Sowat van ‘n gekeuwel is lanklaas in Coffin Dodgers Park waargeneem. En dit alles oor voëls wat die rus versteur. Tjaart moes einde ten laaste die rondte van Vader Cloete doen en briefies uitdeel aan al die oortreders. Dis nou die soort briefie wat die reëls uitspel, soos vasgelê deur die eienaars van die deeltiteleenhede. Die opskrif van die briefie vandag: Moenie die wilde voëls voer nie, want dit veroorsaak herrie (‘n gekeuwel) met die bure.
Coffin Dodgers Park is geleë langs ‘n rivier, en wilde voëls is ‘n algemene gesig hier tussen die meenthuise: ooievaars en wildeganse is gereelde besoekers, en hier het al by geleentheid ‘n eensame reier rondgewandel. Swerms swaeltjies maak hulle tuis tussen die rietbosse in die rivier (hopelik vreet hulle die muskiete), en vinke kwetter in die bome. Hadidas ook, ja, natuurlik. Hulle krys vroegoggend en laataand paniekbevange wanneer hulle oor die hoë dakke vlieg – Daniel sê hulle ly aan hoogtevrees; wanneer hulle onder op die grond in die tuine rondskrop, sê hulle nie piep nie. Meer eksotiese voëls ook: kraalogies, visarende, geelgatte, loeries, horingneuse, valke, suikerbekkies.
Dis egter die kolganse en die ooievaars wat die inwoners se senuwees rou skaaf. Nee, eintlik is dit die inwoners en hulle kuiergaste wat die voëls voer wat die bure se senuwees laat tril soos ‘n kitaarsnaar. En dis net daar waar gewone gemoedelike gekeuwel onder die bure ontaard in ‘n volskaalse oorlog.
Ja, seg Daniel, ek is ook skuldig, want ek voer die ooievaars. Maar hulle is stil, maak nie geluid nie, behalwe wanneer hulle aan die voordeur kom klop. Hulle kom pik letterlik met hulle lang snawels aan die hout en loer dan vir my deur die glaspaneel. Hulle soek net ‘n ou stukkie hoendervleis. Dit gebeur ook nie elke dag nie, want hulle is lekkerbekkig en sit net aan vir ete wanneer ek een of twee keer ‘n week ‘n hoendertjie in die rotisserie-oondjie gaarmaak. Hulle is wetsgeleerd, te ougat vir woorde, behalwe wanneer die deur oopstaan en hulle sommer inloop om op die teëlvloer te kom skyt. Ongeduldig vir die happies hoender om uitgedeel te word.
Maar die verdomde kolgans is ‘n voël met anderste vere, sê Daniel wanneer die ganse hom vir die soveelste keer nog voor dagbreek wakkermaak. In die dele van die land waar hulle ‘n las van hulleself maak by die boere se saailande, is hulle as ‘n pes verklaar. Voëlvry. Hulle kan maar geskiet of andersins uitgeroei word. Hier langs die rivier word hulle gevoer en gepamperlang, net sodat hulle die gras uit die dak kan kom trap en my ore van my kop af kan skree wanneer ek nog wil slaap. Hulle loop sit ook nie op die voerders se dak bo húlle slaapkamer nie, nee, hulle sit hier op die dak voor mý slaapkamervenster met hulle oë vasgesweis op die voerders se kombuisdeur, want hulle weet dis waar die broodkorsies uitgegooi word. Die probleem is dat hulle bevolkingsaanwas buite beheer is, want hulle migreer nie meer na ander oorde toe soos dit hoort nie. Hulle leef alte geil hier waar hulle nie natuurlike vyande het nie en ook nie hoef mee te ding vir kos nie. Vandag voer jy ‘n paartjie en môre bring hulle twaalf ganskindertjies saam met hulle.
Hulle word ook nie afgeskrik wanneer mens hulle probeer verjaag nie, beduie Daniel vir Tjaart en demonstreer sy argument deur sy polisiefluitjie te laat skril. Dan swaai hy sy arms soos ‘n windmeul, tel ‘n tuinklippie op en gooi dit in die ganse se rigting – wat ‘n fout is, want as ‘n man aan die verkeerde kant van sewentig is, kan jy baie maklik jou balans verloor as jy jou arm so hoog optel. Dit besef Daniel toe hy plat op sy rug in ‘n plassie water op die teervlak lê en kyk hoe die ganse hom belangstellend beloer daar bo van die spits nok af. Mens sou sweer hulle woon ‘n konsert by, mor hy, en beskou sy nerfaf elmboë, vat-vat aan sy seer rug.
Ek het iewers gelees dat Boerneef eintlik van ‘n kolgans gepraat het toe hy daai gedig van hom geskryf het, maar hy het sommer digterlike vryheid gebruik en die bliksis ‘n berggans genoem. Seker net om meer romanties te klink, want dis mos eintlik ‘n liefdesgedig. So vertel Daniel ewe moerig en haal Boerneef aan:
Die berggans het 'n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal my hart staan tuit al meer en meer ek stuur vir jou die berggansveer mits dese wil ek vir jou sê hoe diep my liefde vir jou lê Boerneef (I.W. van der Merwe)
Voertsek! skree Daniel later vir die ooievaar wat aan die deur kom klop. Ek het gesien hoe jy die klein katjie gejaag het toe hy met die padda wou speel. Voert! seg ek. Jy vreet nie weer uit hierdie huis uit nie. Gaan klop hier langsaan.
