My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Hoe raak ‘n mens ontslae van ‘n onwelkome skilpad?

Ek het eens op ‘n tyd (onwetend en onskuldig) ‘n skilpad gesteel wat ek slegs moet groot moeite en geduld weer kon terugbesorg by sy huis. My dogter het van kleins af ‘n aanvoeling en natuurlike band met diere, wat beteken dat allerhande ongediertes hulle oor die jare tuisgemaak het in my huis. Maar soms, net soms, het sy haar rieme styfgeloop met haar dieremaatjies en dan het sy blitsvinnig op haar ma se knoppie gedruk om te help.

Ek en sy het destyds in Bloemfontein in ‘n meenthuis gewoon. Karen was sowat tien jaar oud. Ek het lang, harde ure gewerk, dus was ontspanning en tyd saam met my dogter oor naweke vir my baie belangrik. Een van ons geliefkoosde tydverdrywe was om fiets te ry en daarvoor was die grondpaaie bo-op Naval Hill baie geskik. Naweke het ons die fietse opgelaai en die Kadett onder aan die voet van die heuwel parkeer. Goeie oefening, die op en af ryery.

Anonimicus het in my blog oor die Bloemfontein dieretuin gevra of ek ooit die volstruise op Naval Hill ontmoet het. Ja, ons het – sien foto’s (jammer, die kwaliteit is swak – al hierdie foto’s is geneem met ‘n ou Kodak 110). Beide die volstruise en die kameelperde het vir groot angs en spanning gesorg.

Die volstruise het daar gebroei en almal weet hoe kwaai ‘n volstruisouer kan wees as hulle eiers of kleintjies het. Ons was dus maar baie versigtig. Maar soms het hulle uit die kampie ontsnap en ek onthou een spesifieke dag wat die wyfie agter Karen se fiets begin aanhardloop het. My hart wou gaan staan, maar ek het dapper die pedale gepomp agter haar – die volstruis jaag vir Karen en ek jaag die volstruis. Gelukkig het die mamma nie te ver gehardloop nie, want ek reken sy kan dalk ‘n hoër spoed behaal as ‘n bergfiets, selfs teen ‘n heuwel af. Daarná het ons die paadjie verby die kampie vermy.

Daar was drie kameelperde en vir hulle was ons ook baie versigtig, want ons het gehoor dat ‘n kameelperd jou sommer met sy lang nek kan doodslaan. Hulle het gewoonlik in die veld langs die paadjies gewei, maar daar was ‘n dag wat ek amper ‘n kameelperd omgery het. Ons het resies gejaag om ‘n draai en skielik het hierdie reusedier voor ons opgedoem. Ons (baie billike) reaksie was om sommerso in die ry van die fietse af te klim en agter ‘n boom te gaan skuil, met die fietse wat net daar in die paadjie bly lê het. So ál asof die kameelperd ons nie agter die boom sou kon bykom nie. Ons het daar op ‘n miershoop bly sit, doodstil vir amper twee ure, voordat die kameelperd besluit het om sy loop te kry en ons weer ons fietse kon bestyg.

Hieronder is Karen op die foto saam met twee van die kameelperde, wat eintlik hondmak was. Let op dat die bekende Sterrewag-teater in die hoek regs bo sigbaar is. Lees die baie interessante geskiedenis van die Lamont-Hussey Sterrewag by hierdie skakel.

Soms het ons die fietse by die huis gelos en geloop of rondgery. Wat ek nagelaat het om te sê, is dat die area bo-op Naval Hill ‘n natuurreservaat is. Ek verstaan dat hulle onlangs heelwat verbeteringe aangebring het en veiligheidsmaatreëls opgeskerp het. Daar was ook heelwat wildsbokke en dis waar ek en my kinders met gepaardgaande plesierigheid geleer het om bokdrolle te spoeg. Het julle geweet dit word beskou as ‘n nasionale sport?

Enniehoe, hierdie blog gaan eintlik oor die skilpad wat Karen gedurende een van hierdie uitstappies bevriend het. Nie ‘n honderd jaar later nie, het sy begin soebat dat ons die skilpad moet huis toe neem. Die meenthuis het hoë ringmure gehad, daar was ‘n pragtige tuintjie in die binnehof en Skillie sou dus heel veilig en tuis gewees het. Maar jy mag nie ‘n skilpad uit ‘n wildreservaat verwyder nie. Nie dat die wet my dogter sou afskrik nie en toe ek weer sien, klim Skillie saam met ons uit die Kadett toe ons by die huis aankom. Dis nou laat op ‘n Sondagmiddag.

Ons het maar vir Skillie slaaiblare en groente voorberei en ‘n plat bak met water neergesit en Skillie was heel in sy noppies. Ek was minder in my noppies toe ek Maandagaand van die werk af gekom het en sien dat Skillie vore (ja, vore) deur my pragtige kikoejoegrasperkie gevreet het en homself gehelp het aan ‘n paar Double Delight rose ook. Hierdie rankroos het toe al twee jaar in die agtertuin teen die muur gestaan en lote gemaak wat ek gemeet het – dertig voet en langer. Maar daar was nooit rose nie. Op een mooi lente-oggend, sowat ‘n maand voor Skillie se koms, het ek voor die muur gaan staan en die roosplant plegtig belowe dat hy / sy ‘n Double Delight skop in sy / haar agterstewe gaan kry as ek nog baie langer moet wag vir ‘n roos van daardie lowerryke lote af. En skielik een oggend, het die eerste knoppies begin verskyn. Sommer gou was die hele muur oortrek van pragtige pienk en wit rose wat die heerlikste geur versprei het deur die buurt.

