Gesels ek die anderdag met ’n vriendin wat nie te lank gelede nie deur ’n egskeiding is. Sy blyk nie baie gestoord te wees met die feit dat die eks-man weggeloop het met ’n blonde poppie wat omtrent dertig jaar jonger as sy is nie. Ek reken dat sy in die eerste plek met hom getroud is omdat hy so ’n sexy blonde kuif gehad het. En ’n kitaar. Ek het net die foto’s gesien, nooit die “stem van ’n engel” gehoor nie – ek sal maar haar weergawe glo – ek dink net ’n hadida se krys is meer melodieus as sy huidige sangstyl.
Die blonde kuif is lankal ’n vleiskuif en die snare kielie hy deesdae in sittende posisie sodat die kitaar op sy boep kan rus. Doodgoeie ou. Goed dood ook. So, ja, ek dink my vriendin se seënwense het hom en die blonde poppie op hulle nuwe lewensreis vergesel. Ek dink in elk geval nie die kuif, die kitaar en die stem was ooit ’n vaste basis vir ’n verhouding nie. Dis maar hoe ’n egskeiding werk.
Genoeg daarvan. Die storie gaan eintlik oor ’n ander man.
Toe die egskeiding na bevrediging afgehandel is, en my vriendin seker gemaak het dat die huis, die motor en die karavaan op haar naam geregistreer is, het sy besluit om ’n nuwe vriendekring op te bou. Saam met ’n egskeiding verloor ’n mens mos gewoonlik die vriende waarvan jy gehou het en bly sit met die armsaliges wat jou tot die dood toe verveel.
Dis hoekom sy saam met ’n kollega by ’n kroeg-, dans- en eetplek beland het en onmiddellik meer aandag gekry het as waarvoor sy gehoop het. Nuwe bloed laat die muskiete sing. Toegegee, sy is nogal mooi ook. Petite en blond. ’n Bottelblondine, ja, maar wie gee deesdae om? En sy kán die boude wikkel op die dansvloer, selfs al is die beweegruimte min en die musiekuitvoering power.
“Ek ontmoet toe hierdie vent, nie te lelik nie, en hy dans soos ’n droom. Maar hy is een van daardie klewerige soort – hy wil die hele tyd binneboud dans en hy druk my so styf vas dat ek skaars kan asem haal,” vertel sy later. “En ek dans nog so lekker toe voel ek hoe raps hy my op die boud. Hard! My oë het eintlik getraan.”
En toe?
“Toe slaan ek hom met die vuis op die neus dat die bloed loop. Ek het nie verniet saam met drie broers grootgeword nie. En toe bel iemand die polisie. Hulle wou sommer albei van ons toesluit vir openbare rusverstoring – of so iets – maar toe gaan wys ek vir die polisievrou die vingermerke op my boud.”
Haai mens! En toe?
“Nee, hulle het hom daar weggevat en ek is vrygelaat op eie verantwoordelikheid. Ons moes albei die volgende dag in die hof verskyn. Sal die blikskottel sowaar vir die magistraat vertel die vingermerke op my boud is ’n simbool van die gevoelens wat ek in hom wakker gemaak het? En die bloedneus wat ek hom gegee het beteken ek is ’n vrou met woema, nes hy van sy vrouens hou!”
Die magistraat het albei vrygelaat met waarskuwings. My vriendin het nooit weer in daardie dorp gaan dans nie en nugter weet wat van die klewerige vent geword het.
Dis maar die beloop van ’n lewe na ’n egskeiding.
In die Woordwarrel-inspirasievonk 2/2022 wat Lekkervurig namens my geplaas het in my uur van nood, donkerte en internet-stilte (dankie Mater!) het sy genoem dat ons sinonieme moes vind vir die vyf homonieme taai, sterk, teken, haal en vryheid.
Hier is my sinonieme wat ek gebruik het om my staaltjie te skryf en hulle is almal te vinde in verskillende woordeboeke op die webtuiste van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) https://viva-afrikaans.org/
Taai: klewerig
Sterk: woema
Teken: simbool
Haal: raps
Vryheid: beweegruimte
Voel jy lus om saam te speel?
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ’n spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans Laat waai en geniet dit.
Lekkervurigeaffêre
So ‘n blikslaer. Hy sou nie eens kon guitig getuig as dit ek was nie. Bwha. Laat jou warrel nou ‘n lekker vertelling gebeur. 🤣👌
HesterLeyNel
🤣 ja-nee kyk, ek sou graag ‘n vlieg wou wees teen die muur van die kroeg op daardie besondere aand. Die staaltjie is, terloops, gegrond op iets wat werklik met ‘n vriendin van my gebeur het ná haar egskeiding – ek het dit net ‘n bietjie aangepas en die karakters vermom.
