My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Om te beplan vir ouderdom en dood is traumaties

sign pen business document

Photo by Pixabay on Pexels.com

Ek begin dink dis baie moeite om dood te gaan. Aan die ander kant mag dit dalk meer moeite wees om baie oud te word.

Nee, ek is nie van plan om myself uit die weg te ruim nie, ek praat nou sommer oor die geite en skete van ouderdom waarvoor ek voorsiening moet maak en ook boedelbeplanning. Laasgenoemde is ’n pyn in die gat; ek het nooit gedink dat dit soveel moeite sal wees of soveel drama sal oplewer om behoorlike beplanning vir jou eie dood te doen nie. Hierdie voorbereidings neem nou nie eens emosionele trauma in ag nie – dit gaan nou net oor die wetlike aspekte, die voorlegging van dokumentasie en ander reëlings.

Ná die onlangse afsterwe van ’n familielid, het ek ’n vraelys van haar eksekuteur onder hande gehad, en die opdragte in verband met dokumentasie wat ingelewer moet word. Dit het my laat besef dat ek liewer moet begin kyk na my eie dokumentasie wat in ’n harwar is. Mensig, wat ’n enorme taak! Ek het halfpad deur die vraelys al ’n Excel werksblad begin opstel vir my mense om hulle te herinner waar my testament, polisse, motor se registrasiedokumente, egskeidingsbevel, ens., is.

Dis nou nadat ek wild en wakker gesoek het na Pandosie se registrasiedokumente, totdat ek besef het dat ek dit nooit opgeëis het by die bank nadat daai dosie afbetaal is nie (’n dekade gelede). Gelukkig was dit nog die bank se besit.

Toe sien ek die eksekuteur verwag dat my oorspronklike egskeidingsbevel ingedien moet word (geen probleem) PLUS die oorspronklike skikkingsakte wat ek lankal opgeskeur en weggegooi het. Dis ‘n triestige storie van die verdeling van bates ná ’n huwelik van 16 jaar – nie die soort inligting wat jy wil laat rondlê nie. Maar nee, die eksekuteur wil sien of ek nie dalk nog geld skuld aan my gewese man of my minderjarige kinders nie. Die kinders is lankal middeljarig, maar dit maak nie ’n verskil nie, hulle wil nog steeds die dokument sien. Ek moet by die Hooggeregshof in die Kaap waar ons geskei is, aansoek doen vir ’n oorspronklike afskrif. (Is oorspronklike afskrif nie ’n oksimoroon nie?) Ek het aansoek gedoen – weke gelede al en wag nog steeds. Burokrasie. Moet nou regsadvies kry oor hierdie saak. Ek is darem gelukkig dat die gewese man nog leef en in my huis woon, want as hy reeds dood was, sou ek ’n oorspronklike afskrif van sy doodsertfikaat by Binnelandse Sake moes gaan kry. Wat doen vrouens wat met meer as een man getroud was – bêre hulle oorspronklike afskrifte van al die egskeidingsbevele, skikkingsaktes en doodsertikate van hulle vorige lewensmaats?

Die polisse (wat onder meer moet betaal vir my dood en verassing) was in orde, behalwe dat ek in sekere gevalle nagelaat het om begunstigdes te benoem. Blitsvinnig vorms gekry, die genomineerdes se inligting bymekaar gekry en die getekende dokumentasie weer afgestuur om seker te maak dat die geld nie in die boedel beland nie, want ’n boedel kan lánk vat om afgehandel te word.

Dis net enkele van die danspassies wat ek moes uitvoer. Daai vraelys vir die eksekuteur bevat 39 vrae en voorskrifte oor dokumente. Nou is al die nodige oorspronklike dokumente in een lêer en die res is op my rekenaar, met afskrifte in die wolkie gebêre, alles in een lêer.

Maar toe begin ek verder dink – wie moet almal in kennis gestel word van my dood (behalwe die lykbesorger)?

