Liewe dagboek. Ek is so bly gister is verby. Dit was net een van daardie dae wat ek nie graag wil oorhê nie. Nie dat dit erger was of ernstiger probleme opgelewer het as ander gewone dae nie, dis net dat sommige dae bietjie erger voel as ander omdat ’n mens nie geestelik en emosioneel daarop ingestel is om so ’n dag te beleef nie. Ek het al veel erger gisters beleef en oorleef. Daar sal nog van hulle in my toekoms wees, maar …
En daar het jy nou my verskoning hoekom ek nie gister in jou geskryf het nie. Dis die verdomde hond wat my huiswerk opgevreet het. Jammer daaroor. Weer ’n keer.
Ek het vroeg wakker geword. Dis die probleem met hierdie Natalse somers – hoe verder die somer vorder, hoe vroeër word dit lig en wat doen jy nou in die bed (alleen) wanneer jy nugter wakker is, en dors, en die natuur roep. Jy staan op. Ek het opgestaan en die ketel gaan aanskakel en toe onthou dat ek die yskas al eergister wou skoongemaak het, want vandag (dis nou my gister) is dit tyd vir inkopies. Toe rol ek my kamerjas se moue op. Ons moet die wifi-router laat instel in Shelly Beach en kan net so wel my kredietkaart gaan skade aandoen.
Dit was ook die dag wat ek al half-agt by die kliniek moes wees vir my inspuitings wat my hormone en vitamines en kalsium en wat nog alles aanvul. Dis seer inspuitings, vat nou maar my woord daarvoor. en dis een keer ’n maand se ding. En die suster raas met my omdat die naalde so moeilik ingaan – ek moet die ‘lumps’ behoorlik masseer sodat die naalde makliker kan ingaan. Nou hoekom is daar ‘lumps’, want my huis is ’n massage parlour in eie reg. Elke persoon wat verbyloop en niks beter het om te doen nie, kry ’n beurt om my seer boude te masseer. Een hele week elke maand.
Net ná agt was ons alweer op die tolpad. Daar is twee inkopiesentrums in Shelly Beach en gister het ons albei van hoek tot kant platgeloop. Daarvandaan het ons nog ’n paar winkels besoek, nie binne die sentrum nie en ook nie in dieselfde dorp nie. Op pad huis toe ry ons gewoonlik deur Marburg, Port Shepstone, Tweni, Sea Park, Southport tot ons alles op die inkopielys platgedraf het. Glo my, inkopies saam met my dogter is Oefening met ’n hoofletter.
Terug by die huis moet al hierdie goed nog uitgepak word en dan, dan moet daar kantoorwerk gedoen word. Gister (my eergister) s’n wat nie klaargekom het nie en dan vandag (my gister) s’n. En dis nou hangry hour – my etenstyd het gekom en gegaan, my kop is seer en my moermeter is moer toe. Toe Peskom vyfuur die ligte afgesit het, het ek met ’n sug van verligting in die bed klim en geslaap tot lank nadat die krag weer aangeskakel is. Ek het rondgekyk, hoofpynpille saam met my tee gedrink en teruggeduik in die bed waar ek dwarsdeur die nag geslaap het.
So jy sien liewe Dagboek, daar was eintlik niks wat ek oor my gister kon vertel nie.
Vanoggend was ek vroeg flink uit die vere, die hoofpyn weg, die boude nie meer so seer nie … en ek besef dat die vuilgoedsakke nie gister gepak is nie. Dis laat, die vuilgoedlorrie is op pad. Daar is ook (alweer) nie water in die krane nie, Ons het gister ’n waatlemoen gekoop wat afgeskil moet word sodat die skille saam met die lorrie weggery kan word, anders gaan die vrugtevliegies ons opvreet. En Peskom se skedule sê die krag gaan oor ’n uur af.
Maar toe Karen daardie waatlemoen oopsny, vergeet ek van al die dinge wat my gister geïrriteer en frustreer het. Die waatlemoen het ’n grasgroen skil, die vleis is bloedrooi en krakerig vars, die pitte pikswart … en ek verdwyn terug deur tyd na die gister van my kinderdae toe. Daardie waatlemoene wat ons gekry het van Vioolsdrif se plotte af was net so groen, so rooi, so suikersoet en ons het sommer die gladde pitte ingesluk ten spyte van die oumense se waarskuwings dat daar waatlemoenranke in ons mae gaan groei. Gister se oumense het baie strooi gepraat, dit het ek gister al geweet, toe ek nog klein was.