Lekkervurigeaffêre
Jong, dis eienaardig wat na egskeiding met vroue gebeur. Selfs weduweeskap. My pa was skaars begrawe toe die tv breek. ‘n Kennis van my pa offer om te kom kyk. Sowaar vertel hy my ma in ons voorhuis hy sal graag met haar wil “canoodle”. Ons het by die eetkamertafel gesit en huiswerk doen. Flip my ma het hom met haar sjodn bygedam en verjaag.🤣😉
HesterLeyNel
Dis die heilige waarheid. Ek het skaars by die skeihof uitgeloop, toe word ek uitgevra op ‘n date. Wat op aarde is ‘n sjodn?
Lekkervurigeaffêre
Skoen…🙈
HesterLeyNel
Bwahaha – gebruik jou stylus vriendin!
aduppie
Hoe lekker lag ek nou.
HesterLeyNel
Ja, nádat die ergste struwelinge en aanpassing verby is, kan mens nogal die humoristiese kant waardeer.
mijnnikonenik
Ik probeer er mij door te worstelen. Lijkt af en toe humoristisch maar met een duistere kant.
HesterLeyNel
Duister en worsteling beskryf die ervaring goed, veral wanneer jy nog jong kinders het. Sommige dae lyk moord na ‘n beter uitweg 😏 maar hou net moed – dit word beter.
mijnnikonenik
Hou moed.
woordnoot
Dis asof mens n onsigbare aura afgee wat sê….single!! Na egskeiding en afsterwe!!! Flippin hel….dis sulke goed wat mens onnooslike besluite laat neem wat jy 20 jaar daarna nog oor spyt is!!
HesterLeyNel
My saving grace was dat ek ‘n baie veeleisende beroep gehad het, gekoppel met die behoeftes van drie jong kinders wat altyd voorrang geniet het bo alle ander dinge. Aan die ander kant, was dit soms ‘n baie eensame lewe en het ek definitief goeie kanse gemis om ‘n verhouding te bou met iemand met wie ek in pas sou wees op ‘n emosionele vlak. Jy kan nie eintlik wen in so ‘n situasie nie.
woordnoot
Nope…..
woestynkind
Ek is al 27 jaar geskei en so iets het nog nooit naasteby met my oor gekom nie. Is ek gelukkig of net te lelik!? 😱😂
HesterLeyNel
Ek dink dit het baie te doen met die omgewing en kultuur waarin jy jou bevind, asook jou ondersteuningsnetwerk wat jou tot ‘n groot mate kan beskerm.
scrapydo2.wordpress.com
Lekker taai stukkie werk wat aan alles kan klou. Lag nou in my mou. Ek het ook so paar ondervindinkies opgedoen. Selfs as oujongnooi ook. Sulke ouens is blikskaters.
HesterLeyNel
Ons het almal maar deurgeloop op een of ander manier. Ek het my altyd daaraan verwonder daaraan dat soveel mans gedink het hulle attensies is altyd en oral welkom en “nee” was toe ‘n baie ingewikkelde woord wat hulle nie verstaan het nie. Ek is so bly die vrouegeslag het uiteindelik begin opstaan vir hulle regte.
scrapydo2.wordpress.com
Beslis ‘n groot vooruitgang. Tog matig sommige vroue hul ook maar dinge aan wat my as vrou teen die bors stuit. ‘n Man sal nooit ‘n vrou wees nie en ook nie vrou ‘n man nie. Sekere dinge bly steeds manlik of vroulik.
Bondelsgedagtes
Bhahahaa, dit was nou humoristies. Ek kon dit sien. Bravo vir haar wat hom bydam, ek sou verseker ook. Na my egskeiding was dit nie soseer die manne wat met my gelol het nie maar hoe die getroude vroue gereaggeer het as ek nader kom. Ek het gewonder of daar ‘n sticker op my kop of agterent geplak was divorced and hungry….
Of divorced and willing… of so
HesterLeyNel
O ja, daai deel onthou ek ook goed. Dit was eintlik histeries snaaks. Ek meen te sê, ek het so pas van een man ontslae geraak, wat laat jou dink ek wil my weer so belas? Maar dis hoekom ek sê, jy verloor nie net ‘n man deur egskeiding nie, jy verloor sommer ‘n klomp vriende ook.
Bondelsgedagtes
Jy is heeltemal reg. Hoekom op aarde sal jy man wil hê, nogal ander vrou sin as jy nou pas een sien gaan het. Tragies hoe mense kan dink