En dis toe nou hierdie rose wat geblyk het Skille se geliefkoosde voedsel te wees. Elke aand as ek by die huis kom, sien ek net ‘n paar roosblare versprei lê onder die plant en die kaal kol waar die rose eens gedy het, het al hoe groter geword. Skillie was nie so ‘n groot skilpad nie, maar daardie kaal kol het gegroei tot hoër as twee voet. Ek lieg nie. Daardie skilpad het óf gespring óf ‘n tuinstoel nadergesleep om by die rose by te kom. Ek kon hom nooit uitvang om te sien presies wat hy doen nie. En die uitwerpsel wat daardie rose veroorsaak het, was nie so welriekend nie. Selfs Pietie, die buitensporige vet padda wat later mince meat geword het toe ek per ongeluk met die grassnyer oor hom gery het, het wye draaie geloop om die roosdrolle.

Daar was nie ander genade nie – Skillie moes teruggaan Naval Hill toe. Saterdagoggend douvoordag was ons reeds voor by die hek van die natuurreservaat, maar wil jy glo? daar is toe ‘n hele klompie voertuie van natuurbewaring wat die gebied patrolleer en omsien na die diere. Probeer later weer. Die senuwees begin nou regtig knaag. Soek hulle dalk na Skillie? Verbeel ek my of bekyk hulle die wit Kadett wat al om die uur daar inry met suspisie? Wat ookal die geval is, Skillie moet gerepatrieer word. Uiteindelik het ons ‘n verlate kolletjie gevind daar anderkant die piekniekareas na die Sterrewag se kant toe en Skillie is versigtig uit die Kadett gehaal. Taamlik ver vanwaar ons hom oorspronklik opgetel het, maar darem in sy eie land. En hy beter dankbaar wees, want om ‘n skilpad te steel is baie makliker as om hom weer te probeer terugsmokkel.

Skillie, ek hoop jy was oukei, Pêl. My tuin het baie lank gevat om te herstel.


Perdebytjie, hierdie blog is geskryf na aanleiding van die video wat jy anderdag aangestuur het van die skilpad wat sokker speel saam met ‘n hond. Wie het toe vir die skilpad gesing “Move it, move it”? Enniehoe, daar het jy dit nou – skilpaaie kan spring en hulle kan sokker speel.

Follow Dis Ekke

42 Comments

  1. Ag Hester dit is nou so ‘n lekker storie!!! Hoop skillie het by sy huismense uitgekom… of loop hulle alleen? Trap die padda plat!!! 😂😂😂

  2. Daai skilpad is net te oulik! Maar goed julle het Skillie nie gehou nie- hy sou ge-erf word- van nageslag tot nageslag tot nageslag

  3. Oulike storie en video

  4. Hoe lekker om jou vertel te lees met ‘n beker koffie. Jinne, ek wed jou Skillie sweer hy was tydelik in die paradys met jou rose. 😄 Jammer oor Chad se familie wat so tot sy einde moes kom, arme padda.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar’s ‘n les te lere vir paddas – moenie in lang gras wegkruip nie. Stand up and show yourself!

      • True, maar shame😉🤣

        • Anita Dreyer

          Hallo! Heerlik gelees aan die skilpadstorie! Ek het ook een.
          Seun se vriend bring ‘n rooipensskilpad na hom. Dié is deur honde verinneweer! Borsplaat oopgekraak! Francois het dit ontsmet en pienksalf, Germolene, aangesmeer en die beenstruktuur teenaan mekaar gedruk. Met gom plak hy toe ‘n netjiese vlekvrystaalplaatjie daarop om te spalk.
          ‘Ystertjie’ leef steeds! Plaat intussen afgeval!
          Anita Dreyer

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis ‘n kostelike storie en kudos vir die medisynemeester!

  5. Lekker gelees aan jou storie! Ekhet Naval Hill goed leer ken in my studentejare, 68-72, veral in die nag! Dalk weet jy van die jong student wat in 1991 sports gemaak het op Naval Hill en deur ‘n leeu opgevreet is in die tyd dat daar leeus losgelaat is.
    Ek vermoed die leeus is later weggevat daar.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee! Wat praat jy nou? Ons is in 1987 weg uit Bloemfontein, Kaap toe en het eers weer teruggekeer in in 1993. Daar iewers het ek die nuus misgeloop. Maar hoe onnosel – om leeus los te laat in so ‘n klein area feitlik in die middestad? Daar was beslis nie meer leeus toe ons teruggekeer het nie. Die hek het oopgestaan deur die dag en al wat leef en beef het daar geloop, gedraf en fiets gery.

