My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Ouderdom bring ipekonders, pyne en stywe litte oor ’n mens se pad

aroma aromatic assortment bottles

Photo by Pixabay on Pexels.com

Oumense het ipekonders omdat hulle van “popmis” aanmekaar gesit is, het my pa altyd gesê, bedoelende popstrooi, of nog meer blatant – popstront. Maar my pa het nooit lelik gepraat nie.

Ek het alles geglo wat my pa vertel het, want hy was ’n eerlike man. Dis nou maar onlangs dat ek besef het dat my pa in hoë ouderdom baie goeie gesondheid moes geniet het, want noudat ek die etiket van “oud” om my nek het, is ipekonders, pyne en skete ook deel van my lewe. Sorrie Pa, jou dogter is ook van popmis aanmekaar gesit. Dit het ek nou deeglik agtergekom toe die lus om te leer kook my onlangs oorval het.

Ek het nog altyd ’n obsessie gehad oor ’n goed georganiseerde huishouding omdat ek voltyds gewerk het en nie lus gehad het vir rondval vir kosvoorrade, skoonmaakmiddels en skoon klere / linne nie. My obsessie het vertienvoudig toe ons verhuis het hier na Zoeloeland toe. Die rede daarvoor was eenvoudig – kokkerotte, miet, muskiete, muggies, gekko’s, apies, brommers en ander plae wat ’n huishouding in ’n nagmerrie kan dompel. Jy kan nie vrugte in ’n mooi bak op jou tafel neersit nie, want apies gaan inbreek om hulleself te kom help en jou hele huis gaan voortdurend vol muggies en vrugtevliegies wees. Gekookte kos lok brommers soos bye wat saamdrom om ’n heuningpot. Gekko’s doen dit wat gekko’s die beste doen – hulle mis op alles. Muskiete eet nie jou kos nie, maar jy kan ook nie spuitmiddels gebruik om die massa-aanvalle af te weer wanneer jou kos buite rondstaan nie. Alles, maar alles wat eetbaar is, moet in houers geplaas word, binne-in kaste, yskaste en vrieskaste.

Om jou kos net weg te pak, buite sig, is egter nie goed genoeg nie, want kokkerotte en miet trek hulleself so plat soos papier, so dun soos ’n naald, en hulle kruip oral in. Die kleinste gaatjie of skrefie veroorsaak dat jou kosvoorrade verwoes word. Jy kan nie alles in die yskas of vrieskas hou nie, dus moet jy digte houers gebruik – lugdig (die tipe wat so vas suig), of goed toegemaak en geseël met plastiek.

En dis net hier waar my ipekonders inskop. Ouderdom het my van jeugdige krag ontneem, wat beteken dat ek nie meer swaar goed kan optel nie. Ouderdom (en te veel tv-speletjies soos tetris) het aan my rumatiek in my linkerduim besorg, sodat ek nie bottels en blikke kan oopmaak nie. Ouderdom het my laat krimp sodat ek nooit lank genoeg is om bo-op kaste by te kom nie. Ouderdom het my hoogtevrees nog verder die hoogte in laat skiet en ek kan nie op my klein kombuistrapleertjie klim om tog net doer bo by te kom nie. Ouderdom het my litte stywer gemaak sodat ek nie lekker kan buk om goed uit lae kaste te haal nie. Ipekonders – dis die popmis waarvan ek aanmekaar gesit is my liewe Pa.

Nou lees ek daar by Lekkervurigeaffêre oor haar Master Chef koskaste, georganiseer tot op ’n haarbreedte van perfek af en dan raak ek so effens jaloers. Veral oor haar speserymengsels wat sy self aanmekaarslaan, want om speserybotteltjies en -pakkies oop en toe te maak is te veel vir my ipekonders. Om ’n vysel en hamer te gebruik is ’n marteling. Maar hier in Zoeloeland het ons die eksperts wat alles weet van speserymengsels en kerriemengsels, en ek maak goed gebruik van hulle kennis en vaardighede. Kerriepoeiers? Nie in my kombuiskaste nie, want kokkerotte vrek oor kerrie, nat of droog. Het julle dit geweet?

Ek doen die tweede beste ding. Ek gaan na die speserywinkel toe en daar meng die ekspert vir my die speserye en kerries wat my in staat stel om die kerries, breyani’s en geurige bredies of soppe te kook waarvan ek deesdae droom. Die meeste daarvan kom in die vorm van ’n smeer (“paste”) in botteltjies, en hulle word in die yskas gebêre, saam met die knoffel, gemmer en borrie wat gerasper en in olie ingelê is. Enige poeiermengsels kom in lugdigte botteltjies in die koskas, klaar gemeng vir die dis wat ek beplan, en gemerk met die speserye wat dit bevat. Ja, ek het nog bottels wat oopgemaak moet word, maar hulle is baie minder as in meeste ander kombuise.

Die koffie, tee en melkpoeier vir alledaagse gebruik, byvoorbeeld, kom in sulke bottels waarvan die proppe vassuig soos ’n seekat se suiers. Dis hoekom ek nie sommer aanbied om drinkgoed te maak nie. Maar daar is nóg mense met hoë ouderdom en ipekonders in my huis en soms loop ek met my sterk bene agter die man aan wat sterk hande het, maar wie se bene ipekonders het, vir die oopmaak-aksie. As vergoeding vir die hulp, maak ek vir kom koffie. Soms.

