My vreugdes en frustrasies

Coffin Dodgers Park

Daar’s ‘n hele spul drolle in Coffin Dodgers Park

Ek is nou meer as net gatvol vir die spul drolle in hierdie kompleks, mor Daniel. Ja, beaam hy ‘n opmerking van Spykerman se kant af, ek voel nes jy, maar ek praat nie nou van die huisbewoners nie. Ek sal nou nie ‘n drol so beledig nie — noem hulle eerder ‘n spul prulle. Ek praat van hulle honde se landmyne.

Vanoggend koukus Daniel en sy buurman oor allerlei ergenisse wat kort-kort kop uitsteek en ‘n konstante gekeuwel tussen die inwoners veroorsaak. Soos gewoonlik voer hy die woord van die tuinbankie op sy patio af en Spykerman kry net so nou en dan ‘n woord in.

Net vanoggend, stoom Daniel voort, het ek met my kale voet in ‘n drol getrap, reg onder my wasgoedlyn. So ‘n regte spuitpoepdrol wat soos warm, slap pap tussen my tone deur gekrul het. En stink! Jy het in jou lewe nog nooit so ‘n stank teëgekom nie. Ek het amper my brekfis net daar verloor. Toe moes ek die tuinslang gaan haal, al hoppende op my een voet, om my voet en die gras skoon te spuit. Dis ook nie die eerste keer nie, hoor jy? Ek dra nou al pal ‘n grafie saam met my om die drolle op te tel en weg te gooi. En ek hét nie eens ‘n hond nie!

Ja, Buurman, ek het ook gehoor hoe kla Klasie oor die hopie drolle op die teerpad waardeur hy gery het. Hy sê dit lyk asof iemand dit met opset bymekaargemaak en daar gaan neersit het. Daai reuk hang nou nog rondom sy kar en in sy motorhuis. Hy ignoreer mos ook die reël van die honde wat op ‘n leiband moet wees wanneer hulle buite rondloop en sý hond kerjakker die wêreld vol, veral in die nánag wanneer hy meen al die ander inwoners slaap al. Daniel se oë glinster van binnepret.

Klasie moet liewer daai vrou van hom ‘n slag onder clutch kry. Santie is mos die een wat die ganse en die rondloperkatte voer. Laat ek jou nou vertel, daar gaan nie ‘n dag verby, nie ‘n enkele dag wat die wilde katte nie in my blombakke hulle gate grawe en drolle agterlaat nie. Daai grys wyfiekat met die windskewe onderstel boer tussen my nuwe pietersielieplantjies. Dis nou plante waarmee ek kos maak! beduie Daniel, skielik weer driftig. Maar Klasie sê mos, sy vrou vererg haar so dat die bloed by haar ore uitloop as hy net sy mond oopmaak. Ook maar ‘n banggat, as jy my vra — oorle’ Pa het altyd gesê jy kry nie iets soos ‘n kwaai vrou nie, jy kry net ‘n bang man.

Nou vertel Tjaart vir my die trustees kan nie optree as hulle nie bewyse het wie se honde dit is wat oral die landmyne plant nie. As ek ‘n klag wil lê, moet ek opsluit ‘n foto indien as bewysstuk. Reken hy nou ek moet in die stikdonker nag met my af rug hier buite rondsluip met ‘n kamera om honde en katte op heterdaad te betrap wanneer hulle broek losmaak?

En weet jy wie se skuld is hierdie hele gemors, behalwe nou die inwoners wat nie die reëls nakom nie? Dis die eiendomsagente. Hulle adverteer mos hierdie plek asof dit ‘n dierehemel is. Pet friendly. There is no necessity to leave your furbabies behind when you move into this complex. Maar die blêrrie Fariseërs vertel nie van die reëls nie en dan daag die nuwe intrekkers op met ‘n boerboel en ‘n strontstreep katte.

Om meer vertellinge van Daniel en ander inwoners te lees, volg hierdie skakel Coffin Dodgers Park.


Die inwoners van Coffin Dodgers Park is merendeels senior burgers wat die aantrek van die houtpakkie so lank as moontlik wil systap (they are dodging the coffin). Hulle wil graag hul Goue Jare in vrede deurbring, hoewel hulle besef dat hulle spreekwoordelik op die randjie van die gat staan. Hierdie bestaan is nie altyd vreedsaam nie, enersyds omdat jonger lede van latere generasies soms ook ‘n holte vir hulle voet langs die river soek en die generasiegaping ‘n werklikheid is, en andersyds omdat ouer mense nou maar eenmaal wederstrewig kan wees. Die gebeure in hierdie staaltjie en die karakters is fiktief — dit groei uit die skryfster se verbeelding wanneer sy die alledaagse gekeuwel van bure in haar onmiddellike omgewing waarneem.