  6. Ek het hierdie herinneringe van jou baie geniet.

  7. Op jou stukke! Die roos-fluisteraar en skilpad-ontvoerder wat wegkruipertjie speel met ‘n kameelperd.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die lewe was toe baie minder gekompliseerd. Verbeel jou as ek dit moes doen met ‘n masker en sosiale distansiëring moes toepas!

  8. Het hierdie baie geniet Hester. Omdat ek so klein was toe ons uit Bloemfontein is, het ek anders as Lewies, geen Naval Hill herrineringe nie. Ek veronderstel as ek as volwassene in Bloemfontein gebly het sou ek en my fiets dit goed geken het. Ek onthou dat ons in Lilac laan gebly het

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek kan nie te veel van die voorstede onthou nie. Ons was in Fichardtpark en ons kantore eers in die middestad en toe het ons getrek na oorkant die Mimosa Mall. Ek was meesal op die pad. Ons het ‘n groot streek gehad om te versorg – die hele Vrystaat en Noordkaap en ek het meer in gastehuise geslaap as in my eie huis. Die “landmerke” wat ek in Bloemfontein leer ken het, hou egter baie mooi herinneringe in. Daardie ses jaar van 1993 af was van die beste jare in my lewe.

  9. Kostelike vertelling. Sorry padda, hoera vir skillie wat veilig terug is. Maar watter lekker herhinnering met jou dogter. Ek het as enkel ma beurte moes vat met 2 dogters, een dag ousus ander dag kleinsus. En ek moes doen wat hulle kies. So het ek een dag in ‘n boom moes klim reg in die middel van die dorp. Amper in die proses paar ongelukke veroorsaak soos motoriste kyk wat maak ons in die boom…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha, die dinge wat ons vir ons kinders sou doen. Ons lag nou nog oor sommige van die “avonture” wat ons beleef het in daardie tydperk.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      “Dan ry ons op en af op my dikwiel bicycle” hahaha. Ons s’n was meer dikwels papwiel (Bloemfontein se dubbeltjies) totdat ons ‘n soort van plastic lining in die bande laat plak het. Geen doring kon daardeur dring nie. Dankie vir die skakel.

  10. Ongebonde en heerlike tyd. Dankie vir jou lekker terugflits. Daardie ou kiekies laat mens heerlik onthou van dae wat veel plesier verskaf het. Wat die rose betref- eintlik was daardie uitloopsels waterlote wat jy veronderstel is om af te breek sodat die roos behoorlik roos kan word en wees.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, hierdie was ‘n rankroos en hy het oorvloedig rose gedra aan elke loot. Hy het net so verskriklik lank gevat om te begin blom. In Bloemfontein druk jy ‘n roosstokkie in die grond en ses maande later het jy ‘n roosbos. Bloemfontein word nie verniet die rosestad genoem nie.

      • Aha, ek sien. Rose groei baie goed hier. Sal graag weer n pienk rankrosie wou hê. Ongelukkig wil ek nie dit doen nie want dis nie regtig my tuin nie(dis hoe my gevoel is) Dinge word vinnig gekritiseer as daar iets gedoen word. Nou plant ek maar jaarplante waarvan ek hou.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek maak glad nie meer tuin nie. Die kompleks onderhou die tuine (ook maar net so-so) en ek huur ook my huis, dus hou ek net die plek netjies.

        • Dis hoe ek ook voel. Ek het n man wat my gras sny want dis n redelike grasperk. Beddings probeer ek maar stelselmatig steeds skoonhou van onkruid dis hoekom ek maar blommetjies plant.

  11. Ek het heerlik gelees hier vandag Hester, watter kosbare herrineringe en ek het lekker gelag vir Roosdrolle, mens sou mos dink dit moet ook lekker ruik

  12. Ek kan dink aan ‘n paar mense wat ek koning Rosedrol kan noem (in liewe Heksie taal)

  13. Kostelik en wonderlike herinerringe. Areme padda. Ek het nou so 2 weke gelede so n wonderlike oomblik met n Kameel perd gehad.

  14. Wat deed jij met zo’n schildpad? En moest die weg? Zo’n mooi dier, doet geen mens kwaad 🙂

  15. Ousus het twee skilpaaie geerf. Mens, hulle is vandale van die boonste waters. Ek plant, ek spit, ek trek bossies uit om haar tuin te laat oorleef, dan kom die tweetjies wat so groot soos pierings was toe sy hulle geerf het en nou so groot soos koekblikke is en wat hulle nie opvreet nie, loop hulle uit die grond of trap dood. Ek wil hulle so graag op ‘n taxi na soweto sit, maar dan word ek ferm vertel hulle is by hulle huis. (Met ander woorde, ek is nie.) Desember 2018 het iemand my ‘n groot guns gedoen en die vernielsugtigste wetter seker maar op ‘n taxi gesit. Gaan nou beter in haar tuin. Ek beter dit net nie hard op se nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Kon nie help om te lag nie – ‘n skilpad in ‘n taxi. Ek wonder of hy die reis oorleef het. Maar ek weet hoe jy gevoel het. Skilpaaie is nie goeie troeteldiere nie.