Hierdie keer gaan ons ’n bietjie pret hê met die stylfiguur oksimoron wat twee oënskynlik teenstrydige begrippe in een stelling bevat. In die spreektaal gebruik ons heel dikwels oksimorons om ons gevoelens uit te druk. Dink byvoorbeeld aan die volgende:
Ag mens, dis regtig al ou nuus! (neerhalend gesê wanneer iemand probeer om ’n lekker sappige skinderstorie oor te dra). Nuus is per definisie ’n berig van of inligting oor iets wat pas plaasgevind het of rugbaar geword het, of ’n tyding, nuwe inligting / feit waarvan jy nie voorheen bewus was nie – (bron: Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)). Ou beteken mos oud, iets wat lankal die rondte doen, en nuus is nuut en opwindend – hoe kan dit dan nuus wees? Wanneer jy praat van ou nuus, gebruik jy dus twee teenstrydige begrippe in dieselfde stelling.
Hier is jou inspirasievonk: Jy kan óf ’n lekker storie rondom ’n bekende oksimoron skryf óf nuwe voorbeelde van hierdie stylfiguur uitdink om ons te vermaak. Dames, wat uit die aard van hulle natuur daarvoor bekend is dat hulle teenstrydige argumente gebruik wat enige man se kop deurmekaar kan maak, behoort hierdie uitdaging gou-gou plat te draf.
Gee jou (teenstrydige) verbeelding vrye teuels en geniet dit!
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Voel jy lus om saam te speel? Jy’s altyd welkom.
Mens maak so:
Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ’n spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Lekkervurigeaffêre
Wreed vriendelik hierdie warrel wat jy vra. Soos Augusto Monterroso, is “my boeke vol leegheid.”
HesterLeyNel
Ek glo dit nie. Jy sal wel ‘n haas uit die hoed trek.
Abrie Joubert
Wel aldus die 2 direkteure (julle 2 ken hulle dalk) van die Woordwarrel Webeging (jammer ek is disleksies) kwalifiseer die kalme vurige een se kommentaar reeds as ‘n warrel.
”
Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein” .
Abrie Joubert
Maar Hester klankloos stem ek saam dat daardie een veelvoudige woorde sal uitspu.
HesterLeyNel
Ek dink jou klanklose stemgeluide is reg!
Lekkervurigeaffêre
Is dit ‘n uitdaging, liewe Baron Room?
Abrie Joubert
“Liewe” Baron – definitief ‘n oksimoron😁
Lekkervurigeaffêre
Lekker baasig…👋
HesterLeyNel
Ja, daardie vurige een moet haar beweegredes agter hierdie nuutskepping boekstaaf.
HesterLeyNel
Baron Room – wat ‘n herinnering 🧡
Abrie Joubert
Ja dit was goeie tye.
Abrie Joubert
Natuurlik is dit Lekkevurig – hierdie kan ‘n affere veroorsaak.
Lekkervurigeaffêre
Ek hoop jy geniet my #woordwarrel. Dit was prettig vir my.
Abrie Joubert
Sal gaan kyk, myne is so 80% klaar geskryf
Lekkervurigeaffêre
Whoop, whoop, Abrie skrywe!
Abrie Joubert
Dit voel vreemd maar heerlik
Lekkervurigeaffêre
Ek is kinnerlik bly dat jy weer skrywe. My breinbuig blogmaat.
HesterLeyNel
Ek laaik. Dis tyd dat ons weer ‘n bietjie uit ons gemaksones klim. Ek sien uit na die skrywe.
Abrie Joubert
Gaats Hester jy sal dat ek skryfverhoog vrees ontwikkel. Vlugtend vries
HesterLeyNel
Sing net terwyl jy vlug … 🎵ek is ‘n dapper muis 🎵 … en moenie in Antartika se rigting vlug nie.
HesterLeyNel
Jy skryf! Dis uitstekende nuus.
HesterLeyNel
Ja, ek sien die “kalme vurige een” warrel ook sommer oksimoronies in die kommentaar; julle laat nie op julle wag nie. Goed om jou weer te sien, Abrie.
Lekkervurigeaffêre
😉
Kameel
Jammer Hester maar ek het nooit Grieks leer praat nie. Tot julle drie se kommentare is te hoog vir my.
Bondelsgedagtes
Hoe lekker lag ek nou Kameel, ek het ook nie grieks leer ken nie. Dis biki uhm grieks vir my
Kameel
Was nog nooit lief vir Afrikaans of Engels en al die eienaardige name wat goed genoem word nie. Jy praat hom, jy skryf hom sonder om te weet dis ‘n sinoniem ens ens ens. Hogere Afrikaans “not my cup of tea.”
HesterLeyNel
Moenie jou blind staar teen ‘n benaming nie Kameeltjie – voel en praat net die taal.
Abrie Joubert
“not my cup of tea”. Hierdie is die hoogdrawendste Afrikaans wat ek nog gelees het. Verstaan net 2 woorde my en of. Die ander woorde lyk vir my na ander taal, dalk Grieks? Dankie tog vir Hester – ek verstaan die woorde oksimoron en paradoks.
HesterLeyNel
Abrie 😀 Wel, gelukkig is deelname vrywillig en dis my partytjie hierdie – dis immers net ‘n uitnodiging om saam te speel . Dis verstaanbaar dat almal nie van al die onderwerpe hou nie. Dan hou mens maar verby.
Abrie Joubert
Kameel onthou ek probeer nie geniepsig of ‘n trol wees. Poging tot humor. Aan die ander word ek ook meegesleur met die opgewondenheid dat ek besluit het om vir ‘n verandering weer te blog.
HesterLeyNel
Kyk die antwoord wat ek by Kameel se kommentaar geskryf het. Dink net ‘n bietjie hoe lekker kan jy speel met sulke kleurryke “Grieks”.
HesterLeyNel
Ek is seker jy gebruik elke dag hierdie soort paradoks in jou spreektaal: “daai gesiggie is lieflik van lelikgeid”. “daai ou daar in die hoek is ook lewendig gevrek”. Twee teenoorgesteldes wat in een stelling gebruik word. Speel daarmee en kyk hoe verras jy jouself – dis makliker as Wordle want jy kan jou eie taal skep. 😉
Lekkervurigeaffêre
https://lekkervurigeaffere.blog/2022/02/19/woordwarrel-3-2022-n-briljante-idioot/