Vrugte word in die yskas gebêre.

Groente word geblansjeer en in die vrieskas gepak. Pa en dogter moet albei help skil en opsny, want ek is verbied om met messe om te gaan, tensy ek onder toesig werk. Vis en vleis word ook vooraf opgesny vir die doel waarvoor ek dit gekoop het. Ja, ek kan inkopies doen – daardie deel geniet ek.

Pa-en-dogter kweek ook ons vars kruie soos wat dit die kok behaag. Heerlik, net so vars uit die tuin eet ons ons eie roosmaryn, tiemie, oreganum, pietersielie, basil, dhanya en kerrieblare. Dit wat nie in die tuin groei nie, koop ons by die groentewinkel, sny dit fyn en vries dit in die ysbakkies vir latere gebruik.

Dis hoe ek ouderdom, ipekonders en kokkerotte beveg, Pa. Ek sê maar net, sodat jy weet.

Groete van jou dogter wat van popmis aanmekaar gesit is.

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. Oorle’ Pa, ‘n gebore Hollander (sonder enige eufe-mis-mes!), het sommige (uiters) gereformeerdes beskryf as “fijn als gemaalde poppestront”.

  2. My ma is lief om te se ons is van popstront en kerswas aanmekaar gesit as ons kla iets is moeilik om te doen. 🙂

  3. 😄😄😄😄

  4. Jou vasberadenheid is enige popmis se moses!

  5. Maar ek voel tog jy kan maar meer dikwels as “soms” koffie vir die man met die ipekondersbene maak?

  6. Moet nooit dink jy is “oud” nie!

  7. Nu mis ik waarschijnlijk de hele punt van dit verhaal, want ik kom er maar niet achter wat ipekonders zijn. Help! (En verder: goed bezig hoor, in de keuken! Met de kruiden enzo… Ik ben toch wel erg blij dat ik al die beessies niet in mijn keuken heb hier…)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ipekonders is siektes wat mense hulle verbeel – dit bestaan nie regtig nie, maar ons gebruik dit ook soms om veral ou mense se onnodige klagtes oor gesondheid te beskryf. Ek kla hier oor die manier waarop kos verpak word en die moeite wat ek het om bottels, blikkies en pakkies oop te maak, en omdat die kombuiskaste te hoog of te laag is om gerieflik by alles by te kom 🤣

      • Aaaaahhhhh… hypochonders. Ik had het kunnen weten… 🤣 Soms is het een hele uitdaging om Afrikaans te lezen – én alle nuances te snappen, want jij tovert soms met woorden… (maar daarom lees ik je ook zo graag)

  8. Klink als sooooo bekend. Noudat ek nie n kombuis het nie moet ek maar saam met die jonges se manier klaarkom. Hul is gladnie georganiseerd nie dus moet ek maar net kalmpies om als werk om my eetgoedjies reg te maak. Ipikonders is beslis nie n goeie siekte vir n ou lyf nie. Goet oopdraai gee my ook n pyn.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daardie botteltjies waarin pille verpak word waarvan jy die deksel moet afdruk en dan draai, of die melkbottel wat jy nek-om moet draai om die prop af te kry

      • Jaaaa, ek sukkel ook. My regterhand wat my sterk hand is/was kan dit nie meer nanteer nie. Gebruik nou my linkerhand.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          My linkerhand is intelektueel gestrem. Dis nogal my sterker hand, maar kan nie eens ‘n teelepel vat om koffie te roer sonder om te mors nie. Dalk is dit eintlik ‘n breingebrek. Tot L hand se verdediging, moet ek darem byvoeg dat ek daai arm (en ‘n paar vingerbene) twee keer gebreek het in my prille jeug.

        • Ja-nee daar word gesê dat jy jou pyne en skete opbou in jou jeug vir jou ou dag. My linker en regter hande werk albei heel goed. Ek is wel regshandig maar kan links ook heel goed regkom en selfs makliker links werk ook.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dubbelhandig, dink ek hulle noem dit in Afrikaans. Ambidextrous. Jac is so, kan sy linkerhand ook vir alles inspan.

        • Die skrywery op die swartbord was natuurlik vir kleiner kinders interessant as ek begin teken en dan sommer na link uitbrei en dan weer regs!

  9. Ai dis frustrerend. Ek het ook n kort rukkie in Durban gebly en daardie kokkerotte is van n ander planeet. Ek het nie geweet dis die kerrie wat hulle lok nie. 🤣🤣🤣 Voorspoed en pynpille vriendin

  10. Kan jy asb my kombuiskaste kom organiseer, joune is pragtig netjies

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ook net vir die eerste week nadat ek kruideniersware gekoop het. Dis ongelukkig ‘n werk soos bed opmaak – jy doen dit oor en oor.

  11. woordnoot

    Popstront….dan is dit wat my makeer. Ek het die hele pot popstront gevat….gedog dis fudge want hemel….my skete vermenigvuldig snags as ek slaap. Dalk is dit karma. Ek wou mos so lelik met my ma!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek is ook skuldig aan die ma-ding en nou vra ek my ma knaend om verskoning in my gedagtes. En dan vra ek sommer solank my dogter vooruit verskoning vir dit wat ek nog aan haar gaan doen.

  12. Amanda

    High five!!!