My vreugdes en frustrasies

Coffin Dodgers Park

Klasse-verskille en -geskille in Coffin Dodgers Park

landscape creative bridge architecture

Photo by Animesh Srivastava on Pexels.com

Ou Spykerman, glo jy my maar wanneer ek vir jou sê klasse-verskille en -geskille is niks nuuts onder die son nie, sê Daniel vir Spykerman, daar op die bankie vanwaar hulle die interaksie tussen die inwoners dophou.

Ek’t op ’n klein myndorpie grootgeword, brei Daniel uit op sy stelling. Die kômmin mynwerkers se huise het ook in sulke netjiese rye op hulle klein erfies gestaan, almal op dieselfde patroon gebou, met ’n straat aan die voorkant en ’n straat aan die agterkant. Wanneer jy op jou voorstoep gestaan het, kon jy dwarsdeur die huis oorkant sien, by die voordeur in en by die agterdeur uit. Het jy by die vensters aan die sykante uitgeloer, kon jy jou bure in hulle slaapkamers of voorkamers sien, mits die gordyne nie dig getrek was nie. Wanneer die klomp vrouens vir mekaar kwaad was, het hulle sommerso by ’n hoekvenster uit geleun en hulle buurvrouens aan die voor-, agter- en sykant goed uitgetrap, ten aanhore van die hele straat se inwoners.

Daar aan die vlaktekant van die die dorp, was die hôstels vir die stukwerkers of die geleentheidswerkers wat nie gekwalifiseer het vir ’n huis nie. Hulle het in enkelkamers gewoon en g’n ordentlike dogter van ’n mynwerker mog ooit naby daardie hôstels gaan nie. Die on-ordentlikes was natuurlik ’n ander saak. Daar was nie ’n erf, of ’n braaiplek of so iets nie en hierdie manne het maar gekuier op die sokkerveld of in die kroeg by die klubhuis.

Aan die bergkant van die dorp was daar nog so twee rye huise waar die belangrike mense gewoon het: die skofbase, die myndokters, die predikant, die mynkantoorbestuurder, en so aan, jy weet? Hulle het vierslaapkamerhuise gehad en groter erwe. Jy kon nie by daai huise inkyk nie.

Klasse. Daar was ’n duidelike klasseverskil en dit was oral teenwoordig. In die straat het die hoër klas belangrike mense die laer klas kômmin mynwerkers en hôstelbewoners met so ’n geveinsde-vriendelike kopknik gegroet. Die kômmin mynwerkers het ook die hôstelbewoners met ’n geveinsde-vriendelike kopknik gegroet, die hoed gelig vir die belangrike mense en agter hulle rug vir hulle die middelvinger gegooi. Die hôstelbewoners het die hoed gelig vir die ander twee klasse en agter hulle rug vir hulle die middelvinger gegooi. Nooit openlik nie. Dit was in die dae toe goeie maniere nog aan moedersknie geleer is. Maar almal het van vroeë tye af geweet hoe om goeie Fariseërs te wees.

Die feit van die saak is natuurlik dat baie van die hôstelbewoners hoogs-gekwalifiseerde mense was wat tydelik aangestel is om spesialis-arbeid te verrig, teen hoër salarisse as wat sommige van die belangrike mense verdien het. Die kômmin mynwerkers was geharde manne wat soms lewensgevaarlike arbeid verrig het, byvoorbeeld die dinamietdeskundiges, die reddingspanne wat hulle eie lewens op die spel geplaas het om werkers se veiligheid te verseker, en so aan, jy weet? Tog is van hulle verwag om die hoed te lig vir die predikant wat toe nie so hoogheilig was nie, die myndokter wat dronk in die teater opgedaag het, die skofbase wat oppie job gelê en slaap het en die mynkantoorbestuurder wat lare jare die trekpas gekry het omdat hy geld verduister het.

Die verskil ou Spykerman, het gelê in die persepsie van die belangrikheid van klasse wat geskep is deur te bepaal in watter soort woning jy saans jou hoof neergelê het. Dit het bepaal wat jou regte was, watter kanale jy moes volg om gunsies te verdien, by wie se dogter jy kon kuier, hoe groot die honderas is wat jy toegelaat is om aan te hou en of jy voor, in die middel of agter in die dorpsaal gesit het wanneer die weeklikse rolprent vertoon is. Dit het niks te doen gehad met common sense nie.

Dit laat jou dink, nè? sê Daniel.

Om meer vertellinge van Daniel en ander inwoners te lees, volg hierdie skakel Coffin Dodgers Park.


Die inwoners van Coffin Dodgers Park is merendeels senior burgers wat die aantrek van die houtpakkie so lank as moontlik wil systap (they are dodging the coffin). Hulle wil graag hul Goue Jare in vrede deurbring, hoewel hulle besef dat hulle spreekwoordelik op die randjie van die gat staan. Hierdie bestaan is nie altyd vreedsaam nie, enersyds omdat jonger lede van latere generasies soms ook ’n holte vir hulle voet langs die river soek en die generasiegaping ’n werklikheid is, en andersyds omdat ouer mense nou maar eenmaal wederstrewig kan wees. Die gebeure in hierdie staaltjie en die karakters is fiktief — dit groei uit die skryfster se verbeelding wanneer sy die alledaagse gekeuwel van bure in haar onmiddellike omgewing waarneem.


’n, “ô” en Prediker 1:9

’n: Die onbepaalde lidwoord in Afrikaans het my in die verlede al tot raserny gedryf, veral op my blog waar die tema vasberade is om nie te apostroof na links te laat krul soos die syfer 9 nie. Ek het besluit om nog een keer te probeer om die krul te tem en sal maar sien of ek suksesvol was wanneer die blog gepubliseer is. Hou duim vas!