Die eksekuteur, my bank waar my persoonlike rekeninge is, die bank waar ons besigheidsrekening is, my pensioenfonds, my mediese fonds, die belastinggaarder. Almal met wie ek kontrakte het: Telkom (telefoon en internet), SABC (tv-lisensie), die Landlord (huurkontrak), die versekeraars (kort- en langtermynversekering). Die mense vir wie ek geld skuld (bv. my klererekening) en diegene wat my geld skuld (sal nie voorbeelde noem nie). Onthou al die plekke waar ek “loyalty cards” hou – die punte moet geëis word. Elke sent tel. My mediese fonds, dokters, die apteek en die laboratorium waar my bloedtoetse gedoen word – hulle moet uitstaande gelde eis by die eksekuteur. Onthou om my sosialemediarekeninge toe te maak (facebook, instagram, twitter, wordpress, whatsapp – maar laat weet net eers vriende en vyande voordat jy toemaak). Die biblioteek: onthou om my uitstaande boeke en my kaartjies in te handig. As jy dalk my kar wil verkoop, onthou T Motors het ’n volledige diensrekord. Kyk na my laaste Lottokaartjies – dalk het ek iets gewen.

Daar is nog baie sulke opdragte – die dinge waaraan ons nie elke dag dink nie. Dit gaan net aan en aan, hierdie lys kry nie einde nie. Ek sou nooit voorheen daaraan gedink het dat my dood soveel (wetlike) ontwrigting kan veroorsaak nie. Ek lei dan so ’n eenvoudige lewe.

My ma het ook sulke bekommernisse gehad, hoewel sy ook nie veel aardse besittings gehad het en haar dokumentasie alles in orde was voor haar dood. Ek het haar gereeld geterg deur te vra “Is Ma dan alweer besig om dood te gaan?” wanneer sy verneem het of al haar sake in orde is. Nou sien ek my kinders se whatsappgesprekke wat gereeld vra “Wat doen ons ma vandag? Is sy nog steeds deurmekaar met haar dood?” Karma!

Die ander uitweg is natuurlik om so oud as moontlik te word – ten minste totdat al die doodsdokumente in orde is. Maar dit kan dalk meer traumaties wees, want gaan ek op hoë ouderdom nog onthou hoe om my eie bankrekening te bedryf? sal my erfgename weet waarvoor my mediese fonds alles betaal? sal hulle weet watter pille ek elke dag moet drink? sal hulle onthou om my rekeninge te betaal? sal hulle my motorlisensie betyds hernu? Trauma, trauma.

My Excel werksblad het nou ’n tweede afdeling met die nodige inligting om my te versorg wanneer my gedwagtes begin dwaal. En die wagwoorde vir al my aanlyn apps is in my dogter se besit. Sy weet hoe my bankrekening werk, het tekenregte op my rekeninge en volmag om my sake namens my te bedryf.

Noudat die meeste van my eie inligting bymekaar is, het ek begin om dieselfde te doen vir my huisbewoners. Sug … hier begin die drama weer alles van vooraf.

Follow Dis Ekke

37 Comments

  1. Maggies, Hester, ek gaan jou blog sommer stoor onder “Wenke” op my rekenaar! Jy het die dinkwerk namens ons gedoen, ons kan nou net volg. Oor die wagwoorde kan ek boekdele skryf. Praat van ‘n warboel! Dit is op los papiere wat my wederhelf, wat baie sistematies is, die mure uitdryf.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, mens skrik nogal wanneer jy eers begin dink hoe jou erfgename gaan sukkel om alles agtermekaar te kry wanneer hulle jou moet versorg in hoë ouderdom of wanneer jy te sterwe kom.

  2. Jaren terug heb ik een testament laten maken.
    Verstopt onder heel veel papieren lig dat ergens.

    Het andere waar jij overschrijft?
    Ook verstopt of verscheurd of kwijtgeraakt.

    Mij er nu nog eens mee bezighouden? Nee, liever niet!

    Sterkte met het vervolg bij jou.

    Stille groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rob. Dis dalk beter om maar weer ‘n testament te maak en dit veilig te bewaar (my oorspronklike is by die bank), want anders sal die mense wat agterbly baie sukkel om jou boedel af te handel.

      • Ik meen dat er in Nederland een algemene verzamelplek bestaat voor testamenten.
        De notaris is er voor verantwoordelijk.

        Maar het fijne weet ik er ook niet van.

        Stille groet,

  3. Anonymous

    LOTS to think about here, Hester. You have given me a jolt.

  4. En ek dog ons goete is agtermekaar!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek het ook so gedog, maar jy weet wat het gedog gedoen, né? 🤔 Ek behoort aan ‘n groepie op faceboek waar wetsgeleerdes elke dag raad gee oor verskillende sake en dit is opmerklik hoe baie keer mense (die wat agterbly) met hulle broek om die knieë gevang word wanneer ‘n boedel beredder moet word. Deeglike voorbebreiding aan die kant van die erflater kan soveel drama voorkom.

