar hou nie, daar is vele ander inwonertjies ook. Jy moet net mooi kyk. Hier is ’n lekker speletjie: kyk of jy die krappie kan vind in die foto hier onder.

Teen die klipmuur wat die rotspoel skei van die getypoel, was daar ’n interessante kolonie lewende wesentjies – ons weet nie regtig of hulle as seediere of deel van die planteryk geklassifiseer word nie. Vir my het dit gelyk soos nagemaakte krismisboompies.

Ons het ’n paar video’s geneem. Nie die beste kwaliteit nie, want die son het op die water geskyn en jy kan dit maar sonder klank luister.

Kyk hoe vinnig verdwyn die boompies wanneer jy aan hulle probeer raak. Ons het gewonder of dit die manier is waarop klein vissies of stukkies kos gevang en in die pypie ingesuig word.

Wanneer hulle dit veilig ag, steek die koppies weer versigtig uit. Kyk hoe vinnig “groei” hierdie boompie weer (in die boonste derde van die video).

Hou dop hoe die outjie se “hare” rondbeweeg as ek daaraan raak. En kyk die klein vissies (hier onder links op die skerm) wat nuuskierig kom ondersoek instel 😁

Is dit nie oulik nie? Awww.

Ek vind dit altyd aardig om te sien hoe die meeste vakansiegangers langs die strand uitspan onder groot sambrele met koue biere (nie toelaatbaar nie, maar wie gee om?) en sonbrandmiddel wat so mildelik aangewend word dat jy dit myle ver kan ruik. Baie van hierdie mense sit nooit ’n voet in die seewater nie, maar gaan darem huis toe met ’n indrukwekkende sonbrand.

Jy kan daai in jou tuin doen! Loer volgende keer ’n bietjie by die rotspoele in 😜

PS Het julle opgelet dat ek dat ek die hele blog deur in verkleinwoordjies gesels het? 🤔🤔🤔 Ek het dit so pas agtergekom toe ek dit vir oulaas deurgelees het 😏 Oeps!

Follow Dis Ekke

23 Comments

  1. Ek het nou so lekker saam met jou in die poeletjie met die boompies met die vissies en die storietjie oor die vissies wat die kossies soek, gekuier.🤣🐟🐟

  2. Jou bloggie het kleintjies liefies geraak toe jy crechė geskrywe het…

  3. Lekker geloertjies na die vissies en boompies in pypies saam met jou😉🤗

  4. woordnoot

    En daar wys jy hoe mooi die seelewetjie is. Geniet elke

  5. Oh, dat wil ik hier ook, van die rotspoeletjes, met beestjes en boompjes en mooie kleurtjes!

  6. Hester, die goedjies waarvan jy praat, is REGTIG klein. So die verkleinwoorde is reg. Net gister het my man groot oë gemaak toe iemand vir my ons “adressie” vra – want hy wéét hoe ek daaroor voel, en wou ‘n tirade keer.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😁 ek is ook glad nie beïndruk met hierdie manier van praat nie, maar kyk hoe maklik val ek toe in hierdie slaggat – kon nie help om te lag nie.

  7. Jinne ek het die blog geniet! Elke vidio en om al die detail so te beleef was asembenewelend. En toe laat jy en al die kommentare my lekker lag. Ek verlang nou erg see toe

  8. Dankie vir die heerlike kuier! Rotspoeletjies lê my so na aan die hart, veral die Natalse suidkus s’n….

  9. Ek is ook defnitief nie een van die son sitters nie, hou baie van rotspoele. Daar is altyd baie om te ontdek.