
Vandeesweek speel ons letterkeer of anagram en die inspirasievonk is swartskaap. Vandag voel ek meer soos ‘n agteros op pad kraal toe, want my medeskrywers Perdebytjie, Lekkervurige Affêre en Kameel:
het al die moontlike woorde geannekseer met raap en skraap
sowaar as vet alles bymekaargegooi van Noordwes tot Kaap
vir my oorgelos die droesem in die beker, die onderste kwart
en hier bly staan ek, skapie wat wei in die park, alleen en apart😜
Ek moet nou eers diep nadink oor die woord swartskaap. 🎶Baba swartskaap, het jy vir my wol? Ja Meneer, Ja Mevrou, drie sakke vol. 🎶 Mmm, nie veel wat ek daarmee kan doen nie en hierdie skapie is net … swart. Swartskaap moet ‘n ander betekenis hê.
Dink. Die swartskaap in die familie of samelewing word gewoonlik blameer vir dade wat sosiaal onaanvaarbaar is. Dis hoe dit in die verlede gewerk het. Deesdae se swartskaap is mos die nuwe soort held. Hoe meer skokkend, buitensporig en ondeurdag die dade of die woorde wat by die mond uitvloei, hoe meer word die voormalige swartskaap verhef tot volksheld.
Nee man. ‘n Held is mos ‘n persoon wat vereer word vir sy liggaamlike en intellektuele krag, moed, dapperheid en bekwaamheid, nè? Nie vir sy kwaadwilligheid, listigheid, onbetroubaarheid, onderduimsheid, opsetlikheid, skynheiligheid, slinksheid, sluheid, skelmgeit en vuil bek nie, of hoe? Hoekom kry ek dan al hoe meer die indruk dat ons beskawing die tipiese anti-held, die protagonis wat ‘n uiterste gebrek toon aan die karaktertrekke wat van hom / haar ‘n held sou maak, tot godedom verhef?
Dalk dink ek te diep. Wie onthou nog die boeke wat die gewilde skrywers, Elmar Steyn o.a., geskryf het? Die verhale waarin die boekanier (perdedief, wilddief, seerower), kaartbedrieër en struikrower verhef is tot kavalier … en held? Hierdie “helde” was ook meesal eintlik swartskape, gewoonlik wat die Britte ‘n Remittance Man sou noem. Dis die swartskaap wat vanweë sy onaanvaarbare gedrag deur sy hogere familie weggestuur word na vreemde lande om sy eie potjie te gaan krap, met ‘n jammerlike klein geldelike maandelikse bydrae wat sy familie aangestuur het daar van ou Ingeland of Frankryk af. ‘n “Remittance” het hulle dit genoem. Vandag sal dit ‘n elektroniese oorplasing wees.
Maar julle kan nie stry nie – hierdie kavaliers was sjarmant (en aantreklik) en hulle het geweet hoe om die Kaap se vroulike geslag om hulle pinkie te draai. Dit was nou wanneer hulle nie besig was om geld te steel by die rykes nie (natuurlik met die doel om dit à la Robin Hood aan die armes uit te deel, nie om huise in Sandton te gaan bou nie). Hulle was van gesiene families, goedgeleerd, baie manierlik, o so sjarmant en natuurlik só aantreklik. Net so ‘n bietjie aweregs, maar op ‘n manier wat jy kon vergewe (as jy ‘n hubare jongmeisie of die ma van ‘n hubare jongmeisie was). Sug. Ongelukkig het die storie altyd geëindig net ná die Groot Liefdesverklaring en was maar powere voorbereiding vir die werklikheid wat sou intree by die omruil van babadoeke, slapelose nagte oor onbetaalde rekenings, honger by gebrek aan iemand wat die landerye moet bewerk of skape oppas…. Vergelykbaar met die hofmakery en beloftes tydens ‘n verkiesingsveldtog.
Ag ja, die werklikheid lyk altyd bietjie anders.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laai waai en geniet dit.
Die plasing Woordwarrel Inspirasievonk 18 November 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.
Lekkervurigeaffêre
Hester,daar warrel en dig jy weer meesterlik en sit die dink aan die gang. Ag, het daai oudagse swartskape darem tienerdagdrome romanties gekleur. Ek het nou lekker gelees. Dit reën heerlik hier by ons en ek het 70 letterkere uit swartskaap wat nog ongekryf in my kop konfetti maak. Hoe skryf mens nou iets as Hester, Perdeby en Kameel die swartskaap so deeglik omgekeer het. Lekker middag mater.
HesterLeyNel
Dankie Lekkervurig, jy het ‘n wenner hier voorgestel. Dis net dat my kop vashaak wanneer ek soveel keuses het … 70 letterkere sal my kranksinnig dryf. Dis hoekom ek liewer net op daardie swartskapie gekonsentreer het.
Lekkervurigeaffêre
Jy is ‘n spesiale blogmaat en mater vir my. As jy nie met my die mooie blog van jou Nederlandse vriendin oor swartskaap gedeel het nie was ons armer aan ‘n romantiese storie van Kameel, ‘ n kostelike skets van Perdebytjie en sonder jou ander kyk na swartskaap wees. Dis vir my tonekrul lekker dat ons met een woord so lekker kan warrel. Ek sal my bydrae vanaand pos.
HesterLeyNel
Dankie vir jou mooi woorde, maatjie. Ek kyk uit vir jou bydrae.
HesterLeyNel
Noudat jy daarvan praat, dit is eintlik Anuschka se blog https://levensjutters.com/2021/11/15/elke-kudde-heeft-zijn-zwarte-schaap-nodig/ wat ons geïnspireer het om “swartskapie” te speel. Ek hoop hierdie skakel pingback na haar toe.
Lekkervurigeaffêre
Ek gaan dit in my relaas ook plaas.
HesterLeyNel
Goeie idee
perdebytjie
Ek onthou nog daardie romantiese kavaliers en prinse op wit perde uit my romantiese jeudige tydperk. Lekker gelag vir die bom terug na die werklikheid… al daardie goor goedjies na die huwelik!
Briljant geskryf, Hester!!
HesterLeyNel
Ja, ek is deesdae nogal lief daarvoor om fiksie te lees of flieks te kyk oor die werklike lewe. Huisvrouens of werkende vrouens in hulle middeljare of reeds daar verby wat sukkel met die uitdagings van alledaagse verhoudings. As ek lees hoe ander mense sukkel om nie hulle huisgenote met houtlepels aan te rand nie, voel ek sommer meer “normaal” – wat dit ook al beteken.
Anne
Absolutely delightful, Hester. You have hit the nail smack on its head! By the way, according to the BBC, there was a time when the nursery rhyme Baa Baa Black Sheep could not be taught in schools because it was considered “racially offensive”. Cry, our beloved world!
HesterLeyNel
Oooooh my word! One seems to be constantly walking on egg shells these days. Who has the time and the energy to think up such utter nonsense? I’m really tired of snowflake behaviour.
Anne
Me too – and, living in a university town, we are up against it all the time.
woordnoot
Briljant geskryf…maar ja! Jy is en bly n toornaar met woorde!
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot. Dis lekker om jou weer te sien. Dankie vir die saamlees.
woordnoot
Geniet dit baie…
scrapydo2.wordpress.com
Ja nee, daardie Elmar Steyn boeke was ook my gunsteling leesstof. Jy het darem voortreflik gehekel met die hede en die verlede. My storie draai ook nog in my kop rond.
Kameel
Hester jy praat waar. Die werklikheid is so werklik dat ek eerder by die liefdesverklaring stop.
HesterLeyNel
Jy wil net die jêm eet en brood in die asblik gooi? Daar is meer as een van ons wat so voel!
Kameel
Nou verstaan ek hoekom ek niks van brood hou nie… en dit gee my boonop sooibrand. 😕
HesterLeyNel
😜🤣
Levensjutter
Wat heb je er een mooi verhaal van gemaakt Hester! Ik moet er wel weer even inkomen: afrikaans lezen… Goede hersengymnastiek. En ik vind de woordwarrel een leuk idee! Misschien haak ik ook een keer aan
HesterLeyNel
Jy’s baie welkom Anuschka. Ons is baie gek na hierdie woordspeletjies. Goede hersengymnastiek! 😊