My vreugdes en frustrasies

Woordwarrel

Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 14 Okt 2021

Jou inspirasievonk vir vandag is “nuutskepping”.

Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer. Die reëls verskyn onderaan die blog.

Laat daar nou geen twyfel daaromtrent wees nie. Die Afrikaanse taal is besig om te verander in die volksmond, maak nie saak hoe ons daarteen skop nie. Dis genoeg om enige Afrikaanssprekende wat op skool geleer is om standaard Afrikaans te praat en te skryf, se kop te laat ratel. Dit geld veral in die geval waar die kop al grys is en die skooljare ‘n halfeeu gelede in die verlede gesetel is.

Onthou, in daardie jare het ons nie juis afgewyk van reëls nie, sy dit nou skoolreëls, kerkreëls of taalreëls. Dink nou byvoorbeeld aan die reël dat ons kort wit skoolsokkies omgevou moes word net bokant die enkel en wee jou as die onderwyser aan diens in die skool se gange jou moes aanspreek oor die verontagsaming van hierdie rigiede voorskrif.

Woorde, spreekwoorde, idiome en ander taalreëls is in jou ingedril van Sub A af. Nou Graad 1, ja, ek weet. Daar was geen ruimte vir digterlike vryheid nie. Maar, en ja, ek weet dit was ‘n doodsonde om ‘n sin met “maar” te begin, MAAR ek wou net sê: tye verander, mense verander en put inspirasie uit ‘n veranderende wêreld.

Ons neem vreemde tradisies oor, leer loslit gewoontes aan, maak kennis met nuwe kulture, leer mekaar se taal aan. En (ja, ek weet – doodsonde) ons taal verander. So ook die rigiede reëls, veral daardie reëls wat beweer het kinders moet gesien en nie gehoor word nie en, kinders moet respek hê vir hulle meerderes wat almal insluit van die skoolhoof en die dorpsprokureur tot die ooms en tannies wat meer as tien jaar ouer as jy is. Laasgenoemde noem jy “oom” of “tannie” totdat jy die dag jou hoof neerlê, selfs al is jy sestig jaar oud en die tannie sewentig.

En (ja, ek weet) dis net hier waar die tannie in opstand kom. Wat is ‘n tannie? Die vrou van jou oom, jou ma of pa se suster of sommer net die onbekende vrou wat nie met jou oom getroud was nie en nie jou pa en ma geken het nie? Nee, Boetie / Sussie, moenie familiêr raak hier nie. Hierdie oortreding sal net vergewe word as die spreker wat hierdie aanspreekvorm gebruik jonger as 18 jaar is. Ek gee nie om of dit jou tradisie is en of jy reken dis ‘n teken van respek teenoor jou oueres en meerderes nie. Ek is nie jou tannie nie. Ook nie jou oom nie, indien jy dalk twyfel oor my seksuele identiteit.

Wat moet jy my dan noem? Hierdie netelige probleempie het my ou skoolmater daar doer van die Weskus af vanoggend vir my opgelos toe sy na ‘n ouer dame verwys het as ‘n “seniorina”. Wat ‘n inspirasievonk! Ja, as jy besef dat ek jou meerdere is en / of ouer as jy is, noem my sommer “Seniorina”. And bless your soul my child.

Kom ons help om die taal uit te bou – wees kreatief!


Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.

Follow Dis Ekke

33 Comments

  1. Aweh. Seniorina Hester. Ek sien kinnerlik uit om saam te woordwarrel. Trammakassie, sjoekran, merci, dankie dat jy ons uit die skryfdoldrums kom waai.

  2. Gedoriewaar, slaat my met n slap snoek, dit is heel onverwags om iets van seniorina Hester te verneem wat sy en lekkervurig uitgebroei het. Welkom terug op die lug.

  3. Oulike idee om ons weer aan die skryf te kry, Hester. Ek was net so lanklaas op WP, dat ek van vooraf sukkel. Ek is lus om ook nou saam te skryf. Sal nog sien of my stywe skryfkoppie gaan loskom.

  4. Ek hoop ek het alles reg gedoen. WP is deesdae vir my ‘n baie onvriendelike plek. Ek verstaan nie altyd hoe en waar nie!

  5. Hester, ek is SO bly jy is terug!!!!!

  6. Wat een mooi inspirerend blog!

    Ik lees graag mee vanuit Amsterdam, Nederland.

    Vrolijke groet,

  7. Goeiemore tannie Hester. Dit is regtig goed om tannie weer hier te sien. Helaas het my skrywersink opgedroog. Dit is sommer my nuutskepping ook: ‘n skrywer wat sink, doppie geklink. Moet seker skrywers-ink wees. Maar nee, ek weet nie wat die omies van die AWS se reels daarvan se nie, maar ek weet ek het reeds verskeie leestekens nie inge-ink nie (in ‘n poging om ink te spaar) en dit is heeltemal teen die reels.

    Ek sou erken dat ek verlang na die goeie ou dae. En nou loop ek die risiko om baie tannies kwaad te maak – die dae voordat die towerinne, die goue vroue geraak het. Ek het geen probleem met goue vroue nie. Dit is bloot feitelik; ek het geskryf het voor die die goue vroue ontstaan het. En (skuus tog Louw – tannie Frannie) ek het bepaald nie ophou skryf omdat hulle ontstaan het nie.

    Bly jy het herrys en lyk my ook die oorspronklike lekker vurige naamgewer van genoemde towerinne, phoenix saam uit die as en die perdyby zoem nie verby nie. Seniorina Hester jy (en julle en al die ander) sal nooit vir my ‘n tannies wees nie. Ek salueer jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Abrie, wat ‘n heerlike verrassing om jou weer te sien. Dit lyk my ons voel almal so nou en dan die droogheid van die inkpot aan. Ja, ek dink ons mis almal die ou ongekompliseerde dae toe pret ons enigste doel op die blogs was. Helaas, selfs die beste tye gaan verby, maar ons kan soms opstaan en die as afstof. Doen jy darem nou en dan nog ‘n skryfsel? Ek het tred verloor met die blogwêreld. Jou voortreflike humor was altyd vir my ‘n inspirasie – moet gaan kyk wat op jou blog aangaan. Moenie kontak verloor nie.

    • Hallooo Abrie! Ek wag nog ademloos op die strandontmoeting waar ons warrelend woorde sal uitryg. Pêrelsnoere, vars uitgeduik.

      • Seesiaan koppie in die hand. Pêrelproe woorde op die tand

        • Oe, jy woordryg mooi. Hoop dit gaan goed by jou en jou liefmense. Ek steek gereeld my bidkers vir al my blogmaats, huidig en verlore, aan. Bly veilig.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis heerlik om jou hier te sien Scrapy en so met die intrapslag vat jy die WooRdWaRRel so mooi saam. Die naam is natuurlik die skepping van Lekkervurig, my inspirasie, en die logo is ontwerp deur haar hart se punt.