Hierdie week het Lekkervurigeaffêre nie net ‘n vonk verskaf om ons aan die skryf te kry nie, sy het sommer ‘n hele vuur aangesteek. ‘n Warrelknoop. My vriendin doen niks in halwe mate nie.
Ek sit hierdie week en bekyk al die video’s wat Namakwalanders op sosiale media plaas oor wolkbreuke, lekker reën en riviere wat stroom daar in my komvandaan: Groenrivier daar by Garies, waterstrome in die Kamiesberge, goeie reën aan die Weskus daar by Kleinzee …
Ek onthou Namakwaland se dorre landskappe in dralende droogtetye, stofwolke en warmgebakte klipbanke wat kilometers ver strek. Hier en daar ‘n groenigheid wat vasklou aan die lewe – dis die taaibos, koenebeebos en geharde kokerbome wat aangepas het in hierdie halfwoestyn en op die een of ander manier dit regkry om te oorleef, droogtejaar na droogtejaar. Jy oog raak gewoond aan die landskap en daar waar sommige mense net vaal vlaktes en vêraf klipkoppies raaksien, kan net Namakwalanders die ryke verskeidenheid van teksture waardeer. Tog bly die oë altyd opgehef na die blou lug. Die verwagting en versmagting na reën, is nooit ver onder die oppervlak nie.
Daardie dier is ‘n dame met name ‘n dassie Wat op die klipplaat sonbaai met ‘n passie Ek daarenteen, verkies om te lê en droom In die skaduwee van die groot kokerboom Terwyl ek leepoog staar oor die vale vlakte En lawend my dors les uit die put se brakte Sou vandag die dawerende donder daar ver Die seën van reën bring soos in die jare her? DIS EKKE
Dan die uitbundige vreugde wanneer die reën uiteindelik kom – die vonk wat die landskap verander soos handomkeer. Vars soet water uit die blou hemel. Mense dans letterlik buite onder die druppels wat in die sand neerplof. Hulle vang reënwater op in tenks, komme, emmers – al wat ‘n hol ding is. Hierdie water kom nie dikwels oor Namakwalanders se pad nie en word des te meer waardeer. Water is lewe.
Die veld bars uit sy nate met groenigheid en oënskynlik oornag verskyn die wilde veldblomme. ‘n Bonte mengelmoes wat my vriendin se hart sal laat juig, want haar geliefkoosde kleur is bont. Hoe bonter hoe beter. Die blomseisoen is van korte duur, maar dis die skouspel wat besoekers van heinde en verre altyd bybly. Rasegte Namakwalanders kyk dieper en sien die egte, onverbloemde skoonheid van die kale aarde.
Ek woon deesdae binne loopafstand van die Indiese Oseaan. Mens sou verwag dat ek hierdie vonk sou aangryp om jubelend te juig oor see, son en water soos saffier so blou … maar soms loop my hart weg om te gaan kuier by my vandaankomplek.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laai waai en geniet dit.
Die plasing Woordwarrel Inspirasievonk 2 Desember 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.
Lekkervurigeaffêre
A my mater, hoe lekker het ek in jou komvandaan se omtes kom gedagtewarrel, daardie gedig is baie mooi vir my. Jy het die warrelknoop in ‘n warrelsnoer omskep.
HesterLeyNel
Snaaks hoe vinnig die woorde kom wanneer jy praat oor jou hartsgrond- en goedere.
Lekkervurigeaffêre
Dit is waar, dis waar passie se wortels lê, glo ek.
Anne
Ek hou baie van hierdie woorde, ‘my komvandaan’! Ek het hier saam met jou die hitte van die son gevoel; die stof; die rotse … en die geluid van die reën wat uiteindelik val. Dit kon amper ‘n beskrywing van die Oos Kaap gewees, maar gister het regte reën uiteindelik neergesak – wat ‘n wonderwerk. Jy beskryf alles so fyn dat dit ‘n plesier is om te lees.
HesterLeyNel
Dankie Anne, en ek is verskriklik bly dat julle mooi reën gekry het.
Kameel
Dis so ‘n mooi beskrywing Hester. Blomtyd is vir ons binnelanders natuurlik ‘n fees vir die oog. Kan dink jy verlang met tye na daardie wêreld.
HesterLeyNel
Daai wêreld en die tipe mens wat daar kan woon en leef, is onlosmaaklik verbind, want dis nie almal wat daar tuis voel nie.
Kameel
Ek het die mense net soveel geniet as die blomme.
perdebytjie
Puik geskryf, Hester! Ons wat nog nie in Namakwaland was nie, kry die prentjie.
HesterLeyNel
Dankie Dina. Dis ‘n baie besondere wêreld en ek is bly as ek julle ietsie kan laat verstaan van die omgewing en sy mense.
scrapydo2.wordpress.com
Pragtig en kleurvolle vertelling oor jou geliefde Namakwaland. Jou manier van vertel is ook eie aan die streek. Jy ryg darem maar lekker al die passende woorde in hul plekke in so in die verbygaan. Sommer elf uit tien vir jou!
HesterLeyNel
Dankie Scrapy. Ja, die Namakwalandse manier van praat (en die aksent) bly altyd by jou.
scrapydo2.wordpress.com
Dis maar met my Hollandse maniere en praat ook die geval en natuurlik nou hier in NZ staan my praat ook uit. Kan maar nie regtig jou agtergrond ontduik nie as mens dit so kan stel.
Bondelsgedagtes
sjoe Hester, jy het ‘n ordentlike storm hier los geskryf. Mal oor jou gedig en die hele beskrywende toneel wat jy met jou woorde verf. Dis amper of ek nostalgie voel in jou woorde en jy laat mens wens dat ek ook daar was
HesterLeyNel
Dankie Bondels. Soms is so ‘n kuiertjie in jou verlede die lekkerste plek om te wees – dankie dat jy saamgekom het.
Bondelsgedagtes
https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2021/12/08/woordwarrel-2/