My vreugdes en frustrasies

Coffin Dodgers Park

‘n Vreeslike gekattemaai in Coffin Dodgers Park

Image obtained from Pixabay

Vroeër die week: Dis net diegene wat so doof soos kwartels is wat deur hierdie gekattemaai kan slaap. Daniel is skoon leepoog en sy aangesig is bleek by gebrek aan slaap. Net op sy wange dui twee rooi kolle die stand van sy moermeter aan.

Dis die rondloperkatte in die kompleks wat veroorsaak dat Daniel onwillekeurig bedags vasloop in tonele van wellustige groepswoepse en snags nie deur die lawaai kan slaap nie. Grensdrade en hoë mure hou mos geen mannetjieskat buite wanneer die wyfiekatte bronstig loop en miaau nie. Dan kom hulle van heinde en verre om makietie te hou op enige oop kolletjie gras of plaveisel wat hulle kan vind, en Daniel se wooneenheid het ‘n gerieflike groot geplaveide stoep waar hulle buite sig en weg uit die reën kan kattemaai na hartelus.

Dis nie net die onaardse gekerm in die middernagtelike ure wat Daniel se hare op sy kop laat rys nie – dis ook die reuke wat die wyfiekat loop en versprei om die mannetjies aan te lok. Het julle ook nog altyd gedink dis net die mannetjieskatte wat hulle sterte lig om die inhoud van hulle blase teen die deure, mure en tuinpotte te sproei? Dink weer, sê Daniel, terwyl hy die huis se mure afspuit. Hierdie wilde wyfiekat is ‘n meestersproeier, dit het ek met my eie oë gesien. Die stank! Dis onbeskryflik.

Asof dit nie genoeg is om ‘n man se asem weg te slaan nie, doen almal van hulle ander behoeftes ook op so tussen die gekattemaai deur, en elke oggend sien ek net hoe die sand uit my potte gegrawe is. Dis waar, die klein pietersielie- en knoffelplantjies wat gesaai lê oor die plaveisel, is stille getuienis van hierdie stelling.

Al my klagtes by die trustees en mooipratery met die bure maak mos geen kat haaraf nie, sê Daniel. Hulle hou aan om die rondloperkatwyfie te voer, maar bedags wanneer sy haar lyf soos ‘n wafferse paaldanser krul, en snags wanneer sy die hoofattraksie by die gekattemaai is, is die kattevoerders mos siende blind en horende doof. Die trustees trek net hulle skouers op. Hulle kan nie optree teenoor die oortreders nie, tensy hulle bewyse het van wie die persone is wat die wyfiekat voer. My woord is nie goed genoeg nie, sê Daniel, en die ander inwoners wat onderlangs brom oor die geraas is te skytbang om enigiets te sê. Ek moet nou glo die oortreders in flagrante delicto afneem.

Die ander probleem is natuurlik dat daar geen geskrewe reëls in die kompleks bestaan wat inwoners verbied om wilde diere kos te gee nie. Daniel opper hierdie beswaar ook, maar dit maak ook geen kat haaraf nie.

Daniel is ‘n man wat nie terugdeins voor die ingang van die leeuhok nie. Hy skakel met die DBV, asook die organisasie wat wilde katte versorg in hulle natuurlike habitat of in katkolonies. Hy raadpleeg ‘n groepie regsgeleerdes wat gratis regsadvies verskaf op Facebook om uit te vind wie verantwoordelik is vir oplossing van hierdie soort probleem in ‘n deeltitelkompleks. Hy vind pryse uit om katte te steriliseer, en om hokke waarin katte gevang en vervoer kan word te huur. Hy neem foto’s van die katte-makietie in aksie en besorg dit saam met die ingesamelde inligting aan al die inwoners en trustees. Kortom, Daniel maak ‘n pes van homself.

Die uiteinde: Uit die bloute het daar ‘n hok met ‘n valhek verskyn. Oorsprong onbekend. Die kat is gelok met kos, die valhek het geval en die hok het verdwyn met kat en al. Bestemming onbekend. Al die “vriende” wat voorheen aangedoen het vir geselsies, het soos mis voor die son verdwyn. Die ander inwoners loop nou wye draaie om Daniel se wooneenheid. Die pornografiese foto’s was seker te veel vir iemand se senuwees, proes hy.

Daniel lag en streel die leeu se ore daar agter die hok se tralies. Vanaand gaan hy weer rustig slaap. Die gekattemaai is (voorlopig) iets van die verlede. Maar Daniel weet – die geskiedenis is ‘n ding wat homself herhaal. Hierdie selfde tafereel het twee jaar vantevore ook in hierdie kompleks afgespeel, maar die trustees het die saak uiteindelik opgelos. Ongelukkig kom en gaan trustees, net soos die wilde katte wat verskyn en verdwyn.

Om meer vertellinge van Daniel en ander inwoners te lees, volg hierdie skakel Coffin Dodgers Park.