Waatlemoentyd was feestyd in ons huis. Die bure het ook kom saameet, want my pa het in grootmaat gekoop en ’n waatlemoen kan jy nie te lank bêre in ’n warm klimaat nie. My pa het altyd daardie lang waatlemoen in skywe gesny en uitgedeel onder die kinders. Dan het jy die skyf so van een punt na die ander voor jou mond verby geskuif asof jy bekfluitjie speel. Die grootmense het nie lang skywe gekry nie, nee hulle waatlemoen was sulke ronde sirkels wat op ’n bord bedien is met ’n mes. Die ‘kroon’ het my pa dit genoem. Hoe vervelig. Totdat ek eendag op sy skoot gesit en ’n stuk van sy kroon gegaps het. Toe eers het ek besef dat gister se oumense die kinders lelik verneuk het – die kroon was die lekkerste deel van die waatlemoen!
Onthou julle nog gister van lank gelede se waatlemoenfeeste? Teen deesdae se pryse mors jy nie so met waatlemoen nie, maar ek mis die pret van ons hoërskool- en studentedae.
In ons huis sny ons die waatlemoen in ronde wiele wat net-net op ’n groot bord inpas. Dan eet jy daardie skyf so van die buitekant af binnetoe. Vanoggend se waatlemoen was sekerlik die lekkerste waatlemoen wat ek geëet het sedert ek gister, sestig+ jare se gister, Vioolsdrif se vrug die eerste keer geproe het. Hemels. Dit wat ons nie kon eet of in die yskas akkommodeer nie, het ons vroegoggend aan die bure uitgedeel.
Die res van hierdie dag was niks om oor huis toe te skryf nie, of dalk kan ek net niks onthou nie, want ek het verdwaal in die gisters van jare gelede. As iets my byval, sal ek môre vertel.
Tannie Frannie
So groen soos gras, so wit soos was, so rooi soos bloed, so suikersoet – raai-raai, wat is dit? 😍
HesterLeyNel
Ek het daai een al vergeet Frannie 😍
Abrie Joubert
en so swart soos roet die pitte. Maar dit kon oon mygesig wees p laerskool van die venster uitstaar met die Garratt stoomlokomotiewe wat hef aan op die jaarlikse treinpelgrimstog na Hartenbos
HesterLeyNel
Haha, ek ken dit Abrie. Ons het stoomloko’s gery daar van Bitterfontein tot in die Kaap en dan moes ons eers ‘n bad huur op die Kaapse stasie (ja, jy kon dit doen in die ou dae!) om jou skoon te skrop voordat jy jou bestemming bereik.
Tannie Frannie
Hier is jy! Ek het van die pitte vergeet, dankie. Ek lees heimwee na daardie kinder- en vakansietyd…
Abrie Joubert
Ek het natuurlik as jong kind, nie verstaan waarom daar na so swart so roet verwys is nie. Op daardie stadium het die waatlemoene wat ons in Transvaal gekry het wit pitte gehad.
Anne
Die eerste naweek van elke jaar by ons koshuis op skool het ons ‘n waatlemoenfees gehou: lekker aan die vrugte ge-eet (ek kan nie deeltekens maak nie) en dan het die gevegte tussen die seuns en die meisies begin. Ons hare het styf gevoel van die sap, maar ons het almal lekker gelag en aan die einde van die aand het ons almal mekaar goed leer ken 🙂
HesterLeyNel
Ek het altyd gaan wegkruip. Ek het baie lang hare gehad – my pa het my nie toegelaat om my hare te sny voordat ek in st. 8 (graad 10) was. Daardie taai gevoel op my kop 🙈
Bondelsgedagtes
Sjoe hoe lus ek nou daai kroon… Mense!!
HesterLeyNel
Heerlik nè? 😁
Bondelsgedagtes
Vandag is die dag wat ek een gaan koop😁
HesterLeyNel
Ek hoop jy tref dit ook gelukkig en kry ‘n lekker een!
Abrie Joubert
Ja die waatlemoenfeeste was ‘n taai gemors, maar ook ‘n verskoning om aan ‘n meisie te vat!
HesterLeyNel
Is ook so nè? Toe is daar nog nie so openlik gevat en gevryf in fie publiek nie.
Positief
Water my mond dan nou vir waatlemoen
HesterLeyNel
Een van my gunstelingvrugte 🍉