Om meer vertellinge van Daniel en ander inwoners te lees, volg hierdie skakel Coffin Dodgers Park.
Die inwoners van Coffin Dodgers Park is merendeels senior burgers wat die aantrek van die houtpakkie so lank as moontlik wil systap (they are dodging the coffin). Hulle wil graag hul Goue Jare in vrede deurbring, hoewel hulle besef dat hulle spreekwoordelik op die randjie van die gat staan. Hierdie bestaan is nie altyd vreedsaam nie, enersyds omdat jonger lede van latere generasies soms ook ‘n holte vir hulle voet langs die river soek en die generasiegaping ‘n werklikheid is, en andersyds omdat ouer mense nou maar eenmaal wederstrewig kan wees. Die gebeure in hierdie staaltjie en die karakters is fiktief – dit groei uit die skryfster se verbeelding wanneer sy die alledaagse gekeuwel van bure in haar onmiddellike omgewing waarneem.
Keuwel / gekeuwel
Hierdie woord het onlangs my aandag getrek as gevolg van die veelsydige (en soms teenstrydige) gebruik daarvan. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), word hierdie woord ingespan as volg:
- Op gesellige, genoeglike, gemoedelike, vertroulike wyse met iem. (mekaar) gesels; oor ditjies en datjies, oor koeitjies en kalfies praat; babbel (op vriendelike wyse)
- Argumenteer, stry; rusie maak — soms op sanikende wyse (nie meer vriendelik nie)
- Vry, opsit (nooi en kêrel)
- Vriendelike, gesellige geluidjies, keuwelklanke maak, klankreeksies voortbring — van ‘n baba gesê
- By uitbreiding: Praat op ‘n wyse wat laat dink aan die gekeuwel van ‘n baba, asook Saggies ruis (lug wat ruis deur die blare van ‘n boom dalk) of miskien die geluid wat ‘n stroompie water maak.
- Teks in kursief deur die skryfster bygevoeg.
Die WAT verskaf ‘n volledige uiteensetting van bogenoemde gebruike, asook die bronne wat geraadpleeg is. Die woordeboek is beskikbaar aanlyn, onder meer by die webtuiste van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) https://viva-afrikaans.org/
Lekkervurigeaffêre
Hoera. Jou geskryf oor die gekeuwel oor snetterende ganse as inleiding tot die lewe in Coffin Dodgers Park is perfek en dit voel of jy hier by my sit en Hester vertel. 😘
HesterLeyNel
Dankie Lekkervurig. Ek het lank gewonder hoe ek die storie gaan aanpak, maar dis tyd dat Daniel lewe kry 😜
Lekkervurigeaffêre
Ek sien uit.Lekker skrywe.
vuurklip
Hahahadidahaha!
Hoogtevrees!
Vertel meer van die Dodgers …
HesterLeyNel
Dankie Vuurklip, ek sal mettertyd meer vertel. Dis die voordeel van oud word – jy sit stil en hou mense rondom jou dop sodat jy kan oorvertel. Natuurlik effens verdraaid en met ‘n storie daarby, maar ‘n mens moenie toelaat dat feite in die pad van ‘n goeie storie staan nie.
Perdebytjie
Ek het dit nou baie geniet… nie besef kolganse is so ‘n pes nie. Mense wil altyd diere en voëls voer en doen eintlik meer kwaad as goed.
Jy skryf so lekker humoristies… ek sien al die klipgooi-en valtoneel. Vrek snaaks!
HesterLeyNel
Nie so snaaks vir die ou wat op die grond lê en spartel soos ‘n skilpad op sy dop nie, hahaha. Dis waar jou ego baie seer kan kry.
scrapydo2.wordpress.com
Beslis hoe dit is by sulke saambly plekke veral as dit die ouer gardes is wat daar woon. Hul voorsien altyd kossies aan mens en dier. Lekker gelees, jy laat my sommer tuis voel daar in jou geweste.
HesterLeyNel
Dis waar Scrapy. As jy gewoond is aan die lewe in ‘n kompleks, pas jy nie maklik weer aan op ‘n ander plek nie. Ons het al in ‘n paar deeltitelkomplekse gewoon en dis oral dieselfde.
scrapydo2.wordpress.com
Ek het self ook maar by verskillende komplekse gebly en is maar ‘n storie om almal gelukkig te hou.
Joey
Ag Hester ek het dit so geniet! Ek is ‘n voël liefhebber en kon my die rivier en voëls voorstel. Lekker gegiggel oor die man op sy rug en net bly daar het nie boonop ‘n gans in sy oog getjorts nie…
HesterLeyNel
Og, dis ‘n nare voël Bondels. Ek het nogal goed geskiet met ‘n kettie daar doer in my kinderjare … Of dalk moet ek die mense wat hulle voer met kluite bestook.
mijnnikonenik
Prachtige vogels!
woordnoot
Mal oor daai woord…gekeuwel.
HesterLeyNel
Ek hou daarvan om nuwe woorde te leer en te gebruik … oor en oor … totdat my gesin mooi keelvol is vir my. Hulle behoort bly te wees ek leer nie sommer vloekwoorde aan nie.
woordnoot
Haha…..gelukkig is daar nie sulke mooi vloekwoorde nie!