Prul | drol | broek losmaak | onder clutch kry | sleng

Prul en drol: Ek vind woorde wat op meer as een wyse ingespan kan word, oneindig fassinerend. Die woord prulwerk was aan my bekend, maar dit het onlangs eers onder my aandag gekom dat jy prul op heelwat meer maniere kan gebruik, o.a. om te verwys na onbekwame persone.

In die skrywe hierbo het ek dus myself veroorloof om die gebruik uit te brei en ‘n vergelyking te tref met mense wat hulself gedra soos drolle. Die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) sê ‘n drol is ‘n “plat” minagtende uitdrukking vir iemand van wie ‘n mens hoegenaamd niks dink nie.

Broek losmaak: My pa het altyd die uitdrukking “broek losmaak” gebruik om te kenne te gee dat hy die toilet gaan besoek. Ek sien die WAT beskryf dit ook as “plat” en gee die betekenis aan as onder meer ‘n “uitdrukking waarmee ‘n mens iem. in misnoegdheid wegstuur of waarmee op onfyne wyse ‘n einde aan ‘n gesprek of argument gemaak word”. Wel, anders as sy dogter wat partykeer taamlike banale taal gebruik, het ek nooit my pa geken as “onfyn” nie, maar hy is in 1901 gebore en het in die vorige eeu sy lewensiklus voltooi, en ek is bereid om te aanvaar dat tye (en ons taal) verander het. Ek sal my berus by die kenners se beter insig en kennis.

“Onder clutch kry” is sleng (informele taalgebruik) volgens die WAT. Jy sal sleng in van die woordeboeke vind, maar heelwaarskynlik nie die clutch-uitdrukking nie — dis in heeltemal ‘n ander wentelbaan as standaardafrikaans 😊 Ek het dit in my jongdae (baie, baie lank gelede) leer ken as “onder beheer neem”.

Die WAT verskaf ‘n volledige uiteensetting van bogenoemde gebruike, asook die bronne wat geraadpleeg is. Die woordeboek is beskikbaar aanlyn, onder meer by die webtuiste van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) https://viva-afrikaans.org/

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Sjoe Hester, jou beskrywing van daardie poef onder die ou se wasgoeddraad, was op die drol af🤣🤣Ek moet sê ek weet hoe dit voel om in so ‘n ding te trap en die reuk hou net nie op nie.
    Klink of julle ‘n klandestine fotograaf moet kry om die drolleerders( nuutskepping) op kamera vas te lê.

  2. Ja, netso. Noordhoek het ‘n pragtige, laaang strand – maar die paadjie vanaf die parkeerterrein is só vol landmyne dat ‘n mens onmoontlik by die see uitkom sonder om op een of meer drolle te trap. Onderstaande kom uit 1993:

    mooiweer

    dit was vandag mooiweer
    op noordhoekstrand
    ek sou graag my voete
    diep laat wegsak
    in die warm sand

    maar dié plesier
    word my ontneem
    deur nóg ‘n onbeheerde brak
    gebring deur baas of nooi
    om die skoon wit strand
    onverskillig te bekak

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jou woorde is só in die kol. Ons het dieselfde probleem hier by ons strande ook. Die brakke hardloop sonder leibande en jy moet mooi kyk waar jy trap. Daar is deesdae sulke oulike sakkies wat jy aan jou hond se halsband kan vasmaak of in jou strandsak kan saamdra om skoon te maak agter jou brakke, maar mense gee net nie om nie. Hierdie planeet het net te veel mense en honde, en nie genoeg goeie maniere nie.

  3. Dankie vir hierdie vertelling, Hester. Ek kan die mense se stemme hoor – jou beskrywings is wonderlik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Anne. Dis dinge wat ek elke dag vir veral die afgelope ses jaar hier by die kus waargeneem het. Ons honde is nooit toegelaat om buite ons erf rond te loop nie, maar hier is dit blykbaar ‘n lewenswyse – honde oral op straat, sonder leibande of toesig, en niemand doen die moeite om agter hulle skoon te maak nie. Dit maak my so ergerlik.

  4. Ek het nou lekker gelees en hoor hoe jy die storie vertel. Hoop Daniel kry die prulle en drolle onder die clutch…hehe.

  5. Baie goed gestel en vertel. Jy het my sommer wakker gemaak om iets te skryf. Die ongeskikte mense wat hul honde so los laat gaan en staan waar hul wil. Hier loop die ouens veral in die donker sodat niemand hul sien nie. Dis partymaal so erg dat Trompie nie eers aan die kant van die straat wil loop waar dit vars bevuil is nie.

  6. Oei niet leuk om te wandelen 😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, dit kan jy weer sê, Joke, en in die warm somermaande wil ‘n mens graag jou skoene uitskop om kaalvoet op die strand te loop.

  7. En dan word die drolle nog so beskryf ook 🤣
    Ja so kompleks blyery

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      So ‘n kommune van moeilike mense wat teen wil en dank oor die weg moet kom! Tog trek almal goed saam in tyd van nood en ‘n mens weet jy is nooit alleen nie – dis ‘n lekker gevoel.