Die inwoners van Coffin Dodgers Park is merendeels senior burgers wat die aantrek van die houtpakkie so lank as moontlik wil systap (they are dodging the coffin). Hulle wil graag hul Goue Jare in vrede deurbring, hoewel hulle besef dat hulle spreekwoordelik op die randjie van die gat staan. Hierdie bestaan is nie altyd vreedsaam nie, enersyds omdat jonger lede van latere generasies soms ook ‘n holte vir hulle voet langs die river soek en die generasiegaping ‘n werklikheid is, en andersyds omdat ouer mense nou maar eenmaal wederstrewig kan wees. Die gebeure in hierdie staaltjie en die karakters is fiktief — dit groei uit die skryfster se verbeelding wanneer sy die alledaagse gekeuwel van bure in haar onmiddellike omgewing waarneem.


Moermeter, groepswoeps en gekattemaai

Moermeter: Bron ViVa Gesegdes: Varsgebek 2016. Daniel se moermeter dui aan hoe kwaad hy is.

Groepswoeps: Groepseks. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe).

Gekattemaai: Die WAT verskaf ‘n volledige uiteensetting van die woord “kattemaai” en sy verbuigings, asook die bronne wat geraadpleeg is. Ek het myself die vryheid veroorloof om dit van toepassing te maak op rêrige katte ook (die soort met hare en skerp naels).

Al bogenoemde bronne is beskikbaar aanlyn by die webtuiste van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) https://viva-afrikaans.org/

Nota: Die korrekte uitdrukking is “maak geen HOND haaraf nie” – ek het dit aangepas om in te val by die tema van hierdie blogpos.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

30 Comments

  1. Elf uit tien vir die planmaker. Ek sal darem vir my wip as kat my knoffel plantjies uit skoffel. Genade! Ek sien uit na die volgende uitgawe, love hierdie stories van jou

  2. Nee kyk, Daniel se geduld om nog bewysstukke in te samel, die het ek nie. Die vriende en trustees wat so verdwyn…skaamkwaad doen daai. Maar welgedaan Daniël, mag daar rus en vrede wees tot tyd en wyl. Ek is mal oor Coffin Dodgers. 👌📝💐

  3. Bwahahaaa! (Ek het my vemoedens oor die dappere Daniel se ware identiteit!)

  4. Fantastic writing – I am greatly looking forward to the next episode Hester!

  5. Heerlik gelag vir jou humoristiese vertelling. Fantasties gedoen, Hester!

  6. Aaahhh, ook ik heb genoten van jouw verbeelding van het alledaagse gekeuvel in Coffin Dodgers Park. Die naam ook… daar wil ik ooit wonen!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      🤣 Anuschka, jy hou te veel van jou privaatheid en sal nooit aard in so ‘n woonkompleks waar almal alles van jou weet nie.

      • Jij kent me goed Hester! Maar daarom geniet ik extra, in mijn privaatheid, van jouw verhaal (verhalen) hierover 😃

  7. woordnoot

    Daai wonderlike hokke….moes al selfs n keer of wat daarvan gebruik maak maar as mens nie die gekattemaai kan hanteer nie is dit die beste oplossing!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, daar is natuurlik ‘n ander uitweg ook – as die persone wat die katte voer verantwoordelikheid sou neem vir hulle totale versorging (medied ingesluit), kan hulle mos geïntegreer het met ‘n huisgesin. Ek het twee katte en vier honde aangeneem in my leeftyd en vir hulle ‘n ordentlike lewe gebied as deel van my gesin, maar dan moet jy hulle van babadae af reg leer.

      • woordnoot

        Ons het n wilde ma kat en 2 babas so gevang en laat steriliseer en weer vrygelaat. Al 3 is dood in my tuin agv kat aids….

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit is die probleem. Ons het twee jaar gelede twee katte in ons kompleks gevang en albei gesteriliseer. Die een was ‘n baba wat mense aangeneem het en hy is ses maande later dood aan aids. Al die katte hier rond is so besmet. Jy wil hulle nie graag loslaat tussen die gesonde diere nie.

  8. Ja-nee, katte is maar katmaletjie. Het jy geweet dat al is hul gesteriliseer sommiges steeds kattermaai behoeftes het? Dis aaklig om telkens so wakker gehou te word deur die gekattermaai. Altyd selfde tyd van die jaar ook.

  9. Kattemaai storie is puik geskrywe. Ja, dit kan nogal ‘n mens se siel omkrap. Hoekom moet so ‘n mooie dier so ‘n vreeslike keel opsit en soveel ergenis vir mens veroorsaak?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Omdat mense nie hulle diere goed genoeg versorg en laat steriliseer nie. As jy weet jy wil nie teel met ‘n dier nie, druk mens mos maar jou hand in jou sak en betaal vir sterilisasie.

      • Net so. My twee honde is altwee gesteriliseer en my laaste kat was ook gesteriliseer.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons het al ons diere aangeneem en ook gesorg dat hulle gesteriliseer was. Ek verstaan regtig nie hoe mense ‘n dier kan verwaarloos nie – hulle is mos deel van jou gesin.

Back to Top
%d bloggers like this: