Jou inspirasievonk vir vandag is “pampoenspook”.
Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer. Die reëls verskyn onderaan die blog.
Pampoenspook is seker nie regtig ‘n nuutskepping in die ware sin van die woord nie. Vir my is dit egter ‘n nuwe begrip waarvan ek eers, via Facebook, verneem het toe die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) by geleentheid die woord pampoenspook as hulle “woord van die week” aangewys het. Volgens die WAT, is die betekenis as volg:
- ‘n Uitgeholde pampoen met gate in die kant en ‘n kers of ander ligbron binne om ‘n spookagtige indruk te maak soos in die grafiese voorstelling hierbo. Die Amerikaanse jack-o-lantern, dus, wat ‘n Halloween-tema voorstel. Ek het met Halloween eers kennis gemaak op televisie toe my kinders begin kerm het om na flieks soos Psycho, Nightmare on Elm Street, Child’s Play, Friday the 13th, ens., te kyk. Nou weet ek ook, dis ‘n pampoenspook daardie.
- Storie of gerug wat deur politici gebruik word om kiesers te beïnvloed, veral deur te oordryf of op gewaande gevare te wys. Jip, hierdie konsep ken ek al daar van die Natte en Sappe se dae af – dink maar aan die Swart Gevaar, die Rooi Gevaar, die Koue Oorlog en die Ystergordyn wat vir ons soveel nagmerries veroorsaak het. Nou se dae leef ons daagliks onder die skadusambrele van die komplot-teorieë – ek moet erken dat ek banger is vir die sosialemediatrolle wat ‘n komplot agter elke bos raaksien, as vir die werklike gevaar wat dalk daaragter skuil.
- Idiomaties: vir pampoenspoke skrik – bang wees vir nietighede. In die ou dae het ons altyd gesê ons skrik nie vir koue pampoen nie (sou ons geskrik het vir warm pampoen?), maar die pampoenspook, koud of warm, het my nou eers ter ore gekom.
Dit laat my nou skielik dink aan die “lakenspoke” wat ons as kinders prakseer het. Wie onthou nog die wit laken oor die kop en die flitslig wat onder die ken gehou is om die kleiner kinders die skrik op die lyf te jaag? Dit was ‘n vreesaanjaende gesig wat ons telkens ‘n drag sla op die hals gehaal het wanneer die grootmense ons uitgevang het.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Lekkervurigeaffêre
Pampoenspook, nee…pampoene oppie dak, ja…koue pampoen…pampoenkoekies in stroop…soetpampoen….soutpam-
poen…botterskorsie…nou is ek pampoen honger. Mooi man Hester.
HesterLeyNel
Pampoenkoekies in ‘n kaneelsous, saam met gebraaide hoender en aartappels. Ek het eens op ‘n tyd gekook, maar dit was lank gelede 😜
Lekkervurigeaffêre
Pampoenskywe wat in die oon bak soos aartappels. Hemels.
Kameel
Ek het gehou van my pa se kaskenades met pampoenspoke…. maar aan politiek verbind dié ken ek nie. Ek haat politiek weereens oor my pa en vriende se gepraat oor Natte en Sappe.
Lekkervurigeaffêre
Jong, ons kan maar dit haat soos ons wil, maar die politieks spin ons wiele en gemoedere te vreeslik, en daar is die spreekwoord wat sê oor slegte goed wat gebeur as goie mense anderpad kyk. Dis nie ‘n pampoenspook nie.
HesterLeyNel
Politiek was gelukkig nie ‘n groot ding in ons huis nie. Ek weet my pa het vir die Natte gestem, maar ek het nooit erg gehad aan die omies met die swaaiende vingers nie.
mijnnikonenik
Pampoenspook zouden wij pompoenspook noemen 🎃. Meestal worden ze uitgehold of soep ervan gemaakt. Ook lekker bakken in oven als frietjes. Geniet van het pampoenfeest!
HesterLeyNel
Mmm pampoensop is yummy! Dankie vir die saamlees.
woordnoot
Wie skrik nou vir koue pampoenspoke?
HesterLeyNel
Haha. Nie ek nie, ek’s ‘n dapper muis.
woordnoot
Juistement!!
Lekkervurigeaffêre
https://lekkervurigeaffere.blog/2021/10/29/woordwarrel-28-oktober-2021-pampoenspooktye/
Perdebytjie
Lekker onderwerp, dankie Hester. Ek sal nog bietjie dink.
scrapydo2.wordpress.com
Hier is my pampoenspook https://kreuk-els.com/2021/10/31/woordwarrel-pampoenspook/
HesterLeyNel
Dankie dat jy deelgeneem het. Ek dink jy het in jou blog ‘n glips gemaak met die datum wat 31 Oktober moet wees.
scrapydo2.wordpress.com
A, dankie sal bietjie gaan kyk.