  5. Onlangs, kon ek darem ook ‘n behoorlike testament laat opstel, wat vir my, groot verligting, besorg het. Sommige mense, het die siening, ons steur ons nie daaraan nie, die oorlewendes, moet maar sie kom klaar. Mens, wil tog maar, vir hulle, die proses so maklik moontlik maak.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek voel ook so Danie, want om deur ‘n rouproses te gaan en terselfdertyd te sukkel met die frustrasie van onsekere geldsake, is meer is wat van enigiemand verwag kan word.

  6. Toe ek nog op die plaas gebly en gewerk het, het baas se man mos so ontydig heen gegaan. Baas het niks geweet van sy goete en dit het my dae en weke geneem om sy bankstate te ontleet om sy sake uit te vind. Alle aftrekkings het ek opgevolg deur nommers of verwysing af te skryf en dan die maatskappy hoofkantoor te bel en vra, wat beteken die nommer, waarvoor is die aftrekking ens…dit het my toe laat besluot om my goed reg te kry. Ek het ook ‘n leer in my boekrak met als, tot checklist wat hulle moet doen as hulle my eendag hier iewers kry lê… maar as ek so na jou skrywe kyk, het ek paar goed gemis… Sal maar weer daardeur moet gaan. Dis genoeg om mens moeg te maak…..

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis goed dat jy aandag geskenk het hieraan Bondels, want ek lees so dikwels van die bereddering van boedels wat jare lank sloer. Die eksekuteur kan ook net werk met die inligting tot sy beskikking en hy moet rekenskap gee aan die Meester van die Hooggeregshof. Dis ‘n omslagtige proses.

  7. Dit is maar ‘n nagmerrie as mens dit so kan beskryf as daar nie regtig orde is nie. Die belangrikste is maar dat elke persoon in testament benoem word en wat hy kry. Die bemaking van polisse aan my het my lewe/geldelike omstandighede vergemaklik omdat daardie bietjie geld nie in die boedel gaan nie. Daar kom jare later nog eise van plekke wat nog nie betaal is nie. Gelukkig word dit na ‘n tydperk afgeskryf as daar niks in boedel was nie. Sterkte, ek moet ook daardie medisyne en hulp vir my oudag beplan en aanteken sodat ek nie sommer net “alleen ” hoef aan te gaan as ek nie meer na mself kan omsien nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Mens staan verbaas as jy ‘n bietjie navorsing doen en agterkom hoe ingewikkeld ‘n boedel regtig kan raak.

      • Nou praat jy. Omdat mens nie ‘n ekspert is nie is daar baie skuiwergate wat opduik en uitgesorteer moet word.

      • Ek het al heel party vriende gehad wat oorlede is en daardie uitsortering is regtig iets onbeskryflik om kop of stert uit te maak. Dan kom dit nog by die familie wat ook baklei oor wat, hoe, en waarom.

  8. Oh my word, ek hardloop sommer weg. Op ,byna 72 dink ek gereeld aan my dood, maar het nooit daaraan gedink om wagwoorde lyste of daardie rewardskaartjies ens te laat gebruik of hoegenaamd enige lyste vir die nageslag op te stel nie! Ek sal moet begin… Dankie vir hierdie eye opener!

  9. woordnoot

    In ons vorige lewe toe die Oom nog gewerk het was als op datum….maar als het mos verander. Nou is daai boks met dokumente outdated. Moet seker weer begin….sug🙃

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek weet. Dis soos bed opmaak, jy moet dit doen elke keer nadat jy in daai bed geslaap het.

      • woordnoot

        Ek loop daagliks verby die rak met die boks maar glo my ek sien dit nie meer raak nie

  10. Nou het jy my ook wakker laat skrik. Ek gaan nou ook so ding doen. Ek weet nie of ek regtig dankie wil se nie 😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het al bosse hare uit my kop gepluk van pure frustrasie oor al hierdie burokratiese voorskrifte. As ek baie geld gehad het het, het ek iemand gehuur om dit vir my te doen.

  11. Eish, my kop het so geknoop toe ek die lang lys sien. Snaaks hoe mens as jy ouer word, aan die goed begin dink. Goed geskrywe.