Kômmin en hôstel: In ViVa Advies word tereg aangedui dat Afrikaanssprekendes geneig is om verafrikaanste woorde, veral dié wat hulle uit Engels leen, met kappies te skryf om die Afrikaanse uitspraak van die Engelse vokale aan te dui, hoewel daar nie taalkundige gronde is vir hierdie verskynsel nie. Ek doen dit ook wanneer ek fiksie skryf. Soek die woord kômmin op in die ViVa webtuiste (skakel hieronder) vir ’n bespreking van hierdie verskynsel.

Bogenoemde bronne is beskikbaar aanlyn by die webtuiste van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) https://viva-afrikaans.org/

Prediker 1:9 “daar is niks nuuts onder die son nie” beteken dat niks wat gebeur, nuut is nie. Wat gedoen is, sal weer gedoen word.

Follow Dis Ekke

28 Comments

  1. Die stryd om die afkappingsteken was (amper end-uit) suksesvol!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Net amper? Ek het dit nogal twee deurgelees om séker te maak. Ag wel, ek het probeer. 😂

      • In die storie self is al die krulle reg – dis in die naskrif waar daar ‘n 6-krul deurgeglip het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dankie Frannie, ek het hom opgespoor en reggemaak – en daar was sowaar nog twee ander ook waaroor ek gestruikel het. My taal laat my vandag hard werk.

        • Jy’s baie dapper! Ek stoei net met daai krulle wanneer ek betaal word.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons het dit anderdag bespreek op Facebook en ek het verklaar dat ek moed opgegee het, maar natuurlik is dít nie in my natuur nie en ek het maar weer probeer. Yay me! Ek gaan myself nog eendag te ver dryf en dan gaan die lewe moed opgee met my. My dogter het daardie selfde nuk 🙄 perfeksionisties.

        • Dis die mense wat die samelewing aan die gang hou!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          😊 en die samelewing soms irriteer …

        • Ummm – yup!

  2. Hester, I grew up on a gold mine. We lived on the hillsides – the manager at the top (of course), the mine captain and engineer below that and everyone else cascaded down. We had shiftbosses below us, electricians and miners below them … Your story brings back mixed memories of how the ‘classes’ simply HAD to mix in order to play tennis, have a communal braai or watch the weekly bioscope in the community recreation hall. Such fun. I learned a LOT about people – the best of all has been to respect people for who they are and not what they are!! Your writing is fantastic – I love it.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Thank you Anne. I actually grew up on a copper mine. My parents were very strict – religious and old-fashioned. I did mix with the children at school and around the swimming pool, but the community hall and activities were strictly forbidden.

  3. Jinne Hester, daar skrywe jy so waar oor die lewe op myndorpe, en saagmeul gehuggies. Ek het die sommer baie geniet. Dankie vir die onthou en dankie vir die taalles ook.

  4. Daar is genoeg kopkrap dinge op die planeet om my nog aan krulle en grille te steur. Jou skrywe klink so bekend 😁😁😁😁 Ai ai daardie klasseverskil. Laat my dink aan my neef wat tussen die rykes gebly het daar tussen die mielielande.Sy ma kom kuier by hulle, bel my en sê ek moet asb kom teedrink. Vertel in bybelstudiegroep hoe mooi hulle tuin is. Die onderwyseresse se monde hang oop… “Hoe het jy reggekry om daaaar in te kom. Hoor toe sy vrou meng nie met kômmin mense nie… nie eers die onderwyseresse nie.

  5. Sjoe Hester, jy het my nou teruggevat na ons jare by Waterwese. Die “dambouers” soos ons bekend gestaan het. Dit het presies netso gewerk. Daar was die sout-van-die-aarde-spulletjie, wat die harde arbeid verrig het, die kantoorpersoneel, die projekingenieurs ens. Eintlik moet ek ook ‘n blog daaroor skryf.

  6. vuurklip

    Eggo’s van Klerksdorp, Stilfontein en meer …

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek en Perdebytjie het nounet gepraat oor hoe eners hierdie tipe gemeenskappe is. Wonder of dit eg Suid-Afrikaans is of lyk dit oor die hele wêreld so?

    • Ek het ook op Stilfontein groot geword, klink vir my myndorpe is oral dieselfde

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Ja, ek weet nie van deesdae nie, maar ek dink dit het maar in alle plattelandse dorpe ook so gegaan. Die prokureur, dominee, dokter en skoolhoof was baie belangrike mense en het die toon aangegee. Ons het lanklaas gesels en dis lekker om jou weer te sien 😀

  7. Jinne Hester, jy het my ook nou laat terug dink aan tant Stienie in daai TV program.Ek het hierdie so geniet. Jy skryf baie goed. Jy en Erna is altyd vir my ‘n inspirasie om te probeer beter skryf. Ek onthou niks van my Afrikaanse taalreels nie….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Agter elke man. Ou tant Stienie was ‘n sterk vrou – ‘n inspirasie. Die enigste belangrike taalreël is dat jy dit moet praat en liefhê!

  8. Die storie laat my dink aan my jare as spoorweg kind in die spoorweg kamp. Ingedeel volgens die tipe werk. Dis ‘n vergange tyd wat meeste jongmense nooit sal ervaar nie. Dankie vir die Afrikaanse les. Selfs met ‘n woordelys en spel reëls, woordeboeke en meer maak ek steeds foute. (Te veel)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hi, dankie vir die inloer. Vir my bly Afrikaans ‘n moeilike taal, fassinerend, maar moeilik en ek steek ook maar partykeer kortpad met ‘n sêding. My woordeboeke is altyd oop en wanneer ek iets nuuts leer, voel ek gedrewe om dit te deel.